Een van die interessantste en waardevolste versamelings in die Orania Argiewe is die dokumenteversameling van die kleurvolle Duitse navorser en skrywer, dr Klaus Baron von der Ropp. En soos mens kan verwag, is daar 'n storie – eintlik twee stories – agter die storie van sy toenemende verbintenis met die Afrikaners se lot, wat meegebring het dat daar 'n volledige stel van sy bydraes tot boeke en akademiese joernale in die Orania Argiewe gehuisves word. Maar eers meer algemene agtergrond.
Dr Von der Ropp, wat in 1938 gebore is, het sedert die vroeë 1970's oor Suid-Afrikaanse vraagstukke begin publiseer en was as juris aan die gerekende Stiftung für Wissenschaft und Politik verbonde, hoewel in die eerste plek verantwoordelik vir skakeling. Sy werk oor Suider-Afrika was 'n sydelingse belangstelling wat nagenoeg 160 artikels en talle besoeke aan die streek opgelewer het – meer as baie navorsers se hele loopbaan. Tans is hy uiteraard bejaard, maar betreklik gesond en helder van gedagte. Hy woon sedert sy eggenote se afsterwe alleen in Potsdam, naby Berlyn van waar hy nog tot in 2021 artikels oor die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse "wonderwerk" en die noodsaak vir 'n Afrikanertuiste skryf.
In 2022 het hy besluit om sy oorspronklike gepubliseerde dokumenteversameling aan die Orania Argiewe te skenk en het twee van die Vryheidstigting se medewerkers, Paul Maritz en dr Victor d'Assenville, wat albei tans in Duitsland woon, dit by hom gaan haal. (En as mens dink dat alles in Europa naby aan alles anders is, kan mens die grootte van Duitsland maklik onderskat. Dit is 'n behoorlike dagreis per motor van Frankfurt na Heidelberg na Berlyn, al maak die Duitse Autobahn daarvan 'n bepaalde avontuur!) Paul het ook 'n meerdagse besoek aan dr Von der Ropp gebring om onvervangbare stemopnames van sy toepaslike herinneringe te maak. In Februarie 2023 het Carel Boshoff saam met dr d'Assenville 'n welwillendheidsbesoek by hom afgelê en op simboliese wyse sy nalatenskap in ontvangs geneem.
Terug by die redes vir dr Von der Ropp se interesse in en betrokkenheid by die Afrikaners se lot, kan eers na sy eie afkoms verwys word. Hoewel hy steeds die regmatige erfgenaam van die titel "Baron" of "Freiherr" is, is sy voorsate van die grond in die Baltiese gebiede wat daarmee gepaard gegaan het en wat rondom 1170 aan hulle toegeken is, verdryf. Dit sou later deel van Pole uitmaak. Daarom het die wedervaringe van die Baltiese en Russiese Duitsers, wat groot en invloedryke gemeenskappe was, maar 'n onvolhoubare bestaan gevoer het, hom deur sy hele lewe geboei. Dit is om verskeie redes 'n grootliks vergete verhaal, hoewel 'n gesaghebbende studie daaroor, Deutsche Geschichte im Osten Europas deur Gerd Stricker, wel verskyn het. Dr Von der Ropp het ook daarvan 'n kopie aan die Vryheidstigting oorhandig.
Die tweede rede vir sy Afrikanerlojaliteit is meer persoonlik en direk. Tydens 'n besoek aan Swakopmund in die destydse Suidwes-Afrika raak hy tydens 'n ontspanne besigtigingsrit wat skeefloop, verdwaal in die Namib-woestyn. In kortbroek en t-hemp met sandale aan sy voete, sonder kos of water, poog hy om die soekgeselskap se aandag te trek, maar word eers 96 uur later op die randjie van die dood gered. Sy redder was ene kapt Stark van die Suid-Afrikaanse Weermag, self 'n legendariese figuur wat ook sy herinneringe later te boek gestel het. Vir dr Von der Ropp was dit 'n bepalende ervaring: hy het op 13 Desember 1975 sy lewe soos 'n geskenk terug ontvang – en het 'n Afrikaner en 'n Afrikanerbedeling daarvoor te danke gehad. Daarom het hy vir die res van sy lewe 'n ereskuld aan die Afrikanervolk gevoel en kon nie aanvaar dat ons 'n lot soortgelyk aan die Baltiese Duitsers, wat uit hulle eeue-oue tuiste verdryf is, te beurt sou val nie. Die Afrikaners sou boonop nie 'n Duitsland hê om heen terug te val nie.
Hierdie agtergrond sê iets van dr Von der Ropp se meelewing met Afrikaners se lot as minderheid in 'n veelvolkige staat in 'n era van gelykheid en demokrasie, maar dit sê nog niks van sy politieke perspektief op sake nie. Daarby kom iets interessant en selfs onverwags na vore. Die eerste is dat hy hom in die Duitse politiek aan die liberaal-linkse kant bevind eerder as aan die regse kant, en dat hy 'n eg Duitse sin vir federalisme openbaar. Bygesê dat hy geen politikus is wat probeer om sy ideologie te bevorder nie, maar dat sy verbintenisse wel ter sprake kom by die inhoud van sy werk, sowel as die gehoor tot wie hy hom rig en wat vir sy ontledings vatbaar is.
Onder Afrikaners was sy vriende onder meer die liberale sosioloog en politikus, dr Van Zyl Slabbert, die linkse teoloog en aktivis, dr Beyers Naudé en die vrydenkende digter, Breyten Breytenbach. Maar hy was ook goeie vriende met prof Carel Boshoff en genl Constand Viljoen. En nie een van hulle het sy onvermoeide ywer vir 'n Afrikanertuisland vrygespring nie! Om die waarheid te sê, sy gebalanseerde beoordeling gedurende die 1970's van die gedagte dat Suid-Afrika langs etniese lyne moet verdeel, ontwikkel en federeer – Afsonderlike ontwikkeling, dus – is opvallend. Die voorwaarde sou wel wees dat die swart tuislande dan sinvol gekonsolideer word en "klein Apartheid" afgeskaf word.
Hierdie benadering stem nie net ooreen met prof Hermann Giliomee se oordeel dat dr Verwoerd op pad was om drastiese aanpassings aan sy afsonderlike ontwikkelingsbeleid aan te bring nie, maar ook met die politieke dieet waarop baie van ons groot geword het. By onder meer SABRA jeugkongresse is die gedagte van volhoubare partisie as enigste alternatief vir meerderheidsregering in één Suid-Afrika voorgehou, en volhoubaarheid sou groter eise stel as waaraan ons mense bereid was om te voldoen. Die uiteinde? Dat nie net groter dele van Suid-Afrika as wat ons mense verkies het, onder swart regering geëindig het nie, maar dat die hele Suid-Afrika vir drie dekades onder ANC-SAKP wanadministrasie sou deurloop.
Delf mens dieper in die 109 (tans gelysde) artikels wat dr Von der Ropp tot ons beskikking gestel het, blyk dit duidelik dat 'n meer radikale vorm van landsverdeling nie vir die buitewêreld sonder meer onaanvaarbaar sou wees nie. Maar die punt is nie dat die verlede anders kon wees nie, want daaraan kan ons nou niks meer verander nie. Die punt is dat ons in dr Von der Ropp 'n vriend het en gehad het wat selfs nou nog insien dat 'n Afrikaner "toevlugsoord" méér eerder as minder nodig geword het. Ten spyte van sy meer linkse oriëntasie as wat by die meeste volkstaters die geval is, het hy hom nie op sleeptou laat neem deur die "uitbreek van vrede" soos hy tong in die kies na die oorgang van 1994 verwys het nie. Daarvoor het hy te veel gesien – hy het nie té veel verwag nie.
Lees hierna dr Klaus Baron von der Ropp se "Ope brief aan 'n oorlede vriend" wat hy in Februarie 2017 aan prof Carel Boshoff, wat reeds in 2011 oorlede is, rig en waarin hy sy latere gedagtes uitspreek.
*
Beste Carel!
In 'n tyd wat ons in Duitsland baie gruwelike nuus uit Suid-Afrika ontvang, dink ek met besondere vreugde terug aan ons talle gesprekke gedurende die afgelope dekades. Dit het alles begin met 'n lang brief van my wat op 13 Desember 1974 onder die opskrif "Südafrika muss geteilt werden (Suid-Afrika moet opgedeel word)" in die belangrikste Duitse dagblad, Frankfurter Allgemeine Zeitung, verskyn het. Dit is voorafgegaan deur gesprekke met die ervare Afrika-korrespondent Herbert Kaufmann. Ons het al twee gehoor dat die ANC-leier en latere ontvanger van die Nobelprys vir Vrede, Albert Luthuli, aan die einde van die 1940’s 'n voorstel aan die nuutverkose Eerste Minister van die Nasionale Party, Daniel Francois Malan, gemaak het om die land weens die uiterste heterogeniteit van sy bevolking vreedsaam tussen wit en swart Afrikane op te deel. Malan het dit hoogmoedig van die hand gewys en daarop aangedring dat die sedert eeue heersende blankes eensydig die grense sou trek. So het, opbouend op die nalatenskap van die Britse koloniale moondheid, die stelsel van “aparte ontwikkeling” of apartheid ontstaan. Dit was ʼn buitengewoon onregverdige stelsel, wat heeltemal tereg deur die nie-blanke bevolking en toenemend deur die buiteland beveg is.
Jy het dit afgekeur! Jy het dit as moreel en magspolities onvolhoubaar verwerp! Jy het as een van min wit Afrikaners die moed van jou oortuiging gehad om dit hardop uit te spreek en jy was bereid om die eensame pad van die dissident te stap! Anders as die orige wit dissidente, soos byvoorbeeld my liewe vriend Christiaan Beyers Naudé, het jy ook, tereg met die Duitse teoloog Helmut Gollwitzer die vereiste uitgespreek dat die wit minderheid in Suid-Afrika van hulle vrees om hulle voortbestaan bevry moet word. Of, soos die (Duitse) voorsitter van die Liberale Internasionale, Otto Graf Lambsdorff dit in die middel 1980’s in 'n gesprek met Van Zyl Slabbert kort en bondig uitgedruk het: "Wit veiligheid is die sleutel tot swart vryheid en ontwikkeling." Die vereiste was, soos wat die groot Duitse denker, die Sosiaal-Demokraat Egon Bahr dit in 'n onderhoud op 10 Julie 1977 met die Hamburgse koerant, dieDeutsches Allgemeines Sonntagsblatt, geformuleer het, om "'n tot dusvêr onbekende model van 'n gelyke saambestaan met spesiale beskerming van minderhede," of, soos dit in Engels genoem word, "copper-bottomed guarantees of existence" te ontwikkel. Jy, Carel, en ek, ons het altyd saamgestem dat so-iets onder die omstandighede van Suid-Afrika slegs bereik kan word as 'n tuisland vir minderhede uit die oorblywende Suid-Afrika uitgesny word, vergelykbaar met Israel in die Midde-Ooste as onafhanklike staat wat deur die wêreld erken word. Nie net op ekonomiese gebied nie, sal die twee opvolgstate vervolgens ten nouste saamwerk, tot voordeel van die hele vasteland.
Die staat van die etniese minderhede sou heelwat kleiner en ook armer in grondstowwe wees as die ander, van die swartmense (ten minste polities) beheerde staat. Met die oplossing van die interne probleme van Suid-Afrika sou ook, so het ons al twee gehoop, die gevaar van 'n wêreldwye konflik oor die beheer oor Suid-Afrika verhoed word. Niemand minder as die reeds genoemde Egon Bahr het vir sy genoemde onderhoud die opskrif "Sonder 'n onderhandelde skikking is die gevaar van 'n derde wêreldoorlog heeltyd aanwesig" gegee. Destyds was daar in die Weste die bekommernis aanwesig dat die twee deur radikale bevrydingsbewegings geleide state Zimbabwe en Suid-Afrika hulle vir die produksie van en handel met essensiële grondstowwe na die voorbeeld van OPEC, saam met die Sowjet-Unie 'n kartel sou vorm. Verder was daar eensgesindheid in die Weste dat die destyds nog baie lewenskragtige see- en lughawens van die Republiek Suid-Afrika nie deel van die Oosterse invloedsfeer moet word nie.
Ons gesprekke het daartoe gelei dat ek saam met die Duitse geograaf, Jürgen Blenck, in die middel van 1976 in die tydskrif Aussenpolitik 'n baie breedvoerige opstel, aangevul deur toepaslike kaarte, onder die opskrif "Verdeling van Suid-Afrika as oplossing?" gepubliseer het. Ons het destyds 'n tweedeling langs 'n lyn Sishen-Bloemfontein-Port Elizabeth voorgestel. Die toeval wou dit so hê dat die artikel slegs drie weke na die begin van die opstande in Soweto en Langa verskyn het. Dit het groot internasionale radeloosheid meegebring, en daarom ook groot belangstelling in die artikel. Die enkele kundiges onder diegene wat Suid-Afrika dophou, het nou dieselfde vraag gevra, waarmee kort daarna die Duitse Kanselier Helmut Schmidt in Mei 1977 die onbekwame Amerikaanse Vise-President Walter Mondale tydens sy besoek aan Duitsland verras het. Mondale het gesê die Weste moet alles denkbaar doen om Suid-Afrika te dwing om van sy beleid van Apartheid af te sien. Schmidt se antwoord was net die lakoniese vraag: ”And replace it with what?" Carel, jy sal onthou dat die internasionale belangstelling in my en mnr. Blenck se artikel verder gestyg het nadat niemand minder nie as die belangrike Amerikaanse uitgewer CL Sulzberger, die artikel positief onder die opskrif “Eluding the last ditch” in die New York Times en International Herald Tribune (altwee van 10 Augustus 1977) bespreek het.
Blenck en ek kon op die min presiese oorwegings van die Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, Alfred Hoernlé (1945), asook van die Amerikaner van Litouse afkoms, Edward A Tiryakan (1967) voortbou. Altwee het 'n saak uitgemaak vir wat later deur die Suid-Afrikaner, Van Zyl Slabbert, “sacrifial partition” van die Republiek van Suid-Afrika genoem is. In Duitsland het, benewens talle meesal ondersteunende artikels, ook twee eweneens positiewe opvolgopstelle verskyn, naamlik van Uwe Halbach in Europa Archiv (7/1977) en van Martin Pabst in Aussenpolitik (3/1996), en van my as reaksie die opstel "Is Territorial Partition a Strategy for Peaceful Change in South Africa?" in International Affairs Bulletin (Braamfontein 6/1979). Uiteindelik het, wat vir jou, beste Carel, van besondere betekenis was, Erich Leistner, destyds direkteur van die Afrika Instituut in Pretoria, die opstel in die begin van 1977 in hulle South African Journal of African Affairs laat herdruk, met die versoek aan die lesers om kommentaar te lewer. Belangrik was vervolgens die artikel wat die internasionaal gerekende ekonomiese wetenskaplike, Gavin Maasdorp, in die boek Conflict and Compromise in South Africa, wat deur Amerikaner Robert Rotberg en die Suid-Afrikaner John Barratt (wat 1980 in Lexington uitgegee is), gepubliseer het. Dit moet opgemerk word dat al die outeurs die deur my en Blenck berekende verdelingslyn Sishen-Bloemfontein-Port Elizabeth oorgeneem het.
Jy, beste vriend, het tot die baie min Afrikaners behoort wat my en Blenck verstaan het. Vir ons, soos vir jou, het dit daaroor gegaan om apartheid te oorkom sonder dat “al die variasies van barbarisme” (Breyten Breytenbach) eers julle land grondig sou vernietig. Maar jy was in goeie geselskap, byvoorbeeld van Wimpie de Klerk, waarskynlik ook van Gerrit Viljoen, Lawrie Schlemmer, Deon Geldenhuys, Breyten Breytenbach, Fred van Wyk, weifelend dalk selfs Van Zyl Slabbert, miskien Hermann Giliomee en, jare later, Constand Viljoen en die leidende persone van Solidariteit. Hulle almal het in die radikale verdeling van die land die enigste antwoord gesien vir die basies onoplosbare probleme van Suid-Afrika.
Jy was verheug toe ek jare later 'n opvolgopstel van die liberale Duitse politikus Otto Graf Lambsdorff, na Suid-Afrika saamgebring het. Lambsdorff was, terloops, net soos ek, lid van die intussen uitgewiste etniese Duitse minderheid in Kurland/Letland. Sy opstel het op 31 Julie 1986 in die Duitse tydskrif Quick, onder die opskrif “Teilung Südafrikas als Ausweg” (Verdeling van Suid-Afrika as uitweg) verskyn. Met jou eie woorde het Lambsdorff wat, terloops, later tot president van die Liberale Internasionale verkies is, die daarstelling van 'n onafhanklike staat geëis, 'n toevlugsoord vir diegene onder die wit (en bruin) Suid-Afrikaners wat vir hulleself en hulle nakomelinge geen perspektief in 'n swart oorheersde Suid-Afrika sien nie. Ek onthou goed dat ons daarna in jou gasvrye huis breedvoerig daaroor gepraat het, en dat behalwe vir Van Zyl Slabbert en vir my, ook Gavin Relly, destyds voorsitter van Anglo American, vir Lambsdorff geadviseer het.
Een van die groot leemtes onder die tallose reaksies op die opstel van my en Blenck was dat die swart bevolkingsmeerderheid skaars kennis daarvan geneem het. Sekerlik het die in sake van Afrika onkundige Duitse Minister van Buitelandse Sake van 1974-1992, Hans-Dietrich Genscher, daartoe bygedra met sy gedurige eise aan die Suid-Afrikaanse regering om voor die ANC te kapituleer.
Des te meer merkwaardig was die deurdagte stemme van Russiese navorsers en diplomate soos Irina Filatova, Vasili Solodovnikov, Boris Asoyan, Vladimir Tikhomirov en ook Jewgeni Gusarov, die eerste Russiese ambassadeur in Pretoria ná 1945. Ek sal altyd die hartlikheid onthou waarmee Gusarov vir genl. Constand Viljoen geluk gewens het met die ondertekening van die “Akkoord oor Afrikaner-Selfbeskikking” saam met Thabo Mbeki (ANC) en Roelf Meyer (NP) op 23 April 1994. Die genoemde, asook ander Russe het oortuigende gedagtes gehad oor die toekoms van jou Afrikanervolk, anders as die meeste Westerse politici en diplomate. Vir hulle (die Russe) was die gedagte aan 'n Afrikanerstaat nie vreemd nie. Ek kan egter nie sê of dit eers na 1985, met die magsoorname deur Michail Gorbatsjof, die geval was nie.
Die mees intelligente kommentaar oor die Aussenpolitik (buitelandse sake)-plan kom van Klaus Ritter, die uiters begaafde stigter van die belangrikste Duitse dinkskrum vir buitelandse en sekerheidstudies, Stiftung Wissenschaft und Politik. Hy het in die laat 1970’s opgemerk dat dit vir 'n oplossing van die Suid-Afrikaanse konflik op so 'n wyse (deur partisie) terselfdertyd te laat en te vroeg was. Daar was egter vir 'n ruk hoop toe in die begin van die 1980’s in onder andere die Internationale Spectator (Den Haag, 2/1981), die Australian Outlook (Canberra, 2/1981) en Le Mois en Afrique (Paris, 10-11/1981) deur my bydraes alle wesenlike elemente van my opstel (insluitende die kaarte) aan die (invloedryke) lesers bekend gestel het. Tot jou en my ontsteltenis het die in Pretoria heersende Afrikaners (insluitend die hervormings-onwillige latere staatspresident FW de Klerk) dit alles geïgnoreer. Soos Rudolf Gruber, die in Duitsland werksame medewerker van 'n openbare betrekkinge-agentskap (SA Foundation) met noue bande met die sakewêreld, het die meeste van hulle geoordeel: “Sacrificial partition” sou “apokalipties in sy aannames, naïef in sy argumente en utopies in sy gevolgtrekkings” wees (SA International Quarterly 3/1980). Hulle almal (wat so geoordeel het) het Suid-Afrika na die rand van die afgrond gelei waar die land nou staan!
Met die einde van die Koue Oorlog het die mees uitstaande Britse (“Sir Robin-His Excellent Excellency”) en Amerikaanse diplomate (veral Princeton Nathan Lyman) die teen die einde van 1989 verkose regering van De Klerk gedwing om met die tot dusver onwettige ANC en ander bevrydingsbewegings 'n nuwe politieke orde in plek van apartheid te onderhandel. Die Duitse regering het geen rol gespeel nie, omdat die Britse en Amerikaanse regerings hulle weens hulle gebrek aan kundigheid reeds op 17 Oktober 1978 van alle onderhandelinge oor die toekoms van Namibië en Suid-Afrika uitgesluit het. Daarvoor was die Minister vir Buitelandse Sake van 1974-1992, Hans-Dietrich Genscher, verantwoordelik, want sy beleid was niks meer as om by elke denkbare geleentheid die kapitulasie van die wit regerings in Namibië en daarna in Suid-Afrika te eis nie. Daarby kon juis in Duitsland in die middel 1980’s die gelewerde studiestuk van die stipendiumhouer van die Humboldt-Stigting, Deon Geldenhuys, "Die Zukunft Südafrikas aus deutscher Sicht" (Die toekoms van Suid-Afrika uit Duitse perspektief gesien), onder andere vir die Departement van Buitelandse Sake, (Aussenpolitik 1/1985) vir die Duitse diplomasie 'n magdom argumente vir 'n beleid van balans gee.
Die onderhandelinge van die NP-regering met hulle binnelandse teenstanders het van die begin af onder die ongelooflike swakheid van de Klerk gely. Van huis af 'n deur en deur konserwatiewe man, het hy totaal onvoorbereid in die onderhandelinge gegaan en was nie opgewasse vir sy teenstanders, veral diegene van die ANC, nie. Die gevolg was 'n kapitulasie op die gebied van die politiek, maar nie op die gebied van die ekonomie nie. En dit, alhoewel een van sy gedugte teenstanders, die joernalis Max du Preez, kort tevore vir my gevra het om vir sy deur Swede befondsde Vrye Weekblad 'n artikel met die opskrif "Afrikaner-Israel kan 'n tweede Libanon verhoed" te skryf. Die artikel het op 27 Oktober 1989 verskyn en daarvan is in regeringskringe geen kennis geneem nie. Sou die Suid-Afrikaanse regering sulke en soortgelyke menings van derde persone ernstig opgeneem het, sou die ANC heel waarskynlik daarvoor te vinde gewees het. Breyten Breytenbach het dit vir ons reeds in Julie 1987 in Dakar/Senegal met die geleentheid van die ontmoeting tussen Afrikaanse dissidente (waaronder ook ek, alhoewel Duits) met die destyds nog onwettige ANC gesê.
Dat jou land na die magsverandering van Mei 1994 nogtans nie dadelik ontplof het nie, was veral te danke aan die groot Nelson Mandela. Dit bly vir my onvergeetlik wat jy oor julle ontmoeting in die vroeë 1990’s vertel het: Jy het jou bekommernis oor die voortbestaan van jou Afrikanervolk aan hom oorgedra. Sy antwoord was slegs “Your time will come (julle tyd sal kom).” Versoeningsgebare het hy ook later tydens sy besoek aan Orania gemaak. Ek herinner net aan die gesprekke tussen hom en die weduwee van Hendrik Verwoerd, jou skoonpa.
Vandag is amper niks meer van daardie gees aanwesig nie. Jou Afrikanervolk word toenemend gemarginaliseer en is nogtans diep verdeel. Gevolglik is ten minste op medium termyn sy voortbestaan bedreig. 'n Mens hoef net te dink aan die blykbaar reeds volledige verdringing van Afrikaans as onderwystaal aan julle universiteite. Was Constand Viljoen dus reg toe hy die leiers van die ANC in die middel van die 1990’s gewaarsku het dat die groot konflik tussen swart Afrikane en wit Afrikaners nie in Mei 1994 opgelos is nie, maar dat die botsing slegs uitgestel is?
Nadat talle geleenthede in die verlede vir die vorming van 'n Afrikanerstaat, veral weens die arrogansie van die groot meerderheid wit Afrikaners, misluk het, gee slegs die werk van Solidariteit vandag vir my hoop, meer presies die deur hulle gestigte projek Helpmekaar. Vir die leidende figure binne Solidariteit is Orania klaarblyklik een van die hoekstene van die toekomstige Afrikanerstaat in die Weste van Suid-Afrika. Saam met ander nedersettings van wit Afrikaners, as ‘t ware grensbakens, word Orania uit die oorblywende Suid-Afrika geneem. Die ekonomies hoogs twyfelagtige, polities egter onvermydelike grondhervorming, dus die uitruil van groot gebiede, sal daartoe lei dat die Afrikanerstaat (Orania) 'n geslote grondgebied sal ontvang. Dit is 'n reuse projek wat net tot stand kan kom nadat alle rolspelers besef het dat die alternatief 'n verbrande Suid-Afrika sal wees. Na die Afrikanerstaat sal die wit, miskien ook bruin Afrikaners trek wat vir hulle en hulle nageslagte geen vooruitsig meer sien in die res van Suid-Afrika nie. Die ander sal, waarskynlik sonder politieke regte, in die oorblywende Suid-Afrika leef en wesenlik bydra tot die heropbou en ontwikkeling van die land. In die, soos uiteengesit, polities onafhanklike Afrikanerstaat sal ook hulle wat oor die hele substreek verspreid leef, hulle skole, universiteite, uitgewerye en so meer hê. Met ander woorde, die Afrikanerstaat sal die kulturele sentrum vir alle Afrikaanssprekende mense wees wat dan nog Suid-Afrikaanse burgerskap het. Dit is die enigste manier om julle taal en julle kultuur te red van ondergang. Soos 'n kwarteeu gelede by die verwydering van apartheid, sal ook nou buitelandse magte aan julle kant moet wees. ʼn Mens kan hier veral dink aan die state van die Europese Unie, aan Groot-Brittanje, wie se rol soos in 1994 deur die VSA ondersteun sal word, aan Rusland en veral Sjina, wat sedert 1994 'n digte netwerk van talle soorte van betrekkinge met die nuwe Suid-Afrika opgebou het.
Sou al daardie wat in die toekoms kan kom misluk weens die verdeeldheid van jou Afrikanervolk, dan sal gebeur waarvoor Mangosuthu Buthelezi reeds dekades gelede gewaarsku het: “Constitutional developments in South Africa are going to be a byproduct of bullets and power (Grondwetlike ontwikkelinge in Suid-Afrika gaan ʼn bysaak van patrone en mag wees).”
Beste Carel, ek sluit my brief af met die herinnering aan die sleutelgebeurtenis in my reeds lang lewe: 'n Genadige God het julle Suid-Afrikaners en Namibiërs, met majoor Peter Stark op die voorpunt, in staat gestel om my op 13 Desember 1975, ná 92 ure van verlore wees in die Namibwoestyn, te red van die dood deur dors. Ons almal bid en vra dat Hy ook Suid-Afrika en al sy inwoners uit die woestyn mag lei.
Met hartlike groete
Jou vriend
Klaus