'n Vryheidsperspektief op die regering se beplande nasionale dialoog

deur Carel Boshoff

2025-12-07

Die Vryheidstigting volg die gedagte van 'n Suid-Afrikaanse nasionale dialoog die afgelope maande op 'n afstand. Die koalisieregering wat gevorm is sedert die eerste wense vir 'n nasionale dialoog uitgespreek is, en wat in werklikheid die platvorm vir 'n betekenisvolle nasionale dialoog sou kon wees, het kennelik nie aan sulke verwagtings voldoen nie. Die gevolg is dat die gedagte van 'n georkestreerde dialoog teen 'n enorme bedrag (R700M word genoem) nuwe lewe gekry het.

Die teleurstelling waarmee talle Afrikaners op pres Ramaphosa se aankondiging om die proses van stapel te stuur, gereageer het, getuig na ons oordeel van misplaasde verwagtings. Dit geld vir sowel die oorkoepelende doel van die hele poging, as Afrikaners se rol daarin. Bygesê dat albei met verloop van tyd verander het en dat die huidige poging nie meer aan die maatstaf van ou-pres. Thabo Mbeki se wense hieroor gemeet kan word nie. Dié was meer opreg, hoewel nie minder Suid-Afrikanisties en transformasionisties nie.

Ons is van oordeel dat 'n werklik betekenisvolle dialoog van nasionale aard in 'n unitêre en sentralistiese staat met 'n veelvolkige burgery slegs kan plaasvind as daar van die herskikking van mag sprake is. Dit was byvoorbeeld in die aanloop tot die 1994-skikking die geval en dit het nêrens 'n meer dramatiese vorm aangeneem as met die ANC se opskorting van sy deelname aan CODESA ná die Boiphatong-slagting nie. Die magsvertoon wat daarop gevolg het, het die uitkoms van die onderhandelings bepalend ten gunste van die ANC en tot nadeel van die IVP beïnvloed, terwyl die NP-regering net méér vasberade was om die mag vreedsaam te oorhandig.

Oor die huidige dialoog-proses kan daar geen twyfel wees nie dat mag, by name die staatsmag wat vir sowat dertig jaar in die ANC se hande was, die dryfveer is. Uit die ANC se oogpunt het hulle in 2024 nie net die meerderheidstem verloor nie, maar hulle het ook gevaar geloop om beheer oor die hulpbronne wat hulle patrimoniale netwerke voed, te verloor. En vir diegene met 'n meer idealistiese benadering, was die gevaar om beheer oor die Nasionale Demokratiese Revolusie te verloor, selfs belangriker. (Vir baie kaders blyk toegang tot die patrimoniale netwerk egter identies aan die NDR te wees.)

Wat dalk begin het as 'n ietwat sentimentalistiese wens om die goue oomblik van nasionale eenheid waarmee die nuwe Suid-Afrika ingelui is, te herontdek, het intussen iets anders geword. Dit het 'n poging geword om die mag wat in 1994 so vaardig verwerf is, en alles wat dit meebring, te behou en die steun wat daarvoor nodig is, te konsolideer. Waar blote steunwerwing soos tydens die afgelope verkiesing gefaal het, moet 'n groter nasionale doelwit met behulp van 'n nasionale dialoog herbevestig en ingespan word.

Maar wat is dié nasionale doelwit? Dit is die omvattende transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing en die soort eenheid wat daardeur veronderstel word. Waar "transition" destyds as noodsaaklike stap op weg na "transformation" beskou is, en waar die ANC in 1994 belangrike kompromieë met die oog daarop aangegaan het, is Suid-Afrika reeds lank genoeg by die oorgang verby dat transformasie en die NDR nou voluit nagejaag kan word. Maar dan kan die agente van transformasie nie bekostig om nou hulle greep op die mag te verloor nie.

Op sy beste is die nasionale dialoog dus daarop gerig om, indien nie bloot die ANC nie, dan ten minste die NDR te red. En die eenheid wat dit onderlê, sluit per definisie nie Afrikaners met hulle eie nasionale identiteit en sentimente in nie. Die uitnodiging staan wel: word deel van die nasionale eenheid en transformasie – van die nasionale demokratiese rewolusie – maar, by wyse van spreke, laat julle wapens buite die kraal! Maar die kenmerkend Suid-Afrikaanse veelvolkigheid waarvan die Afrikaners tans die opvallendste vaandeldraer is, is iets wat uit die NDR-oogppunt oorwin en agtergelaat moet word, nie gekoester en gehuldig kan word nie. Dit word, vir diplomatiese doeleindes, dalk in die skadelose privaatheid van jou huishouding verduur, maar nie op nasionale vlak nie.

Die punt, sover dit Afrikaners aangaan, is dat dit nie oor óns gaan nie. Ons was dalk – dalk! – deel van die aanloop tot die gedagte van 'n nasionale dialoog omdat ons die gesig van ontevrede minderhede geword het, maar ons is nie in die visier van die ANC se poging om sy greep op die magshefbome van die Suid-Afrikaanse staat te herbevestig en te verstewig nie. Daarom moet ons nie verbaas wees dat die simboliek waarmee die proses afgeskop het, "vooraanstaande persone" inkluis, ons nie juis ingesluit het nie.

Laat ons nie ons plek in die NDR en die nasionale dialoog misverstaan of ons belang oorskat nie. In vele opsigte verteenwoordig ons en ons belange die grootste enkele struikelblok vir die NDR. Ons blaf onder die verkeerde boom, die nasionale dialoog moet sy loop maar neem. Ons energie en vindingrykheid moet ons aan die voorwaardes van 'n ander Suid-Afrika bestee, een wat by sy mense – ook sy volke – begin deur werklike wedersydse erkenning en respek te toon. 'n Veelvolkige Suid-Afrika kan net slaag as hy hom aan sy veelvolkigheid en die eise wat dit stel, onderwerp. 'n Nasionale dialoog wat daaroor handel, sal verwelkom word.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL