"Afrikaners is tradisioneel staatsbouers eerder as stadsbouers. Namate ons voorgeslag die binneland ingetrek het, het ons landelike republieke gestig en stede met verdag bejeen. Om nou 'n Afrikanerstad te bou sal 'n nuwe denkwyse verg, een wat in werklikheid nog uitgewerk moet word."
Dit sou my vinnige en instemmende weergawe wees van wat dr. Wikus Buys in sy onlangse boek Erfstad aanvoer. En hoewel dié boek nog deeglike oorweging verdien, is dit nie wat in die volgende paragrawe gaan volg nie. Wat ek wel wil doen, is om 'n paar gedagtes oor die Afrikanerstad wat ons moet bou, te lug. Dalk word dit in die toekoms nog 'n behoorlike studiestuk, maar nou volg net die buitelyne van die argument. Daarmee wil ek bydra tot die poging om anderkant die verslaande debat oor "stad of staat?" waarby veronderstel word dat "stad" 'n afgewaterde weergawe van die oorspronklike en dapper strewe na "staat" is, te tree. Daarvolgens kan stadsbou hoogstens voorlopig en as 'n noodsaaklike kompromis verdra word, terwyl die hardebaarde onder ons aan die Ware Jakob toegewyd bly.
Ek is van oordeel dat die bostaande struktuur die debat by voorbaat van die spoor aflei, maar dat ons koers kan hou deur goeie antwoorde op die volgende vier vrae te gee: Wat is 'n staat? Wat is 'n stad? Waarop stuur ons af? en Wat doen ons volgende? Dit is wat ek kortliks, sonder voetnotas of formele verwysings, in behandeling wil neem.
Wat is 'n staat?
Regoor die wêreld sal mense waarskynlik redelik ooreenstemmende antwoorde gee op die vraag "Wat is 'n staat?" Dit is, net soos die feit dat die meeste mense hoegenaamd 'n sinvolle antwoord daarop sal kan gee, in werklikheid veelseggend. Dit beteken dat die woord verwys na iets wat globaal tersake is en, hoewel dit verskillende vorme aanneem, tog herkenbaar eners is. Dit geld ook vir woorde soos "mens", "weer", "vrede", "oorlog" en "voorspoed", dinge wat met die menslike toestand verband hou en wat 'n diep betekenis het. Een algemene beskrywing sal verwys na 'n aanwysbare staatsgebied, 'n omlynde staatsbevolking en die openbare orde en gesag wat met betrekking tot die gebied en bevolking gehandhaaf word. Daarby kom die element van erkenning deur ander state, want geen staat kan op die duur in isolasie bestaan nie.
Nog 'n algemene beskrywing sluit by die verwysing na openbare orde en gesag aan, in besonder by die uitoefening van mag ter handhawing daarvan. Hierdie beskrywing behels dat die staat gekenmerk word deur sy monopolie op wettige geweld, wat soms ook met die insameling van belasting in verband gebring word. Hoewel wettige geweld veronderstel is om ten gunste en ter beveiliging van die burgery beoefen te word, kan dit ook ten koste van die burgery aangewend word deur byvoorbeeld die weiering om belasting te betaal, te kriminaliseer. Hierdie eienskappe sluit weer aan by die gedagte dat die staat die setel van onverdeelbare soewereiniteit is, met ander woorde kan doen wat hy wil: oorlog voer as hy wens om oorlog te voer en vrede sluit as hy wens om vrede te sluit.
Daarom dat burgerlike inspraak in die staat se besluitneming met behulp van demokratiese en verteenwoordigende organe so belangrik geag word. Die veronderstelling is dan dat die staat se soewereine magsuitoefening in werklikheid in die burgery se hande is en gevolglik nie ten koste van dieselfde burgery uitgeoefen sal word nie. Hoewel dit logies voorkom, berus hierdie verwagting op 'n paar veronderstellings, waarvan die belangrikste is dat die demokrasie fuksioneel en nie net nominaal sal wees nie. Dit sluit in dat die burokrasie nie die botoon oor die verteenwoordigende instellings sal voer nie, dat die burgery deur 'n omvattende waardekonsensus gekenmerk word en dat daar nie sprake van permanente etniese of ander minderhede sal wees nie, maar dat die politieke proses deur kruissnydende lojaliteite gekenmerk sal word (ek mag tot die minderheid behoort as dit by natuurbewaring kom, maar ek behoort tot die meerderheid ten aansien van algemene gesondheidsorg – en dit kan verander).
Histories het die staat soos ons dit ken, gedurende die afgelope vyfhonderd jaar na vore getree as onderdele van die losse Heilige Romeinse Ryk. Die opkomende state is geregeer deur koningshuise wat absolute gesag ingepalm en uitgeoefen het. Aanvanklik is die koningshuise nog beskou as met goddelike gesag beklee ("soewereiniteit is een, ondeelbaar en gesetel in die koning," het Jean Bodin verklaar), maar mettertyd het dit verander na "… gesetel in die staat" met die verwagting dat die staat ook 'n republiek kan wees, en in elk geval onder demokratiese beheer sal wees. Hoewel daar eers sedert die laaste vyf eeue op hierdie wyse na die "staat" verwys word, het sowel die woord as die denkwyse wat daarmee gepaard gaan, buite sy historiese verband uitgebrei sodat elke politieke orde wat ooit bestaan het, as staat beskryf word, selfs al toon dit geen ooreenkoms met wat die staat in werklikheid is nie.
Die (moderne) staat is dus 'n samelewingsvorm met heel besonderse eienskappe en wat deur verskillende ontwikkelingstadiums gegaan het, maar wat nie met alle en elke samelewingsordening as sodanig vereenselwig kan of moet word nie. Die rede is dat ons dan die risiko loop om die besonderse eienskappe van voor-moderne samelewingsvorme, soos byvoorbeeld die Hanseatiese Liga van selfregerende stede, federale ryke, feodale gemeenskappe of die Griekse polisse (wat so maklik stadstate genoem word), heel mis verstaan.
Tegelyk moet ons onthou dat die Suid-Afrikaanse staat, eers die Unie en later die Republiek, 'n sleutelrol in ons volk se opheffing uit armoede en modernisering gespeel het. Die staatsdiens en staats- en semi-staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Spoorweë, YSKOR en EVKOM, het aan tallose Afrikaners werk en opleiding gegee en hulle gehelp om hulle kinders te laat leer. Die welstand wat ons in die laaste derde van die vorige eeu beleef het, sou sonder die staat ondenkbaar wees, en dit het Afrikaners staatsgesind gestem. Hulle oplossing vir die politieke spanning tussen Suid-Afrika se verskillende volke-in-wording was dan ook om etniese tuislande of volkstate te ontwikkel – en uiteindelik een vir hulleself in die vooruitsig te stel.
Dat ons vryheidstrewe die vorm van 'n volkstaatstrewe sou aanneem, is in die lig van ons geskiedenis vanselfsprekend. Wat egter ook waar is, is dat moderne staatsdenke ons vryheidsverbeelding aan bande kan lê deur een moontlike weg na vryheid as die enigste weg na vryheid voor te stel. Dit sal ons dus baat, en ons het al begin, om meer oor die vryheid en minder oor die staat wat ons nastreef te dink en 'n groter historiese horison te verken. Met die oog daarop vra ons vervolgens na die aard van die "stad."
Wat is 'n stad?
Op die oog af is dit ook nie moeilik om die vraag "Wat is 'n stad?" te beantwoord nie. 'n Kind sal dalk sê "dit is 'n groot plek vol mense," en sy sal nie verkeerd wees nie. Die meeste mense sal dalk na getalle en konsentrasie verwys en die name wat by mens opkom, bevestig dié gedagte: New York, London, Rome, Parys, Beijing, New Delhi. Dit is almal stede met letterlik miljoene mense wat elke dag moet eet, beweeg en lewe. So min as 'n eeu of twee gelede was die kenmerkendste eienskap van sulke stede (en toe was hulle nog nie eers so groot nie) hulle stank. Moderne stede, ook Johannesburg, Kaapstad en Pretoria, is ingenieurswonders as mens besef watse gesofistikeerde water- en rioolstelsels, energieverskaffing, verkeerstelsels en woningvoorsiening daarby ter sprake is. Maar al woon die meeste Afrikaners heel gelukkig in sulke stede, identifiseer hulle nie in die eerste plek met die stedelikheid daarvan nie.
Dit is egter 'n baie oppervlakkige siening van wat 'n stad is, en só beskou is dit nie vreemd dat Afrikaners met hulle landelike agtergrond nie daarby aanklank vind nie. Dit neem natuurlik nie weg dat Afrikaners ook baat by die voordele wat eie is aan sulke bevolkingskonsentrasies nie: groter markte vir produkte en dienste, meer werksgeleenthede en spesialisering, beter opleiding op skool- en naskoolse vlak, meer geriewe en vermaak, groter netwerke, ens. Maar selfs die ooglopende voordele van en noodsaak aan stede, maak mens nog nie lief daarvoor nie.
Wat mens lief maak vir 'n stad is die wyse waarop gemeenskappe daarin gehuisves word: buurte en geboue, kerke en pleine, teaters en stadions, skole en universiteite, markte en winkels – alles dinge waarmee mens kan identifiseer en wat aan jou identiteit verleen. Maar daarvoor hoef 'n stad nie in die eerste plek besonder groot te wees nie. Honderd duisend, selfes dertig duisend mense het in die geskiedenis stede gevestig wat aan hulle burgers veiligheid, voorspoed, identiteit en geluk geskenk het. In Nederland is daar selfs stede van enkele duisend mense – "stede" omdat hulle in eeue tevore stadsregte van 'n prins of landheer verwerf het. Dokkum in Friesland huisves sowat 13 000 mense en het reeds in 1 298 stadsregte verwerf, maar nie (soos Amsterdam met tans byna 'n miljoen mense, maar wat eers in die sestiende eeu stadsmure gekry het) tot 'n massastad gegroei nie. 'n Stad nietemin.
In die reël is stede ook ouer, soms baie ouer as die (moderne) state waarvan hulle deel is. Dink maar aan Rome (753vC) en Italië (1861), Athene (±3500vC) en Griekeland (1830), of selfs Kaapstad (1652) en Suid-Afrika wat in 1910 daargestel is en sedertdien twee groot en een klein konstitusionele transformasies ondergaan het. Daarom dat stede op 'n dieper manier tot hulle burgers spreek as state, wat dikwels op aktiewe nasieboupropaganda moet staatmaak. Om die waarheid te sê, die woord "burger" se herkoms lê in "burg," oftewel "ommuurde/beskermde stad" en in Engels is die verband tussen "citizen" en "city" nog voor die handliggende. As mens dié denklyn volg, voel dit asof (moderne) state die idee van burgerskap nie net gekaap het nie, maar ook ondermyn het.
Staatsburgerskap, veral van groot en gesentraliseerde state, is eenvoudig nie 'n ewe konkrete en intieme begrip as stadsburgerskap nie. Staatsburgerskap kan eenvoudig nie ewe konkreet wees nie as die burgerskap van stede soos Windhoek met 'n totale bevolking van sowat driehonderd en vyftig duisend mense en 'n Afrikanerbevolking van sowat vyftig duisend, Potchefstroom met 'n totale bevolking van sowat honderd en vyftig duisend en 'n Afrikanerbevolking van sowat dertig duisend; waarmee Stellenbosch getalsgewys baie vergelykbaar is; of Bozen (Suid-Tirool) met 'n bevolking van sowat honderd duisend, waarvan sowat 'n kwart Tirools is; of Innsbruck met sowat honderd en dertig duisend mense, omtrent almal Tirolers; of Helsinki, hoofstad van Finland, met sowat seshonderd en dertig duisend inwoners; of Edenburgh, hoofstad van Skotland, met sowat vyfhonderd duisend inwoners; of Cardiff, hoofstad van Wallis, met sowat driehonderd en vyftig duisend inwoners. Stede hoef dus nie in die miljoene te tel om suksesvol en betekenisgewend te wees nie en mens hoef nie net aan 'n oorbevolkte middestad te dink as jy aan 'n stad as sodanig dink nie.
Aan die hand van die verband tussen "stad/burg/city" en "burgerskap/citizenship" en "beskawing/civilization," wat dieselfde is as die verband tussn "polis" (Grieks vir stad) en "politiek," kan 'n nog belangriker punt gemaak word. DC Schindler stel dit in sy God and the City. An Essay on Political Mathaphisics (2023) soos volg:
"The city, which is the actual "prototype" of political life, remains in some respects the fundamental unit of communal human existence – however this unit may evolve over time and in different historical circumstances – and, as such, forms part of our self-understanding and public identity. A city is a realisation of "civilization" (as the etymology suggests), and civilization, according to Aquinas, is defined in its absolute sense as common life organized hierarchically under a ruler and regulated by rational laws. It is this basic realization of civilization that Aristotle had in mind when he defined man as a "political animal," that is, a living being whose social nature finds its completion in the "polis," the city; it is the basic unit, likewise, that Plato, and later, Cicero had in mind when they composed their treatises on politics, their respective versions of "The Republic." At a more symbolic level, "the city" can also indicate a way of life or a collective disposition toward reality in general. … If we priviledge the word "city" in the title, and more generally thoughout the present book, as a concrete expression of political existence, understood as enacted order, it is because of the wealth of meaning the little word harbors."
Teen hierdie agtergrond kan mens met goeie rede aanvoer dat "stad" nie 'n verskraling of ondermyning van "staat" is nie, maar andersom, dat die moderne begrip "staat" 'n verskraling en ondermyning van "stad" is. Dit is in werklikheid 'n ekspansionistiese kaping en onderwerping van een van die waardevolste begrippe in ons politieke woordeskat, wat sowel ons politieke ervaring as ons politieke verbeelding ernstig aan bande lê. Ons verknogtheid aan die moderne staatsidee is inderdaad self iets waarvan ons bevry moet word as ons die vryheid van ons volk op die hart dra. Ander ordes vir ons volk en die breër samelewing (wat sekerlik weer in staatlike terme beskryf sal kan word) moet bedink en beplan word as ons aan ons huidige verknegting van denke en handeling wil ontsnap.
Waarop stuur ons af?
Die laaste twee punte is eintlik al in die antwoorde op die eerste twee vrae aan die orde gestel en hoef nie ewe uitvoerig behandel te word nie. Waarop stuur ons af? Op vryheid. Maar wat beteken dit? 'n Kleiner territoriale staat met al dieselfde eienskappe en uitdagings as die huidige een waaraan ons wil ontsnap? Dit maak tog kwalik sin. Of 'n utopiese bedeling waarin alleen die lede van die volk wat dinge sien soos ek dit sien teenwoordig is? Dit sou duidelik ook 'n dwaling wees. Of 'n bedeling waarin willekeur die botoon voer? Waarin die regering en alle oortuigings van wat goed en reg is só ver op die agtergrond tree dat dit geen inbreuk op ons willekeurige handelinge op soek na eie voordeel sal maak nie? Dit sluit op geen manier aan by ons geloof of tradisie waarin orde en idealisme 'n belangrike plek inneem nie.
Nee, die vryheid waarna ons moet streef, is die vryheid van voortreflikheid. Dit behels die bemeestering van ons beperkings, sowel dié eie aan ons persoon as eie aan ons omstandighede. Maar dit behels ook 'n maatstaf vir wat goed en die beste is, wat vir ons almal as nastrewenswaardig voor oë staan sodat ons ander kan erken en deur ander erken kan word vir die goeie wat vermag word, wat gevolglik nie aan blote keuse of persoonlike voorkeur oorgelaat kan word nie. Vryheid is nie 'n bloot individuele saak nie, selfs al hou dit verreikende gevolge vir die individu in; dit is iets wat nie net by uitstek nie, maar in werklikheid slegs binne die verband van gemeenskap tereg kan kom.
En om die soort gemeenskap te wees waarbinne die vryheid van voortreflikheid tereg kan kom, om oor die kulturele, institusionele, materiële, geestelike en ander bronne te beskik wat dit moontlik maak, is 'n prestasie wat ver bo die vermoë van een geslag mense lê. Ons moet ons erfenis in hierdie verband koester en uitbou, selfs wanneer aanpassings en veranderings daaraan noodsaaklik is, en selfs al gee dit ons soms net iets om te verander, want dan hoef ons minstens nie al die foute van die verlede te herhaal nie. Maar ons moet dit ook uitbou met die oog op wat ons aan ons nakomelinge nalaat, sodat ons nie soos 'n erfgenaam is wat sy erfenis verkwis en sy kinders in armoede dompel nie.
Waarop stuur ons dus af? Op 'n ryk beskouing van vryheid waarvoor ons nie net ruimte en plek nodig het nie, maar ook 'n toepaslike kultuur en gedeelde oortuigings, dienlike instellings en 'n sin vir wat goed en die beste is om met behulp van ons eie arbeid en inisiatief te verwesenlik. Dit verwys dus duidelik na 'n politieke orde, maar uit die staanspoor na méér. Wat ons nodig het, is dit wat Schindler met die meer simboliese betekenis van die "stad" verbind. Dit laat mens selfs aan die Nederlandse spreekwoord "Stadslug maak vry!" dink, 'n frase wat laag op laag betekenis bevat, van die vryheid van veiligheid en die vryheid van voorspoed tot die besef dat ons sáám dinge kan doen wat ons apart nie sou kon vermag nie.
Hoe die ruimtelike inrigting daarvan daar sal uitsien, is iets wat die tyd nog sal moet leer en wat ons tegelyk met ambisie én geduld tegemoet moet gaan. En selfs al werk ons nie met 'n bloudruk wat op die werklikheid afgedruk word nie, moet ons planmatig te werk gaan en duidelikheid hê oor die volgende stappe wat geneem moet word.
Wat doen ons volgende?
Om te weet wat om te doen, is ongelukkig baie makliker as om dit in werklikheid te doen. Dit geld ook vir Afrikaners onder ons huidige omstandighede. Van buite beskou is dit duidelik dat so 'n verspreide en bedreigde bevolking hulle in 'n gebied wat deur hulle gedomineer kan word, moet konsentreer. In soverre politieke maatreëls hulle toegang tot die arbeidsmark belemmer, moet hulle ooglopend die kundigheid, ondernemingsgees en kapitaal tot hulle beskikking aanwend om werksgeleenthede vir hulle volksgenote te skep en vestiging in die konsentrasiegebied te bevorder. Waar hulle taal in openbare onderwysinstellings agtergestel word, moet hulle onafhanklike skole en gemeenskapsuniversiteite en -kolleges oprig. As hulle fisies bedreig word, moet hulle sowel buurtwagte ter beskerming van hulle mense vestig, en kommunikasiestrategieë ontwikkel wat die wêreld van hulle bedreiging en benadeling laat kennis neem. Waar die staat en staatsinstelling ingespan word tot hulle nadeel, moet hulle staatsbestand word betreffende die ekonomiese onderbou sowel as die kulturele bowebou van hulle bestaan.
Nou is dit duidelik dat Afrikaners reeds op byna elkeen van hierdie terreine merkbare vordering gemaak het, maar dat dit nog verspreid plaasvind en dikwels in gebiede plaasvind waaroor ons geen vooruitsig het om doeltreffende beheer uit te oefen nie. Dat mense se belange beskerm moet word daar waar hulle is, is goed en wel, maar as dit nie op die langtermyn ewe volhoubaar is as om dit in 'n konsentrasiegebied te doen nie, moet die konsentrasiegebied voorrang kry. Daarom is die vestiging van 'n Afrikanerstad – prakties sowel as simbolies gesproke – so belangrik.
Terwyl die Suid-Afrikaanse staat sy kreeftegang gaan, hoef Afrikaners nie daarmee in konfrontasie te tree nie. Tegelyk moet ons in staat wees om die alternatiewe wat ons skep, te beskerm indien plaaslike of nasionale weerstand daarteen ontwikkel. Daarby speel die ontwikkeling van Orania, die uitbreiding van dorp na stad in die gewone sin, maar ook die vestiging van 'n omvattende uitlewingsruimte, die bou van ons stad in die simboliese sin, 'n onvervangbare rol. Wat moet ons dus volgende doen? Ons eie arbeid beoefen, ons eie grondgebied ontwikkel en uitbrei en ons eie instellings vestig en versterk. Verrassend genoeg is dit nie iets nuut of vreemd nie, dit is iets wat ons die afgelope dertig jaar plus alreeds in Orania doen, maar wat nog op 'n heel nuwe vlak geplaas moet word.
Wat doen ons dus volgende? Dit klink dalk nie so vroom as wat ons gewoond is nie, maar dink daaroor: ons moet bid en bou en braai. Oor die eerste twee hoef niks meer gesê te word nie, maar braai? Inderdaad, want om 'n nuwe toekoms te bou, is iets wat met vreugde en opwinding tegemoetgegaan kan word. As Afrikaners nie meer plesierig is nie, vat hulle dalk hulle goed en trek, Ferreira, en eindig ons sonder 'n volk terwyl ons kibbel oor of dit 'n staat of 'n stad moes gewees het!