Onderwys en opleiding is die hoeksteen van persoonlike en gemeenskapsontwikkeling, en dien as die grondslag vir jongmense se groei en sukses. Onderrig bemagtig jongmense met noodsaaklike kennis, kritiese denkvaardighede en die vermoë om deeglik met die wêreld om hulle om te gaan. ʼn Soliede onderwysstelsel stel jeug in staat om hul doelwitte na te streef en uitdagings te hanteer, terwyl dit ook mense bevorder om ingeligte besluite te neem en ʼn positief bydra vir die samelewing te maak. In Orania streef ons na ʼn goed opgeleide gemeenskap, wat innovasie, ekonomiese stabiliteit en sosiale samehorigheid bevorder en uiteindelik 'n helder toekoms vir almal skep. Onderrig en opleiding in Orania word in hierdie stadium hoofsaaklik deur Bo-Karoo Opleiding (BKO), Volkskool Orania en Orania CVO Skool bevorder. Die ontwikkeling van infrastruktuur, uitbreiding en vooruitgang van elke instelling sal afsonderlik bespreek word.
BKO se groei en vooruitgang: 'n leiersrol in skaarsvaardigheid-opleiding in Orania
Bo-Karoo Opleiding (BKO) het oor die afgelope paar jaar 'n indrukwekkende opwaartse trajek gevolg. Gestig in 2019 met slegs vyf studente, het die instansie vandag meer as 170 studente wat hul opleiding in verskeie beroepsrigtings ontvang. Hierdie groei is nie net 'n bewys van die sukses van die instansie nie, maar ook van die groter behoefte aan skaars vaardighede in die land se dinamiese werksmark. Met die vooruitsig dat die getalle steeds gaan toeneem, berei BKO hom voor om sy impak op sowel die gemeenskap van Orania as die breër ekonomie verder uit te brei.
Skaarsvaardighede verwys na daardie vermoëns wat in hoë aanvraag is, maar waarin daar nie noodwendig voldoende opgeleide individue is om aan die markbehoeftes te voldoen nie. Dit sluit in ambagte soos elektriese werk, siviele ingenieurswese, boukonstruksie, loodgieterswerk, en meer. Hierdie vaardighede is noodsaaklik vir die ontwikkeling en instandhouding van infrastruktuur in Suid-Afrika, van groot stede tot landelike gemeenskappe soos Orania. As gevolg van die tekort aan kundigheid in hierdie rigtings, het BKO sy rol as opleidingsinstansie gevestig om mense op te lei wat 'n daadwerklike verskil in hierdie sektore kan maak.
Die groeiende belangstelling in BKO se programme dui op 'n breër bewustheid van die voordele van beroepsopleiding. Vir baie jongmense en werkers wat hulself verder wil bekwaam, bied BKO praktiese opleiding en werksondervinding wat hulle gereed maak vir die arbeidsmark. Terselfdertyd besef voornemende werkgewers die waarde van BKO-gegradueerdes wat reeds vaardig is in hul gekose veld. BKO fokus nie net in opleiding in ambagte nie, maar ook in die Landbou-, Gesondheid- en Welstand-opleidingslyn met geakkrediteerde programme en diploma kursusse. ‘n Sterk klem op sorg word aangespreek met die Tuisversorging, Tuissorgassistent en vroeë Kinderontwikkeling kursusse vir studente wat ‘n roeping het om ‘n verskil te maak in die lewens van ander, van jonk tot oud en die wat nie na hulself kan omsien nie.
Die verwagte groei in studentegetalle het egter ook 'n groot impak op BKO se infrastruktuurvereistes. Byvoorbeeld, die instansie het reeds begin om behuisingsfasiliteite te vergroot met Vaalbos Manskoshuis en toekomstige damesverblyf word aangespreek met die Eendracht Werksgebou wat tans onder konstruksie is met die boonste verdieping wat vir akkommodasie aangewend gaan word. Die verwagte opwaartse kurwe in studentegetalle in veral die ambag lyne dui daarop dat bestaande werkswinkels verder uitgebrei sal moet word in die nabye toekoms.
Addisioneel, in die moderne akademiese omgewing is dit noodsaaklik dat BKO sy digitale infrastruktuur verbeter om aan die behoeftes te voldoen. Verder behels dit die oprigting van tegnologie-gedrewe klaskamers, vinnige internettoegang, en die moontlike implementering van digitale leermetodes.
BKO se verbintenis tot gemeenskapsontwikkeling en ekonomiese groei strek verder as net opleiding. Deur blootstelling van studente vir praktiese werkervaring, help BKO om jongmense aan werkgewers te verbind en sodoende die oorgang van opleiding na werksgeleenthede te vergemaklik. Hierdie werksverskaffingsmodel versterk nie net die lewensgehalte van afgestudeerdes nie, maar dra ook by tot die volhoubare ontwikkeling van Orania en ander gemeenskappe in Suid-Afrika.
Soos die aanvraag vir skaarsvaardighede aanhou groei, staan BKO gereed om die rol as leier in beroepsopleiding vir Afrikaners voort te sit. Met sterk groei en die volgehoue ondersteuning is die toekoms van BKO, sowel as die jong mense wat daar studeer, blink en vol belofte.
Volkskool Orania bou saam aan die Afrikanerstad
‘Stadsbou’ neem in Volkskool Orania se klein (en tegelykertyd groot) wêreld, verskeie vorme aan. Om die baie direkte en mees voor-die-handliggende betekenis daarvan te gebruik, het Volkskool in die afgelope jaar sy kapasiteit by Kieliepensie (kleuterskool) met ‘n 100 plekke vergroot deur die aanbou van ‘n saaltjie met ekstra ablusiegeriewe. Die vorige jaar is ‘n balkon in die Anna Boshoff Saal gebou. Deur gebruik te maak van kreatiewe argiteksplanne tydens die projek is vier ekstra kantore en ‘n vergaderlokaal vir die skool bygevoeg. Volkskool kan terugkyk op ʼn jaar van vooruitgang en kan in die nuwe jaar gemaklik 200 leerders en 30+ permanente personeellede huisves.
Om ‘n meer indirekte betekenis van ‘stadsbou’ te volg, kan die fokus skuif na Volkskool Orania se ander been –afstandleerders. In die afgelope dekade of twee is daar meer as ʼn duisend afstandleerders deur Volkskool Orania se AfstandsleerPlus-hande. Leerders en gesinne wat by Volkskool AfstandsleerPlus betrokke raak, doen dit vir verskeie redes – vanaf totale inkoop in ons model van selfgerigte leer tot ‘n oplossing – nadat openbare skole hulle in die steek gelaat het. Afstandleerders val ook in ‘n wye spektrum van bewustheid, betrokkenheid en vereenselwiging met die Orania ideaal. Dit is ‘n geleentheid en ‘n roeping om as ambassadeurs vir die dorp op te tree. Volkskool dra by tot die roeping en is onbeskaamd Christelik en bevorder die Afrikanerkultuur deur die formele kurrikulum waar eie Geskiedenis- en LO-handboeke ontwikkel is. Verder kom dit voor in die informele kurrikulum deur byvoorbeeld die Orania-tradisies en vakansiedae te verduidelik en toe te pas, ook wanneer afstandleerders die Slypskool en Herfsskool vir ‘n week in Orania kom bywoon. So word Volkskool se AfstandsleerPlus ‘n deur na Orania en ideale waarvoor ons werk.
Hier is een staaltjie as ‘n voorbeeld – In 2022 het die graad 12 leerders, plaaslik en afstand, vir die jaarlikse Slypskool in Orania aangesluit. Twee leerders (beide afstandleerders) het mekaar by ons Slypskool ontmoet, begin kuier en nou so paar jaar later is hulle getroud en gevestig in Orania. Die storie mag soetsappig klink maar dit verteenwoordig ‘n tuiskoms van twee jongmense wat nie net toevallig gebeur het nie.
By Volkskool word die stad ook digitaal verder gebou deur Leersfeer: die platform waarop leermateriaal versprei word en interaksie met leerders plaasvind. Volkskool het so ’n paar jaar terug by ‘n kruispad gestaan waar die gebruik van ʼn aanlynplatform bespreek moes word, daar was ʼn keuse tussen die uitgedateerde Moodle/Blackboard of ʼn eie ontwikkelde platform in Afrikaans. Volkskool het besluit om die tweede opsie te kies en na baie harde werk gebruik Volkskoolleerders dit op ‘n daaglikse basis. Dit het in die proses ‘n produk van die skool geword en ook een ander gebruiker wat die platform vir hulle organisasie se oriënterings- en belyningsproses gebruik wanneer nuwe lede aansluit. Leersfeer het homself nou al bewys as ‘n betroubare portaal vir Volkskool sowel as ‘n ander gebruiker. Die volgende mikpunt is om die platform te kommersialiseer en opbrengs daaruit te verdien.
Die boublokke in Orania se stadsbou neem verskillende vorme aan. Volkskool Orania bied unieke boublokke vir die Afrikanerstad waar Afrikaners kan tuiskom.
