ARTIKEL

Boekbespreking: Argiewe as 'Vertellings uit die vergetelheid'

deur Carel Boshoff

2024-11-26

Schoeman, Danie. 2023. Vertellings uit die vergetelheid. Die opkoms en val van Bophuthatswana. 1977 tot 1994. De Kelders: Naledi.

As argiewe se doel is om vertellings uit die verlede, wat andersins in die vergetelheid sou raak, te bewaar, is Danie Schoeman se weergawe van die opkoms en val van Bophuthatswana 'n uitstekende voorbeeld daarvan. Ek het danksy vriende, wat self 'n hele aantal jare in die destydse Mafikeng (nou Mahikeng) gewoon het, daarvan gehoor en onverwyld 'n kopie bestel. En wat 'n aanwins vir ons Afrikana Boekery is dit nie!

Vertellings uit die vergetelheid. Die opkoms en val van Bophuthatswana. 1977 tot 1994 kan as 'n ontipiese ego-dokument beskryf word, met ander woorde gebaseer op iemand se persoonlike belewenis en weergawe van gebeure. Tipiese voorbeelde is Louis Trichardt se dagboek uit die Groot Trek en Denys Reitz se Kommando uit die Tweede Vryheidsoorlog. Schoeman se werk is nie ewe intiem nie en word deur talle verwysings na gepubliseerde bronne en statistiek aangevul, maar dit het die onvervangbare waarde en gesag van persoonlike betrokkenheid. Van die tipiese risiko's eie aan ego-dokumente, soos partydigheid en ongebalanseerde oordeel is hier min sprake – nie dat Schoeman hom van beoordeling weerhou nie, maar dit is deurgaan goed beredeneerd en deursigtig.

Schoeman se verbintenis met Bophuthatswana spruit voort uit sy opleiding en belangstelling in ontwikkelingsekonomie, sowel as sy aangetrokkenheid tot 'n Suid-Afrikaanse bedeling wat nie op rasse-apartheid nie, maar op parallele ontwikkeling gerig is. Aan die hand daarvan het hy in 1977 met onafhanklikheidswording, as ekonomiese raadgewer by die regering van die nuwe Republiek van Bophuthatswana betrokke geraak. Wat hy beskryf, is 'n persoonlike avontuur, wat tegelyk 'n ongekende hoofstuk in Suider-Afrika ontwikkeling beslaan. Hy verwys meermale na die ontwikkelingsuksesse as 'n "geheim" wat om politieke redes bewaar is en verhoed het dat die lesse wat in die proses geleer is, ook vir ander van waarde sou wees.

Die boek bestaan uit sewe hoofstukke, waarvan die eerste 'n oorsig oor die geskiedenis van die Batswana-volk is, die tweede 'n blik op persoonlike ervarings wat met die vestiging in en van Bophuthatswana verbandhou, die derde en vierde na die ekonomie en dienslewering kyk, terwyl die vyfde en sesde met die politiek en die KODESA-jare handel. Hy sluit dan met enkele gevolgtrekkings af.

Sonder die historiese aanloop kan mens die vestiging van Bophuthatswana, naas Botswana nie begryp nie. Dit behels onder meer dat 'n goeie twee derdes van die Batswana in Suid-Afrika en nie in Botswana nie, woon en werksaam is, terwyl die grense die duidelike stempel van Britse imperiale willekeur dra. Die destydse Brits-Betsjoeanaland hou die grens ten Noorde van die Kaapkolonie oop en dien as buffer tussen Duits Suidwe-Afrika en die Boererepublieke, maar word as protektoraat vanuit die Mafeking bestuur. Die Suidelike gedeelte van die Batswana se gebied, waar die meeste ook woon, word egter as kroonkolonie vanuit Vryburg geregeer. Die een, Botswana, word deur Brittanje onafhanklik gemaak en as sodanig aanvaar, maar die ander, Bophuthatswana, word deur Suid-Afrika onafhanklik gemaak, maar deur die wêreld verwerp en verguis. Schoeman is natuurlik nie blind vir die redes, wat met die apartheidsbeleid en gebrekkige konsolidasie verbandhou nie, maar wys tog op die teenstrydigheid daarvan.

Oorsigtelik val Bophuthatswana se kort geskiedenis vir die skrywer in drie dele uiteen: die vestigingsjare vol idealisme en toewyding waartydens 'n klein wonder van ontwikkeling bewerkstellig word; 'n periode van oormoed en, by nabaat beskou, staatskaping; en die roemlose afloop van die drama met die herinlywing van 1994. Sonder om voor te gee dat die regering en president van Bophuthatswana foutloos was – Schoeman het hom immers vir 'n periode aan die staatsadministrasie onttrek – lê die blaam vir die roemlose afloop van sake vierkantig op die Suid-Afrikaanse regering se skouers. Om die waarheid te sê, die wyse waarop daar aan die ANC se eise om inlywing voldoen is en alle grondwetlike en wetlike maatreëls eenvoudig geminag is, getuig van presies die gebrek aan erns met afsonderlike ontwikkeling wat tot die mislukking daarvan gelei het.

Dit is eenvoudig duidelik uit Schoeman se beskrywing hoedat 'n staat bestaande uit vyf onaangrensende "eilande" in die "see" van 'n ekonomies en politiek dominante staat wat in werklikheid 'n koloniale rol speel, niemand van sy volhoubaarheid oortuig nie, selfs al is daar indrukwekkende suksesse om mee te spog. Die oorvloed aan ekonomiese data kan nie anders nie as om mens onder die indruk te bring dat die tergende ontwikkelingsvrae wat Afrika oor die algemeen teister, in Bophuthatswana antwoorde begin kry het. Die oorgang van 'n tradisionele samelewing na 'n moderne samelewing kan net volhoubaar gemaak word as dit by die bevolking se wêreldbeeld aanpas, terwyl daardie wêreldbeeld natuurlik weer deur die oorgang verander word. Daar moet egter by die bestaande aangeknoop word om die nuwe op eiesoortige wyse te internaliseer, iets wat in tallose gevalle gering geskat word.

Bophuthatswana, en in besonder pres Mangope se klem op moedertaalontwikkeling en -onderwys, wat hy van die Afrikaners oorgeneem het, het 'n belowende aanknopingspunt gebied. En terwyl daar na sy persoon verwys word, pres Mangope was kennelik nie die Suid-Afrikaanse/NP marionet waarvoor sy opponente hom uitgemaak het nie. Met genoeg van sy eie beperkings wat nie deur die skrywer geïgnoreer word nie, was hy inderdaad 'n selfstandige denker en leier en 'n teenstaander van Apartheid wat sedert die laat 1970's binne die Suid-Afrikaanse verband 'n nie-rassige samelewing begin vestig het. Dit staan in skrille kontras met die ANC-regering wat sedert hulle oorname in 1994 meer rasse-wetgewing as 'n hulle voorgangers ingestel het.

Belangrik is ook om in aanmerking te neem dat pres Mangope die ideaal van 'n Suid-Afrikaanse gemenebes van nasies in federale/konfederale verband ondersteun het en Bophuthatswana nooit as 'n staat in isolasie beskou het nie. Dit getuig by terugskoue van die tragiese gemisde geleentheid om by iets anders as 'n sentralistiese nasiestaat, wat Suid-Afrika uiteindelik geword het, te eindig. Schoeman se pleidooi is telkens dat die opvolgende geslagte daaruit moet leer, maar sy ervaring is ook dat dié leersame geskiedenis in die vergetelheid verval. Terwyl ons weer eens ervaar dat die "wenners" die geskiedenis skryf, kan ons dankbaar wees vir elke afwykende stem wat sy eie storie vertel en, soos met die publikasie deur Naledi (wat wel meer moeite met akkurate taalversorging kon gedoen het) in die openbare domein geplaas is.

Vertellings uit die vergetelheid. Die opkoms en val van Bophuthatswana. 1977 tot 1994 is beskikbaar teen R275 en kan by www.naledi.co.za bestel word. Dit bied boeiende leesstof vir enigeen wat in "die anderkant van die storie" belangstel.

KOPPEL

KONTAK

  • Die Duiker 3, Orania, 8752
  • 082 958 3571
  • admin@vryheidstigting.org

SKAKEL