Die FAK, 8 Mei 1925, die GRA en ons toekoms

deur Carel Boshoff

2025-08-14

Dit is 'n voorreg om u vanmôre by hierdie geleentheid te verwelkom. Die FAK neem die verantwoordelikheid om erkenning te gee aan diegene wat hulle in diensbaarheid aan ons kultuurgemeenskap en in die gehalte van hulle werk onderskei met groot erns ter harte. Ek is seker u sal saamstem dat die fleur van hierdie funksie daarvan getuig en mens kan nie anders nie as om groot waardering te hê vir almal wat daarby betrokke is. (Ons uitvoerende direkteur, dr Danie Langner gaan ten slotte 'n dankwoord spreek en ek wil dit nie vooruitloop nie, maar ek verwag dat hy homself nie gaan vermeld nie terwyl die leiding wat van hom uitgaan werklik vermeldenswaardig is.)

Vriende, hierdie byeenkoms staan in die teken van verskeie herdenkings. Die vrug van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging met Afrikaans se amptelike status 'n honderd jaar gelede; die eerste volwaaardige Afrikaanse gedig, Winternag van Eugène Marais sewentig jaar gelede; die stigting van die Genootskap van Regte Afrikansers en die beslag wat daarmee aan die Eerste Afrikaanse Taalbeweging gegee is 150 jaar gelede, en intussen nader die FAK self sy honderdste verjaarsdag in 2029.

Ek verwys daarna omdat die FAK die afgelope 96 jaar by wyse van verskeie toekennings aan talle verdienstelike ontvangers, voortgang aan ons kultuurontwikkeling en behoud gehelp gee het, en dat ons dit steeds doen. Van die FAK se kant strek ons voorgangers terug tot in die grys verlede, en met die ontvangers is dit dieselfde. U is nie net uitsonderlike individue nie, u is ook met u mense verweef, anders sou u nie vandag hier gewees het nie. Maar buiten vir u eietydse verweefdheid maak u en ons deel van 'n ryk en vestigende tradisie uit, 'n rykdom waarvan ons erfgename én rentmeesters is en waaroor ons met 'n sin vir ons herkoms én ons toekoms moet beskik.

Daarom wil ek vanmôre kortliks oor ons herkoms en toekoms en verhoudings besin.

2.

'n Ronde honderd jaar gelede word Afrikaans as amptelike taal van die Unie van Suid-Afrika erken en sedert betreklik onlangs word 8 Mei as "Afrikaans se verjaarsdag" gevier. Vanjaar kon mens byvoorbeeld omroepers van die openbare uitsaaier sulke verrassende stellings hoor maak soos: "Kan jy glo, dat Afrikaans vanjaar 'n honderd jaar oud is!" Dit is natuulik geen bloot toevallige misverstand nie, hoewel sulke uitsprake op diep gesetelde onkunde berus. Die beklemtoning van hoe belangrik dit is dat Afrikaans op 8 Mei 1925 by wyse van 'n Parlementswet tot amptelike taal van die Unie verklaar is, vind plaas teen die agtergrond van wat as 'n "verdeelde taalgemeenskap" beskou word en as 'n poging om dié verdeling te probeer heel.

Die vooruitsig op hierdie eeufees is in 'n rosige lig gestel as iets waaroor almal bly en niemand spyt hoef te wees nie en wat sonder voorbehoud of wroeging gevier kan word. Maar hoe verkeerd kan 'n mens, selfs met die beste bedoelings, nie wees nie! Ten minste drie voorbehoude oor hierdie eeufees het intussen aan die orde gekom en dit sal ons die moeite loon op kortliks by elkeen stil te staan.

Die eerste, wat ons aan die versoberende standpunte van regsgeleerdes soos Kerneels Lourens en prof Koos Malan te danke het, is dat 2025 kwalik as 'n feesjaar beskou kan word. Gemeet aan die verlies van amptelike funksies wat Afrikaans die afgelope 30 jaar plus gely het, sê Lourens, behoort ons eerder begrafnis te hou, en hy sê dit as prokureur en taalaktivis wat hierdie agteruitgang wetlik probeer teenwerk het, maar geen hond haaraf gemaak het nie. Dit sou oorbodig wees om daarop uit te brei, ons weet almal op hoeveel terreine Afrikaans tot die private ruimtes, die spreekwoordelike kombuis teruggedruk is.

Prof Malan voer weer aan dat daar van "honderd jaar amptelike status" geen sprake kan wees nie aangesien die amptelike status ter sprake in 1994 sodanig verwater is dat dit in werklikheid verval het, daar kan hoogstens van minder as sewentig jaar sprake wees – hoewel hy dan nie in berekening bring dat die wet van 1925 Afrikaans se status inderdaad terugwerkend tot 1910 verhef het nie. Streng gesproke kan mens dan darem van sowat 84 jaar praat voordat, soos prof Theodorus du Plessis dit gestel het, 'n strategie in werking gestel is van "hoe meer tale, hoe meer Engels."

Hiermee is die tweede voorbehoud al aangeraak, naamlik dat 1925 in werklikheid 'n klein baken op 'n lang pad was. Belangrik soos dit indertyd natuurlik beskou is, het dit min meer gedoen as om wetlike beslag te gee aan 'n werklikheid wat reeds bestaan het en waaroor daar oor partygrense heen, selfs oor die groot taalgrens heen, eenstemmigheid geheers het. Dit was dat die Suid-Afrika Wet ingevolge waarvan die Unie tot stand gekom het, se verwysing na Engels en "Hollands" in werklikheid Afrikaans op die oog gehad het, hoewel dit toe nog nie voldoende geformaliseer was om as aparte taal vermeld te word nie.

Die betekenisvolle was die gebruik van die woord "Hollands" en nie "Nederlands" nie, en die prestasies van die Tweede Taalbeweging het 'n werklikheid geskep waaraan erkenning gegee is deur enige onduidelikheid uit die weg te ruim, Hollands sluit ook Afrikaans in. In die 1961-grondwet van die Republiek van Suid-Afrika was die taalbepaling "Afrikaans en Engels", let op die volgorde, en is daar in die woordomskrywings aan die einde voorsiening gemaak dat Afrikaans ook Nedelands insluit. Mens sou jou 'n diskoers kon indink waarbinne dít as die groot, gedenkwaardige wending in die geskiedenis van amptelike Afrikaans beskou kon word, as daardie bedeling nie van sulke kort duur was nie.

Bygesê dat selfs prof Jaap Steyn in sy omvattende "Tuiste in eie taal" in 1980 geen groot gewag van die 1925-besluit gemaak het nie. Hy heg groot waarde aan die gelykberegtiging van die "twee landstale" soos in die Suid-Afrika Wet vervat, en aan genl Hertzog en pres Steyn se die politieke ywer wat as stukrag vir die insluiting sowel as die afdwing daarvan gedien het. Dit bevestig net die punt dat die latere verheffing van die 1925-besluit as 'n geleentheid waarby alle Afrikaanssprekendes aansluiting kan vind, nie van etniese entrepeneurskap vry te spreek is nie. Dit staan in die verlengde van 'n poging om by wyse van Afrikaanse blokvorming 'n meer beduidende rol in 'n ope demokrasie te speel, al het dit lank ná die aanvanklike pleidooie en platforms in dié verband gevolg.

Om die waarheid te sê, ons eie FAK het in die later 1990's by geleentheid van 'n toekenning aan die hoog gewaardeerde mnr Ton Vosloo die verhoog vir presies daardie pleidooi gebied. Die gedagte is uit daardie Afrikanergeledere ook nie ongunstig ontvang nie en die feit dat die destydse denkbeeld van "Afrikaanses" nie werklikheid geword het nie, het meer met "die ander helfte" van die Afrikaanssprekende bevolking se ontvangs daarvan te doen gehad. My indruk is, op my herinnering van die gebeure gebaseer, dat bruin woordvoerders die gedagte destyds koel ontvang het juis omdat hulle skepties was oor die ware bedoelings van die toenadering. Die ontvangs wat die Groep van 63 se toenadering rondom die draai van die eeu geniet het, het dieselfde kombinasie van onbelangstelling en argwaan geniet en was in werklikheid 'n goeie aanduiding van die lot wat soortgelyke pogings later te beurt sou val.

Daarmee is ons al vierkantig in die kraam van die derde toepaslike voorbehoud op die viering van Afrikaans se honderdjarige amptelike status, naamlik van bruin Afrikaanssprekendes wat hulle inderdaad nie by daardie geskiedenis ingesluit voel nie. "Wie se Afrikaans is gestandaardiseer en veramptelik? En wie het die voordeel daarvan geniet? Beslis nie ons nie!" kon uit daardie geledere aangevoer word. En gevoelige rolspelers se reaksie daarop het van 'n ontvanklikheid vir die beskuldiging getuig. 'n Waarheids- en Versoeningskommissie vir Afrikaans is voorgestel as voorwaarde vir die ontsluiting van gemeenskaplike Afrikaanse energie terwyl heelwat klem die afgelope tyd op die variante van Afrikaans eerder as op standaard Afrikaans en die standaardisering van Afrikaans geplaas is.

Die uiteindelike gevolg van nie net die genoemde voorbehoude nie, maar ook die onderliggende werklikhede, sowel as ander minder duidelike faktore het tot gevolg gehad dat die gedenkjaar van Afrikaans se amptelike erkenning met heelwat teenstrydighede gepaardgegaan het en min dieperliggende samehang getoon het. Sover dit die groot versoening tussen almal wat Afrikaans praat, ongeag hóé, aangaan, sal ons waarskynlik op 2025 as 'n gemisde geleentheid terugkyk – buiten as dit nog moontlik is om die gesprek op 'n heel ander voet te plaas.

3.

Met die oog daarop is dit belangrik dat die FAK en andere, meestal uit Afrikanergeledere, maar nie regse randfigure nie, besluit het om, naas die herdenking van die 1925-besluit, ook en veral die stigting van die GRA in 1875, dus 150 jaar gelede te herdenk. Dit is wat ons vandeesweek doen, dit is waarvan hierdie geleentheid 'n deel uitmaak. Maar hoe moet dit verstaan word? Dat Afrikaners uiteindelik tóg toondoof is vir hulle mede-Afrikaanssprekendes se ervaring van apartheid en blanke oorheersing? Dat Afrikaners eerder self en alleen die toekoms wil ingaan as om die steen des aanstoots wat hulle verlede vir ander is, te erken? Ek is van oordeel dat die antwoord op hierdie vrae klokslag negatief sal wees en dat Afrikaners se gesindheid jeens ander Afrikaanssprekendes positief is, maar dat Afrikaners nie geneë is om van hulle eie geskiedenis af te stap net om ander ter wille te wees nie.

Is daar enige rede waarom alle Afrikaanssprekendes dieselfde geskiedenis, of dieselfde beeld op die geskiedenis moet hê? As my voormense by die GRA en die Patriot aanklank gevind het (selfs by nabaat, want dit was indertyd nie 'n baie gewilde poging nie), hoef iemand wie se voormense al tevore op Genadendal Afrikaans gepraat en geskryf het en onderwys daarin gegee of ontvang het, téén my waardering vir die GRA gekant te wees? Tog sekerlik net so min as wat ek teen Genadendal se kleurryke geskiedenis gekant hoef te wees!

En as ons Eerste Taalbeweging gehelp het om ons Tweede Taalbeweging tot gevolg te hê, en ons Tweede Taalbeweging die standaardisering van ons variant van Afrikaans meegebring het, moet ons nou op ons spore probeer terugloop omdat dit nie tot die standaardisering van ander of alle variante van Afrikaans gelei het nie? Dit sou tog onmoontlik, maar meer nog, onsinnig wees.

En as een gestandaardiseerde variant amptelike status in 'n erkende en funksionele staat kon verwerf, en as ons mense hulle met behulp daarvan van uiterste armoede kon bevry en hulle in 'n moderne kultuur en ekonomie kon tuismaak, moet ons dit nou vervloek omdat dit nie almal se armoede besweer het en almal eweveel bemagtig het nie? Ek kan dit nie dink nie, hoewel ek besef dat daar mense is wat hoe langer, hoe minder gemaklik sal voel met wat ek sê.

Dit sou kon klink of iemand soos ek inderdaad toondoof is vir ander se benadeling en nood – dit sou só kon klink as dit nie was dat Afrikaners oorwegend sonder verset van Apartheid afstand gedoen het en sedertdien van statutêr bevoordeelde tot statutêr benadeelde bevolking verander het nie. Dit sou só kon klink as dit nie was dat die meeste Afrikaners steeds gretig is om Suid-Afrika eerder te laat slaag as te sien misluk nie, as hulle nie 'n verstommend hoë mate van verdraagsaamheid met "regstellende aksie", "swart ekonomiese bemagtiging" en transformasie in die algemeen, getoon het nie. Maar dit alles met een voorbehoud, en dit blyk dat daardie voorbehoud deur sommige as struikelblok vir versoening beskou word. Die voorbehoud is eenvoudig dat ons nie gewillig is om onsself in die proses prys te gee nie, dat ons nie ons geskiedenis kan afsweer of ons kulturele identiteit kan ophef nie.

Ons belewenis van die laaste dertig jaar was ten ene male nie dié van 'n hegte Afrikaanse gemeenskap wat wag om deur te breek sodra 'n paar kunsmatige struikelblokke uit die weg geruim is nie. Ons belewenis was een van ooreenkomste te midde van verskille, en verskille te midde van ooreenkomste – iets wat eintlik glad nie vreemd is in 'n samelewing wat deur kulturele diversiteit gekenmerk word nie. Om die waarheid te sê, die FAK is mos van huis uit 'n federasie, ons dink ons weet wat om met verskille soos hierdie te maak en wat nié, maar ons kan dit nie alleen doen nie. Ons glo die belangrike verskille, die wat 'n gemeenskap se identiteit bepaal, behoort erken en gerespekteer te word – nie net van een kant na die ander nie, maar van albei kante, wedersyds. Ons glo aan erkenning en federering eerder as inlywing en gelykskakeling.

Afrikaans is nie die eerste of die laaste taal wat deur verskillende volke gedeel word nie, of waarvan die variante verskillende rigtings ingeslaan het of nie dieselfde lot te beurt geval het nie. Om die waarheid te sê, die gedagte dat almal wat een taal praat tot een kultuurgemeenskap behoort of moet behoort, klop eenvoudig nie met die werklikheid nie. Soveel as wat 'n taal haar stempel op haar sprekers afdruk, soveel is geen taal die enigste krag wat op gemeenskapsvorming inwerk nie.

Die vraag moet ten slotte anders gestel word as ons 'n vrugbare antwoord wil kry. Die vraag is nie hoe alle Afrikaanssprekendes tot een gemeenskap gemaak kan word nie, die vraag is hoe ons gemeenskappe die moontlikhede wat in ons tale opgesluit lê, kan ontsluit en, na gelang van omstandighede, tot ons eie en tot almal se voordeel kan inspan.

4.

Die vraag wat ons moet antwoord, is na die eienaarskap wat Afrikaners vir die vestiging en behoud van hulle moedertaal geneem het en steeds neem. Dat daardie moedertaal Afrikaans is, is nie onbelangrik of toevallig nie, maar dit is ook nie allesbepalend nie. Daar is vir ons, soos vir ander Afrikaanssprekendes, ook ander kragte wat op die verhouding tussen ons en ons taal inspeel, wat ons taallojaliteit en taalmobiliteit bepaal. Ons kulturele en ekonomiese ontwikkeling; ons demografiese verspreiding, beweging en uitbreiding of inkrimping; die owerheidsbeleid op 'n gegewe tydstip en ons identifisering al dan nie daarmee is maar 'n paar voorbeelde van kragte wat ons taalgesindheid bepaal, soos dit ook ander gemeenskappe s'n bepaal.

Om van die vertrekpunt uit te gaan dat die Afrikaner 'n nasionale kultuurgemenskap is en wil bly, kan dalk, maar hoef hoegenaamd nie te beteken dat ons noodwendig in botsing met ander taal- of streeksgenote hoef te wees nie. Inteendeel, as Afrikaners hoegenaamd iets uit die afgelope geskiedenis geleer het, is dit dat 'n gebrek aan erkenning – verleen én ontvang – geen goeie grondslag vir 'n goeie toekoms kan wees nie.

Wil Afrikaners dus goeie verhoudings met ander Suid-Afrikaners in stand hou? Beslis, ja. En wil ons die beste van verhoudings met ander Afrikaanssprekendes onderhou? Beslis, ja. Maar tot watter prys? Wanneer is die prys daarvoor te hoog? Wanneer dit sou vereis dat ons ons unieke volksbestaan, geskiedenis en toekomsverwagting moet prysgee om vir ander aanvaarbaar te wees. Maar is dit nodig om dit prys te gee? Ons kan net namens onsself praat, maar vir ons lyk dit volstrek onnodig, vir ons lyk dit moontlik om 'n soort federale taalverband te vestig en te koester waarbinne mense en gemeenskappe mekaar kan bystaan en versterk sonder om mekaar se bestaan te misken of te bedreig, terwyl politieke voorkeure, kulturele strategieë en ekonomiese ontwikkeling binne elke verband op 'n gepasde wyse ingerig kan word. Baie dieselfde as tans, net met meer vriendskap en ondersteuning. Maar daarvoor moet elke deelnemer veilig voel.

Wanneer die FAK dus die GRA en sy werk huldig en herdenk, bevestig ons ons herkoms, identiteit en toekomsverwagting, en só voldoen ons aan die eerste voorwaarde vir volhoubare bondgenootskappe binne taal- en streeksverband. Die tyd sal leer, glo ek, dat hierdie benadering toonaangewend gaan word vir die enigste werklik betekenisvolle nasionale dialoog wat gevoer moet word, naamlik die een oor hoe Suid-Afrika kan word wat dit ten beste kan wees: nie 'n onderdrukkende staat met gefrustreerde mense nie, maar 'n gemeenskap van gemeenskappe waarin ons maniere en strukture vestig wat aan ons, soos aan ander 'n tuiste bied.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL