SABRA se eerste twintig HF Verwoerd Gedenklesings is van 1975 tot 1994 gelewer en oorspan 'n tyd van ondenkbare verandering in die Suid-Afrikaanse samelewing. Aan die begin daarvan is verwag dat die jaar 1976 onthou sou word vir die onafhanklikwording van die Transkei, maar aan die einde daarvan kom 'n meerderheidsregering in 'n onverdeelde Suid-Afrika aan bewind.
Terwyl hierdie verloop al uit verskillende perspektiewe beskryf is, bied die jaarlikse lesings wat hierin versamel is 'n unieke insig in behoudende Afrikaners se sienings en verwagtings daarvan. As argiefpublikasie gee dit die leser regstreekse toegang tot die destydse gedagtegang wat soms vreemde, maar deurgaans boeiende, leesstof uitmaak.
In een bundel is te vinde die denke van dr. Nic Diederichs, adv. John Vorster, min. MC Botha, dr. Piet Meyer, sen. AM van Schoor, prof AN Pelzer, dr. Jan Hurter, prof. Carel Boshoff, genl. Hein du Toit, prof Roelof Coertze, dr. Wally Grant, mnr Jaap Marais, mnr. Fanie van Rensburg, dr. Andries Treurnicht, prof. Victor d'Assonville, prof. Wilhelm Verwoerd, mnr. PJVE Pretorius, prof. Koos Venter, mev. Anna Boshoff en mev. Kobie Gouws.