Grondslag

Vryheid en die Vryheidstigting

1.

VERWONDERING: VRYHEID IS …

Vryheid is ‘n glansende diamant, die hardste van wat in die aarde se diep en donker kors gevind kan word; die helderste van wat geslyp kan word. Veredel die slyper die diamant? Of bring hy net aan die lig wat aan edelheid reeds daarin opgesluit lê? Hoe ook al die diamant beskou word, die fasette breek en sprei die lig: maak vele van die een en een van die vele. Dit is aarde soos mens kwalik kon dink dat aarde kan wees; dit is vryheid.

Aarde

Vryheid is ‘n arend in vlug, die meesterskap van wind en lug wat lyk asof dit moeiteloos in die hoogtes hang en sweef. Dan val die jagter wat hy is skielik en dodelik op ‘n verskrikte prooi af en slaag, of nie, om met gevulde kloue en kragtige hale weer die hoogtes te bestyg. Van onder gevrees en bewonder en buite bereik, van binne selfversekerd en doelgerig. Die arend en sy element, die lug, hang saam; daarsonder sou sy krag nutteloos wees en sonder die arend was die lug dalk leeg. Vryheid moet ook vlieg.

Lug

Vryheid is die oop see wat vastelande verbind en die vreemde binne bereik bring. Terwyl dit ‘n fantastiese en bont menigte klein vissies huisves en skuiling teen nors haaie bied, word dit deur skepe, klein en groot, bevaar. Verbasend watter vastigheid daar in die vloeibaarheid van water is en hoe dit wêrelde ontsluit: oor see bereik ons al vir eeue lank bestemmings wat oor land onmoontlik was. Sonder die see wat skei én bind sou ons maar min van vryheid vind.

Water

Vryheid is ‘n vlam wat warm maak én brand, wat met respek bejeën moet word. Sonder vuur, na oorlewering van die gode gesteel, sou die mensdom van koue en donker vergaan. Mét vuur is dikwels meer vernietig as gekoester, maar daarsonder kan ons nie. En tot groter vreugde of smart word vuur, soos liefde, nie minder nie maar meer namate dit gedeel word. Vryheid is soos liefde en soos vuur: daar is iets goddeliks aan, iets bitter gevaarlik en iets lewensnoodsaaklik.

Vuur

Vryheid is ‘n kameeldoringboom wat met sy wortels in die grond aftas en met sy takke in die lug opreik, wat water uit die dieptes neem en die son se krag opvang. Waar die vier ontmoet, is daar groei wat skadu en beskerming bied teen die branding en hout vir ‘n vuurtjie teen die koue. Vryheid is die gemeenskap van aarde, water, lug en vuur en danksy dié gemeenskap is daar groei. Vryheid groei.

Gemeenskap

2.

NADENKE

Om só in verwondering oor vryheid te skrywe, is noodsaaklik al is dit moontlik ook misleidend. Misleidend in soverre dit mens kan laat dink dat hier iets romanties aan die orde is, iets wat in ‘n gees van nostalgie en euforia tegemoet gegaan moet word. Sulke idealisme sou nie heeltemaal misplaas wees nie, maar dit kan mens van die harde werklikheid wat met vryheid en die afwesigheid daarvan saamhang, aflei. Daarom noodsaaklik, want vryheid en die verwerwing, verlies of behoud daarvan is baie dikwels ‘n saak van lewe en dood. Letterlik. En oor lewe en dood kan mens niks wees as jy nie verwonderd kan wees nie.

Verwondering bring teenspraak, voorspraak en veelspraak

a)

Vryheid kom in verskeie vorme en verbande aan die lig – op die oog af dikwels teenstrydig. Vir die een geniet persoonlike vryheid en regte voorrang, vir die ander vryheid binne groeps-verband; vir die een is dit politiek, vir die ander ekonomie; vir die een is dit loskom en wegkom, vir die ander is dit aankom en tuiskom; vir die een is dit ‘n minimumbegrip, vir die ander ‘n singewende geheel. Vryheid van vervolging en ellende, van geloof en uitdrukking, van beweging en besit. Die vryheid om saam te doen wat ons apart nie kon vermag nie. Vryheid wat ontbind en vryheid wat bind – dit loop al verder uiteen, dit breek die lig en splits die beeld.

Dít is die teenspraak waarvan ons sin moet maak as ons die rykdom wil ontgin van ‘n begrip wat die werklikheid op sy kop kan keer, wat mense tot die uiterste kan inspireer, ten goede én ten kwade. En die eerste stap is om te aanvaar dat vryheid soos ‘n geslypte steen met verskillende fasette is, nie hierdie of daardie kant alleen nie, maar verskeie kante tegelyk.

Die veelfasettige steen

b)

Die beeld van vryheid as ongebondenheid stel vryheid en beperking teen mekaar op, met die verwagting dat die werklikheid – anders as die ideaal – êrens op die spanningslyn tussen vryheid en beperking gevind sal word. ‘n Suiwer beeld van vryheid? Net vir die eensinnige, net op die oog af, want sulke “suiwer” vryheid is ‘n hersenskim, egte vryheid is van gemengde maat. As mens dus aanvaar dat vryheid juis is om in jou element te wees, soos die arend in sy element – die lug – tuis en vaardig is, dan plaas by wyse van spreke, die wrywing van wind onder jou vlerke nie ‘n beperking op jou vryheid nie, maar maak dit vir jou moontlik om te vlieg. Of anders gestel: die kunstenaar wat meester van haar medium is, word deur en danksy dié medium vrygestel tot skeppingswerk, dit is die sukkelaar wat kla dat sy medium hom beperk!

Of: die leier wat rigtinggewende besluite moet maak se vryheid – of die vryheid van die volk namens wie hy dit doen – word net oënskynlik beperk deur uitdagings en risiko’s wat hy moet verreken, in werklikheid is dít die dinge wat leierskap moontlik maak en nodig maak. Vryheid is dus daar teenwoordig waar die oënskynlike beperkings oorskry word tot die mate dat hulle die grondstof vir vrye en voortreflike handeling word. Dis soos ‘n kopwind wat die arend hoër laat styg.

Werklike vryheid oortref beperkings; misken dit nie – soos die wrywing van die wind ondervleuels in vlug

c)

Volgens die negatiewe siening van vryheid is die vyand daarvan ten diepste: identiteit. Vryheid sou dan daarin bestaan om nie-identiek (soos in outentiek) te kan wees, om bande te kan sny, beperkings agter te laat, ongebonde uit te stap. Vanuit ‘n positiewe siening is die teenvraag eenvoudig: wie is die draer van sulke vryheid? Om jou identiteit soos ‘n jas uit te trek en op te hang, is om as Niemand uit te stap. Vandaar die boeiende verhouding tussen water en land, tussen beweging en stilstand, tussen hierwees en daarkom, tussen waar die ek ophou en die ander begin. Vryheid is, só gesien nie die grenslose nêrens-begin-en-nêrens-ophou nie, dit is om wetend met ons grense te handel, vanuit ons identiteit op te tree sonder om daarin vas te val.

Waar grense oorskrei word, word hulle ook bevestig; land en see veronderstel mekaar

d)

Welwetend dat vrede begeerlik is, weet ons ook dat oorlog en stryd regdeur die menslike geskiedenis ons reisgenoot is. Maar waarom dan? Omdat twee sake, wat ten nouste verwant is, nog altyd belangriker as vrede was; dit is vryheid en geregtigheid. Vreedsame slawerny is ‘n onuitstaanbare anomalie! Vroeër is na die verwantskap tussen vryheid, vuur en liefde verwys; dit is dieselfde verwantskap as dié tussen vryheid, oorlog en vrede. Die vuur wat in vryheid en liefde ontbrand, kan verterend wees – of koesterend. In werklikheid is dit nie die vryheid nie, maar die omstandighede waarin dit teregkom wat bepaal of dit handuitruk of nie. Soos liefde wat beantwoord word (ook omdat die verwagtings daarvan nie oorspan word nie), soos liefde tot koesterende samesyn lei, so kan vryheid tot vrede lei. Maar soos die miskenning van liefde en toewyding, kan die miskenning van vryheid en waardigheid in verontwaardiging ontplof. Vryheid en vuur is, ten goede of ten kwade, verweef en verwant.

Dubbelsinning soos dit is, dra vryheid nog altyd meer gewig as vrede

e)

Om dus iemand te wees, is om grense te hê; om te weet wie jy is, is om jou grense te ken; om te groei, is om jou grense te verskuif. In ‘n sin is grense die element waarin vryheid bestaan, die medium waarin vryheid vlieg.

Vryheid in sy element

3.

TOEPASSING

Ons behoort tot ‘n volk – ons ten behoewe van wie hier geskryf word – wat tot die grond behoort. Afstammelinge van Europese koloniste – en ander – is ons in Afrika tot uitgebreide, self-bewuste kultuur-gemeenskap gevorm wat die naam van ons moeder tot ons naam gemaak het: Afrikaners. Ons bestaan vir eeue selfstandig op, bykans ín en gewis danksy die Afrikaanse grond, met die gevolg dat ons in die wêreld as Boere bekendstaan. Dalk nie as kompliment bedoel nie, getuig dit tog van ons verbintenis, geworteldheid, aardsheid, asook eenvoud – wat ons tot skande óf eer kan strek. Want iets van dié ge-aard-heid het ons behou tot selfs in ons verstedelikte bestaan sodat daar nog altyd, kopskuddend óf goedkeurend, gesê word: ‘n Boer maak ‘n plan! Só is ons vryheidsin begrond.

Ons behoort tot ‘n volk

… wat tot die grond behoort

Ons behoort tot ‘n volk wie se vryheidsin as ‘n voël in vlug beskryf is. Dis die blond, dis die blou, dis die veld, dis die lug en ‘n voël draai bowe in eensame vlug. Dis al … Dis ‘n balling gekom oor die oseaan, dis ‘n graf in die gras, dis ‘n vallende traan. Dis al. En dit net om onsself te kan wees, om in ons element te kan wees! Vryheid van én vryheid tot in een kragtige beeld saamgevat.

… wat altyd weer van vryheid droom

Ons behoort tot ‘n volk wat hom in ‘n waterarm land op boerdery toegelê het; wat die see as’t ware agtergelaat het, die riviere oorgesteek het en Gods genade in reën afgebid het. Dit nog doen, want die weë van water bring nie net mense oor grense bymekaar nie, dit bring die sterflike ook voor sy sterflikheid, sy finale grens te staan. En as grense die element van vryheid is, dít wat vryheid moontlik maak, dan is water dalk die een element wat die grense sigbaar maak. Ons wat so na water kan verlang, weet dat die grens, fisies én metafisies, waar ek die ander ontmoet by uitstek die plek is waar ek myself vind en leer ken. Ons dra op die vreemdste manier nog iets van ‘n seevarende volk en ‘n riviereland in ons saam.

… en om water bid

Ons behoort tot ‘n volk wat vuur ken, nie van hoor-sê of veraf sien nie, maar uit ervaring. Soveel plase, soveel opstalle, soveel koringlande, soveel lewenstyd wat al in vlamme opgegaan het! Soveel liefde, soveel koestering, soveel lewe wat al van die vuur af gevoed is. Vandag weer, waarskynlik tot ons voorgeslagte se verbasing as hulle sou weet, eet ons by voorkeur van die vuur af! Vrede en oorlog, liefde en vuur – gestaltes van vryheid en die strewe daarna, die oordrywing daarvan – wat ons kén omdat ons dit ís.

… wat met vuur speel

Ons behoort tot ‘n volk wat soos ‘n kameeldoringboom met sy wortels in die grond aftas en met sy takke in die lug opreik, wat water uit die dieptes neem en die son se krag opvang. Ons koester ons daar waar die vier ontmoet en groei om skadu en beskerming teen die branding te bied en hout vir ‘n vuurtjie teen die koue. Vryheid is die gemeenskap van aarde, water, lug en vuur en danksy dié gemeenskap is daar groei. Danksy dié groei, dié vryheid, het ons in die wêreld ‘n tuiste.

… en wat groei

4.

DIE VRYHEIDSTIGTING

Die Vryheidstigting is ‘n burgerlike instelling wat tegelyk nuut en oud is. Nuut omdat dit nou, in die laaste kwart van 2019, bekendgestel word en ‘n eietydse inslag het; oud omdat dit beide by die oudste motief van Afrikaners se selfverstaan, naamlik vryheid, aansluit én op instellings wat die toepassing daarvan oor dekades heen en onder uiteenlopende omstandighede nagestreef het, gebou is. Die Vryheidstigting wil hom opnuut daarop toelê om vanuit ‘n diep geestelike sin vir wat vryheid behels, op ‘n werklikheidsgetroue manier met die eise daarvan om te gaan.

Nuut en oud

Die hoofdoel van die Vryheidstigting is om die idee en ideaal van vryheid in die algemeen, sowel as die verwerkliking daarvan in die besonder, na te streef en te bevorder. Die idee en ideaal veronderstel sowel die geleentheid as die vermoë om betekenisvolle keuses uit te oefen en voortreflik te handel, terwyl die verwerkliking daarvan binne die verband van gemeenskap en kultuur en met behulp van toepaslike instellings en voldoende hulpbronne geskied. Mens kan dit dalk saamvat deur, teen die agtergrond van al die voorgaande, te sê die Vryheidstigting doen opnuut iets oud.

Hoofdoel

Nie dat ons vandag die eerste of die enigste is om ons daarmee te bemoei nie, inteendeel. Ons stel ons ook nie aan oor enigeen wat op een of ander manier daarmee besig is nie. Wat ons wel wil doen, is om samehang te soek. Samehang in die verskeidenheid van denke en van handeling wat onder ons mense vaardig is, eerder as enersheid en eenselwigheid. Samehang wat onderlinge aansluiting en aanvaarding berus, kan die soort krag ontsluit wat ons tans benodig om staande te bly – en, in belangrike opsigte, weer op te staan. Samehang en sin.

Daarom stel die Vryheidstigting hom in besonder ten doel om:

Samehang en sin

– Standpunte ter toeligting en uitbreiding van ons idee en ideaal van vryheid te ontwikkel en te verwoord;

Standpunte te stel

– Verbande te stig en samehang te soek met diegene wat ons idee en ideaal van vryheid deel;

Aansluiting te soek

– Erkenning te gee aan diegene en te verwerf van diegene wat deur ons idee en ideaal van vryheid geraak word;

Erkenning gee en verwerf

Publieke ruimtes vir die uitwisseling van idees en die vind van gemene grond op te soek, te benut en te help daarstel;

Publieke ruimtes benut en daarstel

– Meningsvormers, beleidmakers en besluitnemers toe te rus met gunstige perspektiewe op vryheid en die vermoë om dit te bevorder; en

Meningsvormers & besluitnemers toerus

– Afrikanerselfstandigheid in ’n gemeenskap van gemeenskappe tereg te laat kom.

‘n Gemeenskap van gemeenskappe

In die omgewing van die Vryheidstigting kan mens dus skakeling, besinning, gesprek, debat, leeswerk, skryfwerk, ywer en toewyding verwag. In die kern van die Vryheidstigting vind mens iets wat tegelyk kliphard én vloeibaar, vlugtig én vurig is; iets wat uit die gemeenskap van die elemente voortkom, die geboorte van ‘n tuiste; vryheid.

Die geboorte van ‘n tuiste