Geloftefees, Roossenekal: Maandag, 16/12/2024
- Geloftefeesrede deur Sam de Klerk
Broers en susters in die Geloof,
Kom ons word vir ’n oomblik stil in gebed en dan sal ek teen die einde afsluit met ’n kort gebed voor ons begin.
“Hier staan ons (186 jaar ná Bloedrivier) ................ voor die heilige God van hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat ..............” U ons weer genadig sal wees ............ Amen.
Volksgenote,
Ons volk word mos dikwels daarvan beskuldig dat ons 'n laertrekmentaliteit het. Maar dis soms nodig, veral vir 'n volk soos ons s’n wat ’n hoë premie stel op geloofs- en kultuurwaardes, om stil te staan en bestekopname te maak: hoe lyk ons kultuurgoedere; staan ons geestelik sterk en is God Drie-enig nog deel van ons volkshuishouding. En in 2024 weet julle hoe ons in die beskuldigde bank geplaas word met ‘n aanslag teen ons volk van rassisme, plaasmoorde en veral word ons daarvan beskuldig dat ons eintlik nie in Suid-Afrika mag wees nie! Ek wil dus sê: sedert 1994 is die aanslag teen die Afrikaner fel en genadeloos! So, as ons van 'n laertrekmentaliteit beskuldig word, laat ons dan afgesonder wees vir die Here en vir ons eie! In die wêreld, maar nie van die wêreld nie (en ons weet hoe lyk die nuwe S.A.).
My tema vir vanjaar is: Hoop in ‘n tyd soos hierdie. Hierdie hoop het vir die gelowige altyd 'n Christelike begronding, 'n Bybelse onderbou. Dit het te doen met geloof – hoop ten spyte van (alhoewel nogtans desnieteenstaande). Ds. Johan Smit stel dit so: “Om jou hoop op God te vestig, is ‘n geloofsverklaring. Jy hoop nie maar net vaag weg vir die beste nie, maar jy plaas jou volle vertroue in ‘n lewende God wat graag vir jou die beste wil gee. Wanneer jy jou hoop op die Here vestig, durf jy die toekoms met ‘n voorgee aan – jou hand in God se hand.” In 'n tyd waarin baie Afrikaners twyfel oor baie dinge: ons geloof; ons voortbestaan;ons verlede ; ons taal en ook oor die Gelofte van 1838, is dit dringend noodsaaklik dat ons die begronding van die 1838-Gelofte deeglik moet kan verantwoord.
Die vraag is, het die Voortrekkers maar iets uit die lug gegryp of is die Gelofte veranker in 'n beginsel?
Die Trekkers se begronding van die Gelofte, lê na my mening hoofsaaklik in twee sake:
Eerstens: Die Trekkers het vanuit die Bybel geleef. Die bekende Afrikaanse prediker en geskiedeniskenner, dr. Willie Marais, sê: “Die geloftes aan God het in Israel 'n deurslaggewende rol gespeel. In oomblikke van benoudheid het die Israeliet homself telkens met een of ander belofte aan God verbind. Die Voortrekkers het die Bybel geken en daarom is dit te verstane dat toe hulle in die nood verkeer het, hulle hul toevlug na die Here sou neem. Die Afrikaner is deur die Gelofte van Bloedrivier op 'n besondere wyse aan God verbind. Soos Israel van ouds het ons volk ook sy oomblikke van benoudheid gehad, was ook ons voortbestaan baie keer in die weegskaal. Op só 'n dag het die Trekkerdeel van ons volk, net soos oud-Israel, hulle met 'n gelofte aan God verbind met die Slag van die Bloedrivier. Die Trekkers het besef dat net die Here hulle kon red. Daarom het hulle besluit om 'n gelofte aan God af te lê. Vir sewe dae na mekaar het hulle elke dag in ootmoed en biddend die Gelofte afgelê, wat die erns van die saak ook beklemtoon.”
Tweedens: Die Voortrekkers se sin vir reg en geregtigheid. Ons volk het ‘n sterk Bybelse sin vir reg en regverdigheid en het nie die binneland ingetrek om ander volke te oorheers nie. Hulle wou net hulleself wees, maar wou ook hê dat reg en regverdigheid teenoor hulle moes geskied. Hierdie sin vir reg en geregtigheid het meegebring dat ons voorgeslagte nêrens ander volke uitgeroei het of probeer verslaaf het nie.(En terloops: die kernwoord of stamwoord in beide regverdigheid en geregtigheid is reg- en dis ook 'n Bybelse begrip- God verklaar jou regverdig op grond van Jesus se verdienste en jy leef in geregtigheid met Hom). Toe die Voortrekkers se ideaal van vryheid dus weer eens bedreig was, sou dit logies wees om te aanvaar dat hulle die hulp van die Here sou inroep. Met inagneming van hierdie ideaal om ‘n volk in eie reg te wees, dat reg en geregtigheid ook teenoor hulle moes geskied, roep hulle die Here aan in hulle uur van nood maar hulle plaas hierdie begeerte na vryheid ondergeskik aan die wil van God. Hy moet reg en geregtigheid laat geskied. Dus: die fundering van die Gelofte lê primêr in die Woord- en soos die Woord hulle geleer het: hoop teen alle hoop in.
2. Dit bring ons dan by die gebeure van 1838: Kortliks eers iets oor die tydsgees wat voor en tydens 1838 in die wêreld geheers het. In hierdie verband kan ons sê die historiese gebeure wat bekend staan as die Groot Trek het nie as 'n gier uit die lug geval nie. Die jare 1830 tot 1840 was in die wêreld van ingrypende betekenis. Dit was die periode waarin die gees van die revolusie tot volle ontplooiing gekom het. Wanneer die liberalisme die humanisme en die sosialisme hoogty begin vier dan kan dit die teelaarde vir revolusie skep. Dus: ten diepste was die botsing op die Oosgrens die gevolg van ernstige lewensbeskoulike verskille. (dink aan die Reads en Van der Kemps op die Oosgrens.) Piet Retief verwys ook in sy Manifes na hierdie “onreg”, “onregverdige bestaan” en die “wanhoop” waaronder hulle die Kolonie verlaat.
2.1 Vóór die Slag: Die jaar 1838 het nie vir die Trekkers goed verloop nie. Na Piet Retief ‘n wettige verdrag met Dingaan aangegaan het en dit in ‘n Traktaat vervat het, word hy en sy geselskap op 6 Februarie 1838 op die wreedaardigste wyse in Dingaan se stat vermoor. Een van die Zoeloe-ooggetuies sê: “Piet Retief was die laaste om doodgeslaan te word. Hy het nie as ‘n kruipende lafaard gesterf nie. Hy het nooit om genade gesmeek nie…….”
Na die moord op Piet Retief en sy manne beplan Dingaan 'n groot offensief om die Voortrekkers uit te roei. Op Saterdag, 17 Februarie 1838 breek een van die donkerste ure in die geskiedenis van die Voortrekkers aan. Die kampe van die Liebenbergs, die Rousseaus en Bezuidenhouts is deur duisende Zoeloes aangeval. Dit was ‘n verskriklike bloedbad. Niemand is gespaar nie. Mans, vrouens, oumense en kinders is almal voor die voet op die wreedste manier gedood. Bloeddorstigheid het hier hoogty gevier.
Ná hierdie massamoorde in die omgewings van Bloukrans, Moordspruit en Weenen volg die noodlottige Slag van Italeni waar die beplande aanslag teen Dingaan misluk het.
Nou, ná Italeni, was Dingaan baie oormoedig. Dit sou net ‘n kwessie van tyd wees dan sou al die Voortrekkers uit Natal wees. Op 13 Augustus 1838 het die Zoeloes hulle volgende aanslag geloods toe hulle die mees oostelike laer by Gatslaer met 10 000 krygers omsingel het. Slegs 75 weerbare manne moes die Zoeloemag afweer. Twee verskriklike dae en nagte het gevolg maar die verdediging het gehou. Eers op die derde dag, 15 Augustus 1838 het die aanvallers van moedeloosheid en honger begin uitwyk.Na die geveg het die plek ‘n nuwe naam gekry: Veglaer. Met die dood van Gert Maritz op Sondag 23 September 1838, was die Voortrekkers in Natal heeltemal leierloos alhoewel die Slag van Veglaer tog vir hulle effens moed gegee het. Ná ‘n afvaardiging met Andries Pretorius op die Oosgrens gaan praat het, kom hy op 22 November 1838 in Natal aan. Hy was 'n gebore leier, 'n dinamiese figuur met 'n sterk persoonlikheid – die regte leier op die regte tyd.
Pretorius het vinnig opgetree. Met sowat 470 weerbare manne en 64 waens besluit hulle dat Dingaan finaal ‘n les geleer moet word. Op die trekpad na Umgungundhlovu het Sarel Cilliers elke aand die godsdiens waargeneem. Andries Pretorius het in oorleg met Sarel Cilliers en die manskappe besluit om ‘n gelofte op te stel waarin hulle die krag van die Here afgesmeek het om vir hulle die oorwinning te gee.
Dit is die bekende Gelofte van die Voortrekkers. Vir sewe dae voor die Slag van Bloedrivier het hulle elke aand die Gelofte afgelê.
Kom ons pas weer ons tema toe: hierdie klompie Trekkers kon gedink het: nee, die situasie is haglik – ons kan niks vermag nie. Maar nee, hulle sê: hoop teen alle hoop in, geloof ten spyte van – juis as alles hopeloos lyk soos in 1838 en in 2024 dan hoop ons nog! (Dis geloof in die praktyk, geloof ten spyte van omstandighede wat jou kan moedeloos maak...) (Waarom/ daarom!)
2.2 Die Slag self: Op Saterdag, 15 Desember het die 64 waens onder leiding van kommandant-generaal Andries Pretorius oor die huidige Bloedrivier getrek. Die verkenners onder leiding van Hans de Lange (Hans Dons) het kom rapporteer dat die Zoeloes in die vallei naby Italeni geskuil het - nie ver van Bloedrivier af nie.
Dadelik het Pretorius die waens beveel om weer oor die rivier terug te trek en laer te trek tussen die rivier en die diep sloot. Daardie aand het die Voortrekkers vir die laaste keer die Gelofte afgelê.
Alhoewel die Zoeloes nog dieselfde nag wou aanval, was die nag pikdonker en boonop het ‘n digte mis toegesak. Die gevolg was dat die regimente nie gou hul posisies kon vind nie. Die afstand van minstens 5 kilometer was moeilik vir 'n enorme leërmag van 15 000 voetsoldate om die ruwe veld oor die Nqutu- heuwels in 'n kort tyd af te lê. Die Zoeloes was dus gedwing om vir die nuwe dag te wag voordat hulle kon toeslaan. Na die digte mis van die vorige nag en die reën van die vorige week was Sondagmôre, 16 Desember 1838, ‘n helder sonnige dag.
Die een stormloop na die ander voer die Zoeloes op die laer uit. Vier stormlope na mekaar, maar sonder sukses. Na die vierde stormloop stuur Andries Pretorius sy broer Bart met sowat 100 man uit om ‘n wig tussen die Zoeloes te probeer indryf. Sover as wat hulle ry, skiet hulle uit die saal. Ongelukkig kon die ruiters nie ‘n pad oopbreek nie en hulle moes betyds weer terug na die laer. Nou storm die Zoeloes blindelings in. Van vooraf word die jonges teruggeskiet en raak verward. Die regimente word ongeorden. Enkelinge wat dit deur die seekoeigat waag, word dadelik uitgeskakel. Bart Pretorius gaan nou vir ‘n tweede keer uit met ‘n perdekommando. Maar deur die aankoms van die nuwe soldate (die sogenaamde witskilde) ontstaan daar weer 'n voorwaartse beweging van die vyand en Pretorius moes weer terugval, maar geleidelik het die druk van die Zoeloes tog begin verslap. Bart Pretorius gevolg deur Andries Pretorius self, breek later weer uit die laer uit en storm op die Zoeloes af. Met Andries Pretorius aan die spits, het die twee perdekommando’s die Zoeloemag in twee groepe verdeel. Toe word dit ‘n verwoede agtervolging wat drie ure lank geduur het en die Zoeloes het in verskillende rigtings gevlug. Baie lyke lê rondom die laer, in die rivier en in die diep donga – tussen 3 000 en 3 500.
Van hierdie oorwinning sê die historikus Gustav Preller: “Dié Wenkommando is die merkwaardigste voorbeeld wat ons geskiedenis opgelewer het van die afrigting van 'n geheel ongedissiplineerde mag, waarvan die moraal deur teenslae en mislukking reeds laag gedaal het, tot ‘n byna volmaakte krygseenheid, gereed om wonders te verrig.”
2.3 Ná die Slag: Professor Victor d’Assonville sê: “Toe die kampvure brand, kom daar 'n groot stilte. Sarel Cilliers lees uit die Bybel. Dankgebede word tot God opgestuur. Lofpsalms word gesing. Die Voortrekkers se grootste wapen, hul geloof, word beoefen”
Van die oorwinning sê dr Willie Marais dat die Trekkers dit beskou het as ‘n wonderwerk van God en dat hulle gebed verhoor is. Weer eens: uit menslike oogpunt 'n geveg wat hulle nooit kon wen nie, maar die hoop het nie beskaam nie. Nee, hulle het gehoop teen alle hoop in, geloof ten spyte van die omstandighede. Om hierdie gebeure in perspektief te stel, kom ons tref 'n vergelyking tussen die Slag van Bloedrivier (1838) en die Slag van Isandlwana veertig jaar later op 22 Januarie 1879. Hier by Isandlwana het sowat 20000 Zoeloes oor 'n goed toegeruste Britse mag van 1500 geloop en 1350 Britte het gesneuwel.
Prof. Victor d’ Assonville stel dit so: “As hierdie uitstekende goed toegeruste Britse mag van 1500 totaal teen steekassegaaie en knopkieries ondergegaan het (90 persent gesneuwel), wat kon 470 Boere 40 jaar vantevore teen 15000 Zoeloes doen? Wat kon hulle doen met die ou Sannas en twee ‘simpel’ kanonnetjies waarmee die kinders gespeel het en met stukkies afvalyster slegs sowat 'n 100 meter kon skiet?”
3. Afrikaners in 2024 en die Gelofte van 1838:
Dr. Dirk Herman, bestuurshoof van Solidariteit, gebruik by 'n geleentheid op Orania trek as sy tema. Dit het my laat dink: sommige Afrikaners trek na die buiteland, dalk alreeds naby aan 2 miljoen wit mense wat die land verlaat het, waarvan die grootste persentasie Afrikaners is. Jongmense sê hulle is liewer eersteklas burgers in iemand anders se land as tweedeklas burgers in hulle eie land.
Ander Afrikaners trek na binne. Hulle raak net betrokke by hulleself. Apatie tree in omdat hulle weggetrek het van ons volk se eiendomlike. Hoë mure, alarms en kwaai honde kenmerk hierdie trek na binne en hulle is in die meeste gevalle glad nie meer betrokke by die behoud van ons volkseie nie. Hulle braai vleis, kyk rugby en braak gal oor wat in Suid-Afrika aan die gang is! (Dis nie verkeerd om oor die korrupsie, bedrog, staatskaping, moord en doodslag te praat nie, maar dis in baie gevalle slegs 'n emosionele uitlaat sonder dat jy jou kultuurgoedere versterk en uitgebou het.)
Wat wil ek dan graag sê? Ander Afrikaners (en ek glo ons hier bymekaar, is deel van hulle) het 'n trek in die kop gemaak, 'n kopskuif. Jy heroriënteer die standpunt rondom trek, want jy trek met idealisme, met 'n droom met 'n wil om jou eiendomlike, jou taal, jou kultuur, jou volkwees te handhaaf en uit te bou (ook hier op Roossenekal). Ek mag maar aan my eie kant wees, aan my volk se kant, en ek vra nie verskoning daarvoor dat ek lief is vir my taal en my kultuurgoedere nie.
Dirk Herman stel dit so: “hierdie trek leer ons dat ons nuut moet dink, ons moet kreatief dink en ons moet radikaal dink. Ons moet breek uit die kollektiewe skuldgevoel van die verlede. Ons moet weer 'n trots ontwikkel, ons moet betrokke raak. Ons moet 'n nuwe denkraamwerk ontwikkel. Ons moet nie dink die oplossing lê in meer van dieselfde nie...” Dus: maak 'n kopskuif positief na jou eie toe! (Deur jou denke te verander, kan ons berge versit.) Ander mag dalk ook fisies trek soos na Orania wat 'n selfstandigheidstrek is. (Jongste boek: Ons sal self…)
4. Hoe moet ons die situasie nou en in die toekoms hanteer? (Bene rek)
Vanuit eie geledere is die situasie ook gespanne en beleef ons baie keer broedertwis, verdeeldheid, wantroue en agterdog. Wat kan ons doen om weer die Afrikaner se hoop op 'n beter toekoms te laat herleef?
4.1 Oppas vir verskille wat ernstige geskille word: baie keer onderskryf ons dieselfde beginsel , wil ons ons eie geestesgoedere beskerm en bewaar, maar as gevolg van die feit dat ons dikwels so radikaal van mekaar verskil, (soms oor sake wat nie prinsipieel is nie) verlam ons onsself en kan ons nie eendragtig saamwerk nie.
Toe Andries Pretorius en sy klein klompie Voortrekkers eendragtig saamgesnoer is en vasberade met ‘n bepaalde doel voor oë begin optree het, kon hulle die oorwinning behaal. As ons alles goed bekyk, kan ons sê: Die Here het nie self vir die Trekkers geveg terwyl hulle staan en kyk het hoe die vyand gedood word nie; die Here het ook nie ‘n engel gestuur om die vyand te vernietig nie. Nee, hulle het gebid en gevra, maar ook beplan, bedink en ferm hulle plan ten uitvoer gebring. Die Here het deur hulle gewerk en daarom gee hulle aan Hom, en net aan Hom alleen, die eer. Bid en werk gaan altyd hand aan hand. (Totius het by geleentheid gesê: werk asof alles van jou af hang; bid asof alles van die Here afhang)
4.2 Oor ons taal, Afrikaans: dit is hartseer dat baie Afrikaners sterk voel oor ons volk se voortbestaan, maar weinig omgee vir ons taal. Selfoonboodskappe is dikwels net in Engels, antwoordmasjiene in kantore begroet jou dikwels net in Engels; pamflette van sake-ondernemings pryk lieflik net in Engels en e-posse is dikwels ook in Engels. En nog hartseerder: kinders word in Engelsmedium onderrig of gaan na 'n Engelse skool. (Verwys na die aanslag op universiteite en skole, sake-ondernemings wat in Engels bedryf word, pamflette... dr. Wally Grant.)
4.3 Ons verlede: alhoewel ons oor ons verlede as gelowiges altyd hand in eie boesem moet steek want ons is nie 'n volk sonder foute nie, hoef ons nie pa te staan vir alles wat in die verlede verkeerd geloop het nie – allermins vir dit wat nóú so radikaal verkeerd is en waarvoor ons dikwels die skuld kry. (Verwys na Amerika, Australië en Nieu-Seeland.)
4.4 Volkseie en haat: daar is Afrikaners wat hulle kultuureie voed deur neerhalend en afbrekend van ander mense en ander rasse te praat. Hoogstens kan dit ook 'n emosionele uitlaat wees, maar as jy klaar jou frustrasie in lelike taal uitgestort het, het jy nog geen positiewe bydrae gelewer nie. Gebruik eerder jou energie om positief en doelgerig te help bou aan ons eie kultuurgoedere.
4.5 'n Boodskap vir pa’s, ma’s, oupas en oumas: praat met jou kinders en kleinkinders op 'n positiewe manier oor ons geskiedenis en plaas die verlede gebalanseerd in perspektief. Weerlê die leuen rondom die kinkel in die geskiedenis of die algehele verdraaiing van ons volksgeskiedenis. Maak seker dat jy die geskiedenis ken!
4.6 Geloof en vertroue: die Here van Bloedrivier is in 2024 dieselfde God en hy sal dit ook wees in die jare wat kom. Maak jou eie geloof sterk, bevestig dit in jou kinders en kleinkinders se ontvanklike gemoed. Begelei jou kinders op die pad van geloof en vertroue. Sê vir hulle: hoop ten spyte van- hoop teen alle hoop in!
4.7 Werk jou eie toekoms uit: dit mag klink na 'n weerspreking van wat ek alreeds gesê het, maar dit is nie. Wat bedoel ek? Bemagtig jouself; dink innoverend; wees 'n entrepreneur; raak selfstandig. Moenie afhanklik wees van hierdie staat nie. Orania is die beste voorbeeld van selfstandigheid. Afrikaners het met innoverende denke en entrepreneurskap uit niks iets tot stand gebring wat 'n monument is. En as jy eers selfstandig is, dan begin jy werk vir selfbeskikking – dit wat soos 'n goue draad deur ons geskiedenis loop. Die goue draad hang nou slap, maar hy het nog nie gebreek nie. En as ek oor Orania praat, dan raak ek nostalgies.
4.8. Trek 'n laer: trek 'n laer om jou kinders en kleinkinders; trek 'n laer om hulle Christelik-volkseie lewens– en wêreldbeskouing; trek 'n laer om die behoud van ons taal; maak seker dat jou kinders se geloof sterk staan deur saam met hulle in hierdie laer oor hulle verhouding met die Here te praat; en beskerm hulle teen die negatiewe invloede van die New Age tydperk waarin ons nou leef. Maar voer gesprek met hulle – nie dwang nie ...! !
Daarom, liewe volksgenoot: terwyl ons volk in 'n sekere sin erg ontmagtig is, roep Psalm 37 ons soos volg op: Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Hierdie rustigheid beteken nie dat ons agteroor sit en niks doen nie. Dit beteken in die eerste en laaste instansie dat ons op die volksakker ons deel sal móét doen; dat as jy glo dat ons volk 'n legitieme saak het, moet jy na vore tree en betrokke raak. Maar ons kan rustig op die Here vertrou want Hy bly in 2024 en daarna nog steeds die Here soos wat Hy by Bloedrivier was. Langenhoven (CJ) het gesê: Vir die man wat sonder hoop is, is daar min hoop. Stap vandag hier weg met hoop in jou hart, hoop teen alle hoop in. Laat hierdie hoop jou ideaal wees.
Dr. DF Malan het by geleentheid ons volk opgeroep met die volgende woorde: “Glo in God, glo in jou volk en glo in jouself.” President Paul Kruger het weer volksgenote aangemoedig om uit die verlede die mooie en goeie te haal en die toekoms daarop te bou. Werk vir 'n beter toekoms nie 'n beter verlede nie!
Daarom is my oproep vandag, 16 Desember 2024: Glo in God, glo in jou volk, glo in jouself. Ek sluit: Paulus praat in 1 Korintiërs 13 van “geloof, hoop en liefde.” Ons hoop, hoop ten spyte van, hoop teen alle hoop in, is gebou op geloof in God Drie – enig en dit is die Christelike hoop. Paulus sê in Romeine 4:18: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo.......” Hierdie hoop word egter altyd getemper deur die liefde. Daarom tree ons altyd in liefde teenoor mekaar op – veral as ons verskil, maar ook teenoor ander mense wat nie van ons volk is nie.
Kom ons sê vir mekaar, soos in die leuse van die Reddingsdaadbond van 1939:
'n Volk red homself. Glo jy dit? Waaragtig? Leef dit dan uit!
Dankie dat ek vanjaar saam met jou Geloftedag op hierdie wyse kon deel.