Orania CVO-skool bou ʼn skool vir die toekoms
Orania CVO-skool is gereed om teen die begin van 2025 vir die eerste keer ooit 600 ingeskrewe leerlinge te hê. Hiervoor is dit nodig om voortdurend die skool se fasiliteite uit te brei. Die skool het ’n sterk visie om vir Afrikanerkinders in Orania, maar ook in die streek om Orania en selfs in die res van die wêreld topgehalte onderrig aan te bied. Daarom fokus die skool op beide die harde- en sagteware van die skool en om dus ons fisiese fasiliteite, maar ook ons personeel, stelsels, tradisies produkaanbod voortdurend te verbeter en uit te brei.
Die afgelope vyf jaar is meer as R10miljoen aan infrastruktuur by die skool spandeer. Dit sluit in die bou van moderne nuwe klaskamers, nuwe badkamers, algemene opgradering van klasse veral om meer tegnologie te gebruik, die ontwikkeling van ’n gemeganiseerde besproeiingstelsel vir die hele terrein en die ontwikkeling van nuwe rugbyvelde, tennisbane en netbalbane.
Die skool se personeel het ook heelwat uitgebrei en aandag word verleen aan die verbetering van ons stelsels en die gebruik van tegnologie in die klaskamer maar ook in die bestuur van akademiese- en administratiewe stelsels. Die skool het tans 45 personeellede wat ook voortdurend vir die uitdagings van onderwys in die toekoms voorberei word.
Geen groot dorp of stad het nog ooit ontwikkel sonder ’n gehalte onderwysaanbod wat vir nuwe intrekkers aanloklik is en aan hulle verwagtinge voldoen nie. Verder het ook geen volk in die wêreld se geskiedenis nog ooit oorleef sonder sterk inspraak of beheer oor hulle kinders se onderrig nie. Vir Orania om uiteindelik wesenlik te groei en vir die Afrikaner om sy kultuur, tradisies en geskiedenis te koester, maar dit ook in die toekoms in te neem, is goeie onderwys wat geanker is in ons geloof, taal, kultuur en tradisies maar ook modern en gereed vir die toekoms is, noodsaaklik.
Orania CVO-skool het in 2024 reeds ’n omvattende plan ontwikkel om vanaf 600 na 800 leerlinge te groei en dit sal wesenlike verdere investering in klaskamers, koshuise, sport- en ander fasiliteite vereis. Verder sal daar egter ook aan die skool se sagteware soos ons personeel, stelsels en aanbod gewerk moet word. Orania CVO-skool het dus meer as 20 prioriteite bepaal om uiteindelik hierin te slaag.
Orania CVO-skool se skool-by-die-huis produk, Kuberskool, bied reeds onderrig aan 130 leerlinge regoor Suid-Afrika en die verwagting is dat dit in 2025 tot meer as 150 sal groei en teen 2026 tot meer as 200 wanneer nog grade bygevoeg word. So kry Afrikanerkinders regoor Suid-Afrika die geleentheid om deel van ’n skool in Orania te wees en hulle onderrig uit Orania te ontvang sonder dat hulle in Orania hoef te woon.
Orania CVO-skool het talle fondsinsamelingsprojekte en werk saam met strategiese vennote om beleggings in ons harde en sagte infrastruktuur te maak. Die volgende paar jaar gaan vir die skool ’n opwindende tyd van groei, verdieping en die skep van ’n uitnemende onderwysoplossing vir Afrikanerkinders in en vanuit Orania wees.
Samevatting
Die strewe na ʼn goed opgeleide gemeenskap word deur hierdie innoverende instansies vervul, Bo-Karoo Opleiding (BKO) het oor die afgelope paar jaar 'n indrukwekkende opwaartse trajek gevolg van slegs vyf studente in 2019, toe BKO gestig is, tot ʼn instansie wat vandag opleiding gee vir meer as 170 studente in verskeie beroepsrigtings. Volkskool Orania brei hul kleuterskool (Kieliepensie) se kapasiteit met nog ‘n 100 plekke uit, ‘n balkon, vier ekstra kantore en ‘n vergaderlokaal vir die Anna Boshoff Saal word bygevoeg en Volkskool bou digitaal deur Leersfeer, die selfontwikkelde Afrikaanse platform waarop leermateriaal versprei word. Orania CVO brei hulle infrastruktuur uit deur nuwe klaskamers, badkamers, algemene opgradering, besproeiingstelsel vir die hele terrein, nuwe rugbyvelde, tennisbane en netbalbane. Vir die eerste keer ooit is die skool gereed om 600 ingeskrewe leerlinge te hê terwyl die skool-by-die-huis produk, Kuberskool, reeds onderrig aan 130 leerlinge regoor Suid-Afrika bied. Hierdie drie onderwys- en opleidingsinstansies lê ʼn stewige hoeksteen vir persoonlike- en gemeenskapsontwikkeling in Orania, en bemagtig jongmense met kennis, positiewe bydraes, goeie besluitnemingsvermoëns en sukses.