Afrikaners het in die geskiedenis al verskeie keer in bestaanskrississe beland én daaruit gekom. Daarom is dit lewensbelangrik om lesse uit ons voorouers se ervaring te leer. Die geskiedenis se belang lê nie eerstens daarin om te weet wat reeds gebeur het nie, maar wat weer kán gebeur. Ons vier Geloftedag omdat ons die Gelofte van die Voortrekkers se redding wil herdenk, maar ook omdat ons lewensbelangrike lesse uit die verlede kan leer sodat ons nie weer in lewensbedreigende krisisse beland nie. Ons moet weet wat gebeur het, wat weer kan gebeur, en veral hoe om dit te voorkom en te oorkom. Diegene wat nie uit die lesse van die geskiedenis leer nie, is gedoem om dit te herhaal.
Die geskiedenis voor, tydens en na die Groot Trek is ‘n belangrike era waaruit ons kan leer. Dit is merkaardig hoeveel ooreenkomste daar is tussen ons mense se destydse krisis aan die Oosgrens, en ons krisis vandag. Dink maar aan Plaasmoorde, misdaad, swak regering en hatige radikales soos Malema.
Ons Voorouers se lewens en lewensmiddele was twee eeue gelede aan die Oosgrens in groot gevaar, weens hulle ligging as klein minderheid naby ‘n groeiende meerderheid. Net in die Xhosa aanval aan die begin van die Sesde Grensoorlog in 1834, is 46 Afrikaners vermoor, 456 huise afgebrand en is 300 000 stuks vee geroof. Daar was 9 Grensoorloë in die eeu tussen 1779 en 1877, - ‘n eeu van oorlog! Die Groot Trek het na die Sesde Grensoorlog begin, toe die Voortrekkers besef het dat hulle ter wille van veiligheid en vryheid sal moet trek.
Ligging as bestaanskrisis
Hierdie eeulange botsings is teweeggebring deur die toenemende kontak tussen wit en swart, agv die opwaartse beweging van ons voorouers en die suidwaartse trek van Xhosa’s. Dit was nie die enigste bedreiging nie. Die Britse Koloniale bewind se Politieke stelsel, Verengelsingsprojek en Ekonomiese beleid was deel van hierdie groeiende bestaanskrisis. Mense het net nie meer vertroue in die regering en die toekoms gehad nie. Anders gestel- hulle vryheidsloosheid agv hul ligging as yl verspreide minderheid, was ‘n konstante bedreiging vir hul veiligheid en hul voorspoed. Daarby het die Boere ‘n behoefte na geestelike vryheid gehad, veral weens die druk vanuit liberale sendingeledere.
Ons Voorouers het alle moontlike oplossings probeer om hulle bestaanskrisis van “ligging” te probeer oorkom:
• Hulle het met die owerhede saamgewerk twv hulle veiligheid en voorspoed;
• Hulle het elkeen op sy eie hulself probeer verskans;
• Hulle het die krisis herhaaldelik militêr probeer oplos.
• Onderhandeling, ooreenkomste en selfs vennootskappe met Xhosa groepe.
• Internasionale steunwerwing by die Britse owerhede;
• Mediaskakeling om openbare steun te werf; (bv Grahamstown Journal)
• Politieke strategieë is sonder sukses aangewend;
• Hofsake en beroep op die Reg;
• Buffergebiede, ‘n segregrasiebeleid, grense, forte en mure bring ook nie ‘n blywende oplossing.
• Selfs blanke beheer en inlywing van die betwiste gebiede het op die duur nie uitgewerk nie.
Hierdie stappe van ons Voorouers het soms korttermyn verligting gebring, maar nie een of selfs almal saam kon ‘n volhoubare langtermyn oplossing bewerkstellig nie. Die moorddadige aanvalle op eensame en wyd verspreide plase het meedoënloos voortgeduur. Hulle ligging as minderheid tussen ‘n groot meerderheid was die probleem, en die oplossing van groter konsentrasie het te moeilik gelyk en te groot materiële opofferings gevra.
Die omstandighede het later so onhoudbaar geword dat die besef stadigaan begin posvat het dat die voorwaardes vir ‘n maglose minderheidsbestaan digby ‘n magtige meerderheid verval het. Hulle ligging het hulle bestaan bedreig, en hulle sou moes wegtrek vir oorlewing.
Die Klein Trek
‘n Demografiese krisis noodsaak ‘n demografiese oplossing. Daar is nie blywende politieke-, diplomatieke-, militêre-, ekonomiese- of juridiese oplossings vir demografies gedrewe uitdagings nie. Dis alles noodsaaklike maar onvoldoende antwoorde op die bestaansuitdaging van ligging. ‘n Trek na vryheid uit die Oos-Kaap was al wat oorgebly het nadat alles anders probeer is. Vryheid is waar ‘n groot genoeg konsentrasie van Afrikaners kon gaan bly op ‘n plek waar hulle ‘n blywende meerderheid kon word, sonder bevolkingsdruk van groter groepe in hulle gebied of op hulle grense. Dan is vryheid moontlik, waar hulle self besluite kon neem en uitvoer.
Die Groot Trek was desondanks nooit ‘n magtige dreuning wat wyd oor die velde gesweef het nie. Dit het as ‘n klein stroompie begin, wat mettertyd in ‘n riviertjie ontaard het. Almal het saamgepraat, maar net ‘n klein minderheid van ongeveer 10% het uiteindelik die daad by die woord gevoeg. Die Groot Trek was dus in werklikheid ‘n klein trek. Die minderheid het eers ‘n meerderheid geword toe hulle sukses behaal het, en al die ander planne wat makliker gelyk het misluk het.
FA Venter se hoofkarakter in Geknelde land, Rudolf Dreyer, se versugting klink vandag weer wyd in die land op met al die praatjies oor emigrasie: “Ek het ook besluit om te trek… Na wat nóú weer gebeur het, glo ek dat ons nie kan bestaan nie – nie na hierdie nuwe onreg nie.
Hier sal ons altyd slawe bly. Hier sal ons altyd vir die massa werk. Ons sal ons lewens hier nooit veilig wees nie. Ek is net spyt dat ek dit nie voorheen kon verstaan of glo nie. Nou verstaan ek dit. Ek weet nou trek is ons enigste redding…”
Daarom moet ons ons mense oortuig om vandag eerder weer “Voortrekkers” te wees wat iets nuut wil opbou, as “Wegtrekkers” wat na ander lande wil trek.
In die belangrikste “geboortepapier” (stigtingsdokument) van die Trekkers, die Retief Manifes van 1837, sê Piet Retief (30 jaar voor Amerikaners deur ‘n burgeroorlog moes gaan oor Slawerny) duidelik dat die Trekkers vasbeslote is om die beginsel van ware vryheid hoog te hou, maar dat hulle begeer om in vrede en vriendskap met swart gemeenskappe te leef.
As ons vandag na die geskiedenis wat aan ons kinders geleer word kyk, hoor ons net hoe wreed ons voorouers was. Maar hoor maar wat het die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter aan die Goewerneur van die Kaapkolonie na afloop van die Trek geskryf, op 3 Desember 1838.
“Ten eersten hebben wy aangetroffen de kapetyn Danser en met hem een vrede besluyt, en ten tweede de konieng Maroka en ook met een vrede besluyt, ten derde de kaptyn Pieter Davieds ook met een vreede besluyt, ten vierde de konieng Sikoniala ook met een vreede besluyt, ten veyfde de kapiteyn Makwana ook met een vrede besluyt.” (Pretorius, H.S. & Kruger, D.W. 1937. Voortrekker-Argiefstukke 1829-1849. Pretoria: Staatsdrukker. p. 30)
Die strewe na vryheid as dryfkrag van die Groot Trek is deur Trekkerleiers soos Andries Pretorius verwoord. Hy het gesê dat hulle hul geboorteplek sonder ‘n opstand verlaat om vry te wees. Na die Britte Natal in 1843 geannekseer het, het die Voortrekkers weer getrek. In die beroemde woorde van Johanna Smit aan die Britse verteenwoordiger: “Ons sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge loop as om langer onder die Britse regering gebuk te staan”.
Die Voortrekkers het getrek omdat hulle vry moes wees ter wille van hulle veiligheid en hulle voorspoed. Hulle het nie ‘n ander keuse gehad nie. Vryheid is nie ‘n oordrewe emosionele opwelling nie, dis ‘n lewensnoodsaaklikheid. Ons geskiedenis was nie ‘n stryd om oorheersing nie, maar ‘n stryd om oorlewing.
Die grondliggende rede hoekom Piet Retief se drome van ‘n onafhanklike Voortrekker republiek in Natal in die slag gebly het, was demografiese werklikhede, wat selfs nie deur die oorwinning by Bloedrivier ongedaan gemaak kon word nie. Die Republiek was net nie demografies volhoubaar nie. Die risiko daar vir ‘n klein (3%) Westerse minderheid om midde ‘n groot (97%) meerderheid volhoubaar te probeer bestaan, met behoud van hul Westerse kultuur en die instellings wat daaruit voortspruit is net te groot. ‘n Polities maglose groep Westerlinge se kulturele stelsels soos eiendomsreg, die markekonomie en die regsorde is voortdurend afhanklik van die verdraagsaamheid van die meerderheid. In die geval van ‘n konflik van kulture sal die kultuur van die meerderheid uiteindelik die oorheersende kultuur word. Dis die verhaal van die geskiedenis oor die eeue in alle lande. Die meerderheid dwing uiteindelik hulle kultuur op die minderheid af, en wil die minderheid by hulle inlyf. Minderheidsregte is ‘n moderne verskynsel in gevorderde Westerse demokrasieë, en is die uitsondering op die reël van meerderheidsregte.
Soos Dan Brown in sy “Da Vinci Code sê: “History is always written by the winners. When two cultures clash, the loser is obliterated, and the winner writes the history books - books which glorify their own cause and disparage the conquered foe. As Napoleon once said, 'What is history, but a fable agreed upon.”
Minderheidsbestaan
Afrikaners is ‘n volk, maar wat landswyd as ‘n yl verspreide minderheid bly. Die gevolg is dat die politieke wil van die meerderheidsgroep stelselmatig afgedwing word.
Dorpe in die platteland het oor die jare die vorm van die bevolking aangeneem, en witmense is op baie plekke ‘n krimpende- en polities ongewilde en -uitgeslote minderheid van minder as 10%. Hierdie politieke demografie met sy ingeboude wanbalans in magsverhoudinge, is die agtergrond waarteen gebeure hulself afspeel. Die oorweldigende politieke mag van die ANC teenoor hulle kiesers se armoede, plaas groot druk om hul politieke mag te gebruik vir radikale ekonomiese herverdeling. Hierdie druk verhoog wanneer die oorsake van swart armoede oorvereenvoudig word as die witmense se skuld. Die voorstaanders van Radikale Transformasie vra nie “wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen nie”. Hulle vra “wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen”. Ekonomiese krisissse lei normaalweg tot verhoogde politieke aandrang op radikale herverdelling van welvaart. Hulle wil nie die armes ryker maak met ekonomiese groei nie, hulle wil die “rykes” armer maak met staatsgedrewe herverdeling.
Was dit nie vir die goeie persoonlike verhoudinge tussen die rassegroepe in die land nie, kon Peter Godwin se woorde in sy boek oor Zimbabwe (When a Crocodile Eats the Sun) waar wees: “A white man in Africa is like a Jew everywhere, on sufferance watching warily, waiting for the next great tidal swell of hostility.”
Ons sit vandag weer met dieselfde probleem waarmee ons voorouers aan die Oosgrens gesit het: ligging en die politieke-, ekonomiese, kulturele en veiligheidsgevolge daarvan. Dis ‘n werklikheid wat ons nie kan wegwens nie, want dit gaan nie weggaan nie. Soos Thomas Sowell gesê het: “Die ligging van volke, rasse en beskawings kan hulle lot bepaal”. Wie orals ‘n wyd verpreide minderheid is, het orals dieselfde probleme, wat in werklikheid simptome van onvryheid is:
• Ons veiligheid word bedreig deur geweldsmisdaad en Plaasmoorde;
• ‘n Regering wat met rassewette en sosialistiese beleid teen ons regeer;
• ‘n Swak ekonomie wat ons voorspoed verteer;
• Aanval op ons voortbestaan as kultuurgemeenskap (skole, universiteite)
• Grootskaalse straffelose korrupsie;
• Staatsverval;
• Ons vryheid, veiligheid én voorspoed word bedreig.
Die oorsake van die probleem lê veel dieper as die politiek, daarom lê die oplossing ook veel dieper. Ons het nie net ‘n regeringsprobleem soos soms in ‘n normale demokrasie wat met die volgende verkiesing reggestel kan word nie, ons het ‘n bedelingsprobleem. Dit spruit uit ons ligging as yl verspreide minderheid met min konsentrasiepunte waar ons genoeg getalle het om vry te kan wees. Daarom is ons nie veilig nie, en daarom word ons voorspoed bedreig. Daarby is Suid-Afrika feitlik net so groot soos Wes-Europa, en geografies en demografies te uiteenlopend om sentraal te regeer.
Ons kan dus nie net veg teen die regering nie, maar moet ons bou aan ‘n nuwe bedeling. Die doel is nie om die ou Suid-Afrika terug te probeer kry of om die “nuwe” Suid-Afrika te beveg nie, maar om te help vorm aan ‘n “ander” Suid-Afrika in die plek van die een wat nou stadigaan ten gronde gaan. As ons onsself uit hierdie heropbou projek onttrek, laat ons die speelveld aan die radikales oor. Liberale projekte om weer ‘n soort verskuilde Westerse minderheidsbeheer oor die hele land te probeer bewerkstellig, spuit uit ‘n goedbedoelde maar uitgediende paternalisme wat veronderstel dat ons vir almal moet sorg omdat ons beter weet wat vir hulle goed is. Dit veroorsaak ‘n woedende teenreaksie vanuit swart geledere.
Vryheid
Vryheid is nie ‘n ekstremistiese idee nie. Vryheid is bloot wanneer ‘n volk sy eie besluite kan neem en -uitvoer. Dis om in beheer van jou eie lot te wees, om gelyk met ander nasies te wees, en nie onder of bo ‘n ander te staan nie. Dis nie net ‘n liberale vryheid van die enkel persoon nie, en nie net die linkse vryheid van ‘n multinasionale land nie. Vryheid is nie ‘n uitgediende outydse begrip nie. Dis ons voorouers se bewese oplossing vir bestaansprobleme waarvan ons al vergeet het. Die moderne mens en gemeenskap wil vry wees om sy eie besluite te neem, en moét vry wees ter wille van politieke, kulturele en ekonomiese selfverwesenliking.
Dit is noodsaaklik dat ons alle moontlike instrumente aanwend om ons risiko’s as minderheidsgemeenskap te probeer bestuur, soos politiek, regsaksies, vennootskappe, diplomasie, internasionale steunwerwing, die bou van kulturele ruimtes, mediaskakeling, onderhandelings, en selfdoeninstellings. Dit is noodsaaklik om al hierdie metodes te gebruik, maar dis nie voldoende of volhoubaar nie. Beroepe dat die grondwet ons moet beskerm, is op sy eie net ‘n beroep op regverdige heersers, en nie ‘n oplossing vir ons uitdagings nie. Boonop klink dit vreemd op die oor dat ons die Grondwet moet beskerm, omdat aan ons vertel is dat die Grondwet ons sal beskerm!
Ligging
Die enigste iets wat moeiliker gaan wees as om ons bestaanskris van ligging deur groter konsentrasie te oorkom, gaan wees om nie te oorkom nie. Maar is die risiko van waag nie kleiner as om te wag dat die ANC ons reg en billik sal regeer vir die geslagte wat kom nie?
‘n Verantwoordlike geslag beplan mos nie net vir die volgende verkiesing nie, maar vir die volgende geslagte. Daar is waarskynlik nie ‘n groter risiko as permanente “onderdaanskaap“ nie.
Die werklikheid van groot Afrikaner konsentrasies soos in Pretoria en die Oosrand, ons wye landswye verspreiding, en die ekonomiese uitdagings van verhuising na “konsentrasiegebiede”, vereis dat ‘n enkelvoudige “Israel-opsie” in die yl bevolkte Weste van die land nie maklik haalbaar gaan wees nie. ‘n Politieke ideaal sal hulle met vryheid kan besiel, maar net ‘n werkende ekonomie gaan hulle in vryheid kry.
Daarom sal ‘n Afrikaner staatkundige plan vir groeiende vryheid waarskynlik uit verskeie pilare moet bestaan, wat rekening hou met die landswyd vespreide Afrikaners se behoefte aan beskerming waar hulle bly, maar wat terselfdertyd aan blywende vryheid bou.
Dit gaan ‘n proses van groeiende vryheid wees, wat soos “klein republieke” groter moet groei. Dis soos ‘n huis se mure wat al hoër gebou word, met kamers vir onderwys, landbou, opleiding, welsyn ens, totdat dit uiteindelik ‘n dak oor kry en dan ‘n vrye stad of staat vorm wat in praktyk vry is, of dit dadelik erken sal word of nie.
Afrikaners het aan die begin van die huidige bedeling gedink dat vryheid onnodig en onmoontlik is. Onnodig omdat die Grondwetlike bedeling ons voldoende sal beskerm en die ANC die land suksesvol sal regeer. Onmoontlik omdat daar vanweë ons verspreiding regoor die land nie ‘n Afrikanergebied bestaan wat deur ons besit, bewoon en bewerk word nie. Die harde werklikheid het nou gewys dat ANC-bestuur oor die land nie werk nie, en dat groter Selfbestuur die enigste moontlikheid oor is. Tweedens het die suksesvolle selfdoen projekte van die Solidariteit beweging en andere, bewys dat dit wel moontlik is om “klein republieke” te skep deur die self te doen.
Daarom moet ons meer van onsself dink, en meer van onsself verwag, omdat ons kinders beter verdien as wat nou in die land aangaan en as wat kom. ‘n Volk kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende geslag leef, en nie net soos Hiskia gesê het: “solank daar in my tyd maar vrede en voorspoed is nie”.
Ons gaan nie vryheid “van bo af” kry nie, ons sal dit van onder af moet bou. Dit sal ook nie help om vooraf vir toestemming te vra nie, ons sal na die tyd erkenning kry vir die werklikhede wat ons opgebou het. Dit is die les wat ons by Akademia, Sol-Tech en al die ander ruimtes geleer het wat ons opgebou het. Dis ook die drie lesse wat Orania geleer het. Eerstens is vryheid iets is wat prakties self opgebou word. Tweedens is die vlak van vryheid net so hoog as wat dit opgebou is, en derdens dat vryheid net so vinnig vorder as wat die projek groei. Vryheid is dus nie ‘n gebeurtenis nie, maar ‘n groeiende proses. Die meeste mense kan nie trek nie, maar almal kan aan vryheid help bou.
Dit klink en dit is baie moeilik, maar weeg maar self die uitdaging van opbou vir 10 na 20 jaar op, teen risiko’s van nog dekades se afbreek onder ‘n ANC regering.
Die feit is, eerstewêreldmense wat soos tweedeklasburgers behandel word en derdewêrelds regeer word, trek. Ons kan dit nie keer, net ‘n invloed probeer uitoefen waarheen, en hul moet oortuig dat konsentreer beter is as emigreer.
Afrikaners se historiese dryfkrag was vryheid- polities, kultureel, ekonomies én geestelike vryheid. As ons bly leef in onvryheid, al is dit dan nou ook onwillig, dan was die Groot Trek, die eertydse Republieke en meer as ‘n eeu se opofferings na die Anglo-Boereoorlog tevergeefs. Ons voorouers wou die vryheid wat hulle in Christus gehad het ook op staatkundige gebied gestalte gee. Die les van die geskiedenis is dat vryheid nie ‘n luukse is nie, maar dat dit steeds noodsaaklik is vir ons voortbestaan. Vryheid was die enigste antwoord, en vryheid is nog steeds die enigste blywende antwoord.