Hoe Afrikaners bymekaarkom, mekaar vind, en organiseer in die 21ste eeu gaan ons toekoms bepaal

deur Ernst van Zyl

2025-11-12

Inleiding

Ek merk onlangs in die openbare gesprek ’n ooglopende korrelasie op. Die koorsagtigste swart-smeer-veldtogte deur politici en partye in die media, teiken duidelik organisasies en individue wat daarin slaag om Afrikaners effektief rondom die kern kwessies wat ons raak, te organiseer. Die protesoptog teen die BELA-wet by die Voortrekkermonument is maar die mees onlangse voorbeeld. Kritici kon nie fout vind met die inhoud van die argumente wat op die dag geopper is nie, dus was die teiken van hulle aanvalle die kleur oranje en die feit dat duisende Afrikaners op een plek vergader het. Dit het my weer eens laat besef dat een van die grootste vrese van die heersende orde, is Afrikaners wat bymekaarkom en organiseer. Daarmee saam dalk óók die kleur oranje.

Oranje

Die aanvalle op die kleur oranje was vir my veral veelseggend. Oranje is ‘n kleur wat diep verweef is in sowel die Afrikanerkultuur as die geskiedenis van Afrikaans. Histories is oranje die kleur van Nederland. Gedurende die 1600s is die Prinsevlag (oranje, wit en blou) op die Kasteel de Goede Hoop in die Kaap gehys en deur inkomende skepe gesalueer. Afrikaners het oor die eeue sedertdien oranje ten volle ons eie gemaak. Die opvallendste voorbeeld is in die naam Republiek van die Oranje Vrystaat. Die kleur oranje verskyn ook in vele van die vlae deur die loop van ons volk se geskiedenis. Voorbeelde sluit in: die vlag van die Republiek van die Oranje Vrystaat, die Afrikaner Vryheidsvlag, ook bekend as the Vryburgervlag asook Rebellevlag weens sy gebruik deur die Kaapse rebelle gedurende die Tweede vryheidsoorlog, die Vyflkleur of Boere-eenheid vlag van die Tweede vryheidsoorlog, die 1914 Rebellie vlag, die ou Suid-Afrikaanse vlag, en die nuutste toevoeging, die vlag van Orania.

Oranje het ook sterk simboliese waarde wat ons kultuur se verbintenis aan Afrika betref. Hier op Afrikagrond is ons kultuur en taal gevorm en ons is hier onlosmaaklik gewortel. Elke Afrikaner het ‘n stukkie plaas in hom en haar, soos Dr. Dirk Hermann gereeld sê. As jy nie self boer nie, het jy familie of vele vriende wat boer. En ‘n boer in Afrika weet goed hoe hierdie grond jou hande oranje vlek na ‘n harde dag se werk. Diep oranje is ook die kleur van die daeraad en sonsondergang in Afrika. C.J. Langenhoven het geskryf: "Het die daeraad lief en die dag sal jou liefhê." Die Boere van Afrika het beslis die daeraad lief – dis hoekom ons selfs ‘n sukses kan maak van een van die moeilikste plekke op aarde om te boer. Gaan kyk bietjie hoe lyk die Noord-Kaap op satelliet-foto’s – dit vat ‘n spesiale tipe volk om te kan boer op die oppervlakte van Mars.

Daar is selfs ‘n oranje roos is met die naam “Afrikaans”. In 2015, toe Afrikaans 90 jaar oud geword het, het die FAK en Ludwig-rose die pragtige oranje roos, genaamd Afrikaans, bekendgestel. By die bekendstelling van hierdie roos is daar gesê dat oranje die kleur van warmte en gasvryheid is. ‘n Kleur wat jou laat tuisvoel. Luister na die volgende beskrywing van die roos met die naam Afrikaans: “Daar waar hierdie roos groei, sal jy hom nie kan miskyk nie! Dit is ‘n kombinasie van groeikrag, glans groen, helder oranje, en siektebestande blare.” Gepas, nè?

Daarby het talle Afrikaanse en Afrikaner organisasies deur die loop van die geskiedenis hulle organisasiekleur oranje gemaak. Die Voortrekkermonument was die hele Novembermaand oranje belig ter ondersteuning van Afrikaanse onderwys en as protesaksie teen die BELA-wet.

“Oranje gevaar”: Afrikaners wat organiseer

Die onmiskenbare histeriese gifpyle in anti-Afrikaners se retoriese kokers, sal baie mense foutiewelik laat glo dat ons in die era van die “Afrikaner gevaar” of “Oranje gevaar” leef.

Uit die waarneming van hierdie verskynsel, vloei die volgende vanselfsprekende vraag: Wat kan so gevaarlik wees daaraan dat Afrikaners in hulself glo, hulself organiseer rondom kwessies wat vir hulle belangrik is, en ‘n gesonde trots het in hul kultuur en erfenis? Geen ander groep in Suid-Afrika word só blatant en meedoënloos op verskillende vlakke geteiken deur neerhalende retoriek wat daarop uit is om gevoelens van skaamte, skuld en minderwaardigheid onder hulle te skep nie. Ek het egter slegte nuus vir die propageerders van hierdie aanvalle – dit misluk duidelik.

Een van die redes vir hierdie veldtog teen Afrikaners wat saamspan, is waarskynlik die feit dat daar onder Afrikaners in die besonder, ’n nuwe benadering en filosofie van selfbestuur besig is om stewig pos te vat. Die Afrikaner weet maar te goed dat afhanklikheid lei tot oorheersing. Vele Afrikaners is teen hierdie tyd behoorlik ontnugter met die idee dat die regering hulle probleme gaan, of selfs wil oplos. Lei hierdie radikale kopskuif egter na moedeloosheid en hulpeloosheid? Hoegenaamd nie. Staatsafhanklikheid word toenemend vervang met innoverende staatsbestandheid en hiermee saam kom ook ’n vars sin van gesonde selfrespek, selfstandigheid en nuwe moed.

Hierdie transformasie in die denkwyse van Afrikaners bedreig die heersende orde. Die verkramptes van ons tyd klou desperaat vas aan die illusie van ’n “nuwe daeraad” vir die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie, maar meer spesifiek aan die ou idee van gesentraliseerde mag in die regering. Hulle veg verbete om ’n regeringsmodel wat al vir meer as 114 jaar in suidelike Afrika misluk, te behou en te vernuwe. Die aanhangers van die heersende orde is inderwaarheid die vyande van vryheid, wat geen oplossing duld wat nie groter staatsbetrokkenheid en -beheer behels nie.

Hulle verkondig dat indien jy nie jouself, jou gesin, jou gemeenskap, en jou volk se lot totaal aan die staat wil oorlaat nie, dan is jy boos, gevaarlik en ‘n bedreiging vir vrede. Alternatiewe denke is klaarblyklik gevaarlik vir ’n spesifieke belangegroep; want dit bedreig die ou gevestigde magsorde wat tans die ANC bemagtig. Volgens die staatsverslaafdes, is die enigste keuse wat jy mag hê, om jou geur van staatsafhanklikheid te kies. Vir enige opsie buite daardie venster, word die gebruiklike skelm truuks van etikettering, belediging, ongegronde skuld-deur-assosiëring en verdelende disinformasie uitgehaal.

Die heersende sentraliserende orde se voet- en huursoldate se doelwit is om Afrikaners, en elke ander kultuurgroep en gemeenskap, hulpeloos, geïsoleerd, verdeeld en moedeloos te maak. Hoogs-gesentraliseerde state kan slegs hul mag doeltreffend uitoefen wanneer hulle regeer oor gemeenskappe wat geatomiseer, eerder as georganiseerd, is. Afrikaners word spesifiek geteiken weens ons selfdoen ingesteldheid, sterk sin vir identiteit, en gesonde selfrespek, wat ons meer onafhanklik en vry maak. Ons groeiende lys van ons-sal-self-suksesse is ook ‘n seer doring in die regering se vlees, aangesien dit hulle mislukkings en onbekwaamheid onderstreep.

Professor Koos Malan verwys graag na die woestyn van wanorde-scenario wat besig is om in Suid-Afrika te verwesenlik. Woestyne is egter vol diere en plante met vindingryke oorlewingsstrategieë. Die versamelvoëls van die Kalahari is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Een versamelvoëltjie op sy eie sal nooit in die woestyn oorleef nie, maar ’n swerm wat hulle kragte saamspan en ‘n versamelnes bou, kry dit nie slegs reg om te oorleef nie, hulle floreer.

Steur jou dus nie te veel aan die geblaf van die mislukkende ou orde se aanvalshonde nie. Soos enige vegvlieënier sal getuig, klap die lugafweer die hardste wanneer jy óór die teiken is.

Post-1994: Afrikaners word wéér organisasiebouers

In sy boek Lojale Verset skryf N.P. van Wyk Louw die volgende: “Die toekomstige skrywer van ons beskawingsgeskiedenis sal moontlik die kwarteeu ná ongeveer 1925 ‘Die Tydperk van die Kultuurorganisasies’ noem”. Voorbeelde van wat Louw hiermee bedoel kan gevind word onder die vele organisasies wat op die been gebring is deur die suksesse en momentum van die Helpmekaar-beweging rondom hierdie tyd. As Louw vandag steeds geleef het, sou hy waarskynlik die 30 jaar na 1994 geïdentifiseer het as ’n tweede tydperk van kultuurorganisasies onder Afrikaners.

Tussen 1948 en 1994 het Afrikaners, in die woorde van professor Koos Malan, “staatsbouers” van formaat geword. Met die verkiesing van 1994 is die magtige en hoogs gesentraliseerde staatsmasjinerie wat opgebou is, oorhandig aan die ANC. Vandag word hierdie einste staatsmasjien deur die regerende party gebruik om teen onder andere Afrikaners te diskrimineer, asook om Afrikaans as onderrigtaal te marginaliseer. Hierdie nuwe omstandighede het Afrikaners gedwing om die gees van organisasiebou in ons erfenisskatkis te herontdek en af te stof. Stadig maar seker het dit ’n kollektiewe kopskuif onder Afrikaners teweeggebring, opgesom in die toenemende gebruik van leuses soos “Ons sal self!” en die toevoeging van denkbeelde soos “staatsbestandheid” en “selfbestuur” tot ons woordeskat en probleemoplossingsgereedskapkissie.

Reeds in 1939 het Louw die Afrikaner se vestiging van kultuurorganisasies geïdentifiseer as “’n manier om hom aan te pas by die nuwe omstandighede in die nuwe land, net soos die wit pels van die poolvos of die vetblare van die Karooplant aanpassingsorgane is.” Soos in die eerste helfte van die 20ste eeu, het organisasiebou weer ’n kritiese aanpassingsmeganisme geword vir die Afrikaner in ’n “nuwe land”. Die krag van kultuurorganisasies lê vir Louw in hoe hulle Afrikaners saamsnoer tot ’n eenheid wat ons as yl verspreide volk “nie territoriaal besit nie”.

Die ontwikkelings onder Afrikaners in die 30 jaar ná 1994 wat uitstaan, sou waarskynlik nie vir Louw onkant gevang het nie. Hy het juis in sy geestesoog gesien hoe organisasiebou ’n kritiese en groeiende rol in die toekoms van die Afrikaners se stryd om voort te bestaan, gaan speel. Sy voorspelling in 1939 lui soos volg:

“En juis omdat hierdie vorm van organisasie so noodsaaklik vir ons voortbestaan as volk is, sal dit ook nog baie verder ontwikkel, sowel wat omvang as integrasie betref. Ons staan nog maar eintlik aan die begin van hierdie groot ontwikkeling. Die dag sal kom dat daar ’n net van Afrikaanse kultuurorganisasies oor ons land uitgestrek lê waarin elke Afrikaner, van die geringste tot die hoogte, betrokke sal wees; wat waarskynlik sterk sentraal saamgesnoer sal wees en soos ’n piramiede sal oploop tot sy spits, en waarin alle belange van die Afrikaner as aparte groep verteenwoordig sal wees. Dit is ’n toekomstige ontwikkeling wat los staan van alle politieke oorwegings en wat alleen deur die volk se wil om te bestaan, bepaal sal word.”

