Uitgawe 4: Maart 2021
Geagte leser
’n Bruilofsfees is die oorsaak dat ons vandeesmaand effens later as gewoonlik ons uitgawe van Perspektief publiseer. Van buite lyk so ’n gebeurtenis dalk effens minder aardskuddend en as wat dit in der waarheid is. En dalk is dit omdat ons beïnvloed is deur die Amerikaanse kultuur en ons vas staar teen die rok, die ringe, die blomme, die venue en dat elkeen van hierdie aspekte perfek volgens die bruidspaar (maar eintlik die bruid) se smaak moet wees. Ek wil my verstout om te sê dat so ’n siening van die geleentheid die pot effens mis sit.
Dit is betreurenswaardig dat die essensie van ’n bruilof verlore gegaan het in ons tyd. En daarom kan ’n mens seker nie geskok wees oor die hoë egskeidingsyfer nie. As ’n mens vergeet het waarom iets kosbaar is, is dit maklik om dit laat verval en uiteindelik te laat verlore gaan. Soos sien ons dit ook meer dikwels gebeur met ons Westerse gebruike en kultuurskat. As niemand meer weet wie die meester is wat ’n besondere kunswerk geskep het en dat die stuk daarom van onskatbare waarde is nie, dan word dit nie meer bewaar en uitgestal nie. Dit word vergete in ’n stoorplek geplaas waar dit dalk eendag weer ontdek sal word, maar waarskynlik uitgesmyt sal word mettertyd.
In die geval van die huwelik gaan dit om die vereniging van ’n man en vrou in ’n ewige verbintenis voor God en in die teenwoordigheid van getuies. Daar is ’n belofte van die vrou om onderdanig aan haar man te wees en van die man om lief te wees vir sy vrou. En selfs hierdie (eintlik eenvoudige) begrippe het hul betekenis verloor en word daarom meer dikwels verontagsaam.
’n Mens sien deesdae dat beloftes onderling gemaak word by troues en dat die mens sentraal gestel word by ’n geleentheid wat regtig eintlik glad nie oor hom gaan nie, maar dat hy eintlik eenvoudig klein en nietig voor God verskyn om in sy gebrokenheid te beloof dat hy aan die ander gestand sal (probeer) doen. Die tierlantyntjies, gaste en kerk/saal is pragtig en dis goed dat daar soveel moeite gedoen word om die geleentheid spesiaal te maak, maar daar moet altyd onthou word waarom die geleentheid kosbaar is. En nog meer, dat die geleentheid maar net die begin is van ’n hele huwelik tot eer en verheerliking van Sy naam. So gesien, is dit ’n groot verantwoordelikheid wat by dié geleentheid op die egpaar geplaas word.
Ons moet ter wille van die voortbestaan van ons huwelike en gevolglik ons ganse samelewing, onthou dat ’n bruilof ten diepste gaan oor die begin van ’n huwelik tussen twee mense wat deur God na mekaar toe gelei is.
Annemarie Pertorius
Kunswerk
