Ons staan vanjaar as die kinders en kindskinders, 186 jaar later steeds voor dieselfde God van Bloedrivier, die God wat ons keer op keer uit ons ellende gered het. Die God aan wie ons voorouers ʼn gelofte gemaak het dat as Hy hulle vyand in hulle hand sal gee, hulle die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag, soos ʼn Sabbat tot Sy eer sal deurbring.
16 Desember is van ons belangrikste volksdae op ons Afrikanerkalender en daarom is die tema van die Desember Perspektief, Gelofte. Ons sien in hierdie uitgawe hoe die Gelofte reg oor die land herdenk word. Hierdie uitgawe omvat die menings van verskeie Geloftedag-sprekers by verskeie Geloftefeeste en ʼn artikel waarin die slag van Bloedrivier omvattend verduidelik word.
Want die eer van Sy naam sal verheerlik word, deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee. Mag ons in 2025 en die jare wat volg ook ons Skepper so blindelings vertrou soos ons voorouers en mag ons glo dat Hy op Sy tyd weer vir ons uitkoms sal gee.
Deel gerus hierdie Gelofte-uitgawe met alle kinders en kindskinders van Sarel Cilliers, Andries Pretorius en al die Voortrekkers van 1838!
Groete
Cara Tomlinson