’n Voorbeeld van die vrugte van organisasiebou is die Solidariteit Beweging wat bestaan uit bykans 50 instellings met meer as 570 000 lede. Hierdie instellings dek ’n menigte fokusareas, insluitend welstand, onderrig en opleiding, burgerregte, veiligheid, werk, eiendomsontwikkeling, finansiële dienste, kultuur en erfenis, media, en meer. Duidelik het die bepalende faktor in Louw se analise – die wil om te bestaan – geseëvier. Die groot gros jongmense wat betrokke raak by die Solidariteit Beweging se menigte instellings en die fakkel van verantwoordelikheid stewig in hul hande neem, is ’n sprekende voorbeeld hiervan.

Flip Buys som die nuwe mentaliteit, houding en uitkyk wat gedurende die afgelope 30 jaar onder Afrikaners wortelgeskiet het, mooi op: “Ons wil self. Ons kan self. Ons mag self. Ons sal self!” Kom ons doen ons deel om te verseker dat ons aksies vandag steeds spreek van dieselfde aanpasbaarheid wat Louw onder Afrikaners in sy tyd raakgesien het. Of ons die toekoms kry wat ons wil hê, hang in ons eeu steeds af, soos in Louw s'n, van die krag van Afrikaners se wil om voort te bestaan. Kom ons veg en bou saam om te verseker dat ons tyd in die werke van die toekomstige skrywers van ons beskawingsgeskiedenis, die titel van Kultuurorganisasierenaissance verdien.

Hoe ‘n volk op uitdagings reageer, definieer hom

Ek het onlangs vir Maroela Media ‘n meningstuk geskryf oor hoe die plaaslike gesegde van “’n Boer maak ‘n plan” gedurende die 21ste eeu internasionaal bekend geraak het. Ek het tot hierdie besef gekom ná my en Ernst Roets se steunwerwingsbesoek aan Amerika verlede jaar. Wat vir ons op hierdie besoek uitgestaan het, was die ooglopende herontdekking van die Afrikaner wat tans onder Westerlinge plaasvind. Ons het onsself afgevra wat hierdie herontdekking dryf en wat rakende Afrikaners in die 21ste eeu, buitelanders se verbeeldings so kragtig aangryp?

Aan die einde van die vorige eeu, is die tydsgees sowel plaaslik as internasionaal deur verdoemende voorspellings oor die einde van Afrikaans en Afrikaners in Afrika oorheers. Daar is breedvoerig oor die Afrikanerkultuur geskryf, soos oor ‘n bedreigde spesie wat weens die vernietiging van sy habitat, die laaste hoofstuk van sy verhaal bereik het, voordat daardie boek vir altyd toeklap. Die alternatiewe etiket “Afrikaanses” was aan die groei en die term “Afrikaner” het so te sê taboe geword en in onbruik verval. Vierentwintig jaar later moes hierdie doemprofete behoorlik op hul neuse kyk, want die term Afrikaner is springlewendig en volledig gerehabiliteer.

Toe Afrikaners na 1994 vir die soveelste keer in ons geskiedenis ‘n bestaanskrisis in die gesig staar, het ons doodeenvoudig, soos ons voorouers menige maal tevore, vasgebyt, aangepas en met innoverende oorlewingsplanne die Afrikanerwa deur die drif getrek. Die waardevolle les wat ons Afrikaners regdeur ons bestaan geleer het, is dat in tye van krisis, die enigste pad uit die krisis, die pad déúr die krisis is. Louw som dit so op: "Teen die donkerte kan jy nie net jou vensters sluit nie."

Die einde van die die Boere se sinkplaatgrondpad na nêrens was vir meeste buitelandse waarnemers ‘n uitgemaakte saak. Dat ons daarenteen hierdie klaarblyklik “noodlottige” wurggreep wonderbaarlik ontduik het en as kultuurgemeenskap eerder met veerkragtigheid, vitaliteit en ‘n positiewe toekomsvisie teruggebons het, is wat vele waarnemers in die buiteland se verbeelding aangegryp het. By die National Conservatism konferensie wat ek en Ernst Roets in Washingtton DC bygewoon het, het een van die sprekers verklaar: “As die Afrikaners hoop vir die toekoms het, het ons [Amerikaners] geen verskoning nie!”

Louw was soos volg reeds bewus van die onsekere, voorwaardelike voortbestaan van ‘n volk, "Selfs 'n volk se bestaansreg is nie iets wat veilig op onbreekbare tafels geskrywe bly nie, maar iets wat daagliks nuut deur sy wil en daad geskep moet word." Afrikaners het in die 21ste eeu hierdie raad gevolg en opnuut deur wil en daad nuwe lewe in ons taal en kultuur ingeblaas. ‘n Boer het weer ‘n plan gemaak, en daardie planne is weer met moeite en teen alle verwagtinge in, uitgevoer. Na 16 Desember 1994 lees die Beeld se hoofopskrif: “Laaste Geloftedag bring hartseer”, met slegs ‘n skamele 250 getroue siele wat die Voortrekkermonument se Geloftediens bywoon. By die 2019 Geloftediens word egter 10 000 feesgangers getel; in 2022 groei hierdie getal na 20 000. Op 16 Desember 2023 word die Geloftdedag Gedenkdiens by die Voortrekkemonument bygewoon deur 32 000 feesgangers, die derde grootste byeenkoms in die monument se geskiedenis. In 2024 lys die Geloftefeeskalender 223 feeste. Die meeste ooit!

Op 10 Oktober 2024 woon ʼn rekordgetal organisasies die Krugerdag-vieringe by oudpres. Paul Kruger se graf in Heldeakker in Pretoria by. Op 5 November kom meer as 10 000 mense by die Voortrekkermonument bymekaar, almal geklee in oranje, vir ‘n protesoptog teen die bose Bela-wet wat Afrikaanse onderrig bedreig. Hierdie optog was by verre die grootste pro-Afrikaanse optog van te minste die post-1994 era, maar heel moontlik in ‘n langer tyd.

Slot

Afrikaners is stadig maar seker besig om hul muishondstatus af te skud en ‘n nuwe, positiewe en bewonderenswaardige reputasie in die buiteland op te bou – ‘n reputasie van vasbyt, van planne maak, deur blymoedig ‘n positiewe toekomsvisie onder moeilike omstandighede uit te kerf. Afrikaners as ‘n kulturele minderheidsgroep in ‘n vyandige omgewing se vindingryke denke en dade gedurende die 21ste eeu, spreek van ‘n volk wat doodeenvoudig geweier het om op te gee en soos ‘n willose stroompie in die woestynsand tussen twee duine te verdwyn.

Doelbewus en met deursettingsvermoë is daar gekies om die onbekende met vernuwende denke, ‘n onwrikbare wil om te oorleef en vol moed tegemoet te gaan. Hierdie dapper, rateltaai, kanniedood lewensbeskouiing van Afrikaners is wat buitelanders se verbeeldings opnuut aangryp en wat opmerkings inspireer soos, “Ja, ek weet van die Afrikaners. Julle is mos die manne met die planne!” Mag, as dit God se wil is, ons planne, soos die olie in die weduwee se kruik, en ons voorouers se moed by Bloedrivier, nooit opraak nie.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL