ARTIKEL

Die federale gedagte – oorspronge en vooruitsigte

deur Vryheidstigting

2024-10-21

Die Vryheidstigting se jaarlikse Verwoerd-gedenklesing en beraad het vanjaar op 6&7 September in Orania plaasgevind. Die gedenklesing deur prof Danie Goosen, Akademiese hoof van Akademia en dekadelange medewerker van die Vryheidstigting (voorheen SABRA en EPOG), het as inleiding tot die beraad oor "Die federale gedagte – oorspronge en vooruitsigte" gedien. Sy bydrae het inderdaad op filosofiese, maar ook historiese oorspronge van die federale gedagte gefokus, terwyl die benadering om nie oor "federasies" of selfs van "federalisme" te besin nie, maar oor die onderliggende gedagte waaruit praktiese toepassings gevoed word, ook aan hom te danke is.

Die volgende oggend se program is deur dr Wikus Buys van Begrond Instituut geopen en het uit twee akademiese, twee praktiese en twee operasionele insette bestaan. Die akademiese insette is deur prof Koos Malan oor "Johannes Althusius, selfregering, federalisme en die Afrikaners van 2024" en deur Alida Kok oor die vraag "Hoe word die politieke lewe gehuisves?" gelewer. Hierdie meer formele lesings sal binnekort in 'n spesiale uitgawe van Perspektief gepubliseer word.

Die twee praktiese insette is gelewer deur Barend Uys oor "Suid-Afrika as 'n gemeenskap van gemeenskappe" en Ernst van Zyl oor "Afrikaners se aansluiting by die internasionale konserwatiewe beweging." Hulle staan albei in die praktyk van burgerlike politieke, Barend as Afriforum se hoof van interkulturele verhoudings en samewerking, wat deurlopend met talle tradisionele gemeenskappe skakel, en Ernst as Afriforum se hoof van openbare betrekkinge wat onlangs van besoeke aan die VSA en Hongarye teruggekeer het.

Die twee operasionele insette is tydens 'n paneelgesprek met dr Wynand Boshoff, Parlementslid en leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, en Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) gelewer. Hulle is op die terreine van parlementêre politiek en praktiese stadsbou gemoeid met die eise wat federale praktyke stel. Die laaste vier insette word nog op skrif gestel en verwerk.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL