DIE BEWARING VAN ‘n GEMEENSKAP SE GESKIEDENIS
Die argiefbewaarplek van Orania vervul 'n sentrale rol in die bewaring van die dorp se geskiedenis, kultuur en identiteit. As 'n Afrikanergemeenskap wat streef na selfbeskikking, is die behoud van ons geskiedenis en dokumentasie van onskatbare waarde. Elke argief (want elke versameling word 'n argief genoem) bewaar belangrike dokumente, foto's en opnames wat help om die verhaal van Orania en sy inwoners te vertel.
Hoekom is dit belangrik om 'n argiefbewaarplek te hê?
Argiewe, soos ook museums, dien as die kollektiewe geheue van 'n gemeenskap of volk. Dit hou rekord van gebeure, besluite en lewens wat andersins vergeet sou word. Vir Orania is die argiewe nie net versamelings ou dokumente nie, maar 'n lewende monument van ons voorgangers se strewe na 'n selfstandige Afrikanerstaat. Deur hierdie geskiedenis te bewaar, kan toekomstige geslagte leer van die suksesse, mislukkings en uitdagings wat die gemeenskap deur die jare in die gesig gestaar het.
Argiewe help ook om 'n gevoel van kontinuïteit te skep. Dit verbind die hede met die verlede en dra by tot die gemeenskap se toekomsvisie. In 'n gemeenskap soos Orania, wat gebaseer is op 'n spesifieke kulturele identiteit, is dit noodsaaklik dat ons hierdie geskiedenis sal bewaar om ons erfenis en waardes te versterk.
Beskrywing van die inhoud van die Orania Argiewe
Die Orania Argiewe is ryk aan 'n verskeidenheid materiaal wat die ontstaan en groei van die dorp en die strewe na selfbeskikking dokumenteer. Hier volg 'n oorsig van 'n paar sleutelstukke in die versameling:
· Volkswag: Dokumente van die Afrikaner Volkswag, 'n organisasie wat in 1984 deur prof. Carel Boshoff gestig is en wat 'n konserwatiewe houding jeens kultuurbewaring en volksbehoud ingeslaan het toe die meeste bestaande organisasies die regering se hervormingsbeleid gesteun het. Die Volkswag het metteryd 'n belangrike voedingsbron vir volkstaatdenke geword.
· Prof Carel Boshoff: Hy was een van die groot dryfkragte agter die stigting van Orania. Sy dokumente, toesprake en navorsingstukke bied insig in sy idees oor Afrikaner selfbeskikking. Hy was onder andere ook voorsitter van die Afrikanerbroederbond, hoofleier van die Voortrekkers voorsitter van SABRA, stigterslid van die Vereniging van Oranjewerkers, die Afrikaner Volkswag en die Afrikaner Vryheidstigting.
· Dr Chris Jooste: Hy was een van die Orania-grondleggers en jarelange uitvoerende beampte van SABRA. Sy akademiese stukke bied diepgaande ontledings van die Suid-Afrikaanse samelewing, veral uit sosiaal-demografiese oogpunt. Sy ontledings en projeksies toon die ontwikkeling van denke, vanaf die destydse tuislandontwikkeling tot die noodsaak vir 'n eie Afrikanertuisland, waarvan Orania die vrug was.
· AVSTIG: Die Afrikanervryheidstigting, gestig in 1988, was ʼn organisasie met die doel om Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap te bevorder. Die idees van die Afrikanervryheidstigting spruit uit navorsing wat die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA) gedoen het. Mettertyd het AVSTIG en die Volkswag saamgesmelt om die Orania Beweging te vorm. AVSTIG se werksaamhede was ook die regstreekse aanleiding tot die koop van en vestiging in Orania.
· SABRA: Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede is in 1948 opgerig om 'n volkere-beleid vir Suid-Afrika te help ontwikkel. Dit het op die omlyning en ontwikekkeling van etniese tuisland uitgeloop, maar uiteindelik is Suid-Afrika se lot deur ekonomiese eerder as politieke ontwikkeling bepaal en het die tuislande in die slag gebly. Dit het tot 'n breuk tussen SABRA en die destydse regering gelei, waarna SABRA die onafwendbaarheid van 'n swart meerderheidsregering ingesien het en hom toenemend vir 'n volkstaat beywer het. Nagenoeg 50 jaar na sy stigting is SABRA se naam na EPOG verander, maar was hy ook minder aktief totdat dit in die Vryheidstigting omskep is. SABRA se dokumente is tot in die 1980's by die destydse INEG (Instituut vir Eietydse Geskiedenis) in Bloemfontein bewaar, maar latere stukke is in die Orania Argiewe. · Vryheidstigting: In 2019 smelt SABRA en die Hendrik Verwoerd Navorsingstrust saam om die Vryheidstigting te vorm. Die Vryheidstigting vorm deel van Orania se kultuurnetwerk en is op eietydse navorsing gerig, maar wat ook op die bewaring van historiese navorsingsbronne soos gehuisves in die Orania Argiewe en Afrikana Boekery.
· Volkstaatraad: Die Volkstaatraad was 'n statutêre raad wat ná die 1994-verkiesing aangestel is om ondersoek na Afrikanerselfbeskikking in 'n volkstaat in te stel. Dit was deel van die skikking wat in die 1993-grondwet vervat is en meegebring het dat die Vryheidsfront aan die verkiesing sou deelneem. Hoewel die amptelike argief van die Volkstaatraad deur die Depertement van Staatkunde Ontwikkeling gehuisves is, het lede wat 'n Orania-verbintenis gehad het 'n groot hoeveelheid vergaderingstukke, navorsingsresultate en verslae aan die Orania Argiewe beskikbaar gestel.
· Spansaam: Gedurende die moeilike vestigingsjare van Orania het die Volkswag, AVSTIG en SABRA 'n gesamentlike kantoor onder die vaandel van Spansaan gevestig. Dit het op administrasie en werking van die drie aparte instellings gefokus en mettertyd op 'n hele herskikking van organisasies uitgeloop. Die dokumentasie daarvan word bewaar.
· Annatjie Boshoff Versameling: Annatjie Boshoff, skrywer en persoonlike assistent van Suid-Afrikaanse Premiers en Presidente, was een van Orania se eerste inwoners. Haar versameling van persoonlike artikels, briewe en ander dokumente word bewaar, en sy was ook verantwoordelik vir die eerste Argiefpublikasie wat deur die Vryheidstigting uitgegee is. Dit behels outobiografiese sketse, sowel as bydraes van verskeie vroeë inwoners van Orania.
· Volkskool Orania: Rekords oor die stigting en ontwikkeling van Volkskool Orania, wat op besonder vernuwende wyse na onderwysvoorsiening in Orania in die opvoeding van die volgende geslag Afrikaners gekyk het. Dit het onder leiding van onder andere Anna Boshoff en André van den Berg gestaan.
· Orania Verteenwoordigende Raad: Die OVR het in 2000 tot stand gekom nadat Orania 'n hofbevel in sy guns beklink het, om te voorkom dat hy by 'n nuwe munisipaliteit saam met Hopetown en Strydenburg ingelyf word. Sedertdien het die liggaam, wat elke vyf jaar herverkies word, 'n belangrike plek in die vestiging van Orania se selfregering ingeneem. Dokumentasie oor die ontwikkeling, aktiwiteite en besluite van hierdie raad, wat verteenwoordigend is van die hele gemeenskap is, word versamel en bewaar.
· Vryheidsfront/ VF Plus (Dr. Wynand Boshoff): Die Vryheidsfront, later VF Plus was sedert 1994 in Orania teenwoordig gegewe die party se volkstaatbeleid en die feit dat prof Carel Boshoff die Noord-Kaapse leier van die party en verteenwoordiger in die Noord-Kaapse Wetgewer. Hy is in 2000 deur Carel Boshoff (4) opgevolg en later deur dr Wynand Boshoff, wat sedert 2019 lid van die SA Parlement is. Dokumente van die hele era word bewaar.
· Hendrik Verwoerd Trust: Die trust is ná die eerste aanslag op dr Verwoerd se lewe gestig en het ook tot die oprigting van die Verwoerd Monumentfondstrust gelei. Dit is later in 'n navorsingstrust omskep en het uiteindelik met SABRA/EPOG saamgesmelt om die Vryheidstigting te vorm. Dekades se dokumente is gedigitaliseer en oorspronklike stukke word bewaar.
· Madelein Winterbach Versameling: 'n Versameling van materiaal wat verband hou met die lewe en werk van Madelein Winterbach, 'n prominente figuur in Orania. Sy word veral onthou vir die reusebydrae wat sy as Maatskaplike werkster en lid van AVSTIG se Uitvoerende Raad, tot maatskaplike dienste en die ontstaan en uitbou van die Orania Maatskaplike Raad gelewer het.
· Orania Dorpsraad: Dokumente en rekords wat die stigting en vroeë ontwikkeling van Orania, asook die bydraes van die eerste inwoners, insluit. Hierdie stukke dokumenteer die dorp se ontstaan en die visie van sy stigters.
· Veiligheid en Kliniek: Rekords oor die dorp se veiligheidsinfrastruktuur en gesondheidsdienste wat vir inwoners voorsien word.
· Volkshospitaal: Dokumentasie rakende die oprigting en bestuur van die Volkshospitaal, wat vir 'n tyd gesondheidsorg aan die gemeenskap gebied het.
· Ou Foto's en Artikels: 'n Versameling van foto's en artikels wat die vroeë jare van Orania en sy inwoners dokumenteer.
· Orania Ekonomie: 'n Versameling van dokumente wat die ekonomiese ontwikkeling van die dorp beskryf, insluitend ondernemings soos die Bo-Karoo Suiwel.
· Orania Kontreiwinkel: Rekords oor die winkel wat plaaslike produkte aan die inwoners van Orania verskaf.
· Orania Kuns en Kultuur: Dokumente en artefakte wat die kulturele lewe van die gemeenskap weerspieël, insluitend kunsuitstallings en musikale byeenkomste.
· Orania Sorgsentrums: Dokumentasie oor die versorgingsentrums wat vir bejaardes en ander afhanklikes in die gemeenskap voorsien is.
Gevolgtrekking
Die Orania Argiewe is 'n skatkis van inligting wat help om die geskiedenis en ontwikkeling van die gemeenskap en sy mense te verstaan. Dit dien as 'n bewys van hul pogings om selfstandig te wees en hul identiteit te handhaaf te midde van talle uitdagings. Deur die bewaring van hierdie materiaal kan toekomstige geslagte die belangrike lesse van hul voorgangers leer, terwyl hulle voortbou op die visie van selfbeskikking en onafhanklikheid.