Die Afrikaner kom van die geliefde plaas af en sy taal is in die veld gebore. Hoekom word daar dan gesê ons moet self ‘n stad bou? Is die Afrikaner se landelike kultuurgeboorte nie maar uiteindelik sy ware noord nie? Om verder van Orania te praat as kulturele hoofstad – is dit nie bietjie ‘n mondvol nie? Laat ons weeg wat ter tafel is.
Onvermydelike stadsbou
Die Afrikaner ervaar stede as ‘n vreemde tweedeprys. Ons bly in stede maar haal nie daar asem nie. Stadsbou is nie wat dadelik by ons posvat as ons die son sien opkom nie. Tog is dit ‘n onvermydelike stap wat geneem moet word. Die onvermydelikheid lê nie soseer daarin dat ons buitendien stedelinge geword het as gevolg van die industrialisasie en minerale rewolusie nie. Die onvermydelikheid lê daarin dat dit ‘n kultuur ontwikkelingstap behels wat – as ons dit wil systap of permanent as vreemd indringend ervaar - ons die gevaar loop om ons hele kulturele ontwikkeling op die spel te plaas.
Afropolis
Die harde werklikheid is dat ons in Afrika bly, en dat die stede waarheen ons getrek het, ‘n Afropolis karakter dra en dáárdie stempel op ons begin afdruk. Die stede waarin die derde Afrikaner wil oorleef is nie meer die Engelse stede van die Britse ryk nie. Dit is Afro-stede wat natuurlik sy eie karaktertrekke het. Dis nie nodig om nou op al die uniekhede in te gaan nie.
Dit punt van belang is dat Afro-stede ‘n ander kultuurstempel dra as waaraan ons gewoond was toe ons Engelse stede plaas-lik probeer mak maak het. Afro-stede is nie-westerse stede, dit poog om ‘n Ubuntu-filosofie as grondslag te bou en dit is gedekoloniseerde stede. Afrika begin met ‘n nuwe selfvertroue optree wat nie na waarde geskat kan word deur net met ‘n Westerse kultuur bril na die saak te kyk nie.
In kort kom dit daarop neer dat die derde Afrikaner ‘n fout maak om te dink as hy maar net kan uitwys hoe vervalle stede en staat is, dan sal logika wen en die Afrikaner sal weer genooi word om ‘n nuwe opbouende rol te vertolk in die ‘redding’ van stede. Dit is Westerse koloniale vooroordeel wat nie gaan werk op die Afro-stede nie. Die derde Afrikaner begin toenemend besef dat ons nie net ‘n politieke (party) probleem het nie, maar ‘n bedelings probleem. Dit maak nie saak wie in beheer van die Afro-stad is nie, die demografie bepaal die stadskultuur.
Kulturele logika
Afrostede is gedekoloniseerd, wat beteken daar word met ‘n ander kulturele logika gewerk. Die oorheersende Ubuntu filosofie onderliggend aan Afro-stede lyk oënskynlik of dit akkommoderend en innememd is. Die Ubuntu filosofie is ‘n vitale godsdiens waar die geheel die dele in totaliteit bepaal. Vir die derde Afrikaner het dit groot implikasies.
Die vurk in die pad is dus duidelik: die Afrikaner moet kies. Die keuse is nie òf hy in die stad gaan bly nie maar in watter soort stad wil hy bly. Òf die Afro-metropool wat hom so gaan dekoloniseer dat hy onherkenbaar kreools gaan wees òf hy moet sy eie stad bou waar sy landelike kultuurtradisie sinvol in ‘n stedelike omgewing kan ontplooi en gedy.
Die huidige derde Afrikaner maak ‘n lewensgevaarlike denkfout deur te dink hulle kan met ‘n Engelse kultuurraamwerk van wat ‘n stad en staat is, die Afro-stede red en rig, dat hulle ‘n nis vir hulleself kan uithou om in te gedy. Die huidige Bela-wet debakel is ‘n sprekende voorbeeld. As ons kinders se taal nie in die Afro-stede se skole welkom is nie, is ons toekoms en ons kulturele oordrag wesenlik in gedrang. Die Bela-wet is die aandklokreël wat op die Afrikaner toegepas begin word. Dit lui die doodsklok in vir verdere kultuuroordrag.
Bou jou eie stad, met jou eie hande
Die Afrikaner ontwikkel kultureel tans verder. Waar die eerste Afrikaner die ontstaan geskiedenis van die Afrikaner aandui, die tweede Afrikaner die tydperk van die Groot Trek en die Boere republieke, dui die derde Afrikaner op diegene wat Suid-Afrika as ‘n eenheidstaat van 1910 aanvaar met die Afrikaner as minderheidsgroepering. Die vierde Afrikaner is ‘n nuwe ontwikkeling en wil balans herwin tussen bewoning en bewekring binne gemeenskapsgrense.
Die vierde Afrikaner wil nie meer Afro-stede regruk en ‘n nis vir hulleself daarin beding nie. Die vierde Afrikaner besef diè strategie kan op die lang duur nie werk nie, en dit verspil net kosbare geleenthede en hulpbronne. Daarom die onontwykbare gevolgtrekking: bou dan jou eie stad met jou eie hande.
Afrikaners is Westerlinge in en uit Afrika grond. Dit is wat ons uniek maak. Net so min as wat ons Engelse kultuurstede kon verstaan of aanvaar, net so min, eintlik nòg minder, sal ons Afro-stede kan toe-eien. Trouens, ons sal in Afro-stede nie as kultuurgemeenskap, in volkekundige sin, kan oorleef as ons nie sinvol op opvoedkundige vlak daarin slaag om ons kultuurgoedere aan die volgende geslag oor te dra nie.
Orania is ‘n stad in wording, dis die Afrikaner kulturele hoofstad onder konstruksie. Daar is ‘n aansteeklike aantrekkingskrag aan die werk. Leef is baie meer as oorleef. Om die pêrelstring van die geslagte ernstig op te neem is dinamies. Die vierde Afrikaner bou ‘n stad vir sy kultuur belewing, nie slegs ‘n kampie vir kulturele oorlewing nie. Dit sluit ekonomiese, politieke (burgerlike) en opvoedkundige aspekte in.
Uitdagend en nuut
Dit is nuut en uitdagend, dis nie reaksionêr teen vervallende stede en ‘n omvallende staat nie. Dit is nie maklik nie, maar ook weer nie onmoontlik nie. Stadsbou vir die vierde Afrikaner is ‘n geloofsuiting. Dit behels om met die beloftes en bevele van God as rigsnoer vir ‘n kultuurgemeenskap die kompas hoog te hou. Orania is in die sin die kulturele hoofstad van die vierde Afrikaner. Die aanpak berus op twee bene: die republikeinse tradisie waar ons ons eie owerhede verkies en hulle verantwoordbaar hou deur eedswering en tweedens die konsekwente aanvaarding dat ons historiese probleem niè ten eerste ons verspreidwonendheid is nie, maar ons historiese arbeidsetiek.
Orania as kulturele hoofstad wil die bewoning en bewerking van gemeenskapsgrond in balans met mekaar stel. Dit behels ‘n keuse: bou jou eie kultuurstad en leef daar of wees permanent in verdedigende konflik geplaas met die Afro-stad wat jou kultureel verstrengel en verwurg.
Morele hoë grond
Die vierde Afrikaner hèt reeds hierdie keuse gedoen. Die morele hoë grond word daardeur beset. ‘n Roepstem klink daarin tot die derde Afrikaner. ‘n Nuwe stadstoekoms wag in Afrika vir die Afrikaner met ‘n Westelike Republiek. Orania gaan ook ‘n Afropolis wees, maar Westers gebou, Christelik ingerig en in Afrikaans opgebou vir ons kinders van Afrika.