Die OOM kantoor vir ontwikkeling en belegging se primêre doel is om infrastruktuur te skep wat dit moontlik maak vir Afrikaners om suksesvol in Orania te vestig. Ons verdeel in die stadium aandag tussen verskeie projekte soos die ontwikkeling en diens van nuwe erwe, die nuwe Werksgebou, Orania se stadskern, behuising vir studente asook uitbou van spesialis infrastruktuur.
Eerstens word daar aandag gegee aan primêre infrastruktuur soos die diens van erwe wat behels aanlê van water, elektrisiteit, rioollyne en paaie. Daar word op die oomblik ongeveer 300 verskeie grootte erwe uitgesit waarvan Vergelegen, die intreevlakerwe, 150 vierkantemeter is, Kleingeluk-Wes, die middelvlak erwe van 300 vierkantemeter en die Bewaringsgebied met groot erwe wat tussen 600 en 1 000 vierkantemeter is.
Vergelegen word ontwikkel met die doel om Oraniërs te bemagtig om eienaarskap van hul eie grond te neem. Grond wat bewoon en bewerk word met eie arbeid, skep langtermynwelvaart vir die volgende geslagte Oraniërs. Die konstruksie van dienste vorder goed en ons beoog om voor die einde van 2024 hierdie erwe te bemark.
Die bewaringsgebied-ontwikkeling het ten doel om die omgewing en natuur op te pas. Die huise is verder uitmekaar, deur sogenaamde voetspoorerwe en die paaie is vernou om die biologiese impak so klein as moontlik te maak.
Hierdie bewaringsontwikkeling vorm deel van die plattelandse stad vir Boere-Afrikaners. Ons is mense wat hunker na ruimte, veld en vlaktes, daarom word die uitbreidings ook so beplan dat die volk kan tuis voel in die stad. Geboue word in hierdie plattelandse stad beperk tot drie verdiepings om die plattelandse gevoel waarvoor ons lief is, te behou.
Dit is belangrik om in ag te neem dat dit Karoo-veld is wat gediens moet word vir erwe. Dienste word ingesit met eie arbeid teen die huidige inflasiekoers, klipbanke moet gebreek word om pyplyne, kragkabels en rioolpype aan te lê. By die mees onlangse ontwikkeling by Vergelegen moes daar ’n sloot gegrawe word vir die aanlê van ’n rioollyn tot by die oksidasiedamme, die sloot strek oor ongeveer 52 tot 60 meter klipbank en met die toerusting van ’n kontrakteur was die vordering maar ’n halfmeter per dag. Die kostes sou net eenvoudig te veel word en het OOM genoop om ander opsies te ondersoek, dit het gelei na die eerste gebruik van springstof in Orania.
Tweedens word daar sekondêr gefokus op die ontwikkeling van kommersiële geboue, soos die oprig van die Werksgebou, Stadskern en nywerheidskorwe. Afrikaners is bereid om ver te spring om Orania toe te trek, maar die sogenaamde “Driesprong” is moeilik. Die driesprong is ’n groot uitdaging omdat dit gelyktydig die aankoop van ’n erf, huis bou, besigheidsgebou ontwikkel en ’n besigheid begin vereis. Die doel is om op die gebied dit makliker vir Afrikaners te maak om hulle besighede in Orania te vestig. Kleinhandel word aangemoedig deur die plaaslike vervaardiging van produkte agter- en die verkope in ’n voorste winkelfront.
Een groot projek waarmee daar reeds op 5 September weggespring is, is die Werksgebou. Die Werksgebou het ’n kommersiële en residensiële aspek en word vir die gemeenskap gebou. Die onderste vloer bestaan uit kantoorspasie vir OOM, Bo-Karoo Opleiding (BKO) en twee gesamentlike werksruimtes wat as opleidingslokale vir lesings en informele werkspasie kan dien. Die publiek kan die gesamentlike werksruimtes benut deur die vergaderkamers te bespreek of te werk terwyl ’n koffie van die koffiewinkel geniet word.
Die eerste vloer is ook kantore vir OOM, die FAK, Vryheidstigting, Begrond, Helpende Hand en Solidariteit. Die tweede vloer bestaan uit tien tweeslaapkamerwoonstelle wat aanvanklik vir studentebehuising gebruik sal word.
Die Werksgebou sluit aan by Orania se eerste plein, die Werksplein wat die adel van arbeid gedenk, in afwagting op die volgende Stadsplein wat ook gebou gaan word. Die Veiligheidsgebou, Karoosig tuiste vir bejaardes se nuwe gebou, die bestaande Duikergebou en die Werksgebou op vier hoeke vorm saam ’n binnehof wat bekend sal staan as die Werksplein. Al vier hoeke verteenwoordig ’n spesifieke tema of metodiek en sal ook ’n visuele uitbeelding daarvan hê. Die Werksgebou verteenwoordig etiek, die goeie werker (beeld), Karoosig tuiste vir bejaardes verteenwoordig ons eerbare verlede (moontlik ’n ossewawiel), die Veiligheidsgebou verteenwoordig militêre tegnologiese vordering (moontlike uitbeelding van ’n G6-kanon, Ras-kanon of Rooivalk-helikopter). Die Duikergebou verteenwoordig die entrepreneur, die toekomsvisie, met ’n kleinhandelarea waar Orania-produkte verkoop sal word.
Nie baie mense besef die belangrikheid van Afrikaneridentiteit in argitektuur nie. Die argitektuur in dorpe en gemeenskappe spreek en vertel die geskiedenis, dit kommunikeer ook ons identiteit. ’n Studie is gedoen oor volkstaal-argitektuur, die studie het gehandel oor die argitektuur in die Karoo en die boustyle van dorpe in die omliggende omgewing sowel as bestaande ontwikkelings in Orania. Met verskeie elemente vanuit hierdie studie is die ontwerp vir die Werksgebou in Orania geteken. Fyn detail wat sin maak in ’n Karoo-konteks soos sondakkies bo elke venster is ingewerk en geteken by die Werksgebou om die volkstaal-argitektuur uit te beeld. Die gebruik en uitbeelding skep die gevoel dat die gebou ons eie is. Ons hoop om met die Werksgebou se argitektuur en konstruksiemetodiek die nuwe standaard vir ontwikkeling in Orania te stel.
In noue samewerking met Bo-Karoo Opleiding maak ons ook seker dat die behoefte aan studente-akkommodasie voorsien kan word en beplan ons ’n koshuisontwikkeling naby die stadsplein, waar 604 studente gehuisves gaan word.
Derdens is die Orania Ontwikkelingsmaatskappy ook besig met spesialisinfrastruktuur, ter ondersteuning van die sekondêre infrastruktuur. Hier word gekyk na verdere ontwikkeling by Orania se vliegveld asook optiese veselverbindings wat na alle ontwikkelings aangelê word.
By hierdie infrastruktuur is OOM in ’n raadgewende- en beplanningsrol betrokke om byvoorbeeld die vliegveld tot die maksimum te ontwikkel. Daar is interessante moontlikhede by die vliegveld omdat Orania baie sentraal in Suid-Afrika geleë is en dit die ideale sogenaamde lugbrug tussen Pretoria en die Kaap is. Die tendens is dat mense al meer verkies om binnelands eerder per vliegtuig te reis, weens verskeie redes soos veiligheid en die verval van paaie. Daarom kan Orania se vliegveld dalk eendag net die perfekte lughawe wees waar kleiner vliegtuie hervul terwyl passasiers Orania geniet. Gereelde gesprekke met kundiges word steeds gevoer sodat beplanning en ontwikkeling in Orania sinvol, aantreklik en volhoubaar is.
Groeiende belangstelling in Orania van suksesvolle sakemanne en ontwikkelaars wanneer konsepte of gedagtes bespreek word, maak ’n mens opgewonde oor die toekoms van Orania. Afrikaners wil vooruit bou en energie spandeer om die toekoms te verbeter. Dit is opwindend om te kan beplan aan konsepte, opsies, uitlegte en tipe bedrywe wat gevestig kan word en om te droom oor die moontlikhede van Orania as Afrikanerstad. Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy ontwikkel Orania vir die Oraniërs daarom is dit vir ons belangrik dat die gemeenskap deel is en tuis voel in elkeen van ons ontwikkelings.