Geloftedagtoespraak
16 Desember 2024
Wilgefontein Geloftefees
Greylingstad
Die storie van die Afrikaner
- Ernst Roets
Wie sou ooit kon raai dat ons in die jaar 2024 – dertig jaar na die politieke oorgang van 1994 vir mekaar sou sê dat dit wonderlik is om Afrikaners te wees? Maar nog meer as dit. Nie net is dit wonderlik om ’n Afrikaner te wees nie, dit word al hoe wonderliker.
Na die politieke oorgang van Suid-Afrika in die 1990’s het kommentators gretig verklaar dat die Afrikaner dood is. Verskeie bekende Afrikaners in die media, kunste en akademiese wêreld – het ophef daarvan gemaak dat hulle hul Afrikanerskap neerlê en kwansuis as Afrikaners ‘bedank’. Die woord Afrikaner – daardie eenvoudige woordjie wat veronderstel is om nie veel meer of minder te beteken as ’n verwysing na ons as kultuurgemeenskap nie – het ’n omstrede woord geword. Net om jouself in ’n Afrikaner te noem was omstrede. Baie van ons het eerder van ‘die Afrikaanse mense’ gepraat – asof ‘Afrikaanse mense’ en ‘Afrikaners’ sinonieme is, met ander woorde, asof alle Afrikaanse mense Afrikaners is.
In daardie tyd was dit nie moeilik om te glo dat daar nie meer Afrikaners in die toekoms sou wees nie. Al die tekens was daar dat ons op die rand van uitsterwing was. In Suid-Afrika is ons blameer vir elke denkbare probleem. In die oë van die wêreld is ons as skurke uitgebeeld. Die winde van verandering was so sterk dat enige poging om teen hierdie narratief standpunt in te neem beantwoord is met beskuldigings van verkramptheid en selfs rassisme. Maar dis nie al nie, bykans elke historiese Afrikanerorganisasie van die 1980’s het in duie gestort.
Een Afrikaanse medialeier het selfs verklaar: ‘As ek dink aan die woord Afrikaner, dan dink ek aan ’n bees wat vrek.’
Ook aan die konserwatiewe kant het mense verklaar dat die Afrikaner sy siel verloor het en aan sterwe was.
Ons was ’n gediskrediteerde, gemarginaliseerde, rigtinglose en leierlose groep mense.
Die meeste was oortuig dat die enigste toekoms vir ons die een is waarin ons afstand doen van ons kulturele identiteit en entoesiasties deelneem aan die nuwe Suid-Afrikaanse eksperiment. ’n Eksperiment gegrond op die aanname dat die volk moet sterf vir die reënboognasie om op te staan – dat ’n suksesvolle nuwe Suid-Afrika vereis dat daar nie meer Afrikaners moet wees nie.
Daar is vandag baie om oor te kla. Ons het inderdaad baie probleme en uitdagings, intern en ekstern, maar veral ekstern. Tog is dit vandag moeilik om te glo dat ons net twee dekades gelede in die toestand was wat ek hier bo beskryf.
Maar voor ek moor hieroor sê, kom ons neem ’n oomblik om onsself te herinner waarom ons vandag hier is.
Geloftedag
Dit is vandag 16 Desember 2024, 186 jaar sedert die dag waarop die Slag van Bloedrivier in 1838 gevoer is. Ons gedenk hierdie dag tot vandag toe as ’n dankdag soos ’n Sabbat, nie omdat ons die bloed, sweet en trane van die veldslag gedenk nie, maar omdat ons voorouers ’n Gelofte aan God afgelê het waaraan ons ons ook bind.
Ons, die Afrikaners, woon al vir byna vierhonderd jaar hier op die suidpunt van Afrika. Ons voorouers het aanvanklik van Nederland gekom, maar is later aangevul deur Franse Hugenote en immigrante van Duitsland.
Hier het die Nederlandse VOC in 1652 ’n verversingstasie by die Kaap de Goede Hoop gevestig. Die doel was om vars kos en water beskikbaar te stel aan skepe wat al die pad rondom Afrika moes reis om handel te dryf met die Ooste.
Die Nederlanders, onder leiding van Jan van Riebeeck het die verversingstasie bestuur. Hulle het plaaslike mense soos die Khoi en die San hier ontmoet, goeie verhoudings en samewerking gevestig waar hulle kan, maar daar was ook soms konflik.
In teenstelling met populêre hedendaagse aanname, was suidelike Afrika op daardie stadium yl bevolk. Daar bestaan nie betroubare bronne om die bevolking van die grondgebied wat vandag as Suid-Afrika bekendstaan op daardie stadium aan te dui nie, maar die sekere skattings stel dit dat hier iewers tussen ’n halfmiljoen en ’n kwartmiljoen mense was. Om dit in perspektief te stel, die hele Suid-Afrika se bevolking was dus omtrent dié van twee of drie Centurions; of omtrent die halfte van een Soweto. Hie
rdie mense was meestal in bepaalde gebiede gekonsentreer. Ons moet dus aan die een kant nie die mite glo dat Suid-Afrika ’n dig bevolkte land was wat eenvoudig deur die aankoms van ons Europese voorouers ontwrig is nie. Aan die ander kant moet ons ook nie glo dat Suid-Afrika sommer net leeg was nie. Die waarheid was dat hier wel mense was, waarvan baie nie lank voor ons nie vanuit die Noorde hier aangekom het, dat ons gewerk het om goeie verhoudings te handhaaf, dat ons voorouers soms foute gemaak het, dat daar soms konflik was, maar dat daar ’n ongelooflike rykdom in ons geskiedenis van samewerking en wedersydse respek met ander gemeenskappe in Afrika bestaan – ’n geskiedenis waaroor vandag nie genoeg gepraat word nie.
Reeds in 1707 is die woord Afrikaner vir die eerste keer gebruik om na ons identiteit as ’n gemeenskap wat aan Afrika verbind is te verwys, toe die jong Hendrik Biebouw in reaksie op die landdros se dreigement om hom te deporteer verklaar het: “Ik ben een Afrikander!”
Die Kaap is egter in 1795 en toe weer in 1806 deur Engeland geannekseer – die grootste faktor wat tot die Groot Trek van die 1830’s gelei het: Daardie ongelooflike gebeurtenis toe ons voorouers besluit het dat hulle eerder donker Afrika sal intrek, as om deur ’n ander nasie oorheers te word.
Daar word soms beweer dat die Groot Trek plaasgevind het om grond te gryp en omdat die Voortrekkers (dit is, die Afrikaners of Boere wat vooruit getrek het) nie slawerny wou afskaf nie. Dit is egter nie waar nie. In sy manifes van 1837 het Piet Retief verklaar dat hulle slawerny verwerp en dat hulle na die binneland trek in die strewe om goeie verhoudings te bevorder met die plaaslike volke wat hulle daar sal teëkom.
Daar was verskeie veldslae tydens die Groot Trek, waarvan die Slag van Bloedrivier uiteraard die bekendste is. Maar dit was maar net een uit ’n reeks voorbeelde.
Kom ons neem die Slag van Vegkop – twee jaar voor die Slag van Bloedrivier – as voorbeeld. Die Ndebeles onder Koning Mzilikazi het ’n leër van 5 000 krygers gestuur om Hendrik Potgieter se laer aangeval. Potgieter het verneem dat die Ndebeles op pad is en onmiddellik met voorbereiding begin. Hulle het die waens in ’n laer getrek en die spasies tussen die waens met doringtakke toegemaak. Maar Potgieter het slegs 35 mans gehad om hulleself teen 5000 Ndebeles te verdedig. Die oggend van die aanval het die 35 Voortrekkermans besluit om die 5 000 Ndebeles in die veld te gaan ontmoet. Hulle het die hele oggend in die veld teen geveg en teen die middag omtrent 3 uur terug gekeer na die laer en hulleself ingesluit. Daar het die slag in alle mag uitgebreek. Die mans het nie alleen geveg nie. Die vroue en kinders het gehelp. Elke man het twee voorlaaiers gehad. Terwyl die mans geskiet het, het die vroue en kinders agter hulle gestaan en kruit en lopers of koeëls in lope laat afgly om dit te herlaai. Die vroue het potte vol kookwater gereed gehou om op die aanvallers te gooi wanneer hulle die laer binnekom. Byle en tentpenne is ook hiervoor gebruik. Die wapens het so warm geword dat hulle nie meer daaraan kon vat nie. Om te laai moes hulle die koeëls in die lope afspoeg. Een van hierdie jong seuns, wat net elf jaar oud was, se naam was Paul Kruger, wat later die president van die Zuid-Afrikaanse Republiek, of Transvaal sou word. Daar was meer as 150 Ndebele krygers vir elke Voortrekker. Teen die tyd toe daar 430 Ndebele-lyke rondom die laer opgehoop het, het hulle besluit om die hasepad te kies Die mag van 5 000 kon slegs twee Voortrekkers doodmaak.
Op 6 Junie 1837 het Afrikaners die eerste maal in die geskiedenis van Suid-Afrika ’n leier in ’n demokratiese verkiesing verkies. Piet Retief is as die eerste goewerneur ingehuldig en Gerrit Maritz as Regter-president.
Retief het uit sy pad gegaan in sy geloof dat ’n ooreenkoms met die Zoeloekoning, Dingaan getref kan word om grond te koop. ’n Klein groep Voortrekkers het die tog aangepak en Dingaan in sy kraal in UmGungundlovu ontmoet. ’n Traktaat tussen Retief en Dingaan is gesluit waarvolgens die Voortrekkers grond vanaf die Zoeloes kan koop, in ruil vir die terugbring van beeste wat deur die Tlokwas by die Zoeloes gesteel is. Retief het sy deel van die ooreenkoms nagekom en kort daarna bykans 70 000 beeste vir Dingaan gebring. Na die oorhandiging van die beeste het Dingaan die traktaat op 6 Februarie 1838 onderteken. Daarna is Piet Retief, sy seun en ongeveer 100 van sy manne deur Dingaan gevang en op kwaMatiwane koppie lewendig afgeslag. Retief is laaste vermoor, sodat hy eers kon kyk hoe sy kommando en sy seun vermoor word.
Na die moord op Retief se kommando het Dingaan opdrag gegee dat die Voortrekkerlaers aangeval moet word. Op 17 Februarie is die Voortrekkerlaers onverwags by Weenen, Dorinkop, Bloukrans, Moordspruit, Rensburgspruit en ander gebiede aangeval. Onder die Voortrekkers is 41 manne, 56 vroue en 185 kinders vermoor. ’n Verdere 250 KhoiKhoi en Basuto wat die Voortrekkers vergesel het, is ook hier vermoor. Die Boervrou Johanna van der Merwe, is 21 keer met ’n assagaai gesteek, maar het die aanval oorleef.
Die Voortrekkers het hierop reageer deur ’n strafkommando saam te stel met die doel om Dingaan te onttroon. ’n Aantal veldslae het plaasgevind, waaronder die slag van Italeni, waar Piet Uys en sy seun Dirkie Uys – een van ons groot kinderhelde – gesneuwel het.
Die slag van Bloedrivier het op 16 Desember 1838 plaasgevind. Tien dae voor die slag het die trekkerleier, Andries Pretorius inligting gekry dat die Zoeloes beplan om hulle aan te val. Die Gelofte is vanaf hierdie dag elke dag tot en met die groot slag. Op 15 Desember het die Trekkers die Buffelsrivier oorgesteek en was hul ongeveer 50 kilometer van UmGungundlovu af. Pretorius het inligting ontvang dat daar Zoeloemagte in die omgewing is en het onmiddelik instruksies gegee dat die waens in ’n laer getrek word. Daardie aand het ’n dik mislaag oor die laer getrek, wat daartoe bygedra het dat hulle nie in die nag aangeval is nie. Volgens oorvertelling het die lanterns in die mis die indruk geskep van engele wat die Voortrekkers in die nag beskerm het. Op die oggend van 16 Desember het die Voortrekkers wakker geword, net om te ontdek dat “die hele Zoeloeland” rondom hulle op die heuwels gesit het. 470 Voortrekkers is deur rofweg 12 000 Zoeloekrygers omsingel. Dit is binne-in hierdie konteks wat die Voortrekkers, onder leiding van hul geestlike leier, Sarel Cilliers, vir oulaas verklaar het:
Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat tot sy eer sal deurbring, en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.
Die aanval het plaasgevind en na drie ure is drie Voortrekkers gewond en ongeveer 3 000 Zoeloes dood. Die lyke het die rivier rooi gekleur en dit is ook die rede waarom dit die Slag van Bloedrivier genoem is. Die Zoeloes het gevlug en die oorwinning het aan die Boere behoort.
Vier dae later het die Voortrekkers UmGungundlovu bereik, net om te vind dat die kraal verlate en afgebrand was. Retief se bene en die traktaat is ook daar gevind. Twee jaar later het Dingaan se broer, Mpande ’n alliansie met die Voortrekkers aangegaan en Dingaan se magte finaal verslaan.
Boererepublieke
Na die Groot Trek het die Boere verskeie onafhanklike, selfregerende republieke gestig. Dit sluit in die Zuid-Afrikaanse Republiek, die Republiek van die Oranje Vrystaat, die Republiek Natalia, Die Republiek van Swellendam, die Republiek van Graaff Reinet, die Nuwe Republiek, die Zoutpansberg-republiek, die Republiek Goosen, Winburg, Potchefstroom, Kliprivier, Lydenburg, Utrecht, Klein Vrystaat, Stellaland en Upingtonia/Lijdensrust.
Maar die suidpunt van Afrika was strategies van groot belang vir die Brittanje, wat op daardie stadium die magtigste ryk in die wêreld was, veral nadat goud en diamante hier ontdek is. Dit het tot die Eerste Vryheidsoorlog van 1880 gelei. Hier het ’n klein volkie in die suidpunt van Afrika die magtige Britse reik uiteindelik by die Slag van Majuba verslaan. Die Engelse het die berg in die nag beset beset, wat natuurlik vir hulle ’n enorme strategiese voordeel gegee het. ’n Boereverkenner het vir generaal Piet Joubert gesê die Engelse is bo-op die berg. Die legende vertel dat Joubert se vrou, Drienie, wat saam met hulle in die veld was, soos ’n tipiese Afrikanervrou hierop geantwoord het met die woorde: “Wel, waarvoor wag julle? Gaan haal hulle daar af!” Ten spyte daarvan dat die Boere moes skiet en laai terwyl hulle by die berg opklim, terwyl die Engelse van agter hulle skuilings bo-op die berg bloot af kon skiet het die Boere die slag gewen. Een Boer het gesneuwel en vyf is gewond. Aan die Engelse kant is 92 doodgeskiet, 134 is gewond en 59 is gevang. Dit het die einde van die oorlog beteken en die Slag van Majuba word tot vandag toe beskryf as een van die mees vernederende nederlae wat die Britse ryk nog ooit gely het. So vernederend dat mense tot vandag toe die Engelse bykom met die woorde “Remember Majuba”.
Maar na die Slag van Majuba was dit nie lank nie, of Engeland was terug. En so het die Tweede Vryheidsoorlog aangebreek. Die Engelse het gespog dat die oorlog voor Kersfees verby sou wees. Maar min het hulle geweet wat hulle sou tref. Later is daar met die Engelse gespot omdat hulle nooit gesê het voor watter Kersfees die oorlog verby sou wees nie. Dit is in hierdie oorlog waar relatief onbekende Boere – wat nie beroepsoldate was nie – internasionaal gerespekteerde militariste geword het. Die konsep van guerrilla-oorlog is hier vervolmaak. Dit was ook die eerste oorlog waar kamofleerdrag gebruik is. Die taktieke van generaals De Wet, De la Rey en ander word vandag nog by militêre skole bestudeer.
In die Tweede Vryheidsoorlog het meer as ’n halfmiljoen mense aan Britse kant geveg, en omtrent 70 000 aan die kant van die Boere. Tog het omtrent ’n honderdduisend soldate aan Britse kant gesneuwel, teenoor omtrent 50 000 aan Boerekant. Maar die groot tragedie van hierdie oorlog was nie bloot die aantal mense wat gesneuwel het nie. Die Britte het taamlik vroeg in die oorlog die twee hoofstede, Bloemfontein en Pretoria in beslag geneem. Volgens hulle konvensionele benadering het dit vir Engeland beteken dat die oorlog verby is. Maar dit was toe die Boere in groot skaal oorgegaan het tot vernuwende guerrilla-oorlog. Die Engelse het nie geweet hoe om hierop te reageer nie en was erg gefrustreerd met die situasie. Dit is waarom Lord Kitchener die verskroeide-aardebeleid aangekondig het. Britse magte is beveel om Boereplase te verwoes, die diere dood te maak en opstalle en gewasse aan die brand te steek, en om vroue en kinders in konsentrasiekampe te stop. Dit was die eerste keer in die geskiedenis wat konsentrasiekampe op hierdie skaal geïmplementeer is. Die gevolg hiervan is dat omtrent 30 000 Boere-vroue en kinders in hierdie kampe dood is, en nog omtrent 20 000 van die swart gemeenskappe wat deur die oorlog geraak is. Dit het uiteindelik die Boere gedwing om – ter wille van die voortbestaan van ons mense – vrede met die Britse ryk se sluit, ongeag die feit dat ons die een skouspelagtige militêre oorwinning op die ander behaal het.
Na die oorlog was die land verwoes. Jan Smuts het later opgemerk dat die paar jaar na die oorlog selfs erger as die oorlog self was. Afrikaners was emosioneel en finansieel geknak. Ons plase was vernietig, baie van ons mans, vroue en kinders is in die oorlog dood en bowenal is ons nou deur ’n ander nasie oorheers. Ons moes ’n eed van getrouheid sweer aan die Kroon wat hierdie verdriet oor ons gebring het.
Na die oorlog was daar baie gepraat oor vergoeding om die Boere te betaal vir die skade wat gedurende die oorlog uitgerig is. Die vergoedingsproses het egter ’n klugspul geword. Baie van die sogenaamde vergoedingsgeld is gebruik om verwoeste infrastruktuur soos treinspore te herstel. Van werklike vergoeding het daar min gekom. Boere het klein bedrae geld by Engeland gekry waarmee hulle in sekere gevalle hulle eie vee en implemente van Engeland moes terug koop. Ons voorouers het vinnig geleer dat kompensasie vir historiese gebeure in werklikheid meer skade doen as goed. Die probleem met kompensasie is dat dit jou mense meer afhanklik maak, eerder as selfstandig.
Die grondgebied van Suid-Afrika is in 1910 saamgevoeg in een groot Unie van Suid-Afrika. Die grense wat ons vandag ken is in werklikheid teen ons wil van buite op ons afgedruk. Ons wou onsself op ’n veel kleiner stuk grond self regeer.
Ons voorouers het besef dat hulle self die moue sal moet oprol. Daar was talle verhale van vroue wat alleen terug gekeer het na verwoeste plase toe, net om vrou-alleen weer die Boerdery op die been te bring. Daar is selfs verhale van vroue wat hulleself soos osse voor ’n ploeg ingespan het om die grond te bewerk. Weereens ’n bevestiging van die krag van die Afrikanervrou – en weereens ’n rede waarom dit wonderlik is om ’n Afrikaner te wees, want ek is nie bewus van een nasie op enige ander plek in die wêreld waar hul vroue so gereeld sulke groot opofferings moes maak nie.
Maar om self die moue op te rol was nie so maklik nie, want daar was nie veel om mee te werk nie. Net toe die Afrikaners hulle voete weer begin vind het nog ’n tragedie uitgebreek – die Eerste Wêreldoorlog, of, die “groot oorlog” soos wat dit aanvanklik genoem is. Ons vergeet vandag maklik watse groot impak die Tweede Vryheidsoorlog in die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog gehad het.
In Margaret MacMillan se boek, The War that Ended Peace behandel sy die aanloop tot hierdie groot oorlog in ’n poging om die vraag te antwoord: As die wêreld dan so verlig geword het, en as handel en wedersydse interaksie en selfs afhanklikheid tussen lande in veral Europa dan op so hoogtepunt was, hoe op haarde het dit gebeur dat hierdie lande besluit het om ’n verwoestende oorlog teen mekaar te voer?
Die antwoord is natuurlik kompleks, wat verskeie faktore insluit. Maar ons moet onthou dat die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind het met ons eie oorlog vars in die wêreld se geheue. In haar boek word die Boere-oorlog ses en twintig keer bespreek, juis omdat dit so groot impak op die wêreld gehad het. Die impak van die Boere-oorlog kan soos volg saamgevat word:
1. In vele opsigte kan dit as die eerste internasionale media- en propaganda-oorlog beskryf word, waarin internasionale mening byna net so belangrik was as dit wat in die veld gebeur het.
2. Publieke sentiment in die res van die wêreld – en veral in Europa was oorweldigend aan die Boere se kant. Nie net dit nie, die oorlog, wat deur baie as immoreel beskou is, het ’n soort wrewel teenoor die Britse ryk laat ontwikkel. Die Tweede Vryheidsoorlog hier in Suid-Afrika, was die eerste groot gebeurtenis in die stryd teen imperialisme.
3. Hierdie wrewel het vererger toe die wêreld begin kennis neem van die wreedheid van die konsentrasiekampe.
4. Die feit dat dit toe nie so maklik was vir Engeland om die oorlog te wen nie – dat die oorlog toe nie teen Kersfees verby was soos wat aanvanklik aangekondig is nie, maar dat ’n klein groepie Boere vir drie jaar teen die magtigste militêre ryk in die wêreld kon uithou en in die proses verskeie skouspelagtige militêre oorwinnings kon behaal, het by die res van die wêreld die boodskap laat insink dat Engeland toe nie so kragtig was soos wat hulle wou laat glo nie.
5. Daar was ook politieke intriges en skandale in Europa rondom die oorlog, soos toe ’n Britse Minister in Frankryk deur ’n groep Franse Boere-ondersteuners uitgejou is met die woorde “lank lewe die Boere”, en toe die Keiser van Duitsland ’n telegram aan Paul Kruger gestuur het om die Boere geluk te wens met die stuiting van die Jameson-inval, wat tot taamlike spanning tussen Duitsland en Koningin Victoria gelei het.
Die Eerste Wêreldoorlog het op sy eie unieke manier vir tragedie hier in die suidpunt van Afrika gesorg. Die Afrikanerleierskap op daardie stadium het dit goedgedink om, onder Britse leierskap, Duitswes-Afrika, vandag Namibië, in te val om dit vir Engeland te verower.
Baie Afrikaners, insluitende verskeie groot helde van die Boere-oorlog het geglo dat dit immoreel sal wees om nou ter ondersteuning van die nasie wat skaars ’n dekade gelede ’n verwoestende oorlog teen ons gevoer het oorlog te verklaar teen die Duitsers, ’n nasie wat ons in daardie oorlog ondersteun het. Hierdie aanvanklike meningsverskil met helde soos die generaals Koos De la Rey, Christiaan de Wet, Christiaan Beyers aan die een kant, en generaals Jan Smuts en Louis Botha aan die ander kant het kort voor lank op ’n rebellie en uiteindelik op ’n mini-burgeroorlog onder Afrikaners uitgeloop.
Tydens die Rebellie van 1914 het vriende en familie mekaar in die veld die stryd aangesê en in sekere gevalle mekaar selfs doodgeskiet. Meer as tweehonderd mense is tydens die Rebellie dood. Die rebellie is uiteindelik geknak na die teregstelling van kommandant Jopie Fourie in Desember 1914 en die daaropvolgende Slag van Upington in Januarie 1915. Hierdie gebeurtenis het die Afrikaners se poging om na die verwoestende Boere-oorlog weer op te staan nog verder terug gesit.
Die rebelle is beboet en eise teen hulle het £340 000 beloop, maar daar was nie geld om dit te betaal nie. Vanuit hierdie finansiële puinhoop het Afrikaners begin mobiliseer om hulleself weer op te hef. Die Helpende Hand is op 6 Maart 1915 van stapel gestuur toe 500 mense in Betlehem vergader het om fondse in te samel. Ook hier het ons vroue op die voorgrond getree om ons mense uit die puin op te hef. Vroue en kinders het melktert en koeksisters gebak, en blikkies geskud om fondse in te samel om die rebelle se boetes te betaal.
Hulle het £231,863 in 1915 ingesamel, en £367 100 teen 1917. As hierdie bedrag na Rand omgeskakel word, beteken dit dat die Helpmekaarbeweging van die 1910’s in die middel van finansiële verknorsing ’n bedrag ingesamel het wat in vandag se waarde op meer as R175 miljoen sou neerkom.
Die Helpmekaarbeweging is ’n merkwaardige deel in ons geskiedenis, en miskien die deel wat die meeste onderskat word. Na die verwoesting van die Tweede Vryheidsoorlog en daarna die Rebellie en Eerste Wêreldoorlog, en dan nog boonop in die tyd van die Groot Griep en die wêreldwye Groot Depressie het ons voorouers bymekaar gekom onder die slagspreuk van Vader Kestel: ‘’n Volk red homself.’
Ons het besef dat ons slegs sal kan opstaan as ons eienaarskap van ons toekoms neem. Ons het die bevrydende wysheid ontdek dat ons toekoms inderdaad in ons eie hande is en dat afhanklikheid die vyand van voorspoed is. Daarom het ons na die gemeenskap gedraai en instellings begin bou. Ons het besef dat elke mens uniek is, en sy talente en vermoëns op unieke wyse vir die groter geheel kan inspan. Ook dat mans manlik moet wees en vroue vroulik. Dit is omdat ons besef dat in ons kultuur – en in die Westerse tradisie – is daar sekere take waarvoor mans beter toegerus is, waarvoor hulle verantwoordelikheid moet aanvaar, en sekere take waarvoor vroue beter toegerus is, waarvoor hulle verantwoordelikheid moet aanvaar is, maak nie saak wat die wêreld vandag daaroor te sê het nie. Ons werk egter nie in isolasie nie. Ons ondersteun en versterk mekaar in hierdie take, omdat ons ’n eenheid is.
By die Volkskongres van 1939 is drie instellings geskep: ’n finansieringshuis, ’n handelskamer en ’n organisasie wat met ’n reddingsdaad moes help. Afrikaners is aangemoedig om konvensionele beleggings in gesonde Afrikaanse ondernemings te maak. Een van die eerste lenings was gemaak aan ’n klein maatskappy wat aan ’n ambisieuse jong entrepreneur genaamd Anton Rupert behoort het.
Dit is hierdie Helpmekaarbeweging wat tot die stigting van Volkskas, Sanlam en Remgro gelei het, om maar net ’n paar te noem.
Die historikus, Hermann Giliomee skryf dat Afrikaners hul respek moes verdien deur self suksesvolle ondernemings op te rig. In 1999 het Giliomee vir Rupert gevra of hy kon dink aan enige Afrikaanse maatskappy wat deur ’n Engelse maatskappy “bemagtig” is. Rupert se antwoord was: “Nie een nie en ek is baie dankbaar daarvoor.”
Laat ek tog ’n oomblik neem om vir ’n oomblik iets oor ons kultuur te sê. Ons taal, Afrikaans, is een van slegs drie tale wat in die vorige eeu tot ’n wetenskaplike taal ontwikkel is. Met die lewering van die eerste regsuitspraak in die Appelhof in Bloemfontein in die vroeë 1930’s, was dit duidelik dat Afrikaans tot ’n volwaardige regstaal ontwikkel het. Maar dit het ook vinnig ’n akademiese taal geword. Die eerste MBA-program buite Noord-Amerika was in 1949 aan die Universiteit van Pretoria aangebied – in Afrikaans. Vandag is daar sowat een miljoen woorde in Afrikaans... en hierdie jong taal van ons groei steeds. In hierdie tyd het soveel groot digters en skrywers op die voorgrond getree dat dit ’n onreg sal wees om te poog om hier ’n lys te verskaf.
Maar laat ek, vir die doel van die argument, net een aanhaal: N.P. van Wyk Louw, die man na wie Akademia se ideesentrum ook vernoem is. Louw het gesê dat die vloei van gedagtes vir ’n volk net so belangrik is as wat die bloedsomloop vir die liggaam is. Hy het gepleit dat ons die balans moet handhaaf tussen ons unieke Afrikanerkultuur en -identiteit en ons identiteit as deel van die Westerse beskawing – waar ons vanuit ons eie unieke ervaring baie waarde tot die internasionale gesprek kan toevoeg. Hy het aangevoer dat kultuur die ruggraat van ’n volk is en toe ’n kritikus vir hom vra wat ’n kultuurmens veronderstel is om te doen wanneer ’n volk hom in krisistye bevind, het hy gesê dat die antwoord maklik is: Hou net aan!
Kultuur moet bevorder word wanneer die son oor ons skyn, maar ook wanneer die donderweer slaan. Kultuur hou ons staande wanneer ons swaar kry, wanneer ons twyfel gee dit rigting. Kultuur is iets wat tegelyk gevolg en bevorder moet word, want ons kultuur beskerm ons terwyl ons ons kultuur beskerm. Kultuur hou ons staande terwyl ons ons kultuur staande hou. Dit is omdat kultuur nie sommer maar net een of ander item in ons besit is nie. Kultuur is die diepste deel van wie ons is. Ons en ons kultuur is een. As ons vergaan, vergaan ons kultuur, en as ons kultuur vergaan, vergaan ons. As ons dus deur donker tye gaan, of as ons deur onsekerheid oorweldig word, kan ons gerus wees dat indien ons ons met die behoud en die bevordering van ons kultuur besig, dan besig ons ons ook met die oplossing.
Dit is byna ondenkbaar hoe hierdie land van totale vernietiging in die nadraai van die oorlog, die rebellie en die groot depressie tot die suksesvolste land op die Afrikakontinent opgebou is – op standaard met ons Europese eweknieë. Trouens, teen 1971 het een Amerikaanse doller R0.72 gekos.
Apartheid
Die geweldige opbloei van Afrikaner-instellings het tot nuwe selfvertroue, entoesiasme en geesdrif onder ons mense gelei. In 1948 het die meer konserwatiewe Nasionale Party onder leiding van die teoloog, Dr. D.F. Malan die leisels oorgeneem. Die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat op daardie stadium aangevoer is, was in die eerste plek ’n erkenning dat Suid-Afrika divers is en uit verskeie volke bestaan. Volke wat elk ’n unieke kultuur het, en wat in hul eie tuislande oor hulleself moet regeer. Hierdie beleid het met verloop van tyd as apartheid begin bekendstaan.
Op daardie stadium was rasseskeiding nie net die praktyk in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. Maar, soos Tony Leon tereg opmerk, niemand van hierdie ander lande het deur die moeite gegaan om hulle rassebeleide in soveel besonderhede in wetgewing op te neem nie. Dit het die Afrikaners ’n morele teiken gemaak, maar ook ’n maklike teiken.
In die tweede halfte van die twintigste eeu het die Afrikaners baie dinge reg gedoen, waarvoor ons nie vandag erkenning kry nie. Dit sluit in die ongekende tempo waarteen die land geïndustrialiseer is, waartydens infrastruktuur neergelê is, die ekonomie versterk is en ook waartydens aktief gewerk is om vernietigende idees soos kommunisme uit te hou. Oor die metodes wat aangewend is – soos die aanvaarding van die wet op onderdrukking van kommunisme, kan ons vandag gerus debat voer. Een van ons groot prestasies in hierdie tyd is natuurlik republiekwording – die feit dat ons uiteindelik weer daarin kon slaag om onsself los te maak van die Britse reik en onsself weer regeer.
Hierdie prestasies word egter oorskadu deur die politieke geskiedenis van die 1970’s en 1980’s. Al wat ontleder is, is vandag gretig om vir ons te vertel wat alles fout gegaan het, hoe boos ons was (of dalk selfs steeds is) en hoe ons oor ons eie geskiedenis moet dink. Maar hier is ’n belangrike beginsel wat ons nie moet vergeet nie. Dit is belangrik om te luister na die kritiek van ander, maar ’n volk kan nooit toelaat dat daar vir hom voorgeskryf word hoe hy oor sy eie geskiedenis moet dink nie – veral nie deur groepe of persone wat hulle in ons leed verlustig en tog so hard wens dat ons soos mis voor die son sal verdwyn nie.
Ons moet, wanneer ons onder mekaar praat, moeilike gesprekke oor die verlede voer. Dit is nie vir ons nodig om te redekawel oor óf dinge skeef geloop het nie, want ons almal weet dit het. Die vraag is waarom dinge skeef geloop het. Dit verg natuurlik ’n lang antwoord, maar laat ek net enkele punte noem:
• Die feit dat sogenaamde “groot apartheid” – die idee dat elke kultuurgroep homself moet regeer – omskep is in “klein apartheid” waarmee strande, strate en selfs bankies in die park op ’n rassebasis aan verskillende groepe geallokeer is.
• Ooglopende wandade wat gepleeg is, soos die martelings by Vlakplaas en die dood van die swart bewussynsaktivis, Steve Biko tydens polisie-aanhouding.
• Die arbeidsbeleid, waarmee ons geglo het dat dit goed is vir verskillende groepe om hulleself op hul eie plekke te regeer, maar waar ons terselfdertyd afhanklik was van daardie groepe wat nie tussen ons kon bly nie, om ons arbeid te doen.
• Maar die meer onderliggende faktor van dit alles: die feit dat ons, wat eens gemeenskapsbouers was, staatsbouers geword het. Afrikaners het gedurende die tweede halfte van die twintigste eeu ’n reuse paradigmasprong gemaak van die gemeenskap as oplossing na die staat as oplossing.
’n Mens hoef nie ’n anargis te wees om teen ’n groot staat te waarsku nie. Kritiek op die groot staat beteken ook nie noodwendig dat ’n mens geen staat wil hê nie. Maar ons wesenlike fout was om ’n staat te bou wat so groot en sterk is, so gesentraliseerd, dat dit vir ons nie meer nodig, of selfs moontlik was om ons eie probleme op te los nie. Wanneer ons een of ander probleem ervaar het, het ons eenvoudig vir die staat gevra om dit namens ons op te los. Dit was nie eers meer vir ons nodig om ons te bekommer oor hoe ons ons kinders grootmaak nie, want selfs hier het die staat die ouers en die gemeenskap se werk begin oorneem.
En toe gebeur ’n ding wat die politieke owerhede van die tweede halfte van die twintigste eeu eenvoudig nie wou verreken nie – die staat is oorgeneem en die Leviatan wat ons self gevoer het, het teen ons gedraai.
Met die ondersteuning van Rusland en ander kommunisties-georiënteerde lande, en deur middel van ’n gewelddadige people’s war-strategie, waarmee ’n bloedige oorlog gevoer is, nie teen die Afrikaners of die regering nie, maar teen mededingende swart organisasies soos Inkatha, Azapo en die Swart Bewussynsbeweging, gekombineerd met ’n meesterlike propagandaveldtog het die ANC daarin geslaag om die internasionale samelewing se steun te win.
Met die val van die Berlynse muur in 1989 het die regering saam met die res van die Westerse wêreld geglo dat kommunisme verslaan is, en dat dit nou die ideale tyd was om met die ANC se onderhandel vir ’n nuwe Suid-Afrika.
Hierdie onderhandelings het uitgeloop om die ANC-oorname in 1994. En so het ons beland in die situasie waarna ek heel in die begin van hierdie toespraak verwys het.
Maar was die Afrikaner werklik verslaan?
Die derde Afrikaner
Carel Boshoff voer aan dat die Afrikaners in sy ontwikkeling deur verskeie fases gegaan het en dat ons vandag in ’n sekere sin as die derde Afrikaner beskryf kan word. Die eerste Afrikaner was die Afrikaner in sy vormingsjare – die Afrikaners van die Kaap en die Groot Trek, wat die Boererepublieke gevestig het. Hierdie Afrikaner het na die verwoestende oorlog tot ’n val gekom en daarna weer opgestaan. Die tweede Afrikaner was die Afrikaners van die vorige bedeling – dit was die Afrikaners van die Helpmekaarbeweging, die industrialiseerders en moderniseerders, maar ook die groot staatsbouers. Hierdie Afrikaners het ook tot ’n val gekom. Daarna het ons, die derde Afrikaner uit die stof verrys. Hierdie metafoor beteken nie dat Afrikaners gesterf het en weer lewendig geword het nie. Ons is nogsteeds aan ons voorouers verbind, maar ons het nuwe ervaring en ’n nuwe perspektief en daarom dink ons nuut oor probleme en oplossings.
Die derde Afrikaner is begeester deur die Groot Trek en ons gedenk die Gelofte van 1838 vandag meer as enige tyd in die afgelope paar dekades. Die republikeinse gees van ons voorouers klop vandag net so warm in ons are soos ooit. Ons is begeester deur die woorde van Paul Kruger dat ons die goeie en die skone uit die verlede moet neem en ons ideale daarop moet vestig wanneer ons bou aan ’n beter toekoms. Ons is meer as ooit begeester deur die prestasies van die Helpmekaarbeweging en die idee dat ’n volk homself red – dat gemeenskappe hul eie oplossings moet vind, maar anders as ’n paar dekades gelede is ons aansienlik meer skepties teenoor die staat.
Net soos na die Tweede Vryheidsoorlog, het dit ons so twee dekades geneem om weer ons voete te vind en te organiseer, maar ons is nou daar. Daarom konsolideer ons vandag onder die slagspreuk, Ons sal self, omdat ons daardie ou wysheid herontdek het – dat die enigste weg na welvaart en sukses deur selfdoen lê.
In die proses het ons ondenkbare prestasies behaal. Waar die Afrikaners slegs drie dekades gelede platgeslaan was, en waar byna geen van ons organisasies die politieke oorgang van die 1990’s oorleef het nie, spog ons vandag met ’n netwerk van meer as vyftig instellings en meer as 700 000 lede wat maandeliks bydra tot die werk van die onderskeie instellings van die Solidariteit Beweging. Dan praat ons nog nie van ons vrywilligers nie.
Maar bowenal, en juis as gevolg van hierdie ingesteldheid, word die Afrikaner vandag in die res van die wêreld weer ontdek. Namate die Suid-Afrikaanse bedeling misluk en namate die werklikheid insink dat die wonderwerk van 1994 toe al die tyd ’n misoes was, namate die wêreld kennis neem van misdaad en korrupsie en die stortvloed van rassewette wat die land verswelg word die Afrikaners weer ontdek.
Suid-Afrika het in vele opsigte die eerste post-Westerse samelewing geword. Daar is baie lande in Afrika ensovoorts wat gekoloniseer en later weer bevry is, maar geeneen van hierdie lande het ’n Westerse samelewing geword in die mate waarin Suid-Afrika Westers geword het nie.
Ons word ’n bron van inspirasie vir ons vriende in die Weste, wat al hoe meer besef dat die toekoms reeds gebeur het, hoewel dit nie eweredig vesprei is nie. Die toekoms het reeds in Suid-Afrika gebeur in die sin dat ons nou al vir ’n tyd lank worstel met probleme wat vir baie van die wêreld – en die Westerse wêreld in besonder – nog voor in die wapad lê. Maar die toekoms het ook reeds gebeur in die sin dat die Afrikaners daarin kon slaag om onder hierdie omstandighede onsself weer te vind en omdat besef dat ons,
• deur vertroosting en hoop te vind in ons geloof in God,
• geanker te bly in die verlede,
• lesse te leer uit die hede, en
• ons oë te vestig op die toekoms...
• daardie droom elke dag ’n bietjie nader aan die werklikheid bring.
Ernst Roets