ARTIKEL

Orania kan 'n voorkeursakebestemming vir stadsbou word

deur Flip Buys

2024-10-21

Daar is al baie oor die ideaal en beginsels van stadsbou en selfbeskikking geskryf, gedink en gepraat, maar veel minder oor die ekonomiese uitvoering daarvan. Daarom is dit nodig om veel meer op die ekonomie te fokus, omdat ʼn lewenskragtige ekonomie ʼn voorwaarde is vir die vestiging van Afrikaners wat die Orania-idee ondersteun. Waar die politiek nodig is om die ideaal in Afrikaners te kry, is die ekonomie nodig om Afrikaners in Orania te kry.

John Norquist, die skrywer van The Wealth of Cities, sê tereg dat stede die wêreld se grootste beskawings opgelewer het. Dink maar net aan antieke Atene, Rome en Jerusalem, terwyl die hedendaagse grootmoondhede kwalik te bedink is sonder hul stede soos Washington, Beijing en Moskou. Norquist glo dat die nuwe eeu die heropkoms van stede en hul omliggende streke as die drywers van ekonomiese vooruitgang sal beleef. Die rede hiervoor is dat stadstate histories nog altyd ʼn meer natuurlike politieke en ekonomiese vorm van organisasie was as nasiestate. “Stede bevorder spesialisasie van arbeid, verhoog hulle inwoners se inkomste, hulle help kapitaalvorming aan, verskaf dienste en produkte wat mense benodig en is die markte daarvoor. Stede skep hulpbronne vir die ontwikkeling van infrastruktuur, is sentrums van idees, en lei tot ʼn opbloei van die kunste, musiek, godsdiens, akademie en kultuur.”

Die vraag is wat stede benodig om te floreer, of wat ʼn dorp soos Orania benodig om tot ʼn stad te groei met ʼn lewenskragtige omliggende streek wat prakties gesproke deel van die stad vorm.

Model vir ekonomiese groei

Die doel van enige ekonomie is om die per capita-inkomste van die burgery te verhoog, wat net moontlik is as produksie hoër is as verbruik. Daarby is die doel van ekonomiese groei in Orania om die bevolkingsgroei te verhoog deur werksgeleenthede te skep, en om groeiende selfbeskikking in die hand te werk.

Daar is minstens tien voorwaardes vir ekonomiese groei wat in diens van die groter vryheidsideaal staan, in plaas daarvan dat ideale ondergeskik aan die ekonomie raak.

Die eerste is ʼn goeie plaaslike regering, wat betroubare munisipale dienste lewer wat as platforms vir ekonomiese groei kan dien, waar daar beleidsekerheid is wat beleggersvertroue skep, en wat die burgery se kulturele en persoonlike vryheid beskerm en respekteer. Die tweede vereiste is kultuur. Die ekonomiese historikus van Harvard, David Landes, sê in sy werk, Wealth and Poverty of Nations, wat oor vyf eeue se ekonomiese geskiedenis handel, dat kultuur die belangrikste rede is vir die verskil tussen welvaart en armoede van lande en gemeenskappe.

Die derde vereiste is behoorlike infrastruktuur vir dienste soos elektrisiteit, water, paaie, optiese vesel, sowel as geboue en ʼn lughawe.

Veiligheid is die vierde vereiste en is onontbeerlik vir vryheid en voorspoed, terwyl vryheid en voorspoed weer net so belangrik is vir veiligheid.

Vyfdens volg die regsorde as voorwaarde omdat enige ekonomie afhanklik is van ʼn ordelike en wetsgehoorsame samelewing wat respek vir die oppergesag van die reg en eiendomsreg het.

Die sesde vereiste vir ekonomiese groei is gehalte-moedertaalonderwys en -opleiding oor die hele spektrum, vanaf kleuterskoolvlak tot op universiteitsvlak. Dit sluit natuurlik skole en beroepsopleiding in, sowel as voortgesette opleiding. Daar is ʼn regstreekse verband tussen mense se vlak van opleiding en hulle inkomste, en dit is nodig om aan alle inwoners die kans te gee om hulle volle vermoë te verwesenlik. Ons mense is ons belangrikste bate, en almal moet die kans kry om hulleself te ontwikkel. Opleiding bly die belegging met die hoogste opbrengs.

Arbeid is die sewende vereiste. Die welstand van ʼn stad hang af van die welstand van sy arbeidsmag. ʼn Stad benodig ʼn hoogs opgeleide en produktiewe werksmag om te werk. Dit gee die stad ʼn mededingende ekonomiese voordeel, en moedig sakelui aan om in die stad te belê. Orania se arbeidsbeleid bied unieke uitdagings, maar ook besondere geleenthede. Dit is belangrik dat vergoeding vir arbeid so goed as moontlik is, en daarom is dit nodig dat werkers gehelp word om meer produktief te wees deur hulle in die nuutste beskikbare tegnologieë op te lei. China is ʼn goeie voorbeeld van ʼn land wat in ʼn rekordtyd geïndustrialiseer het deur goed opgeleide en produktiewe werkers wat beleggers na die land toe gelok het.

Geen ekonomie kan sonder kapitaal groei nie omdat kapitaal die brandstof is wat ʼn stad se ekonomiese enjin aandryf. Daarom is kapitale instellings soos banke, beleggingsfondse en ander finansiële instellings nodig. Dit verskaf nie net kapitaal nie, maar dit lewer ook ʼn opbrengs vir beleggers wat terselfdertyd help om die ekonomie te finansier en om die inwoners se lewenstandaard te verhoog en hul welvaart te bou.

Die negende vereiste is dat die belangrikste noodsaaklike dienste beskikbaar moet wees omdat mense nie daarsonder kan lewe nie. Dit behels onder meer mediese geriewe, bejaardesorg, maatskaplike ondersteuning en gemeenskapsontwikkeling. Dorpe en stede wat vinnig groei, ondervind normaalweg sosiale uitdagings, en sonder hierdie dienste sal lewensgehalte negatief geraak word.

Die tiende vereiste hou verband met die ekonomie self. Die bestanddele van ʼn suksesvolle ekonomie is ʼn kultuur van ondernemerskap, gesonde mededinging, lae inflasie, waarde vir belasting, hoë vlakke van besparing en belegging, en die volhoubare benutting van hulpbronne.

Ten einde suksesvol te kan wees, moet Orania se politieke ideale ondersteun word deur ekonomiese ondernemingsgees. Hierdie soort ekonomiese leierskap word treffend verwoord deur die Oostenrykse ekonoom, Josef Schumpeter, wat die rol van ondernemers soos volg beklemtoon het:

The entrepreneurial kind of leadership has none of the glamour which characterizes other kinds of leadership. It consists in fulfilling a very special task which only in rare cases appeals to the imagination of the public. He renders a service the full appreciation of which takes a specialist’s knowledge of the case. It is not so easily understood by the public at large as a politician’s successful speech or a general’s victory in the field.

Dit is goed en nodig dat ʼn volk en ʼn land sy politieke, militêre en kulturele leiers vier. Dit is net so nodig om terselfdertyd erkenning aan sy ekonomiese leiers te gee. In die geval van Orania gaan ekonomiese leiers ʼn groot en bepalende rol in die uitbou van Orania vanaf dorp na stad, en van stad na streek speel. Die vryheidsideaal is noodsaaklik, maar dit is net so “broodsaak” dat die ideaal ondersteun en moontlik gemaak word deur die daadwerklike ekonomiese ontwikkeling van Orania.

Orania voldoen feitlik aan al die vereistes wat nodig is vir sneller ekonomiese groei. Daarom het die tyd aangebreek dat die dorp en sy streek met vrymoedigheid as ʼn voorkeurbestemming vir ondernemende sakelui bemark kan word.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL