1.
Dit beteken dat jy deelneem aan minstens 222 Geloftefeeste wêreldwyd, wat waarskynlik meer as tweehonderd duisende mense regstreeks betrek.
Dit beteken dat jy nie alleen is nie en ook nie dink dat jy alleen is nie – nie in jou eie tyd nie, maar ook nie oor tyd heen nie; met ander woorde daar is mense rondom jou en daar is mense wat jou voorgegaan het en daar is mense wat op jou volg.
Dit beteken dat jy jou verbind met gebeure wat byna 200 jaar gelede plaasgevind het, dat jy waarde heg aan iets waarby jou naaste regstreekse verbintenis – as jy hoegenaamd 'n voorvader in die laer by Bloedrivier gehad het – sewe of agt geslagte gelede was.
Dit beteken daar is iets aan jou gegee en dat jy dit in ontvangs geneem het, en dat jy besig is om iets wat jy ontvang het weer aan iemand anders toe te vertrou. Dit is waarna die Latynse oorsprong van die woord "tradisie" verwys.
Dit beteken dat jy in die geskiedenis nie net toevallige gebeure en menslike handelinge raaksien nie, maar daarin 'n hoër hand herken en Goddelike beskikking terugvind.
Dit beteken dat jy in die gebeure rondom 1838, in die oploop daartoe, die ontknoping self en die afloop daarvan, nie net iets sien wat gebeur het en verby is nie, maar ook 'n wegwyser na die toekoms; met ander woorde nie net 'n toesegging nie, selfs nie net 'n wegwyser in die passiewe sin nie, maar ook 'n roeping.
Hierdie klompie antwoorde, wat elkeen op sy eie manier en terrein geldig is, kan in 'n aantal sleutelwoorde saamgevat word, woorde soos lotsverbondenheid, geskiedenis, tradisie, geloof, roeping. Dit is besonder sterk woorde met verreikende krag; dit is bakens in 'n geestelike landskap wat vir iemand wat nie bakens het nie, 'n geestelike woestyn sou wees. Dit is bakens waarsonder jy nie weer jou weg sou vind as jy eenmaal verdwaal het nie, en waaruit jy nie kan ontsnap sonder hulp van buite nie.
Dink vir 'n oomblik aan 'n straatkind in Kaapstad of Johannesburg, of self aan kinders van disfunksionele gesinne nader aan ons, en die grootmense wat hulle word. Hulle is soos iemand wat in sirkels loop sonder om dit agter te kom, wie se sin vir verlede en toekoms nie verder strek as die behoeftes van die oomblik wat daar boonop kwalik indien enigsins bevredig kan word. 'n Mens kan sonder lotsgenote, geskiedenis, tradisie, geloof of roeping wees – maar dan is jy 'n halwe mens sonder rigting of doel.
2.
Wat hierbo aangegee is as die antwoord op die vraag wat dit beteken om Geloftefees te vier, is nie buitengewoon nie – nie in die groter orde van dinge nie, en dit is belangrik om te besef.
Ons mense gee om vir mekaar: ouers vir kinders en kinders vir ouers, en ouers vir mekaar se kinders binne 'n funksionele gemeenskap. Die werklike vraag is nie óf ek "my broeder se hoeder" is nie – reeds in Kain se teenvraag toe God hom na Abel vra, lê die krasse gevolg van sonde al opgesluit. Die vraag in God se skeppingorde sou wees: "hoe behoede ek my broeder?" In soverre ons die ewebeeld van ons Skepper in ons dra, en in soverre ons dit danksy ons verlossing kan aankweek te meer, gee ons om vir mekaar; om nié om te gee nie, om elkeen net sy eie gang te gaan of haar eie voordeel te soek, is buite die gewone, is abnormaal.
Ons mense behoort tot 'n beskawing, die Christelike Westerse beskawing, wat nie net van lewenskrag getuig nie, maar ook van lewensvreugde. Waarom? Omdat ons nie in die moeras van verdorwenheid versink het nie, maar – ook nie deur ons eie toedoen nie – redding en verlossing en vergifnis ontvang het en in 'n herstelde verhouding met God en sy skepping verkeer. Daarom is lotsverbondeheid, geskiedenis, tradisie, geloof en roeping nie vir ons vreemd nie, maar gegewe en ontvang; daarom strewe ons nie na die laagste nie, berus ons ons nie eers in die laagste nie, maar strewe na die hoogste, al bereik ons dit nie volkome nie.
Die punt is dat ons hoë strewe nie vreemd is nie, maar normaal, want ons norm is hoog. En dit is niks om oor verleë te wees nie, dit is iets om op trots te wees. As ons Afrikaners dus in ons tienduisende en honderdduisende weer Geloftefees vier, is ons weer besig om ons ewewig te herwin, om weer ons beste self te word, om weer ons hoogste strewe toe te eien, om ons geloftes te betaal. Dit is goed, dit is wat ons behoort doen en ons kan dankbaar wees dat dit weer onder ons mense posgevat het.
3.
Dit bring ons by 'n derde punt, op die oog af bietjie teoreties, maar in werklikheid baie prakties. Dit is die punt van vryheid. Vryheid is die strewe wat – en hier kan ons nou baie dinge noem, maar laat ons by Geloftedag bly – vryheid is die strewe wat ons tot in die laer by Bloedrivier gevoer het.
Wat beteken dit? Dat ons onder vreemde onderdrukking wou uitkom? Ja. Dat ons in ons eie land oor onsself wou regeer ? Ja. Dat ons geweet het presies hoe ons onderneming sou uitspeel? Nee. Dat ons die toekoms onaanpasbaar en met een enkele bloudruk ingegaan het en dit op die werklikheid ou afdwing? Nee. Dat ons goeie oordeel aan die dag sou lê wanneer ons met uitdagings gekonfronteer word? Ja.
Ons voorgangers se sin vir vryheid was dus nie net om te doen wat hulle wil nie. Om net te wil "doen wat ek wil" ís in werklikheid 'n onbuigsame bloudruk wat ek op die toekoms wil afdwing, selfs al kan ek nie altyd sê wat dit gaan behels nie. Om "te doen wat ek wil" is die soort vryheid – 'n vlak soort vryheid – waarop ons tydgenote aan die einde van die vorige bedeling grootgemaak is, die soort individualisme van mense wat elkeen net vir sy of haar eie belange laat omgee het. En tog is daar iets dieper in opgesluit, méér as net die teenstrydigheid tussen om te doen wat ek wil en te doen wat ek moet – en om albei as "vryheid" te probeer beskryf.
Die knooppunt tussen vryheid en binding, tussen wat ek wil en wat ek moet, lê by die inhoud van my wil. Wat wil ek? Wil ek soveel roomys as moontlik hê? Letterlik of figuurlik is daar so 'n impuls in 'n mens se gemoed, maar dit is 'n ongevormde, kinderlike impuls, dit is die strewe na onder, nie na bo nie. As ek regtig net soveel roomys as moontlik wil hê (en dalk ken ons sulke mense), sou ander my tereg skeef aankyk. Ek sou nie as goeie geselskap beskou word nie, niemand sou my as rolmodel vir hulle kinders voorhou nie, ek sou vir die groter geheel, soos 'n baar perd, maar min werd gewees het tot tyd en wyl my willekeurige begeertes beteuel is. Met ander woorde, my wil moet gevorm word, ek moet norme hê vir my normaliteit. En hoe word my wil gevorm?
My wil en ons elkeen se wil word nie eenmaal gevorm en laat staan nie, dit is 'n voortdurende vormingsproses waarby my lotsgenote en lotsverbondenheid 'n rol speel – ek wil wat vir my mense en vir my die beste sal wees. My geskieddenis en tradisie wys vir my die weg aan – ek wil wat ek gesien het en gehoor het my beste voorgangers as nastrewenswaardig beskou het. Ek wil wat my geloof en oortuigings aan my voorhou. Ek wil dit wat my beter in staat stel om my roeping te vervul. Ek wil nie net wees wie ek is nie, ek wil die beste moontlikheid wat in my opgesluit is, wat ek nie self en alleen kan ontsluit nie, wees.
Om te doen wat ek wil en te wees wat ek wil, het hoe dieper mens daarop ingaan, hoe minder met "soveel roomys as moontlik" te doen. 'n Gevormde mens verdien die ruimte en die geleentheid om te doen wat hy of sy wil en ons hoef die inhoud van daardie wil nie te vrees nie, al kan ons dalk daaroor debatteer. Vryheid as sodanig is nie 'n waarborg vir die goeie nie, maar sonder vryheid is dit 'n vraag of die goeie werklik goed is en of dit nie maar net gegewe is nie.
Om dus aan een van die 222 Geloftefeeste wêreldwyd deel te neem, is 'n manier om ons wil te vorm en aan ons vryheid vleuels te gee. Dit is die regte ding om te doen en dit getuig van 'n volk wat sy ewewig herwin.