Om as deel van 'n voëlvlug oor die geskiedenis van die Afrikaanse taal na haar rol as kultuurtaal te verwys, roep uit die staanspoor twee kwessies op. Die een, waarop dieper ingegaan sal word, is wát mens met "kultuurtaal" bedoel, in besonder met die "kultuur" in kultuurtaal. Die ander, wat vir die argument vandag net gestel en daar gelaat kan word, is dat die geskiedenis in hierdie opsig nog nie verby is nie, dat dié geskiedenis in werklikheid nog besig is om gemaak te word, en dat dit onder meer ons is wat dit maak.
Met betrekking tot sekere funksies van Afrikaans as taal, byvoorbeeld as regstaal of universiteitsaal is, dit denkbaar, hoe verskriklik ookal die gedagte, dat daardie funksies tot 'n verbygegane geskiedenis kan behoort. Daar is terreine waarop Afrikaans nie altyd gefunksioneer het nie en waarop sy eers kon floreer nadat 'n ingewikkelde en gevorderde netwerk van instellings en bevoegdhede tot stand gekom het om dit moontlik te maak. 'n Regstaal, byvoorbeeld, is van regspraak in daardie taal afhanklik, en formele regspraak in 'n taal is van 'n staatsorde wat die taal erken en gebruik, afhanklik. Dit is gevolglik logies dat die verval van sulke netwerke en bevoegdhede tot die verval van die betrokke taalfunksies sal lei, en dat ons ongelukkig reeds op sulke funksies moet terugkyk as iets wat ten dele al tot die verlede behoort. Nie dat dit onmoontlik is om daarop, soos op Afrikaans as universiteitstaal, in te gryp nie, maar die verlies van status op een sodanige terrein is nog nie die einde van die taal se bestaan as sodanig nie.
Met Afrikaans as kultuurtaal is dit egter anders. As ons sou moes aanvoer dat Afrikaans haar funksie as kultuurtaal kwyt is, op watter wyse ookal, dan sou ons in die geheel op Afrikaans as iets wat tot die verlede behoort, moes terugkyk. Dan sou die Afrikaans wat ons vandag in behandeling neem, die beter of slegter bewaarde oorskot van 'n gestorwe taal gewees het. Dan sou die hele program van vandag – trouens van die hele week – in die toonaard van 'n requiem moes afspeel, terwyl my indruk is dat die gees van 'n polka of 'n mazurka of 'n wals hier heers.
Om te weet hoe dit dan moontlik is dat ons, teen die agtergrond van werklike verliese vir Afrikaans, tog nou in 'n feestelike gees op die geskiedenis van 150 jaar en meer kan terugkyk, moet ons op die kultuuraard van ons taal ingaan. Met die oog daarop is dit belangrik om nie met 'n kultuurbeeld wat tot hoogkultuur beperk is, te werk nie, maar met 'n meer grondliggende en algemene beeld van kultuur. Ek dink dit was prof Piet Dreyer wat die verhouding tussen mens en kultuur met die Midas-aanraking vergelyk het – die mitiese koning Midas wie se gierigheid beloon is met die vloek dat alles waaraan hy raak in goud sou verander.
Die Midas-vergelyking is na my mening wel té drasties omdat ons nie sonder meer alle vrug van menslike handeling as patroon of gebruik of kultuur wil behou en oordra nie. Menslike handeling sluit ook lelike en valse en slegte dinge in, terwyl ons kultureel nie anders kan nie as om die ware, die skone en die goeie na te strewe. Daarom moet die begrip "veredeling" hierby betrek word, en wil ek aanvoer dat dit 'n menslike eienskap is om veredelend om te gaan met die dinge wat ons wêreld bevolk, sowel materieel as geestelik. Die verband wat hierby nie ontsnap kan word nie, is dat sulke veredeling, vanaf die vroegste en primitiefste daarstelling van werktuie tot die gevorderdste wetenskap en tegniek, sonder taal nie sou kon plaasvind nie. Die veredeling wat kultuur is, is wat sowel oorsprong, as doeleinde, as werkswyse betref, slegs denkbaar binne samewerkende verband, en dié verband vind onder meer uitdrukking in die vorm van taal. Onder meer, want dit vind ook uitdrukking in merkers van mens se plek in die orde van dinge, soos geloof in die onsienlike, onderlinge vertroue, gedeelde gebruike wat van maatskaplike nabyheid getuig, ensovoorts – alles dinge wat in die hegte stof van die kultuur en kultuurtaal self ingeweef is.
Maar die vraag kan ontstaan of hierdie siening van 'n taal se kultuurfunksie die taal dan nie tot blote instrument van veredeling beperk nie? Veral as wetenskap en tegniek tot getuie geroep word? Dit is inderdaad 'n afdraaipad wat op hierdie punt van die argument geneem sou kon word, en wat nogal gewild is, maar die werklikheid is na my mening ingewikkelder as dit. Om die waarheid te sê, so 'n instrumentele taalbeskouing verloor perspektief op twee deurslaggewende eienskappe van taal en kultuur. Hiervan kan eintlik net wenke van gegee word omdat 'n behoorlike uiteensetting te tydrowend sou wees. Die twee perspektiewe wat behou moet word, bevestig die nie-instrumentele aard van 'n kultuurtaal, wat tot 'n sekere mate selfs vir iets soos 'n handelstaal geld. Dit hou met die aard van die mens as mens, soos met die aard van taal as taal verband en kan as iets van 'n ontologiese misterie beskryf word.
Die eerste perspektief is dat, terwyl die spreker van 'n taal kan dink dat hy bloot saaklik en doelmatig met behulp van die taal te werk gaan, iets anders alreeds op die agtergrond besig is om te gebeur: die taal dien nie net as instrument in die spreker se hand nie, maar die spreker se mond en gedagtes word op hulle beurt deur die taal gelei en gevorm. Anders gestel, ons praat nie net die taal nie, die taal praat ons – 'n raaiselagtige werklikheid!. Net 'n oomblik se nadenke daaroor laat mens besef dat die wyses waarop ons dink, selfs die dinge waaraan en waaroor ons dink, medebepaal word deur die taal wat ons as 'n geskenk in die mond gelê is, jou moedertaal. Selfs 'n tweede of derde taal wat mens met instrumentele bedoelings aanleer en gebruik, byvoorbeeld Engels vir die werksomgewing of handel, lei 'n mens se gedagtes langs weë wat jy self nie gebaan het nie. Hier is dus nie een nie, maar twee handelende agente aan die werk, ook op mekaar: dit is sowel die spreker as die taal, nie op dieselfde maniere nie, maar inderdaad verweefd.
En tog is hier na my oordeel van 'n belangrike rangorde sprake: eers as sprekers 'n taal het, het die taal ook sprekers. Eers as ek die taal praat, kan die taal my praat, en as ek die taal nie sou praat nie, sou die taal my nie kon praat nie. Dit is belangrik, want dit plaas die agt jollie kêrels van die Paarl in 'n bepaalde lig: as hulle Afrikaans nie gepraat het – en geskryf het en gepubliseer het nie, het dit ons nie net aan baanbrekers ontbreek nie, maar dan het Afrikaans nie die geleentheid gehad om deur ons te praat en 'n gestalte van haar eie aan te neem nie. Dit maak nie van hulle – of van ons – die enigste sprekers of eienaars van Afrikaans nie, dit weet ons tog almal en nog altyd, maar dit maak van hulle – en hopelik van ons – sprekers en skrywers en digters en sangers en omroepers en onderwysers en ouers en wat nog meer, wat die taak van veredeling op onsself neem en dit danksy die geskenk wat ons erfenis is en binne die verband van ons gemeenskap en gemeenskappe opneem.
Maar dit beteken dat geen taal, ook nie Afrikaans, uit hoofde van haar blote bestaan aan die sprekers deur wie sy bestaan, kan voorskryf hoe of wie hulle moet wees nie. Daarom dat 'n volkstaal soos masels uitslaan, selfs al poog die teenstaanders daarvan soms om 'n vreemde vorm op gewone mense af te dwing. Nederlands kon dit nie met Afrikaans regkry nie, en standaard Afrikaans sal dit ook nie met die gemeenskappe wat 'n rebelsheid van hulle eie het, en wat in hulle tongvalle daaraan uitdrukking gee, regkry nie. Maar soos die ontstaan en erkenning van Afrikaans nie die einde van Nederlands was nie, is daar geen rede waarom die opkoms van Afrikaanse variante die sprekers van standaard Afrikaans die swye hoef te probeer oplê nie. Om die waarheid te sê, my indruk is tans dat so 'n poging onmin en weerstand sal uitlok en dat die verhouding tussen Afrikaners, wie se kultuur en ontwikkeling ten nouste met standaard Afrikaans as kultuurtaal verweef is, en die sprekers van ander Afrikaanse variante meer vrugbaar op 'n ander grondslag geplaas kan word, naamlik dié van wedersydse erkenning en respek eerder as 'n stryd om monopolisering.
Die tweede perspektief sluit by die eerste aan, want dit verwys ook na die wesenlike meer-as-instrument wees van taal, maar dit gaam oor die breër verband waarbinne taal funksioneer en die rangorde waarna hierbo verwys is. Die denkbeeld wat hier toepaslik is, is dié van selfontplooiing, van iets wat word wat dit in die kiem reeds is, maar dit gaan nie oor die taal wat iets word nie, dit gaan oor die spreker of gemeenskap van sprekers. Dink byvoorbeeld aan die rol wat 'n persoon se moedertaal in sy of haar selfontplooiing speel. Ons het almal al ervaar hoe gebrekkig mens jouself in 'n vreemde taal uitdruk of hoedat die nuanses van wat jy te sê het in die slag bly as jy jou nie van jou moedertaal kan bedien nie. En dit geld nie net vir die enkeling nie, maar nog meer vir die gemeenskap. 'n Gemeenskap wat nie net tradisies en gebruike, waardes en maniere, ervarings en geskiedenis deel nie, maar boonop vind dat dit alles tegelyk ook in hulle gedeelde taal vervat word, kan ook nie sy beste prestasies behaal as sy kultuurtaal misken of onderdruk word nie.
Hier kyk ons dus eerder uit die spreker of sprekers se oogpunt as die taal s'n. Dat die taal 'n soort bestaan van sy eie voer, word dus nie ontken nie, maar ons moet onthou dat wanneer ons van 'n taal soos van 'n persoon praat, dit 'n kwessie van beeldspraak is. Soos op ander terreine is dit hier ook gevaarlik om jou eie beeldspraak letterlik op te neem. Die gevaar is dat mens die misterie van sy misterieuse probeer beroof. (Soos om 'n kraan te steel: as jy by die huismkom gaan hy nie water gee nie.) Elke mens en kultuurgemeenskap se bestaan en groei vind deur middel van hulle taal plaas, dit kan nie oorbeklemtoon word nie. Daarom is die welstand van Afrikaans nie net ‘n voorwaarde vir die welstand en groei van die gemeenskappe wie se moedertaal sy is nie, daardie gemeenskappe en volke, en in ons geval besonderlik die Afrikaner, se welstand en groei is ook vir Afrikaans se heil bepalend.
Hierdie noue wedersydse verwantskap tussen die Afrikaner en sy taal, en nie net tussen Afrikaans en haar sprekers nie, regverdig ook oorweging en beskerming. Om Afrikaans aan tendensieuse transformasiebeleide en Afrikanervyandige strategieë te verbind, sal nie net weerstand uitlok nie. Dit sal ook Afrikaans se aard as kultuurtaal ondermyn deur die band tussen een van haar belangrikste kultuurgemeenskappe en hulle taal te ondermyn, tot die mate dat dit ‘n wesenlike risiko vir haar voortbestaan as sodanig inhou. Ek kan daarop uitbrei, maar kom ons laat dit daar.
Opsommend: vir Afrikaans om kultuurtaal te wees — en dit is die enigste bestaan wat sy volhoubaar kan voer — moet sy iemand se kultuurtaal wees. Iemand moet daarvoor verantwoordelikheid neem, 'n kultuurgemeenskap wat haar toe-eien en koester. En dit hoef natuurlik nie net een kultuurgemeenskap te wees nie, dit is beter as daar meer is, maar dit is vernietigend as daar geen so 'n kultuurgemaanspak sou wees nie, en dit is verydelend as sulke gemeenskappe in mekaar se pad staan, as een dit nie kan doen alvorens almal dieselfde doen nie.
Heel konkreet gesproke: as standaard Afrikaans gedurende die twintigste eeu as kultuurtaal van Afrikaners ontwikkel en ontgin is, en nou nog as kultuurskat en bron gekoester en benut word, en as Afrikaners onder druk van omstandighede hulle beywer vir die behoud en herwinning van taalfunksies wat op die punt staan om verlore te gaan, ook by wyse van die herskepping en hervestiging van die netwerke van instellings en bevoegdhede wat dit vereis, is daar geen rede om perke op onsself te lê net omdat daar ander is wat die ywer nie deel nie, óf omdat hulle 'n ander variant van die taal wil bevorder, óf omdat hulle nie deel van dieselfde kultuurgemeenskap uitmaak nie. Afrikaans is nie die eerste of die laaste taal wat meer as een kultuurgemeenskap bedien nie en geen kultuurgemeenskap hoef aan bande gelê te word omdat Afrikaans 'n verskeidenheid in haarself huisves nie.
Laat ons as Afrikaners nou en in die toekoms, soos in die verlede, ons kultuurtaal beskerm, koester en uitbou. Laat ons uit die foute van ons verlede leer en vriende maak eerder as vyande, maar laat ons nie toegee aan die werklikheidsontroue denkbeeld dat ons onbevoeg is om vir ons moedertaal in te tree alvorens ander ons bevoeg verklaar nie.