Homogeniteit en die Federale Orde
deur dr. Adi Schlebusch
Homogeniteit en die Federale Orde
deur dr. Adi Schlebusch
Die invloedryke Calvinistiese filosoof Johannes Althusius (1557—1638) word wyd beskou as die eerste federale politieke denker.[1] Hy skryf sy magnum opus, getiteld “Politica,” in die nadraai van die Vrede van Augsburg wat in 1555 deur die Duitse keurvorste gesluit is. Hiervolgens sou elke Duitse staat, prinsdom, vrystad, of ander politieke eenheid self kon bepaal of die amptelike godsdiens van hul gebied Rooms-Katoliek of Protestants sou wees. Daar is dus in die Duitse ryk ruimte geskep vir albei oortuigings, terwyl elke Duitse stam of volksdeel sy eie godsdienstige karakter behou. Wat egter noemenswaardig was van hierdie bepaling is dat dit nie godsdiens en die beoefening daarvan as ‘n persoonlike of individuele aangeleentheid beskou het nie, maar as ‘n openbare aangeleentheid wat betrekking het op die gemeenskap as geheel. Althusius, as Federale denker, verduidelik dan ook die begronding van hierdie beskouing as volg:
Die vrye [openbare] beoefening van verskillende godsdienste is onversoenbaar met ware geloof en plaas boonop hierdie geloof op twyfelagtige grond. As daar verskillende gelowe en baie verskillende kerke is, lei dit uiteindelik tot afgodsdiens en goddeloosheid. Meer nog, diversiteit vernietig eenheid.[2]
Hier skram Althusius nie weg daarvan om die wesenlikheid van godsdienstige homogeniteit in die Federale politieke orde te beklemtoon nie. Ek meen egter dat hierdie homogeniteitsbeginsel in Althusius se politieke teorie sosio-ontologiese implikasies het wat verder strek as bloot die religieuse lewensterrein waarop hy dit in hierdie spesifieke aanhaling van toepassing maak—‘n lewensterrein wat later deur die Reformatoriese filosoof Herman Dooyeweerd (1894—1977) beskryf sou word as die “zedelijke en pistische volksovertuiging … in een territoriaal cultuurgebied.”[3]
Dat hierdie homogeniteitsbeginsel van Althusius betrekking het nie net op die kerklike terrein nie, maar ook op die demografiese samestelling van die politieke gemeenskap as geheel, blyk duidelik uit sy bekende beskrywing van die aard en wese van die Federale politieke gemeenskap:
Soos dit duidelik is dat die oorsaak altyd die gevolg voorafgaan, en soos dit wat primêr is altyd dit wat daaruit saamgestel is of daaruit voortvloei voorafgaan, so gaan dorpe, stede en provinsies die state vooraf wat daaruit vloei. Hierdie is die orde en gang van die natuur, naamlik dat die huishoudelike band tussen man en vrou die grondslag vorm van die samelewing. Hieruit vloei verskillende samelewingsverbande gebaseer op bloedverwantskap en ondertrouery. Hieruit ontstaan dan ook die assosiasies en vergaderings waaruit dorpe en stede gevorm word. Hierdie simbiotiese samelewingsverbande is primêr in die sin dat dit ontstaan en kan bly voortbestaan selfs sonder ‘n provinsie of ‘n staat, maar solank as wat hierdie verbande nie in ‘n simbiotiese liggaam van ‘n provinsie, gemenebes, of staat verenig word nie, word hulle tog ontneem van baie van die belangrike voordele vir hul voortbestaan. Dit is daarom belangrik om daarop te let dat die simbiotiese familielewe en gepaardgaande stamverwantskappe, sowel as die vergaderings van stede en provinsies die staat voorafgaan, aangesien die staat uit hierdie samelewingsverbande saamgestel word.[4]
Vir Althusius bestaan die samelewing as iets wat verbondsmatig georden word deur die goddelike voorsienigheid, dus in wese uit verbande wat voortvloei uit die basiese skeppingsverband, die gesin. Die menslike samelewing ontstaan organies soos familie- en bloedverwantskappe groei en uitbrei om stamme en volke te vorm. Wat veral noemenswaardig is, is die feit dat Althusius beklemtoon dat die Federale politieke orde hierdie organiese en verbondsmatige samelewingsverbande behoort te reflekteer. Die provinsie en die staat, volgens Althusius, behoort ‘n refleksie te wees van die stam of volk as uitgebreide familieverband waaruit dit saamgestel behoort te word. Hier vind ons dus by Althusius in wese ‘n federale politieke begronding vir die homogeniteitsbeginsel.
Federalisme, soos dit histories binne die raamwerk van die Calvinistiese politieke filosofie verstaan is, noodsaak sosio-politieke en sosio-religieuse homogeniteit. Die demografiese implikasies van die homogeniteitsbeginsel is dat modernistiese projekte soos multikulturalisme of massa-immigrasie in wese onversoenbaar is met die organies-verbondsmatige aard van die Federale samelewing, omdat dit die wesenlike familie- en stamgebaseerde aard van die verbondsgemeenskap ondermyn. Die Calvinistiese staatshoof van Hongarye, Viktor Orban, het ook onlangs hierop gewys toe hy teenoor massa-immigrasie na Europese lande die belangrikheid van “etniese homogeniteit” beklemtoon het.[5]
‘n Gemeenskap, as uitbreiding van die gesin, floreer wanneer dit die basiese kenmerke van ‘n gesin as mees basiese verbondsverband reflekteer: ‘n gemeenskaplike herkoms, gemeenskaplike godsdiens, gemeenskaplike tuiste of grondgebied, en gemeenskaplike sosio-ekonomiese doelwitte.
‘n Federale antwoord op die demografiese uitdagings wat die Boere-Afrikaner vandag in Suid-Afrika in die gesig staar, behels daarom in die eerste plek die beklemtoning van ‘n gesonde gesinslewe, d.i. die hervorming en inrigting van elke aspek van ons gesinslewe as verbondslewe volgens die voorskrifte van God se Wet. Gesonde, gewortelde gesinne wat deurlopend voor die Here verootmoedig vorm die onmisbare basis vir ‘n effektiewe, volhoubare konsentrasiepolitiek oftewel ‘n politiek van tuiskoms—waarvolgens ons as volk poog om vir ons nageslag ruimtes vir kulturele uitlewing skep met die oog op uiteindelike selfbeskikking. Wanneer hierdie ruimte(s) dan ook werklik organies ontplooi vanuit wat Althusius beskryf as die vergaderings en assosiasies kenmerkend van ‘n familie-gebaseerde Federale orde, dan kan dit ook nie anders as om in die etniese, kulturele en godsdienstige sin homogeen te wees nie.
[1] Alain de Benoist, “The First Federalist: Johannes Althusius,” Krisis 22 (1999): 2-34.
[2] Althusius, Politica Methodice Digesta, Atque Exemplis Sacris et Profanis Illustrata (Groningen: Radaeus, 1610), IX. 45.
[3] Herman Dooyeweerd, Wijsbegeerte der Wetsidee, Boek III: De individualiteits-structuren der tijdelijke werkelijkheid (Amsterdam: H.J. Paris, 1936), 368.
[4] Althusius, Politica, XXXIX, 84.
[5] DW, “Orban: ‘Ethnic homogeniety’ vital for economic success,” 3 Maart 2017: https://www.dw.com/en/hungarys-orban-ethnic-homogeneity-vital-for-economic-success/a-37755766.