Uitgawe 8: Aug 2021

Geagte leser

Die kwessie van lewe en dood is ‘n universele tema wat voorkom in die kunste en letterkunde en dit is ‘n tema wat al tot elkeen gespreek het op een of ander tydstip. In hierdie uitgawe van Perspektief kyk ons na onlangse politieke verwikkelinge in Suid-Afrika en oorweeg ons of ons land inderdaad soos ‘n phoenix telkens uit die as verreis en of dit eerder as ‘n veelkoppige dier onuitwisbaar geword het.

Daniel Goosen dink in sy artikel na oor die kultuur van die dood en ds Ronald Bain vra of daar hoegenaamd iets soos lewe voor die dood bestaan. Lesers kan uitsien na Anna Gouws se perspektief op die rol wat ‘n bestaansrede in besighede speel. 

As u hierdie verrykende uitkyk op die lewe en die dood en wat dit vir die Afrikaner se vryheidstrewe beteken geniet, stuur gerus hierdie Perspektief aan vir iemand wat dit ook interessant sal vind.

Annemarie Pertorius

Gedig

Skoppensboer (boer)

deur Eugène Marais

I.

’n Druppel gal is in die soetste wyn;
’n traan is op elk’ vrolik’ snaar,
in elke lag ’n sug van pyn,
in elke roos ‘n dowwe blaar.

Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag
is Skoppensboer.

II.

Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.

Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.

III.

Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in ’n goue gloed:
die dagbreek op elk’ sagte wang
en oge vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:

Want swart en droef,
die hoogste troef
oor ál wat roer,
is Skoppensboer.

  1. L’Envoi

Gewis is alles net ’n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met ’n lamfer-lap
wat selfs die son ’n skadu gee.

Wat treur ons tog?

Viool en fluit maak nog geluid;
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.

Dus onverleë
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer!

Kunswerk

Dood en lewe

deur Gustav Klimt
1908-1915
Leopold Museum