In Orania herbedink en innoveer ons graag wanneer ons voor uitdagings te staan kom. ’n Goeie voorbeeld is die loods van die sonplaas en gepaardgaande batterystelsel om ons in staat te stel om met tye onafhanklik van Eskom-kragvoorsiening te funksioneer en om as troefkaart teen beurtkrag te dien.
Ons is ook trots op die mooi planne vir die uitbreiding van Karoosig Aftreeoord. Dis vir ons Afrikaners belangrik om vir ons ouer mense ’n veilige en vriendelike omgewing te bied waar hulle kan floreer. Baie Afrikaners verkies ook om versorg te word deur hulle eie mense wat dieselfde geloofsbeginsels aanhang, in hulle geliefde taal kommunikeer en saam hulle kultuur uitleef. Dit is wonderlik dat ’n mens vandag kan oud word in Orania, plaaslik liefderyk versorg word in jou laaste dae en wanneer jou tyd kom, ter aarde bestel kan word deur jou eie mense in hierdie geil rooi grond. Dit was nie die geval in die pioniersjare nie: baie moes namate hulle gesondheid verswak het, wortel optrek en verhuis alhoewel hulle harte hier in die Bo-Karoo lê.
Maar ons kan vir ’n oomblik ons visier verskuif, want Orania is nie ’n verouderende populasie nie, inteendeel. Dit blyk ’n groeiende uitdaging te wees, namate ons inwonertal toeneem, dat verwagtende moeders se babas nie hier in die wêreld kan kom nie. Die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe en die Suid-Afrikaanse Verpleegkunde Raad, waaraan dokters en verpleegsusters onderskeidelik moet behoort ten einde te kan praktiseer in hierdie land, beveel mediese personeel aan om swanger vroue te verwys na die naaste toegeruste hospitaal wanneer hulle in kraam is. ’n Toegeruste hospitaal beskik oor ’n teater waar ’n keisersnee uitgevoer kan word sowel as die nodige personeel, soos ’n narkotiseur, pediater ens. Susters sê die uitsondering is wanneer vroue by ’n kliniek soos OraniaMed opdaag om sorg te ontvang en hulle reeds verder as 7cm ontsluit is. Die geboorte is dan so naby dat dit geag word as ’n noodgeval en daar word van medici verwag om te help.
Van beplande tuisgeboortes hoor ’n mens meer gereeld in Orania as elders in die land, maar dit is ’n groot risiko vir medici om ’n tuisgeboorte te behartig. Hulle sou naamlik deur hul onderskeie rade aangekla kon word omdat hulle nie ‘veilige praktyk’ gehandhaaf het nie. In Orania val ons buite ’n sekere radius afstand vanaf ’n volledig toegeruste hospitaal, wat dit gevaarlik maak in ’n werklike noodsituasie vir moeder en baba. Ouers word dus genoodsaak om hulself so goed as moontlik te bekwaam as hulle ’n tuisgeboorte aanpak, omdat geen suster/vroedvrou bereid is om hierdie risiko te neem nie. Dit is ook te verstane, want sou hulle die saak verloor, bestaan die moontlikheid dat hulle nooit weer mag praktiseer nie.
Moeders word meestal genoop om hulle sorg gedurende swangerskap en kraam in Kimberley of Bloemfontein te ontvang. Ons is dankbaar vir goeie sorg relatief naby aan ons, maar die jammerte is dat ons nie kan kies deur wie ons versorg word nie. Dit is uiters bekwame dokters en susters wat na ons omsien, maar hulle is nie noodwendig ons volksgenote wat ons geloofsbeginsels aanhang, ons taal praat en ons kultuur uitleef nie. ’n Teenargument sou kon wees dat dit nie saak maak nie, solank die moeder en baba veilig en gesond is. Maar net soos ’n mens in jou laaste dae mag aandring om deur jou eie mense versorg te word, maak dit saak hoe (en deur wie) ’n moeder in kraam versorg word en hoe ’n kind in hierdie wêreld kom.
Buiten hiervoor maak dit net prakties nie sin vir baie gesinne om die geboorte van hulle kind in ’n ander stad te hê nie. Met ’n natuurlike bevalling weet ’n mens nie juis presies wanneer die kindjie hulle opwagting gaan maak nie; en nie alle gesinne het familie of vriende om by tuis te gaan in Kimberley of Bloemfontein terwyl hulle wag op die kleintjie se koms nie. Ook beskik min oor die finansiële sekuriteit om vir dae (of moontlik weke) te betaal om in ’n gastehuis te woon en te wag op die groot gebeurtenis. Baie ry dan wanneer die moeder reeds in kraam is (150 km of 230 km) om die plek te bereik waar medici hulle “mag” versorg. Ons weet dat daar heelwat onsekerheid is oor die duur van ’n gegewe geboorte en in sommige gevalle is dit net te vêr. Om inderhaas ’n hele huishouding met ander kinders, diere en verantwoordelikhede op te pak of vir versorging te reël is ook nie altyd ewe prakties nie. Veral nie in die nag nie.
Nog ’n redenasie sou kon wees dat daar net nie genoeg geboortes plaasvind in Orania om die oprigting (of uitbreiding) van ’n fasiliteit te regverdig nie, maar soos ons gesien het met die vestiging van OraniaMed se dienste, het ons die deur oopgemaak vir ‘mediese toerisme’: Afrikaners wat in die omgewing woon, reis na Orania om hier mediese sorg te ontvang. Die vestiging van ’n toegeruste teater sou dit moontlik maak om ander operasies ook in Orania uit te voer. En susters sou die geleentheid hê om ’n geboortekliniek te ontwikkel en tuisgeboortes te fasiliteer. Geboorteklinieke word dikwels vir meer as net geboortes aangewend. Voorgeboorteklasse, ondersteuning en sorg vir moeder en baba ná die geboorte en selfs dienste aan vroue wat nie swanger is nie, kan ook gebied word.
So vêr my kennis strek oor die stadsbeplanning en uitbreiding van fasiliteite in Orania word daar nie so projek vir die nabye toekoms beplan nie. Dit is natuurlik moontlik dat ek onbewus is daarvan, maar my pleidooi is dat die vestiging van goeie infrastruktuur vir die geboorte van ons Afrikanerkinders geprioritiseer word. Ons is dankbaar vir die vooruitsig van ’n pragtige stadsplein, die uitbreiding van Karoosig Aftree-Oord, nóg splinternuwe studentebehuising wat eersdaags gebou word en vele ander projekte, maar mag ons nie vergeet van ons heel jongste Oraniërs nie. Moeders wil graag die opsie hê om ons babas in die vrede, vryheid en geborgenheid van ons eie mense en in ons eie dorp te ontvang.