Afrikaners en die Post-Liberake Orde
Vir die Vryheidstigting is 2025 tot dusver 'n buitengewone jaar, en in bepaalde opsigte ongemaklik. Sedert 2020 het ons elke jaar afgeskop met 'n strategiese ontleding en vooruitskouing in die lig van ons vryheidstrewe, maar vanjaar het die tydige publikasie van ons Vryheid 2025-dokument onmoontlik geblyk. Bepalende gebeure het mekaar té vinnig opgevolg om tot oorsigtelike gevolgtrekkings te kom en ontledings te gee waarmee die toets van die tyd kan aangedurf kan word. Dit was soos om met 'n windbuks op 'n aandagafleibare vlermuis te probeer skiet: sodra jy dink jy weet waar hy heen op pad is, is hy nie meer daarheen op pad nie.
Hoewel almal verwag het dat pres Donald Trump van die VSA se tweede ampstermyn, veral ná die Biden-onderbreking, 'n groot plaaslike én wêreldwye impak sou hê, sou niemand kon raai dat Afrikaners as sodanig in sy kollig sou beland nie. Daar was immers, buiten vir tallose binnelandse aangeleenthede, oorloë in die Oekraïne en in Israel, handelsbetrekkinge met China en die res van die wêreld, NAVO en Europese lande se veiligheidsbegrotings, BRICS en die sprake van 'n alternatiewe internasionale reserwe-geldeenheid, Indië, ens., ens. baie om hom besig te hou! Dat die lot van Afrikaners in Suid-Afrika die onderwerp van 'n uitvoerende bevel soos die een van 6 Februarie vanjaar sou uitmaak, was vir Suid-Afrika én Afrikaners soos 'n kat in die hoenderhok.
Intussen het die Vryheidstigting se jaar begin met 'n stewige bydrae tot 'n boek oor Orania wat eersdaags verskyn, waarná die Amerikaanse Afrikanervraagstuk deeglik ontleed is en as inset by 'n FAK-kultuurberaad aangebied is. Die beplanning was om daardie ontleding verder uit te werk en onder die Vryheid 2025-vaandel aan te bied, maar aan die een kant het dit 'n voltooide argument bevat, terwyl aan die ander kant 'n Orania afvaardiging reeds self op pad Amerika toe was met die doel om tot die Washingtonse Afrikaner-diskoers toe te tree. ("Not about us without us" was die eenvoudige verklaring aan diegene wat so 'n besoek as 'n soort oortreding teen Suid-Afrikaanse lojariteit veroordeel het.)
En by ons terugkeer het, naas opgehoopte verpligtinge, twee verdere sake die soort aandag geverg wat by 'n toereikende vryheidsontleding in berekening gebring sou moes word. Die een was ons besondere invalshoek op die herdenking van 100 jaar gelede se erkenning van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika, en die ander was die EFF wat, om redes van hulle eie, hulle visier op Orania gerig het. Dat ons uiteindelik 'n Vryheid 2025-ontleding vrystel, beteken egter nie dat ons nou verwag om ons alles in kanne en kruike te hê nie, maar wel dat ons dink dat 'n genoegsame greep op die veranderde omgewing intussen moontlik geword het en dat goeie beplanning nie daarsonder gedoen kan word nie.
1. Die risiko van ongereed
As daar een punt in die Vryheid 2024-dokument was wat steeds by mens kan spook, is dit die vrees van ongereed te wees om die geleenthede wat die geskiedenis 'n klein volk bied, ten baat te neem. Daar is aangesluit by die Tsjeggiese skrywer, Milan Kundera se beeld van die geskiedenis as 'n treinwa waarvan klein volke maklik afgelaai of toegang geweier word. Gevestigde volke wie se kaartjies, by wyse van spreke, betaal en gestempel is, vind maklik rede om kleiner volke wat 'n onseker bestaan voer op grond van historiese aansprake, grensdispute, ekonomiese mededinging, kulturele oorheersing, godsdienstige ywer, of wat ookal, onder te ploeg en aan hulle groot staatkundige maatreëls en belange te onderwerp. Die twintigste eeuse geskiedenis van middel-Europa getuig daarvan en Afrikaners het dit die afgelope drie of wat dekades ál beter leer ken.
Die staatkundige struktuur en die politieke stelsel waarbinne Afrikaners vandag na hulle belange moet omsien, verleen prakties meer gewig aan ander aspekte van hulle persoonlike identiteit, byvoorbeeld as deel van 'n globale ekonomiese middelklas, as lede van die universele Christendom of as deel van 'n inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap, eerder as aan hulle kulturele volksidentiteit. Dit word as algemene norm voorgehou aangesien talle state wêreldwyd tans veelvolkig eerder as mono-kultureel is. Dat hierdie staatkundige veelvolkigheid meestal die vrug van Europese kolonisering en van willekeurige grensvasstelling is, veral in Afrika, word nie net verswyg nie, dit word boonop deur die kragte van Westerse selfontbinding wat intussen ingetree het, verdoesel.
Dat kultureel meer homogene state in die reël meer stabiel en suksesvol as veelvolkige state is, word selfs deur daardie meer homogene state gering geskat en aan ekonomiese verwagtings wat van migrasie afhanklik gemaak word, onderwerp. Dit is toenemend nie die konkrete gegewe van onderlinge begrip, verstandhouding en vertroue wat as grondslag vir suksesvolle samelewings voorgehou word nie, maar abstrakte beginsels en maatreëls soos gelykheid, individuele regte en inklusiwiteit. Nie dat daardie beginsels as sodanig onaantreklik is nie, maar wat uit die oog verloor word, is dat dit op sekere voorwaardes berus en dat, as 'n samelewing nie aan die betrokke voorwaardes voldoen nie, die abstrakte beginsels van bo en van buite op 'n bevolking toegepas word en deur 'n deel as onderdrukkend ervaar word, al mag die bevoordeelde gedeelte dit positief beleef.
Vir Afrikaners neem pogings om hulle belange binne die veelvolkige Suid-Afrika te beskerm dan die vorm van koalisieregering en wetlike waarborge aan, soos van eiendomsreg en voertaalbeleid in skole. Wat van die een kant as nie-etniese en algemene aansprake gestel word, word aan die ander kant as pogings tot kwalik bedekte etniese selfbevoordeling, wat aan apartheidsmaatreëls herinner, beskou. En albei kante is deels reg en deels verkeerd, want elkeen dink dat sy siening op redelike gronde berus, terwyl dit in elke geval oor wesenlike elemente van botsende belange gaan. Wie namens "Swart Suid-Afrika" praat, kan nie aanvaar dat nasionale eenheid, wat boonop 'n uitnodiging aan "Wit Suid-Afrika" insluit, voortdurend ondermyn word deur 'n bevolking wat meer in die behoud van hulle historiese dominansie as in die toekoms van gelykheid belangstel nie. Wie namens die ander kant – wat sigself beslis nie as "Wit Suid-Afrika" beskryf nie – praat, kan weer nie insien dat hulle belange in elke opsig aan die meerderheid onderwerp moet word nie en maak op erkende en billike minderheidsregte aanspraak.
Uiteindelik neem die politieke botsings wat eie aan ons soort samelewing is, die vorm van 'n kompetisie om die toepassing van reëls aan. Daarom dat die gedagte van 'n koalisieregering ná die vorige verkiesing met soveel optimisme aangegryp is, terwyl die belangrikste strydvrae selde by wyse van suksesvolle ooreenkoms bygelê word, maar in die howe eindig. En of dit BELA of onteiening sonder vergoeding is, of haatspraak deur politieke ekstremiste, die verskille wat daaroor bestaan word nóg deur meerderheidsbesluite, nóg deur hofuitsprake finaal bygelê. Al wat gebeur is dat die slagveld van beslissing verskuif na waar die een of die ander daardeur bevoordeel word – niks anders nie as 'n kragmeting van mag, sover moontlik verdoesel agter "neutraal rasionele" prosedure.
Daarom dat ons ontleding van die huidige strydvrae waarby Afrikaners in Suid-Afrika betrokke is, nie op die besonderhede van argumente of die vorm van bepaalde dispute ingaan nie, maar op die vraag hoe sake wat vir ons van deurslaggewende belang is, volhoubaar in beskerming geneem kan word. Dít is die terrein waarop ons gereed moet wees om die geleenthede wat hulle onverwags voordoen, ten volle te benut. En dat dit nie tot nadeel van ander gedoen behoort te word nie, beteken nie dat ons daarin kan berus as ander se bedekte magsuitoefening ons tot nadeel strek nie. Maar dit sal 'n ander denkwyse as die heersende denkwyse verg, en daarop gaan ons hierna dieper in.
2. 'n Post-liberale orde
Die gedagte van 'n post-liberale orde word wêreldwyd al meer gehoor en vind aanklank by mense met 'n breedweg konserwatiewe inslag. Suid-Afrika het betreklik onlangs eers voor die onweerstaanbare druk van liberale demokrasie geswig deur sowel nasionalistiese as sosialistiese strewes tersyde te stel ten gunste daarvan. Maar aangesien dit geen paradyslike toestand ingelui het nie, word dit nie deur almal as onbetwisbare vordering op die pad van vooruitgang beskou nie. Denkers aan wat voorheen as die linker- én die regterkant van die politieke spektrum beskou is, behoort dus die moontlikheid van 'n post-liberale orde met belangstelling te volg en hoewel daar aanhangers van die liberale orde sal wees wat sulke sentimente reaksionêr en rertrogressief sal vind, is hierdie kritiek op die hoogbloei van hulle ideologie nie noodwendig anti-demokraties of vyandig jeens verandering-ten-goede nie.
Enige vraag na die wese van 'n post-liberale orde, kan natuurlik nie anders nie as om aan die hand van 'n goeie begrip van die liberale orde self beantwoord te word. Dit is goed en wel om na die verkieslikheid van 'n sin vir gemeenskap eerder as radikale individualisme te verwys, maar in antwoord op die konserwatiewe inslag van wat dikwels as "klassieke liberalisme" beskryf word, is 'n diepergaande ontleding nodig. Veral vanuit 'n voorkeur vir vryheid is dit belangrik om daarmee tot grepe te kom; dit mag naamlik lyk asof moderne liberalisme 'n alleenreg op dié begrip verkry het. Daarvoor is Michael Sandel se klassieke opstel The Procedural Republic and the Unencumbered Self (1982) van groot belang, hoewel dit hier meer genoem as behandel kan word. En in werklikheid is sy hele argument in die fyn woordkeuse van die titel saamgevat.
Ons is almal goed bekend met wat hy as die "prosedurele republiek" beskryf: 'n staats- en samelewingsorde wat reëls neerlê, nie met die oog op die bevordering van 'n bepaalde vergestalting van die goeie nie, maar met die oog op elke burger se vryheid om dit wat hy as die goeie beskou, te vergestalt – solank dit ander se vryheid om dieselfde te doen, nie belemmer nie. Hierdie moderne beeld van die samelewing en die handelende persoon se plek daarin, staan in skerp teenstelling met die tradisionele beeld soos ons dit in die eerste lyne van Aristoteles (384–322v.C.) se Politiek aantref: "Aangesien elke polis 'n gemeenskap is, en aangesien elke gemeenskap daargestel is ter wille van een of ander vergestalting van die goeie (want almal doen alles ter wille van wat as die goeie beskou word), is dit duidelik dat alle gemeenskappe op een of ander weergawe van die goeie gerig is, en dat die gesaghebbendste gemeenskap van almal, die een wat almal omvat, in besonder op die gesaghebbendste weergawe van die goeie gerig is." Daarmee verwys hy natuurlik na die polis self, oftewel die politieke gemeenskap.
Hoewel die tradisie nie met net een betekenis of inhoud van die goeie gewerk het nie, het dit tog 'n bepaalde samehang veronderstel, genoegsaam om aan die gemeenskap wat dit najaag eenheid te gee en aan die handelende persoon 'n betekenisvolle plek daarin toe te ken. Die Verligting se klem op die vrye keuse van die volwasse mens beskou die goeie daarenteen as meervoudig, as iets met soveel vergestaltings as wat daar persone met eie wil en voorkeur is. Elkeen kies nou self wat goed is. Daarom verskuif Immanuel Kant (1724-1804) die grondslag van die morele opdrag (die "Jy moet!") vanaf die goeie wat jy volgens die tradisie moet doen, na die een wat dit moet doen, na die handelende subjek. As elkeen naamlik sy of haar eie beeld van die goeie het, wat het almal in gemeen? Die wil om een of ander goeie te vergestalt, wat die vryheid om dit te vergestalt vereis, wat regulering om die verskillende vrye wilsuitoefeninge nie te laat bots nie, vereis.
Daarmee is ons nie net terug by die prosedurele republiek nie, maar is daar 'n bepaalde mensbeeld aan die orde gestel. Sandel neem sowel Kant se diepsinnige filosofie as die meer eietydse en toeganklike John Rawls se uiteensetting daarvan in behandeling om aan te toon hoe die liberale mensbeeld lyk. Dit is die "onverbonde self", die persoon aan wie geen voorskrif oor wat nastrewenswaardig is van buite of van binne opgelê kan word nie, dus nie deur kerklike of staatlike of familiale of watse owerheid ookal, of deur geloof of oortuiging of oorlewering of gewete nie. Nie die inhoud van die goeie nie, maar wel die reg van elke ander self wat ook besig is om een of ander voorkeur van die goeie uit te te leef, lê die onverbonde self se optrede aan bande. Sy onverbondenheid geld dus wel ten aansien van die goeie, maar nie ten aansien van die reg nie; "reg" word gevolglik bo "goed" verhef eerder as om, soos in die tradisie, in diens van die goeie te staan.
Sandel toon in sy artikel, sowel as in sy vrugbare loopbaan sedertdien, die logiese en eksistensiële onvolhoubaarheid van hierdie mensbeeld aan en veertig jaar ná die publikasie van The Procedural Republic and the Unencumbered Self is daar politieke bewegings wat opnuut na aantreklike en volhoubare vergestaltings van die goeie uitreik sonder om in donker beelde van totalitêre fascisme vas te val. Uit 'n kritiese oogpunt is die uitdaging natuurlik dat die gevestigde liberale orde graag alles wat nie daarmee ooreenstem nie as "totalitêre fascisme" afmaak. Was dit nie vir die totalitêre aard en omvang van die laat-moderne versorgingstaat wat intussen toenemend waarneembaar geword het nie, was dit selfs nog moeiliker om sulke beskuldigings te weerlê.
Die punt is egter dat 'n herwaardering van die mens as gemeenskapswese, aan die hand waarvan sy en haar individualiteit ontsluit word, sowel as die herwaardering van die goeie, waarop die gemeenskap en samelewing afgestem is, opnuut aan die orde kom. Betekenis, geluk, harmonie en nie bloot orde en afstand nie, word nastrewenswaardige ideale; die ware, die skone en die goeie keer terug om as hoë ideale vir ons menslike bestaan te dien. Maar dit bring ook 'n ander ommekeer mee: as die "onverbonde self" van die liberale orde die vrug van 'n anonieme samelewing was, dan moet die uitdrukkingsvolle self van die post-liberale orde weer 'n gemeenskap wat op die goeie gerig is, oproep – en dan moet daar binne sulke gemeenskappe voldoende ooreenstemming bestaan oor wat die goeie is.
Dit beteken nie dat dieselfde beeld van die goeie op almal afgeforseer moet word nie, maar wat dit wel meebring is dat die meervoud van beelde en voorkeure rakende die goeie vanaf individuele willekeur na gemeenskaplike toe-eiening en aanhang verskuif. Dan word spesifieke plaaslike en nasionale gemeenskappe nie deur veelvolkige samelewings en state verdring en vervang nie, maar word 'n nuwe balans tussen gemeenskap en samelewing opgesoek, een waarin die handelende persoon opnuut deur idealisme en betekenisgewing aangevuur word pleks van deur strategieë van onderlinge vermyding aan bande gelê te word.
Dit beteken ook nie dat vryheid as sodanig saam met vryheid van onderlinge inmenging agtergelaat word nie. Inteendeel, die beperkte aard van die liberale vryheidsbeeld kom in werklikheid aan die lig wanneer die onverbonde self as fiksie van die Verligting ontmasker word, wanneer die individue se volgehoue onverbondenheid nie vryheid nie, maar disoriëntasie, reddeloosheid en swartgalligheid meebring. Die vryheid om entoesiasties die goeie na te streef, nie alleen en apart van ander nie, maar in samehang en gemeenskap met ander, kom dan aan die lig, die vryheid om dinge saam te vermag wat buite ons elkeen apart se vermoë sou wees. Sulke vryheid word uiteraard ook deur ander werklikhede beperk en gerig, soos deur persoonlike regte, die integriteit van die gesin, gewetensvryheid en dies meer, maar dit maak hierdie beeld van vryheid nie kragteloos of tot niet nie; dit omlyn en rig dit wel.
As dit dan die algemene agtergrond is waarteen Afrikaners in besonder hulle plek in 2025 kan inneem, hoe antwoord ons op die uitdagings waarmee ons in besonder gekonfronteer word?
3. Ons antwoord: die Afrikaner is terug
Enige stelling wat 'n onomstootlike waarheid verwoord, word gou as gemeenplaas beskou. Dit is wat byvoorbeeld gebeur as die stelling "die Afrikaner is terug" met die vraag "was hy dan weg?" beantwoord word. Die stelling was dalk onder bepaalde omstandighede nuut en verrassend, maar die onomstootlikheid van die gegewe wat daarin vervat word, laat dit gou tydloos klink. Dit word so vanselfsprekend soos n trui in die winter. Daarom moet die aanspraak dat die Afrikaner (enkelvoud) terug is dalk vir oulaas kortliks in behandeling geneem word: wat sê dit nie, wat sê dit wel en hoe verklaar ons dit?
"Die Afrikaner is terug" sê ooglopend nie dieselfde as "die Afrikaners is terug nie." Die Afrikaners was inderdaad nie weg nie – buiten vir sommige wat hulle min of meer in ballingskap bevind. Afrikaners in die meervoud was meestal nie weg nie, ons het wel 'n ander rol gespeel, 'n ander aanslag gehad, ge-"hergroepeer," die breuk van die geskiedenis geïnternaliseer. Ons het op ons persoon en op ons gesinne gefokus, vandaar die groter welvaart waarvoor ons nou soms kwalik geneem word. Ons het alternatiewe gemeenskapstrukture geskep en ons losgemaak van die verstaatliking wat ons bestaan in die vorige orde gekenmerk het. "Afrikaners" was dus nie weg nie, maar "die Afrikaner" was weg, en dit ook om goeie rede.
In die laat 1980's het spotprente PW Botha as toenemend uit voeling met die politieke werklikheid uitgebeeld. Een so 'n spotprent het FW de Klerk en ander hom agter sy groot lessenaar aangespreek terwyl die massas buite raas en betoog. De Klerk se woorde was: "Mnr Botha, die volk het kom groet" en Botha se antwoord: "Waar gaan die volk dan heen?" Ironies genoeg sou mens nou 'n spotprent kon teken waarin, sê maar, Corné Mulder vir pres. Ramaphosa sê "Mnr Ramaphosa, die volk het kom groet" woorop Ramaphosa kan antwoord "Was die volk dan weg?" Die punt wat beklemtoon word, is tweeledig. Dit hou nie in die eerste plek met die ooglopende spitsvondigheid van "weg" of "terug" verband nie, maar met die toonaard waarin die woord "volk" gebruik is, en in die tweede plek met die gedagte dat "die volk" in sy eie oë meer as in ander s'n "weg" was.
Dit is van groot belang om hierdie afwesigheid en terugkeer na waarde te skat, want dit verteenwoordig Afrikaners se antwoord op 'n stuk geskiedenis wat lelik skeefgeloop het. Dit getuig veral van Afrikaners se besef dat 'n stuk geskiedenis in hulle hande skeefgeloop het en van hulle wens om dit sover moontlik reg te stel. Hierdie wens het nie net op die vreedsame oorhandiging van mag en magsmiddele in 1994 en daarna uitgeloop nie, dit het ook die vorm van tallose pogings aangeneem om, ten spyte van voortdurende verwyte en diskriminasie, die nuwe bedeling in Suid-Afrika te laat werk. Afrikaners het meestal afgestap van die gedagte dat hulle as 'n volk spesiale behandeling verdien en hulle billike aansprake noukeurig in die vorm van wêreldwyd aanvaarde minderheidsregte gemaak. Dit het hulle volgehou solank daar hoegenaamd genoeg kulturele en ekonomiese beweegruimte was om hulle eiesoortige bestaan, bv. in Afrikaans, moontlik te maak.
Die terugkeer van "die volk" is Afrikaners se antwoord op 'n beeld van die Suid-Afrikaanse nasie wat hulle deurlopend en toenemend uitsluit, buiten in soverre hulle tot selfprysgawe in die proses van transformasie bereid is. Dit word naamlik duidelik dat Afrikaners toenemend nie dink dat selfprysgawe billik of nodig is om vir hulle foute van die verlede te vergoed nie en dat selfbehoud opnuut prioriteit behoort te geniet. Die terugkeer word egter nie met trompetgeskal aangekondig nie, daarvoor het die oordrywings waaraan ons nasionalisme in die vorige eeu soms skuldig was, ons gevoelig gemaak. 'n Ander spotprent wat tans die rondte doen, beeld in 'n simfonie-orkes twee fluitspelers uit wat voor drie groot trompetspelers sit. Die een sê vir die ander: "Het jy geweet dat Mozart as kind 'n irrasionele vrees vir trompette gehad het?" Die ander antwoord: "Irrasioneel?" Mens sou kon sê: die Afrikaner is terug, maar sy terugkeer word deur die fluite, nie trompette nie, aangekondig.
As ons dus nie sê dat die Afrikaners weg was nie, maar dat die Afrikaner terug is, hoe verklaar ons dit? Hier kom 'n eenvoudige geskiedenisbeeld in die spel. Regoor die wêreld en deur die eeue heen was volksverhuisings aan die orde van die dag. Klimaatsverandering, getalledruk, magsverskuiwings en konflik het meegebring dat stamme en volke sekere streke verlaat en ander beset het, dikwels by wyse van verowering. En alle volksverhuisings was ook nie suksesvol of blywend nie, gevestigde bevolkings het immigrante soms uitgeweer en verjaag of soms ingelyf, afhangend van getalle, tegnologie, leierskap en strategie.
Die Afrikaner is ook so 'n volk. Ons voormense het ook onder drukkende omstandighede hulle tuistes verlaat en gebiede opgesoek waar hulle beter na hulle eie sake kon omsien. En soos die voorsienigheid dit beskik het, was hulle trek die Suid-Afrikaanse binneland in histories gesproke kort op die hakke van 'n ongekende volksmoord wat deel uitgemaak het van en gevolg het op die vestiging van die Zoeloeryk onder Tjhaka. Die Voortrekkers het uiteindelik in groot, meestal onbevolkte gebiede gevestig en kompeterende aanspraakmakers verdryf en onderwerp. Leierskap, strategie en tegnologie eerder as getalle het die ou Boere se sukses verseker en hulle het so 'n groot gebied beset as wat hulle kon behou – vir sowat 150 jaar altans. Oneie bevolkings moes op die grense en in die binneland aan die nuwe orde onderwerp word en die patroon van oneie arbeid wat van die Kaap af saamgetrek het, het 'n unieke saambestaan van volke, wat nie altyd vir die betrokke mense aan albei kante onaanvaarbaar was nie, meegebring.
Beheer oor die hele gebied wat beset en verower is, het egter nie volhoubaar geblyk te wees nie. Hoewel daar later gepoog is om by wyse van herverdeling van grond in die vorm van swart tuislande 'n meer volhoubare bedeling te vestig, kan mens dit terugskouend as té min, té laat om te slaag, beskryf. Uiteindelik wou die Afrikaner te veel behou, met die gevolg dat hy alles verloor het. Die ontydige beleid van rasgebaseerde apartheid in 'n demografies gemengde samelewing het die Afrikaner nie net polities in die ongelyk gestel nie, maar ook moreel. Sy beleid is, ook danksy doeltreffende propaganda, wêreldwyd veroordeel en plaaslik beveg op 'n wyse wat hom uiteindelik nie net sy mag nie, maar ook sy selfvertroue gekos het. En aangesien die Afrikaner se moderniseringstrategie ten nouste met die Suid-Afrikaanse staat verknoop was, het Afrikaners die verlies van beheer oor Suid-Afrika aanvanklik as iets soos die einde van die geskiedenis beleef.
Dit is egter nie waar die verhaal eindig nie, want alhoewel die Afrikaner as volk die verhoog van die geskiedenis vir eers verlaat het, het die Afrikaners as mense nog in die wêreld, besonderlik in Suid-Afrika aangebly. Ons het – want ons is mense met gesinne en families wat moet lewe – steeds plek opgeneem, sowel materieel as geestelik. Ons het nie verdwyn asof ons bestaan 'n blote verbeeldingsvlug was of op 'n blote misverstand berus het nie, nie as enkelinge nie, maar ook nie as volk nie. En gegewe die verloop van sake is ons terug – nie bloot as enkelinge en gesinne nie, want só gesien was ons mos nooit weg nie, maar as volk. En ons is hier om, soos Van Wyk Louw dit al gestel het, dalk net die klank van 'n dun fluit tot die simfonie van die mensdom by te dra, maar steeds iets by te dra waarsonder dié simfonie tog armer sou wees.
Maar as dit is hoe ons ons terugkeer verklaar, hoe sal ons dit in stand hou? Want die kragte wat teen ons werksaam was, gaan nie meteens terugtree of aan ons die soort rol toeken wat ons in 'n vorige era gespeel het nie. Indteendeel, die eis om inskakeling en selfprysgawe ter wille van inskakeling word steeds groter, gemeet aan wetgewing en maatreëls om transformasie te bevorder. Om dié vraag te antwoord, kan ons ons weer tot 'n voorbeeld wend.
4. Voorbeeld: die Hongare in Transsilvanië
"Afrikaners is soos die Hongare van Transsilvanië, maar sonder Hongarye …"(János Jeney, Hongaarse kartograaf en aktivis.)
Die Hongare is een volk. Hulle voorsate het nagenoeg twaalfhonderd jaar gelede gevestig in die Pannoniese vlakte, wat sowat agthonderd jaar tevore as provinsie van die Romeinse Ryk ingesluit is. Daar het Stefan die Grote in die jaar 1000 die Koninkryk van Hongarye gevestig, waarvan die vryheid en grense gedurende die laaste millenium deel van 'n ingewikkelde geskiedenis uitgemaak het. Transsilvanië ("Anderkant-die-woud") maak deel van dié geskiedenis uit, maar behoort sedert die Eerste Wêreldoorlog aan Romenië. Tans woon daar tussen 1.6 miljoen (volgens Romenië) en twee miljoen (volgens Hongarye) Hongare in Transsilvanië en hulle maak sowat 'n vyfde van Romenië se bevolking uit.
Die Transsilvaniese Hongare voer 'n stryd om kulturele oorlewing en slaag uiteraard beter daarin om regte te vestig en hulle belange te beskerm waar hulle meer gekonsentreerd in sekere dorpe en stede woon, as waar hulle verspreid tussen Romeniërs – wat as goedkoop arbeid gedien het toe die Hongare in beheer was – woon. Daarin stem hulle situasie merkbaar met dié van Afrikaners in Suid-Afrika ooreen, maar die feit dat daar 'n erkende en lojale Hongaarse staat is wat vir hulle regte en belange kan intree, deur byvoorbeeld Hongaarse skole finansiëel en administratief te ondersteun, maak 'n groot verskil. Maar dit is die kulturele band van meer as 'n duisend jaar se geskiedenis wat hulle saambind, wat grense en regerings sien kom en gaan het en nog steeds behoue bly. Dit is die lotsverbondenheid van 'n volk wat aan die werk is.
Dit is duidelik dat hier, soos János Jeney dit stel, groot ooreenkomste tussen die situasie van Afrikaners in Suid-Afrika, veral die groot konsentrasie in en om Pretoria, en Hongare in Transsilvanië is. Dit bring soortgelyke behoeftes en uitdagings mee, waarvoor hy 'n besondere oog het aangesien hy in Suid-Afrika grootgeword het en ons omstandighede ken. Sy ouers het Hongarye onder kommunisme verlaat en hulle kundigheid (sy pa was 'n vervoeringenieur in die ou Natal) tot hulle nuwe land se beskikking gestel – totdat Hongarye die kommunisme afgegooi het en Suid-Afrika dit begin omhels het. Aangesien die Jeney-familie se wortels self in Transsilvanië lê, het János se belangstelling in demografiese kartografie hom gelei om nie net die belang van mense se verskuiwing in ruimte en oor tyd raak te sien nie, maar ook die magspolitieke impak daarvan.
Een van die opvallende verskynsels wat hy met kaarte van bevolkingsbeweging en -verspreiding aandui en met fotos illustreer, is hoe die sorg vir 'n stedelike gebied sigbaar agteruitgaan namate die bevolking wat dit gevestig het, nie meer in beheer daarvan is nie. Vervalle geboue, rommel in openbare ruimtes, graffiti op mure, drentelaars en leeglêers is alles tekens van inwoners wat nie eienaarskap neem van hulle plek nie, deels omdat hulle dit oorgeneem het, maar nie gebou het nie. Waar Hongare nog demografies dominant en polities in beheer is, lyk sake heeltemaal anders. Funksionele gemeenskappe druk duidelik hulle stempel op hulle omgewing af. Landelike gebiede loop op ander maniere onder soortgelyke druk deur: tradisionele Hongaarse gebiede onder Romeense beheer se paaie word nie onderhou nie, damme word gebou wat ou dorpies oorstroom, ekonomiese ontwikkeling word na ander gebiede gelei, waarna die ontvolking van tradisionele gebiede dan beskou word asof dit 'n natuurlike verskynsel is.
Dit is nie moeilik om die ooreenkomste tussen Afrikaners en Hongare in byvoorbeeld Transsilavanië te sien nie, maar dit is pynlik om te besef hoe verreikend die tweede deel van sy waarneming is: buiten vir Orania, wat nog heeltemaal te klein is om dié rol te speel, is Afrikaners in Suid-Afrika soms bietjie beter, soms baie slegter af as wat 'n florerende bestaan vereis. Maar ons is sonder 'n "national home", 'n nasionale tuiste of volkstuiste waar ons taal, kultuur, geloof, geskiedenis, onderwys, akademie en daaglikse lewe nie onder bedreigings is nie, waar ons waardes en voorkeure geld en wat as enjinkamers vir Afrikanergemeenskappe in die vreemde kan dien.
Hongarye is by uitstek 'n post-liberale land wat sy grense beskerm, wat sy geloof uitleef, sy taal en kultuur handhaaf en ondersteun, en na sy mense in diaspora omsien. In 'n tyd wat state met veelvolkigheid en die verlies van kultuureie verbind word, of tot 'n blote transaksie tussen belastingebetalers en verskaffers van hoofsaaklik welsynsdienste verskraal word, is dit 'n aangename afwisseling om met 'n volkstaat, 'n staat wat as voertuig en uitdrukking van sy mono-kulturele bevolking funksioneer, te doen te kry. Hongarye en die Hongare, waarvan 'n wesenlike deel nie binne die grense van Hongarye woon nie, staan as baken van 'n volk wat oor genoegsame onderlinge samehang beskik om te weet wat hulle in gedagte het as hulle die goeie nastreef. Hulle vertolking daarvan hoef nie ons vertolking daarvan te wees om van hulle wil en vermoë om dit hoegenaamd te doen, vir ons wat "terug is" 'n navolgenswaardige voorbeeld te maak nie.
5. Strategiese perspektief
Uit die voorgaande is dit duidelik dat daar minstens twee strategiese prioriteite na vore tree. En met inagneming van die behandeling wat dit geniet het, word dit hier bloot genoem en enigsins toegelig. Die selfbevestiging van die Afrikaner as nasionale kultuurgemeenskap met 'n geldige en billike behoefte aan 'n nasionale tuiste, word as gegewe aanvaar, dit hoef hier nie verder beredeneer te word nie. Die eerste strategiese prioriteit moet egter wees om daaraan inhoud te gee.
Wat is die goeie, die ware en die skone vir ons? En hoe gee ons daaraan uitdrukking? Wat voeg ons toe tot die wêreld waarin ons lewe en waaraan sou die mensdom armer gewees het as ons volk glad nie bestaan het nie? Watter politieke denkbeelde sal naas ons literêre skeppings en tegniese prestasies kan standhou voor die kritiese oog van mededingers en bondgenote? Waar staan ons geloofsbeoefening en intellektuele uitdrukking in verhouding met die beste wat die Westerse Christendom opgelewer het? Watter politieke wil en vermoë is tot ons beskikking om sulke hoogtes mee te probeer bereik? Staan ons kultuur in diens van ons ekonomie, of ons ekonomie in diens van ons kultuur? Hierdie vrae behoort ons besig te hou, nie net in abstrakte en teoretiese formaat nie, maar ook in die opsigte waarin dit belangrike besluite en alledaagse keuses bepaal.
Die ou Afrikaanse woord vir wat ons nodig het, is "idealisme". Sonder idealisme sal ons ondergaan, om't ewe of dit aan armoede of rykdom sal wees, maar as ons in klein én groot sake die hoë ideale van 'n mooi, waarheidsgetroue en regverdige lewe voor oë hou, kan ons ondenkbare groot uitdagings te bowe kom. Dink maar aan ons geskiedenis, as volk en as beskawing.
Die tweede strategiese prioriteit is om die regte en tydige verband en verhouding tussen ons kulturele ruimtes en ons staatkundige tuiste vas te stel. Dat albei nodig is, staan vas. Dat albei uitdrukking moet gee aan ons gees van selfstandigheid, en dat daar 'n onbreekbare band tussen hulle moet wees, hoef kwalik nog beredeneer te word; hoe om dit aan albei kante groter en sterker te maak, wel. Waar die balans van energie en belegging op 'n gegewe tydstip en ten opsigte van bepaalde prioriteite moet lê, verg voortdurende besinning, maar dat ons daarteen moet waak om aan die korttermyn behoeftes en regstreekse eise voorkeur te gee bo die voorwaareds van volhoubaarheid en idealisme, staan vas.
Dat die Afrikaner se heil nêrens anders in die wêreld lê as in ons eie volkstuiste nie, is duidelik, maar so ook die feit dat die lande en leiers van die wêreld met wie ons 'n erfenis deel, ons daarin kan bystaan. Daarom benader ons ander, plaaslik en wêreldwyd, met die oop gemoed van iemand wat weet wat hy wil bereik en hulp soek om dit te vermag.
Orania 11 Julie 2025