Dinge verander – soos orals anders, só ook in die Vryheidstigting. Die goeie nuus is dat twee van ons sleutelpersoneellede, Annemarie Pretorius en Anesta Boshoff gedurende die afgelope jaar op kraamverlof was.
<\p> Die slegte nuus (vir ons) is dat Annemarie, wie se tweede baba op [datum] gebore is, besluit het om haar voltydse aandag aan haar gesin en huis te wy. Dit is vandag geen vanselfsprekende keuse nie, maar Annemarie is nie 'n persoon vir vanselfsprekende keuses nie en ons ondersteun haar heelhartig daarin. As jarelange redakteur van die Perspektief laat dit natuurlik 'n groot leemte, wat vir die res van 2024 deur Cara Tomlinson gevul is.
<\p> Cara is die Noord-Kaapse kultuurorganiseerder van die FAK, wat sedert my verkiesing as voorsitter van die FAK-direksie ook ondersteuning aan my werksaamhede bied, terwyl die Vryheidstigting werksruimte en ondersteuning aan haar ondernemings gee.
<\p> Anesta en Carel Volkskool (soos hy in Orania bekend is) het op [datum] 'n dogter ryker geword en haar Hestia genoem, na die Griekse godin van die vuurherd. Intussen het Anesta ook van algemene organiseerder van die Vryheidstigting oorgeskuif na die Argiefbewaarplek en Boekery, waar omvattende ordening en digitalisering tans aan die orde van die dag is. Sy is vandeesmaand terug van kraamverlof, maar die nuwe werksomgewing is ingerig om beter as 'n gewone kantoor aan hulle behoeftes te voldoen.
<\p> Maar dit is net een deel van die storie, die ander is dat 2025 tot dusver vol uitdagings en verrassings was, waarvan die veeleisendste aan die VSA se pres. Donald Trump se optrede vroeg vanjaar toegeskryf kan word. Om mee te begin is die hele politieke diskoers rakende Afrikaners en ons plek in die wêreld daardeur op sy kop gekeer, maar tot oormaat van opwinding het die verhoogde belangstelling in ons lot daartoe gelei dat Orania ook 'n afvaardiging Washington toe gestuur het. Daarby was ek ingesluit, met die gevolg dat baie van die planmatige werksaamhede wat beplan was, in die war gestuur is.
<\p> Oor die waarde van die besoek self, is en word elders gerapporteer, maar hier kan gesê word dat dit rigtinggewend was en vir ons nuwe horisonne geopen het. Dit geld vir sowel die skakeling met regeringsamptenare in beleidmakers in Washington, as vir die ondersteunersgroep wat ons in New York ontvang het.
<\p> Sover dit die Vryheidstigting se Perspektief aangaan, het ons besluit om, in aansluiting by die veranderings wat ons as gegewe moes aanvaar, ons aanslag ná meer as 40 uitgawes te verander. Waar die Perspektief in die rigting van 'n algemene tydskrif beweeg het, was ons waarneming dat ander publikasies toenemend aan dié behoefte voldoen, terwyl daar 'n groter behoefte aan meer spesifieke vryheidsperspektiewe (wat dikwels ook Orania-perspektiewe is) op vraagstukke bestaan. Ons vooruitsig is gevolglik om meer gereeld enkel-artikel uitgawes te versend, met binnekort die Vryheidstigting se Vryheid 2025-dokument en die mini-jeugberaad wat binnekort plaasvind, asook aktuele sake waarop daar uit ons gelede gereageer word. Ons hoop dat ons lesers dit goed vind en hoor graag van u namate hierdie nuwe werkswyse ontplooi. <\P>