Die kernvrae van kulturele voortbestaan wat antwoorde vereis

deur Ernst van Zyl

Die kernvrae van kulturele voortbestaan wat antwoorde vereis

Inleiding

“Soos altyd in Suid-Afrika is dit die Afrikaner wat in die brandpunt staan. Vir hom gaan dit nie om wins of verlies nie, maar om voortbestaan of ondergang.”

N.P. van Wyk Louw

Van Wyk Louw is ’n Afrikanerfilosoof wie se boeke ek sou wou plaas in elke Afrikanerhuishouding. Sy werk het die fondasie gelê vir hierdie stuk se inhoud. Ek wil graag bylas by die bostaande stelling dat die geskiedenis ’n verhaal is van volke wat voortbestaan en volke wat verdwyn. Die volke wat voortbestaan is breedweg dié met ’n antwoord op die volgende fundamentele vrae:

Wie is ons?

Waar kom ons vandaan?

Waarheen is ons op pad?

Sodra ’n volk nie meer daardie vrae kan antwoord nie, is sy dae getel. Dit is die harde les wat die geskiedenis vir ons leer. Dit beteken egter nie dat daar akademies geformuleerde antwoorde is wat ons almal perfek uit ons kop uit moet kan opsê soos mantras nie. Antwoorde vir sulke ernstige vrae moet uit die hart kom, nie gememoriseer uit ’n handboek nie. Jy moet dit self kan uitdruk, in jou eie woorde.

Die Amerikaanse politieke wetenskaplike Samual Huntington het geskryf: “In the post-cold war world, the most important distinctions among people are not ideological, political or economic. They are cultural. People and nations are attempting to answer the most basic question humans can face: who are we?”

My doelwit is nie om ’n akademiese tesis-uiteensetting te verskaf van wie ons is, waar ons vandaan kom of waarnatoe ons op pad is nie. Ek wil slegs my gedagtes deel as bydraes tot die groter oop gesprek onder ons mense rondom hierdie vrae, veral binne die konteks van die Voortrekkers, Bloedrivier en die Gelofte.

In die 1950’s skryf N.P. van Wyk Louw in Liberale Nasionalisme:

“Daar is – en daar sal weer wees – pogings om die Afrikanervolk se prestasies van etlike eeue te versmoor, dit uit te wis, om al die hoop en al die aspirasies van ons vorige geslagte uit te vee en te laat saamsmelt tot ’n vormlose volk-bredie, wat dit makliker sal maak om ons te laat buig vir die wense van die groot politieke en geldmagte van die wêreld. … Elke poging om die Afrikaner tot ’n hulpelose minderheid in hierdie land te reduseer, is slegs ’n meer subtiele en stadiger poging om die eeue oue ‘Afrikaner-probleem’ op te los.”

En dit was die Voortrekkers by Bloedrivier se stryd; se uitdaging – om nie gereduseer te word tot a hulpelose minderheid in daardie oomblik nie. Binne ’n situasie waar hulpeloosheid hul einde sou beteken. Om hierdie lot te oorkom het hulle ’n wonderwerk benodig – en die enigste plek waar hierdie hulp vandaan sou kon kom is van Bo.

’n Volk gevorm

Ons taal vorm die kern van wie ons is. Volgens Van Wyk Louw is Afrikaans deur suidelike Afrika gevorm, wat dit in staat stel om die lewe en die landskap hier so volledig as moontlik te kan beskryf. Dat dit oor elke randjie kan vloei en in elke krakie kan pas. Afrikaners as kultuurgroep is ook hier aan die suidpunt van Afrika gevorm, deur ons ervarings, die vriende en vyande wat ons teëgekom het, die omgewing en die unieke uitdagings van hierdie hoek van Afrika. Ons het ook ons geloof en vele aspekte van ons ou Westerse erfenis, denkwyse en lewensfilosofie behou wat die meeste Westerlinge in Europa lank terug reeds verloor het. Toe ek byvoorbeeld vlugtig ’n uitruilstudent was in Duitsland, het die vader van die huis waar ek gebly het, vir my gesê dat hy ervaar om met my te gesels soos om met ’n Europeër uit ’n tydkapsule gesels.

Laastens voer Van Wyk Louw aan dat die omstandighede waarin die Afrikanerkultuur gevorm is, hulle lesse geleer het oor saamleef met ander kulture wat radikaal van hulle verskil in vele aspekte. Hierdie ervaring plaas Afrikaners vêr voor ons Europese eweknieë. Van Wyk Louw argumenteer dat Afrikaners ’n nugtere begrip ontwikkel het van die ware ontsaglike kompleksiteit van multikulturele bestaan, veral as minderheid. Van Wyk Louw het selfs gespeel met die idee dat hierdie die Afrikaner se lot is, sy potensiële rol in die groter prentjie van die Westerse beskawing – dat die Weste nog baie by ons gaan leer, aangesien die Afrikaner-minderheid in suidelike Afrika ’n mikrokosmos verteenwoordig van die Weste in die wêreld.

Die beloftes en versoekings van groot ryke

Die Afrikanervolk is meermale deur ons geskiedenis die geleentheid aangebied, of deur die versoeking gekonfronteer, om in ’n groot ryk te assimileer, om te deel in al die groot materiële en immateriële skatte wat daarmee gepaardgaan. Ons het hierdie geleenthede nietemin grootskaals verwerp. Die Afrikaner het die opsie gehad om deel te word van ’n Britse ryk waaroor dit beweer was die son nooit sou sak nie, om deel te vorm van die groot Kaap tot Kaïro-projek – vir die prys van ons identiteit.

Soos Van Wyk Louw opmerk, is hierdie keuse, om hierdie aanbod te verwerp, gemaak deur tallose gesinne, op afgesonderde plasies en dorpies. Die Voortrekkers het hierdie keuse gemaak toe hulle gekies het om hul plase en meeste van hul besittings agter te laat om in die onbekende in te trek, eerder as om onder Britse heerskappy te leef. Al sou Afrikaners onder Britse bewind veiliger wees, hul kinders beter gehalte onderwys ontvang, saam met beter sakegeleenthede, gesondheidsorg, infrastruktuur – alles sou materieel beter wees – het die Voortrekkers besluit om dit alles agter te laat primêr ter wille daarvan om hul identiteit te bewaar en om beheer oor hul eie lot te behou. Vir die Voortrekkers was groter materiële welvaart, meer gemak en gerieflikheid en beter sekuriteit nie die prys werd om hul identiteit prys te gee nie.

Afrikaners is nie ’n koloniale volk nie

“Ons volk is geen klein koloniale groep amptenare en handelaars soos die blankes in Brits- en Nederlands-Indië nie, maar ’n gewortelde volk met geen ander tuiste nie,” skryf Van Wyk Louw.

Hier lê die kruks van die “Afrikaner-probleem”, soos identifiseer deur Van Wyk Louw, wat hierdie groep nie slegs ’n struikelblok vir groot magte maak nie, maar ook ontsettend moeilik om in ’n Westerse boksie te plaas.

Die Afrikaners het byvoorbeeld weerstand gebied teen ’n koloniale mag se aanslae, en hulle republieke is deur ’n imperiale oorlog gekoloniseer en vernietig. Hierdie het die saad geplant van vele dekoloniale en anti-imperialistiese aksies, groot en klein, uit Afrikanergeledere in die 20ste eeu. Afrikaners het tussen 1914 en 1915 ’n burgeroorlog onder mekaar gevoer (Maritz-rebellie) oor die vraag of daar nader aan imperiale Brittanje beweeg moes word.

Dit gaan nie altyd oor die geld nie. Afrikaners word nie hoofsaaklik in suidelike Afrika geanker omdat dit op hierdie oomblik in die geskiedenis een van die beste sakegeleenthede is wat beskikbaar is nie – ’n tydelike geldmaakgeleentheid wat jy eenvoudig los wanneer dinge versuur of die politieke temperatuur te warm raak nie. Daardie is die koloniale ingesteldheid. Juis hier lê nog ’n kerneienskap van die “Afrikaner-probleem”: Afrikaners kan nie so maklik omgekoop of ontslae van geraak word deur slegs vir hulle genoeg materiële welvaart te belowe nie. Vir die Afrikaner gaan dit gereeld oor immateriële skatte. Aangesien Afrikaners nie ’n satellietgemeenskap van ’n groter ryk is nie, kan hierdie groep nie eenvoudig “huis toe” beveel word deur ’n koloniale hoofkwartier in Londen, Amsterdam of Lissabon nie. Afrikaners kan ook nie “huis toe” vlug nie.

Allister Sparks skryf in sy 1990-boek, The Mind of South Africa, dat hy begrip het vir die eksistensiële angs van die Afrikanergemeenskap in hierdie tyd toe die onvermydelikheid van ’n nuwe politieke bedeling op die horison begin duidelik word het. Indien die “Nuwe Suid-Afrika”-eksperiment nie uitdraai soos belowe nie, kan hy, as ’n Engelssprekende Suid-Afrikaner, emigreer na enige land in die Anglosfeer, waar hy omring sal wees deur mense wat sy taal praat en grootliks sy Britse erfenis en kultuur deel. Vir die Afrikaners was hierdie vertroostende agterdeur nie daar nie. Suidelike Afrika is hierdie kultuurgemeenskap se enigste tuiste.

Die taak van ons eeu

Aleksandr Solzhenitsyn het gesê: “Daar is slegs een keuse waarvoor elke geslag te staan kom en dit is of ons die taak van die eeu gaan aanpak.” Ons Voortrekker-voorvaders het beslis die taak van hul tyd verstaan en dit aangepak met dapperheid en wysheid oor waar hul krag vandaan gekom het. Wat is dus die taak van die eeu van ons geslag Afrikaners?

Die taak van ons eeu is om die aflosstokkie in hierdie historiese uithoumarathon ferm vas te vat en dit veilig te dra tot ons dit weer aangee. Dit is juis uit hierdie gees waar daar in die Gelofte belowe word dat “… ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.” Een swak skakel in die ketting wat ons verbind aan ons voorouers by Bloedrivier kan daartoe lei dat daardie ketting breek. Soos Flip Buys opmerk, “’n Volk is slegs een geslag diep”. Een geslag wat vergeet. Een geslag wat sy verantwoordelikhede weier. Een geslag wat nie kans sien om die taak van hulle eeu aan te pak nie. Ons moet onsself vra of ons bereid is om in die geskiedenis opgeteken te word as die eerste geslag Afrikaners wat gesê het die uitdagings van ons tyd is te groot. Die berg wat ons klim is te steil. Die vyand is te sterk. Ek weet nie van julle nie, maar ek weier om só opgeteken te word.

Ons eerste verantwoordelikheid is dus om nie slegs vrae soos “Wie is ons?” af te maak as vanselfsprekend nie. Ons moet dit verken, debatteer, bespreek en veral verseker dat ons kinders daardie vraag kan beantwoord. Soos Van Wyk Louw voorgeskryf het: “In elke geslag is daar dié dagtaak: om albei ons erfenisse – Europa en Afrika – bloedwarm ná aan die hart te hou; om in Afrika te wees wetende dat ons van die óú Weste is; om Westers te wees sonder om een enkele verskillendheid van Afrika te verontagsaam.”

Ons tweede verantwoordelikheid is om te weet waar ons vandaan kom. Dit behels kennis van ons geskiedenis en om dit oor te dra in ’n tyd waar jongmense dit beslis nie by die skool gaan leer nie. Voordat jy jouself bekommer oor hoeveel kennis oor ons geskiedenis ander het, dink eers na oor hoe goed jou eie kennis is. Oor die Groot Trek, oor die twee Vryheidsoorloë, oor Bloedrivier, oor die Helpmekaar Beweging, oor die taalbewegings, ensovoorts. Probeer ook meer leer oor jou eie gesin se geskiedenis.

Wanneer jy kennis dra van die moeilike tye wat jou voorouers oorwin het, gee dit jou moed om die uitdagings van jou eie tyd aan te pak. Jy besef dan dat om onregverdige omstandighede in die gesig te staar nie uniek is tot ons geslag nie, dis slegs ons beurt. Wat dink jy sou daardie Voortrekkers by Bloedrivier of die Boere in die Tweede Vryheidsoorlog dink as hulle sou sien hoe party van hulle nasate in die 21ste eeu reg is om tou op te gooi omdat hulle krag vir ’n paar ure per dag af is?

Ons derde verantwoordelikheid behels ’n antwoord op die vraag, “Waarheen is ons op pad?” Professor Koos Malan verwys graag na die “woestyn van wanorde”-scenario wat besig is om in Suid-Afrika ’n werklikheid te word. Woestyne is egter vol diere en plante met vindingryke oorlewingstrategieë. Die versamelvoëls van die Kalahari is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Een versamelvoëltjie op sy eie sal vir seker sneuwel in die woestyn, maar ’n swerm wat hulle kragte saamspan en ’n versamelnes bou, kry dit nie slegs reg om te oorleef nie, hulle floreer. Ons moet dus verseker ons is aanpasbaar en dat ons konstant besig is om nuwe planne en innoverende oplossings uit te dink en te implementeer vir die uitdagings van ons tyd. Ons gaan beide groot moet dink en groot moet doen. Leer jou kinders “’n Boer maak ’n plan”, maar leef dit ook uit.

Laastens het ons ’n verantwoordelikheid om die gesprekke en debatte rondom hierdie kernkwessies ordentlik te hou. Ons meningsverskille mag vurig wees, maar nooit onbeskaafd nie. Ons skuld dit aan ons voorouers, wat harde, maar ordentlike, Godvresende mense was. ’n Groot onreg wat ons aan ons voorouers kan doen is om die lelike stereotipes oor Afrikaners wat ons vyande versprei, deur ons gedrag te staaf.

Ons moet ons kultuur uitleef en vier. Ons moet ons taal praat en beskerm. Ons moet ons geskiedenis ken en deel. Ons moet ons geloof behou en op God vertrou.

Van Wyk Louw skryf oor vele moontlike volkskrisisse. Een van hulle lui soos volg: “Wanneer ’n groot deel van ons mense self daaraan sou begin twyfel of ons as volk moet voortbestaan.”

Die wortel van die propaganda wat teen ons ontplooi word lê in die veronderstelling dat die “Afrikaner-gevaar” Afrikaners is met ’n gesonde selfbeeld, wat organiseer rondom sake groter as hulself, gedryf word deur dinge wat dieper is as slegs materiële welvaart, en weet waar hul krag vandaan kom.

As Afrikaners sal ons onsself in hierdie volkskrisis bevind as ’n nuwe geslag begin glo in die narratief dat die bogenoemde ’n bose verskynsel is en dat hulle veel eerder moet streef om geatomiseerde, vryswewende individue te wees – om hul identiteit prys te gee. Die gevaar bestaan dat jong Afrikaners tot die teenoorgestelde gevolgtrekking kom as hul Voortrekker-voorvaders destyds. Dat groter materiële welvaart, meer gemak en gerieflikheid en groter sekuriteit die prys werd is van hul identiteit prysgee. Daar bestaan selfs ’n dieper versoeking. Dat die opgee van hul identiteit en kultuur die moeite werd is om ontslae te raak van al die bagasie uit die verlede, wat kwaadwilliges gebruik om gevoelens van skuld en skaamte by hulle aan te wakker.

Slot

Ons leef in ’n tyd waar sterk magte ons probeer dwing om nie net op ’n sekere manier te dink nie, maar ook om op ’n sekere manier te leef. Laat ons lewens en gedrag dien as ’n uitdagende strydkreet teen diegene wat poog om ons te vernietig, te verneder, te breek, te onderwerp en te reduseer tot ’n hulpelose minderheid. Laat ons waardes, lewens en geloof ’n lig in die duisternis wees, wat help om ander soos bakens te lei. Aan ons vrugte sal hulle ons ken. Laat daar in die geskiedenisboeke opgeteken word dat die Afrikaners ’n volk was wat doodeenvoudig geweier het om in die niet in te verdwyn.

Hierdie is ‘n verkorte weergawe van Ernst van Zyl se 2023 feesrede by die Wilgefontein Geloftefees op die Greylingstad-Villierspad feesterrein.

1 thought on “Die kernvrae van kulturele voortbestaan wat antwoorde vereis

  1. Daar is nuwe geslag Bittereinders, 110 jaar na 1914. Ons was die Bos-oorlog geslag, wat na 1994 blatant uitgesluit is dmv regstel aksie en BBBEE. Ons wie gebly het in SA, aanhou bou het en nie ons kultuur opgee nie, is ook Bittereinders. Ons is nie boere op perde wat weier om vir Britte te veg nie, ons veg teen sistematiese diskriminasie in SA. Ons bydraes in kollektief, help tog dat die Afrikanerkultuur in Afrika en SA oorleef. Oorsee is emmigrante kultuur 1 geslag diep en dan word hul gealmalgemeer, dink aan Argentinië.
    Tyd om verby Groot Trek, verby ABO en 1914 rebellie te beweeg. In die 1922 stakings, was daar ook vir arm wit verstedelike Afrikaners se werkerregte geveg. Tydens WO2 was daar inteneringskampe nie net vir OB lede nie, maar almal wie Duits-klinkende vanne gehad het of aan stakings teen oorlogspogings deel geneem het. Sienings verskil, veral vanuit verskillende sosio-ekonomiese lae in bevolkings.
    Die wie nie emmigreer nie, is ook Afrikaner Bittereinders, wat ten spyte van swaarkry in moeilike omstandighede, tog strewe na behoud van kultuur en erfenis.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *