Die hoeksteen van Orania se bestaan is die konsentrasie van Afrikaners, sodat Afrikaners selfbestuur kan ontwikkel -’n bestuur op ’n demokratiese basis en van ’n morele hoë grond. Territoriale selfbestuur vir Afrikaners kan net bestaan wanneer Afrikaners ’n meerderheid vorm binne ’n afgebakende gebied. Afrikaners is egter in geen enkele erkende politieke gebied, soos munisipaliteite en provinsies, in die meerderheid nie. Dit werp die vraag op wanneer Afrikaners dan wel ’n meerderheid vorm.
Almal wat die debat oor ‘die volkstaat’ volg, weet dat sommige voorstanders onhaalbare en onwerklike verwagtings het. Die volkstaat sou van die Oranjerivier tot aan die weskus moet bestaan – of in dele van Gauteng, midde in die ekonomiese hart van Suid-Afrika – en daardie gebied moet deur die ANC-regering aan Afrikaners gegee word.
Verskeie pogings om met werkbare alternatiewe te kom, kon nie op die benodigde steun reken nie. Nie net weens verdeeldheid nie, maar ook weens die onmag en onkunde van inisiatiefnemers. En wanneer inisiatiefnemers uitvind dat hulle nie die gedroomde steun kan versamel nie, wentel inisiatiefnemers hulself in teleurstellings, word hul uitlatings ekstremer en word ander, meer suksesvolle organisasies aangeval. Die fokus verskuif van die inisiatief af na alles wat “sleg” gaan.
Goeie idees benodig nie net sterke begronding of ondersteuning nie, dit benodig veral skaalbaarheid en aanpasbaarheid. Veral wanneer die ondersteuning min is, moet ’n idee klein kan begin, waarna dit kan groei. Die Volkstaatidee van Afstig was só opgebou. Klein begin in klein nedersettings langs die Oranjerivier en langs die Weskus.
Noudat Orania groei en oor ’n deeglike tuisbasis beskik, word die vraag na ’n eie streek vir Afrikaners weer belangriker. En Orania kan daarin ’n sleutelrol speel.
1.1 Grense en daaglikse interaksie
Daar is baie pogings onderneem om deur die trek van grense te toon dat Afrikaners êrens ’n meerderheid vorm. Van die Volkstaatraad tot OASE, het baie organisasies grense getrek en gebiede geteken waar Afrikaners die meerderheid vorm: van klein kantonne tot gebiede so groot soos die ou Boererepublieke.
Die probleem is dat die trek van grense polities is. ’n Gesin kan die meerderheid van ’n land vorm waarvan die grense nie verder strek as die erf se hoë heinings nie. Goeie grense is egter gebaseer op erkenning én daaglikse realiteite.
Mense kan teoreties elke minderheid saamvoeg in ’n nuwe gebied waar hulle die meerderheid vorm, maar dit maak dikwels nie sin nie. As lede van minderheidsgroepe meer verwewenheid en interaksie met nabye lede van meerderheidsgroepe het as met verre lede van hul eie minderheidsgroep, kan die minderheidsgroep nie ’n koherente en sosiale samelewing vorm binne ‘n nuwe gebied nie. Dit is wel een van die belangrikste voorwaardes wanneer dit gaan oor streeksvorming, streeksidentiteite en die begin van geografiese bestuurlike eenhede.
In baie voorstelle oor outonomie vir Afrikaners is getalle die belangrikste maatstaf om te bepaal of Afrikaners ten opsigte van nie-Afrikaners ’n meerderheid vorm. Die getalle is dikwels gebaseer op die telling van mense op grond van geografiese eenhede, soos strate, woonbuurte en stede. Die telling van mense op die plek van hul woning is egter nie genoeg nie.
Die storie wat bepaal watter groep die meerderheid vorm en watter groep nie, gaan in wese oor die impak van groepe van mense. Die antwoord op die vraag oor watter groep die meerderheid vorm, word beantwoord deur die vrae: wie woon waar, waar werk hierdie mense en watter gebied is daardie mense se daaglikse bewegingsruimte?
’n Mens moet dus die daadwerklike gedragspatrone van mense in oënskou neem as ’n mens wil bepaal watter groep ’n meerderheid vorm. Daaglikse gedragspatrone gee elke individu sy eie leefwêreld, waarin hy woon, werk, ontspan en kerk of skool toe gaan. Ongeag politieke grense is elke individu ’n inwoner van sy eie (individuele) leefwêreld, kan hy sy (burger)regte daarbinne gebruik en kan die individu invloed uitoefen en betrokke wees. So kan iemand byvoorbeeld toetree tot die ouerraad van sy kinders se skool wat in ’n ander munisipaliteit staan.
Hierdie impak, gebruik en aansprake van ’n dorp is meetbaar. So kan ’n mens aan plaaseienaars vra tot watter dorp hulle behoort, waar hulle hul produkte verhandel, inkopies doen en hul kinders skool toe gaan. Dit is dikwels ’n gevoelskwessie, maar druk wel die (ekonomiese) verwantskap tot ’n bepaalde plek uit.
Die vraag is egter – met die groot gronddebat in Suid-Afrika – of eiendom en die demografie van plaaseienaars ’n goeie maatstaf is om te bepaal wat die impak van ’n dorp op sy omgewing is.
Die hewige debat beteken dat ’n mens nie die platteland as maatstaf kan gebruik om te bepaal tot watter dorp (dele van) die platteland behoort nie. Daarom kan ’n mens ook vanuit dorpe redeneer wat die impak (d.w.s. bevolkingsdruk) van ’n dorp op die platteland is. Indien ’n mens vanuit dorpe redeneer, verloor ’n mens die plek- of plaas-spesifieke antwoord, maar kan ’n mens wel demografie in oënskou neem.
Een van die wyses om te bepaal wat die leefwêreld van mense is, is om te kyk na reisafstande. Die afstand moet wel oorbrugbaar wees. Vir daaglikse interaksie is die reistyd maksimaal 90 minute vir ’n enkele reis.
Dit bied die moontlikheid om die maksimale bevolkingsdruk op gebiede rondom stede en dorpe weer te gee en die verhouding tussen bevolkingsgroepe in perspektief te plaas. Die kombinasie van inwonergetalle en interaksie gee beter insig in die verhouding tussen meerderheid en minderheid as ’n eendimensionele beskouing van inwonergetalle. Binne hierdie verhouding kan vervolgens dimensies van swak minderhede, sterk minderhede, swak meerderhede en sterk meerderhede onderskei word.
Die dimensies van swak minderhede, sterk minderhede, swak meerderhede en sterk meerderhede tref ‘n verskil tussen stad en platteland. Vir dorpe is die hoeveelheid inwoners van die dorp in kwessie ’n belangrike faktor om te kan bepaal watter tipe meerderheid- of minderheidsbewoning ter sprake is.
Vir die platteland ontbreek dit egter aan die hoeveelheid inwoners. Die platteland is egter nie niemandsland nie. Soos hierbo aangeskryf, het plekke op die platteland hul eie verhouding met dorpe in die omgewing: deur die krag van die getalle uit die omgewing, is plekke op die platteland amper heeltemal afhanklik van die bevolkingverhoudings in die wye omgewing. Afhanklikheid ten opsigte van ’n dorp in die omgewing word veral bepaal deur die grootte van die dorpe in die omgewing.
’n Plek op die platteland kan tot die hartland, die grensland, die buiteland en die verlore land behoort. In die hartland is die invloed van die nabye Afrikanerdorp(e) groter as die gekombineerde invloed van alle dorpe in die omgewing.
In die grensland is die invloed van die nabye Afrikanerdorp(e) wel groter as die grootste invloed van ’n ander dorp, maar kleiner as die gekombineerde invloed van alle ander dorpe in die omgewing. Die plek is dus wel afhanklik van die Afrikanerdorp, maar behoort in mindere mate tot daardie dorp. Daarmee skei die grensland die hartland van die buiteland.
Die “buiteland” is daar wel sprake van ’n Afrikanermeerderheid op die plek/plaas, maar hierdie meerderheid is so klein dat die meerderheid afhanklik is van ’n dorp waar Afrikaners slegs ’n minderheid is. Ook is die gekombineerde invloed van alle ander dorpe in die omgewing baie groter as die invloed van die nabye Afrikanerdorp(e).
In die “verlore land” is daar geen sprake van meerdheidsbewoning nie en is die vorming van ’n Afrikanerstreek of Afrikaner selfbeskikking eintlik verlore.
Op die geografiese werklikhede van streeksentrums en selfstandige dorpe, al dan nie met bybehorende hart- en/of grensland kan vervolgens ’n bepaalde mate van (politieke) erkenning geskoei wees.
1.2 Meerderheidsvorming: ’n rekenmodel
Dit beteken dat daar gekyk moet word na die daaglikse leefwêreld wat binne 90 minute se reis van ’n plek woon, om te kyk wie daar in ’n meerderheid is. Daar is wel mense wat verder as 90 minute reis, maar hulle is ’n baie klein persentasie.
Dit beteken dat die leefwêrelde van mense binne 90 minute se reis van ’n plek in oënskou geneem moet word. Daar is verskeie reise wat mense daagliks maak, waaronder vir woon, werk, ontspanning en inkopies. Volgens Statistieke Suid-Afrika is woon-werkverkeer die langste reis. Die woon-werkverkeer dui dus op die grootste afstand binne mense se leefwêreld.
In die model is paaie as geografiese beperking opgeneem. Met die gebrek aan regstreekse paaie in die Bo-Karoo het dit groot gevolge vir die bevolkingsdruk. So is daar byvoorbeeld gereken met die padafstand van 30 km tussen Orania en Nooitgedacht, terwyl die afstand in voëlvlug slegs 16 km is.
Vervolgens reken ’n mens uit hoeveel nie-Afrikaners in die dorpe rondom ’n plek, in hierdie geval Orania, woon. Vir Hopetown is dit 9551 mense. In die Noord-Kaap reis 80% van die mense daagliks, oftewel 7641 mense van Hopetown. Dit beteken dat 82 mense uit Hopetown daagliks minder as 30 minute met die bus reis. Die reistye word omgesit in maksimale reisafstande met behulp van ’n gemiddelde snelheid van die vervoermiddels. Dit beteken dat hierdie 82 mense van Hopetown maksimaal 25 km met die bus reis. Dan word die reisafstande vergelyk met die afstande tussen die bewuste dorp en die plek waarvan ’n mens die meerderheid wil uitreken. So is die afstand tussen Hopetown en Orania 41 km. Vervolgens selekteer ’n mens die groepe wat binne die afstand val, wat beteken dat Orania nie binne die maksimale leefwêreld van hierdie groep van 82 buspassasiers val nie.
So gesê kan die model gebruik word om die bevolkingsdruk en invloede van Afrikaners en nie-Afrikaners op ’n gebied uit te reken. Met die bevolkingsdruk en invloede van Afrikaners en nie-Afrikaners kan vervolgens (1) bepaal word watter bevolkingsgroep die meerderheid vorm en (2) watter dimensie van meerder-/minderheid ter sprake is.
1.3 Op- en aanmerkings by die rekenmodel
Die rekensom bepaal in meerdere opsigte die maksimale bevolkingsdruk op ’n gebied.
Eerstens gee dit nie die werklike bevolkingsdruk weer nie, want verkeer, woon en werk vind plaas op bepaalde plekke. In hierdie model is plekke egter onbepaald, in kringe vanaf die dorp in kwessie. Die syfers gee net weer dat 5,5% van die mense wat per motor werk toe gaan, verder as 60 minute ry. StatsSA se syfers gee nie weer waar mense uit byvoorbeeld Strydenburg werk nie. Die model skep dus ’n situasie waarin Orania deel uitmaak van die leefwêreld van alle inwoners uit Strydenburg, wat per motor werk toe gaan en verder as 60 minute reis, bloot omdat Orania binne hul woon-werkafstand val. Dit is egter logieser dat hierdie groep uit Strydenburg in Prieska of De Aar werk. Nietemin val Orania binne die hipotetiese grense van hul leefwêreld; ook kan daar sprake wees van transitoverkeer.
Tweedens is gestel dat alle mense binne ’n groep, byvoorbeeld die 38,2% van die buspassasiers, die maksimale tyd en afstand reis. Die syfers vertel nie wie slegs 10 minute met die bus reis en wie 29 minute nie. Dit beteken dat daar gereken is met syfers waarin die hele groep maksimaal 29 minute met die bus reis.
Derdens is demografiese eienskappe nie in ag geneem nie. In die Noord-Kaap reis slegs 80% van die mense daagliks. Skoolgaande kinders se gemiddelde afstande is egter laer. Ook sou ’n mens werkloosheid, die werk- en woonbestemming asook die werklike afstand van woon-werkverkeer in ag kan neem. Ook is moontlike demografiese verskille ten opsigte van vervoermoontlikhede nie in ag geneem nie, byvoorbeeld die persentasie motorbesit by Afrikaners en by nie-Afrikaners.
Vierdens bestaan die vraag of gebruikers van buite en inwoners van ’n dorp in hierdie vergelyking dieselfde weging of gewig moet hê. ’n Mens kan besluit om drie punte te gee vir iemand wat woon in ’n plek, twee punte vir iemand wat daar werk en een punt vir iemand wat daar ontspan. In die geval van die maksimale bevolkingsdruk is daar wel gekies om almal dieselfde weging of gewig te gee. Almal is mos burgers in die land en niemand behoort ’n bywoner te wees nie.
Die invloede van dorpe op hul omgewing is in werklikheid laer as die uitkomste uit die model. Die voordeel van die gebruik van die maksimale groepomvang en maksimale afstande in dit model is egter dat dit veeleisende uitkomste skep. Wanneer daar volgens hierdie model sprake is van ’n meerderheid Afrikaners op ‘n bepaalde plek, is die meerderheid daar ook wanneer daar meer op die werklikheid gebaseerde parameters in die model opgeneem word.