Motivering vir die oprigting van ‘n ewebeeld van die monument in Pretoria ter ere van president Paul Kruger in Orania

deur Frans de Klerk

2025-08-08

Orania het tot stand gekom met die uitgesproke visie om vir die Afrikaner ‘n toekoms van vryheid in die Noord-Kaap te skep. Met die ontstaan van ‘n nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika in die negentigerjare van die vorige eeu, het Afrikaners hul vryheid en gepaardgaande selfbeskikking verloor. Op Orania word gepoog om deur ‘n strategie van selfstandige opbou ‘n plek en ruimte te skep waar Afrikaners hul vryheid kan herwin.

Orania het oor jare heen sy ontwikkelingsstrategie verfyn deur nuwe werklikhede te skep waardeur die gemeenskap groeiend selfstandig word. Hieruit het voortgevloei ‘n strategie van gekonsentreerde vestiging met die doel om Orania tot ‘n Afrikanerstad met ‘n omliggende streek te ontwikkel. Indien Afrikaners in groot getalle in Orania en omgewing vestig, kan daar aanspraak gemaak word op hoër vlakke van selfbeskikking en erkenning.

Vir Orania om as Afrikanerstad die vryheidsideaal te vergestalt, is daar ‘n paar onontbeerlike voorwaardes. Dit sluit onder meer in: geslaagde ekonomiese opbou, gesonde en deursigtige bestuur en die skep van politieke beweegruimte deur goeie verhoudinge te handhaaf. Nog ‘n noodsaaklike voorwaarde — en die onderwerp van hierdie skrywe — is dat Orania sy kulturele en historiese wortels duidelik moet bevestig as ‘n onderneming in lyn met die politieke en kulturele strewe van Afrikaners oor baie geslagte heen.

Die gedagte van Afrikanervryheid en selfbeskikking is nie deur die stigters van Orania uitgedink nie. Sedert die vestiging van Hollanders aan die Kaap in 1652 het die nuwe burgers hul eie aard en strewe na groter vryheid begin vorm. Hierdie vryheidsdrang het in die negentiende eeu uitgeloop op die Groot Trek en die stigting van die Boererepublieke. Hoewel die Boererepublieke in 1902 vernietig is en die Afrikaner sy vryheid verloor het, het Afrikaners in die twintigste eeu weer opgestaan, hul aard herwin, gemoderniseer en in 1961 weer ‘n republiek gevestig. Toe Afrikaners weereens in 1994 hul vryheid verloor het, het dieselfde uitdaging nogmaals voor hulle gestaan en moes daar ‘n nuwe plan beraam word om vryheid te herwin. Hieruit is die Orania-gedagte gebore.

Dit is dus van groot belang dat Orania se strewe binne sy historiese verband verstaan word. Orania dien as simbool van die Afrikaner se vryheidsbegeerte oor eeue heen. ‘n Gees moet gevestig word dat Orania ‘n gemeenskap is waarvan die wortels diep uit sy geskiedenis gegroei het. Om dié rede moet daar in Orania sigbare tekens wees wat hierdie verbintenis aan sy geskiedenis en vryheidsliefde uitbeeld.

Die beeldhouwerk van president Paul Kruger as simbool van vryheid

Die figuur wat die Afrikaner se strewe na vryheid die sterkste beliggaam, is waarskynlik president Paul Kruger. As president van die ZAR het hy hom nie laat kniehalter deur die aanslae van die Britse Ryk nie. Dit het uiteindelik gelei tot die twee oorloë waarin die Boererepublieke teen Brittanje hul vryheid moes verdedig. Kruger verteenwoordig die gees van die Bittereinder wat nie wou oorbuig en sy volk se vryheid wou prysgee nie.

Toe die FAK enkele jare gelede ‘n digitale skandering van die Krugerbeeld op Kerkplein in Pretoria gemaak het, en die moontlikheid ontstaan het om ‘n nuwe afgietsel te maak, het die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) en die Orania Beweging onmiddellik die geleentheid raakgesien om ‘n beeld van Kruger in Orania op te rig. Watter groter daad kan daar wees as om die suiwer simbool van Afrikanervryheid ‘n ereplek in die nuwe brandpunt van vryheidsbouwerk te gee? ‘n Ereplek vir Kruger wat Afrikaners herinner dat Orania se ontwikkeling belyn is met die Afrikaner se historiese strewe na vryheid. Behalwe dat Kruger die simbool van Afrikanervryheid is, is daar ook ander oorwegings waarom so ‘n beeld in Orania sinvol sal wees. Hierdie oorwegings volg hieronder.

Agteruitgang van die huidige Krugerbeeld op Kerkplein

Kerkplein in Pretoria, soos soveel ander plekke van historiese belang vir Afrikaners, word gekenmerk deur verval en agteruitgang. Dit is nie meer ‘n plek waar Afrikaners saamkom of hul geskiedenis eer nie. Die Krugerbeeld, eens ‘n simbool van ‘n trotse republiek, staan nou in ‘n vreemde omgewing en verval is aan die orde van die dag. Afrikaners is dit aan Kruger verskuldig om hom te “verskuif” na ‘n plek waar hy weer tuis sal voel.

Kruger as stadsbouer

Kruger was nie slegs ‘n staatsbouer nie, maar ook ‘n stadsbouer. Hy het Pretoria van ‘n stowwerige dorpie tot ‘n hoofstad opgebou. Belangrike bakens sluit in die Ou Raadsaal, Paleis van Justisie, museums, hospitale, skole en forte rondom Pretoria. Hierdie geboue en inrigtings het die kulturele struktuur van die Boere van die ZAR gevorm. Die Raadsaal was die hart van die Republiek, die Paleis van Justisie die spil van die reg, en die skole het die kennis en kultuur aan die volgende geslag oorhandig. Kruger se nalatenskap dien dus vir Orania as ‘n praktiese voorbeeld van hoe ‘n stad opgebou word en van die verantwoordelikheid wat op elkeen se skouers rus.

Simboliese krag van Kruger in Orania

Dit kan groot simboliese betekenis hê as president Kruger “na Orania trek”. Dit sal die boodskap versterk dat Afrikaners vandag weer op die drumpel staan van ‘n nuwe Groot Trek. Die feit dat Oom Paul reeds “getrek” het, kan Afrikaners aanmoedig om deel van hierdie nuwe beweging te word.

Kruger en Orania se nuwe stadskern

OOM het reeds ‘n voorlopige terreinontwikkelingsplan vir Orania se nuwe stadskern ingedien. In hierdie nuwe kern sal die Krugerbeeld sentraal geplaas word, naby die beplande stadsplein. Die nuwe kern sal ‘n verskeidenheid nuwe geriewe huisves: kleinhandel, eetplekke, ‘n hotel, studentebehuising en ander sosiale aktiwiteite. Dit sal ‘n trekpleister wees vir inwoners en besoekers. Die beeld sal statuur gee aan die nuwe stadskern en elke besoeker daaraan herinner dat alles wat in Orania verrig word, in diens staan van die vryheidsideaal.

Kruger as roepingsbewuste Afrikaner

Die vernaamste rede waarom Kruger en sy geslag nie vergeet mag word nie, is hul kinderlike afhanklikheid en waagmoedige geloof. Hierin lê vir Orania die mees navolgenswaardige voorbeeld vir sy eie vryheidstryd. Sonder geloof wag ‘n nietige toekoms. In hierdie moeilike tyd waarin Afrikaners hul bevind, kan moed geput word uit Kruger en sy tydgenote se roepingsbewustheid. Oraniërs moet telkens herinner word dat die Orania-strewe in nederigheid en geloofsafhanklikheid aangepak moet word.

Samevatting

Die woord monument beteken om te herinner, maar dra ook die betekenis van waarskuwing. ‘n Monument waarsku ‘n volk om nie sy geskiedenis te vergeet nie. Die Kruger-monument is dus noodsaaklik, want dit herinner ons aan veel meer as net Paul Kruger. Hy vergestalt een van die merkwaardigste geslagte wat die Afrikanervolk opgelewer het. Orania het ‘n uitsonderlike geleentheid om ‘n belangrike afspraak met die geskiedenis na te kom. Met die onthulling van die Krugerbeeld sal die band tussen die bouers van Orania en die voorgeslagte wat voorheen die pad na vryheid gebaan het, bevestig word.

Die oprigting van die Krugerbeeld in Orania sal nie ‘n las vir die inwoners wees nie; dit is ‘n geskenk van OOM, die Orania Beweging, die FAK en honderde ondersteuners. Winston Churchill het eens gesê: “Eers vorm ons ons geboue, en daarna vorm ons geboue ons.” As Oraniërs ‘n stad bou wat mooi ontwerp is, skoonheid uitstraal, goed werk, lewensvatbaar is en getrou bly aan Afrikaner-erfenis en -kultuur, bou hulle nie net ‘n stad nie, maar die stad sal ook sy inwoners vorm. Dit sal ‘n plek wees waar Afrikaners tuis sal voel, sal groei en ontwikkel. Hierdie geleentheid moet aangegryp word om aan die inwoners, die kinders, mede-Afrikaners en wêreldwye ondersteuners te wys waar Orania vandaan kom en waarheen hy op pad is.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL