Jeugberaad 2025 - Verdedig en Verduidelik Orania

deur Vryheidstigting

2025-07-31

"Orania Must Fall!" is die nuutste toevoeging tot Suid-Afrikaanse ekstremiste se haatspraak teen Afrikaners. Daarom dat die Vryheidstigting se jaarlikse jeugberaad, met mede-eienaarskap van die FAK en die Orania Beweging, op die uitdaging om Orania se saak te verduidelik en te verdedig, geval het.

Dertig skoliere en studente het op Saterdag 19 Julie die uitdaging aanvaar en aan vier intensiewe opleidingsessies deelgeneem. Orania se politieke en regsgrondslag is deur leiers en kundiges uit die gemeenskap behandel, waarna deelnemers met nuwe selfvertroue vir die toekoms van ons volk en vryheid kon opstaan. Terwyl valse mites, soos die wenslikheid van "insluiting" en "diversiteit" ontmakser is, is die grondslag van eie arbeid en 'n post-koloniale lewenswyse bespreek.

Aan die hand daarvan is Orania se fisiese veiligheid in die geval van vyandige politieke optrede bespreek en moes groepe van vyf deelnemers hulle hand aan gebeurlikheidsbeplanning waag. Ná hierdie oefening is die vraag na kommunikasie wat in die lig van sulke risiko's benodig word, bespreek en prakties beoefen.

Die beraad is afgesluit met 'n braaivleisparlement, voorsien deur BKO. Die beplanningsgroepe moes as "leiers van Orania" afvaardigings van die EFF, wat uit die aanbieders van sessies bestaan het, te woord staan. Hoewel dit heelwat pret opgelewer het, was dit 'n belangrike geleentheid om hulle nuwe kennis in ervaringsleer toe te pas. <\p>

Dit het ingesluit dat mens nie altyd op redelikheid, logika of goeie maniere kan staatmaak nie en selfdissipline moet toepas om in beheer van die situasie te bly. Ten slotte is 'n kort evaluering en oorsig van lesse geleer, gegee. Almal het oor 'n smaaklike ete saamgestem dat hulle sulke uitdagings voortaan versigtiger, maar met meer selfvertroue kan benader. <\p>

Aanbiedings is deur Riaan Jacobs (Voorsitter van die OVR), Lida Strydom (Burgemeester), adv Jan van Zyl (Regspraak), dr Carel Boshoff (Vryheidstigting), Theuns Wessels (OVD), Thomas van Dalen (Afriforum), Joost Strydom en Frans de Klerk (Orania Beweging) gemaak. Senior leerders van ons twee skole, sowel as tuisleerders en studente van BKO het met oorgawe aan die program deelgeneem en terugvoer van die aanbieders ontvang.

“Deur dae soos vandag belê ons in ons mense, jong mense, die leiers vir die toekoms en dit is vir my belangrik om jong mense te bemagtig” het Cara Tomlinson, die FAK se kultuurorganiseerder vir die Noord-Kaap, wat die jeugberaad gereël het, gesê.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL