Annetjie Boshoff was een van die baanbrekers wat reeds 1991 in Orania gevestig het. Na 'n sonderlinge loopbaan in die kantore van Suid-Afrikaanse Eerste Ministers en Presidente het 'n waardige en rustige aftrede op haar gewag - totdat sy die oproep nie kon weerstaan om die vryheid van haar volk op nuwe ongekende maniere na te streef nie. Vir die volgende 27 jaar het sy 'n besondere rol in die gemeenskap gespeel en op talle maniere tot die kultuur en ontwikkeling van Orania bygedra.
Talle versoeke om haar herinnerings aan die vroeë dae in Orania op te teken, het tot hierdie publikasie gelei. Die eerste, outobiografiese deel is daaraan te danke dat sy nie "uit die lug uit hier geval het nie", en wou te kenne gee waaraan hierdie lewensverbintenis te danke is. Die tweede deel waarin sy ander Oraniërs aan die woord stel, getuig van haar beskeidenheid en lewer 'n aantal kostelike uiteenlopende bydraes op.
Met haar boeke Sekretaresse van die Verwoerds (1974&2016) en Betsie Verwoerd, die vrou (1993) is sy as skrywer gevestig. Met Van ossewa tot in Orania (2020) sluit sy 'n ryk en vol lewe af. Sy is kort na voltooiing van die manuskrip op 94 jarige ouderdom in Orania oorlede.