ARTIKEL

Die herdenking van die Gelofte van 1838 en die hoop wat dit in 2024 bied

deur Alana Baily

2024-12-13

Die Spaans-Amerikaanse filosoof, George Santayana (1863-1952) het verklaar “Diegene wat nie die verlede onthou nie, word veroordeel om dit te herhaal”. Helaas steur min mense hulle hieraan en dus herleef geslagte wel dikwels die foute van diegene wat hulle voorafgegaan het. Tog is die geskiedenis nie net ’n verhaal van ellende nie, maar ook ’n ryke bron van inspirasie – veral vir gelowiges wat in alle gebeure die hand van God sien.

In 2004 het ek ’n studie oor die herdenking van Geloftedag van 1838 tot 1994 voltooi. Die fokus was nie die gebeure om die Slag van Bloedrivier self nie, maar eerder hoe die 16de Desember jaarliks gevier is. In ander eras en gemeenskappe is ook geloftes aan God gemaak, maar die ononderbroke herdenking van die Gelofte, boonop met statutêre erkenning, maak daarvan iets unieks en laat ’n mens besef dat die boodskap wat die historiese gebeure inhou, besonders moet wees om dit te kon moontlik maak.

Agt boodskappe wat ek uit hierdie gebeure aflei, is die volgende:

1. Wend jou tot God

Die Voortrekkers het na aan God geleef en Hom in al hulle doen en late geken – ook in hulle tyd van uiterste nood toe hulle minder as 600 was wat teen die skrikwekkende oormag van vyftien- tot dertigduisend Zoeloes te staan gekom het. Hulle het aanhou bid en glo.

2. Bid én werk

Die ou Latynse spreuk, ora et labora, het ook vir die kommando gegeld. Saans in die laer het hulle godsdiens gehou, maar bedags het hulle aanhou werk deur wapens gereed te hou en te verken. Die Here gee aan ons hulpmiddele sodat ons nooit net kan terugsit nie, maar dit ook moet gebruik om ons doelwitte te bereik, sonder om ons afhanklikheid van Sy genade uit die oog te verloor.

3. Bly beskikbaar om jou roeping uit te leef

Toe die Voortrekkers hom geroep het, het Andries Pretorius sy planne om eers later by die Groot Trek aan te sluit, verander en hulle dadelik gaan help. As hy gewag het, het sake dalk baie anders verloop. Ons is nie almal vernuftige en dapper Pretoriuse nie, maar almal het mense wat op ons staatmaak. Ons moet gereed wees om ons unieke roepings te identifiseer en uit te leef.

4. Saamstaan is ’n wenplan

Die Voortrekkerkommando het uit ’n verskeidenheid mense van alle ouderdomme en agtergronde bestaan, maar hulle leuse was “Eendrag maak mag.” Later sou dit die nasionale leuse van Suid-Afrika word. Wanneer die saak belangrik genoeg is, maak klein onderlinge verskille nie meer saak nie.

5. Geweld mag nie die eerste keuse wees nie, maar dit is soms onafwendbaar

Die kommando het deur verskeie Zoeloenedersettings gery waar mense gewoon het wat hulle nie by Dingane geskaar het nie. Hulle is in vrede gelaat. Pretorius het telkens boodskappe aan Dingane gestuur dat die Trekkers nie wou veg nie, maar bereid was om tot die dood te baklei vir die reg om in Natal ’n eie tuiste te skep. Dingane het gekies om te veg. Dit betaal nooit om skoor te soek en ’n geveg te begin nie, maar as iemand die geveg teen jou aansê, moet jy die moed hê om enduit terug te veg vir wat jy glo reg is.

6. Behandel almal met respek

Omdat die Voortrekkers respek vir die Zoeloekrygers se moed en vernuf gehad het, het hulle dag en nag voorberei vir die stryd. Hulle het verkenners uitgestuur om te kyk wanneer die Zoeloeleër optrek, Pretorius het die beste moontlike gevegsterrein gekies, die manne het laer getrek en hulle kruit probeer droog hou. In die Anglo-Zoeloe-oorlog van die 1879 het die Britse soldate nie dieselfde respek teenoor die Zoeloes betoon nie en hulle het ten duurste vir hulle fout betaal.

7. Ingesteldheid maak die verskil

Die Zoeloes het baie gehad wat in hulle guns getel het – krygservaring, kennis van die terrein, beweeglikheid en moed, maar hulle het noodlottige foute begaan. Hulle strategie het begin verbrokkel toe ’n paar groepe die bevele van hulle aanvoerders, Dambuza en Ndlela, verontagsaam het en oorhaastig aangeval het. Hierdie groepe is gelei deur jong krygers wat angstig was om vir hulleself naam te maak. Waar dit gaan om eie eer bo die groep se belange, kan dinge lelik skeefloop. Toe die gevolge van hulle oorhaastige optrede duidelik word, was Dambuza en Ndlela woedend. Hulle het geweier om die bevel te gee om terug te val. Hulle wraaksug het nog meer bloedvergieting veroorsaak. Dit is koelkop mense wat na rede in plaas van na emosie luister, wat oplaas wen.

8. Bewapen die nageslag met kennis en dankbaarheid

Deel van die Gelofte is die onderneming om die verhaal van die gebeure by Bloedrivier aan opkomende geslagte oor te vertel. Ons roeping sluit in om die nageslag te leer wie ons is en waar ons vandaan kom. Ons moet ons geskiedenis met alle hulpmiddels tot ons beskikking lewendig hou en oorvertel om sodoende wortels aan die jeug van môre te gee. Daarmee saam gaan die plig om jongmense ook te leer om dankbaar te wees. Toe die Zoeloes op die vlug slaan, het die kommandolede dadelik ’n dankdiens ter ere van die Here gehou. Net so moet ons onthou dat alles wat ons het en is, net seën van Hom is.

Elke tyd het sy eie uitdagings, maar wanneer ons bid en glo, en dan in vertroue skynbaar onmoontlike take aanpak, is wonderwerke altyd moontlik. Dit was die geval in 1838, en dit bly vandag steeds waar.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL