Dit is die jaar 1836 en die buitewyke van die kolonie is in rep en roer. Die grensboere word nou reeds vir etlike jare lamgelê met aanvalle en plundertogte deur die Xhosas en ander stamme en om alles te kroon, doen die vyandig gesinde Engelse regering alles in hul vermoë om die lewe vir die Boere so moeilik as moontlik te maak. Veral vir diegene wat nie bereid is om hulself en hul geliefdes te onderwerp aan Britse gesag nie.
Die haglike omstandighede dwing die grensboere tot ʼn besluit om hul geliefde en swaar gekogte geboortegrond te verlaat en die wilde woesteny van Afrika anderkant die grootrivier tegemoet te gaan.
Van oraloor trek mense op na Blesberg en elke week kom daar nuwe trekgeselskappe oor die vlaktes van die Vrystaat aangetrek. Trekkerleiers en hul geliefdes vanuit die Tarka, die Koonap en die Hantam. Bekendes uit die Sneeu- en Stormberge sluit hulself aan by daardie manne en vroue, wat genoegsaam in geregtigheid glo dat hul bereid sou wees om uiteindelik die hoogste prys daarvoor te betaal.
ʼn Volkskosmos van vrydenkendes wat elkeen onder eiesoortige omstandighede sy huis verlaat en nou hoop op ʼn beter lewe. Die leiers besef gou dat daar baie uiteenlopende menings is oor die hoe en waarom van die trek en glo dat die trekkergees die verdeeldheid uit die weg sou ruim, maar die vooruitsig op ʼn beter lewe kan ongelukkig slegs gedeeltelik die diep gewortelde uiteenlopende standpunte oor die nabye toekomsvooruitsigte demp.
Veral op die geestelike terrein is die krake gou sigbaar, met verskeie predikers wat op verskillende maniere leiding neem by die onderskeie trekkerlaers.
Wat betref die toekomsplanne is daar twee duidelike kampe, met die Natal-faksie aan die een kant en die Transvalers aan die anderkant. Retief en sy gevolg glo dat daar vir die Trekkers ʼn beloofde land te vinde is aan die oostekant van die Drakensberge, terwyl Potgieter en sy mense oortuig is dat daar reeds te veel swartes en Engelse daar rondswerf. Hy is oortuig dat waar daar te veel swartes is, die trekkers nooit veilig sal wees nie en waar die Engelse ʼn teenwoordigheid het, hul nooit staatkundig vry sal wees nie.
Tog is daar opregte pogings om die trekkerlaers bymekaar te hou en probeer die leiers op mekaar afstem deur middel van deurlopende debatte en gesprekke. Tussendeur moet die geselskappe gereeld aanvalle deur vyandige inboorlinge trotseer en die woesteny tem wat hul lewens en vee bedreig.
Uiteindelik na vele omswerwinge en onderhandelings met gevestigde stamhoofde begin kruip die waens met osse teen die einde van 1837, die Drakensberge af. Retief het ʼn ooreenkoms met Dingaan beklink en die mense van die Oosgrens meet blinkoog plase vir hulself in hul nuut gevonde land van vryheid en geregtigheid uit.
Tog is daar nog vele trekkerlaers wat nie die opgewondenheid deel nie en steeds glo dat Natal nie vir hul ʼn bedoelde land is nie. Veral Potgieter en sy gevolg skop teë, terwyl heelparty ander gekies het om die aftog te blaas en sak en pak terug is op pad Kolonie toe.
Op 6 Februarie 1838 kom Retief sy deel van die ooreenkoms na deur die beeste van Dingaan terug te besorg. Die bloeddorstige diktator verbreek die ooreenkoms eensydig en laat die trekleier en sy kommando vermoor. Die verraderlike optrede word opgevolg met die grootste vroue en kindermoord wat die vasteland nog gesien het. Gedurende die nag van 17 Februarie 1838 oorval die volgelinge van Dingaan die niksvermoedende laers by Bloukrans en Moordspruit. Honderde onskuldige vroue en kinders sterf op grusame wyse.
Toe die son op Sondagoggend, 18 Februarie 1838 opkom, staan die vredeliewende mense van die Hantam en Tarka, uit die Koonapvallei en die Sneeuberge, moedeloos en toekyk oor hul stukkende wa-laers en die vlaktes wat besaai lê met donsvere uit hul bloed bevlekte beddegoed met die liggame van vele van hul geliefdes in hul arms.
Hierdie nag van afgryse moet gewreek word, so glo elke oorlewende man, vrou en kind. Weer probeer die leiers om al die weerbare manne in ʼn kommando byeen te bring vir hierdie baie belangrike vergeldings operasie. Uys slaag daarin om Potgieter te oorreed om met sy kommando af te trek en die trekkers in Natal te kom help. Die verdelingslyne tussen die leiers is egter duidelik en helder en geen een sien kans om onder die ander se beheer en bevel in te buk nie. Daar word besluit op ʼn gesamentlike leierskapstruktuur, ʼn besluit wat die kommando uiteindelik duur te staan sou kom.
Die slag van Italeni is ʼn klaaglike mislukking en die vlugkommando laat noodgedwonge een van hul leiers, Piet Uys en sy seun Dirkie saam met sewe ander agter op die slagveld terwyl die res van die burgers vir hul lewens vlug. Bitterheid en verdeeldheid daal op die reeds verslae en bedroefde mense neer. Potgieter en sy volgelinge, wat omtrent die helfte van die trekkers uitmaak, verlaat Natal onder ʼn wolk van omstredenheid en die swartjaar woed onverpoos vir die trekkers voort.
Andries Pretorius sluit teen einde November 1838 in Natal aan en gou begin hy met voorbereidings vir ʼn militêre operasie wat die verloop van die ganse Suider Afrikaanse geskiedenis onherroeplik sou verander.
Met absolute presiesheid smee hy die weerbare manne tot ʼn indrukwekkende gevegseenheid saam, wat gereedstaan om die magtige leër van die diktator, Dingaan die stryd aan te sê. Hierdie strafkommando sal uiteindelik ook as die wenkommando bekendstaan.
Pretorius besef egter dat ʼn goed geoliede oorlogsmasjien opsigself nie genoeg gaan wees om hierdie haas onmenslike taak te verrig nie. Hy besef dat hierdie geveg meer as net ʼn geveg tussen twee aardse vyande is. Dit is die simbolisering is van die stryd tussen lig en duisternis.
Saam met Sarel Cilliers stel hy ʼn Gelofte op wat uiteindelik ook die kommando tot ʼn hegte geestelike eenheid saambind in nederige afhanklikheid teenoor die heilige God van hemel en aarde. Die uitkoms van die geveg is aan ons almal bekend, maar wat is die grootste nalatenskap vir ons volk vandag, amper twee eeue later?
Die wêreld staan in stille verwondering waarom daar elke jaar op hierdie dag duisende mense vanuit ʼn spesifieke kultuurgemeenskap, regoor die wêreld, byeengekom word om ʼn gebeurtenis te herdenk wat eintlik min met die konteks waarin hul vandag lewe te doen het.
Hierdie mense glo dat hul aardse lot nie in hul hande is nie, maar dat dit wel bepaal word deur die God teenoor wie hul voorgeslagte hierdie Gelofte afgelê het. Die dokument is egter meer as net ʼn menslike poging, dit is ook ʼn geskenk van daardie God van hemel en aarde aan sy kinders in hul donkerste uur.
Die herdenking van die gebeure saam met die voorlees van die Gelofte bring hierdie volk byeen en vir daardie enkele oomblikke, eenmaal per jaar, staan hierdie groep mense fisies maar bowenal geestelik verenig teen die duistere magte van hierdie wêreld.
ʼn Simbool van die ewige almag van die God wat op daardie dag sy kinders uit hul nood gered het en nooit die werke van Sy hande sal laat vaar nie.
Dit dien as inspirasie om te volhard in hul geloof en om aan te hou werk vir die koninkryk van die Lig. Om nie op te gee op die goeie werk wat die Here op daardie dag deur hul begin het nie en om as volk voort te bestaan as lewende getuie van Sy heilige teenwoordigheid in ons lewens tot en met vandag.
Deur die Gelofte te herdenk en die gebeure van daardie dag op 16 Desember 1838 aan ons kinders oor te vertel, bring die heilige God van hemel en aarde mense byeen wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Mag Sy naam daardeur verheerlik word en mag Sy seën rus op die lewe van hierdie Gelofte-betalende volk.