Die Volkswag: ‘n Baie persoonlike verslag

deur Wynand Boshoff

’n Mens is partykeer verbaas as jy terugkyk en besef hoe kort jy op hoërskool was. In daardie stadium van jou lewe is ’n jaar nog betreklik lank en elkeen word duidelik afgebaken met nuwe onderwysers, nuwe klasse en nuwe ontdekkings. Dit neem mense soms die res van hulle lewens om positiewe of negatiewe opvattings wat hulle in daardie kort periode ontwikkel, te verwerk.

Vir my het dié vyf jaar uit die Afrikaner Volkswag bestaan. Dit is gestig toe ek standerd 6 was en het met die Groot Trek 150-viering aan die einde van my matriekjaar ’n hoogtepunt bereik. In daardie tyd het die Volkswag (die tweelettergreepafkorting wat bo A.V. verkies is) ons hele huis oorgeneem. Letterlik.

Soos elke storie, moet mens dit bietjie verder gaan haal.

Tot in die vroeë 1980’s was my pa, Carel Boshoff, ’n gewaardeerde lid van die Afrikaner establishment. Hy was dekaan van die NG Kerk se teologiese fakulteit aan UP, SABRA was ’n invloedryke navorsingsliggaam waarvan hy voorsitter was, in 1979 het hy voorsitter van die Afrikaner-Broederbond geword en in 1981 hoofleier van die Voortrekkers.

Met die NP se aanvaarding van “gesonde magsdeling” as visie vir Suid-Afrikaanse politiek in 1982, het alles verander. Dit het tot politieke skeuring gelei en anders as in 1969 toe die HNP gestig is, sou dit die Afrikanervolk van bo tot onder skeur. Daar was ’n geskarrel om alle kulturele instellings in gelid met die nuwe politieke rigting te hou. In daardie opsig was my pa ’n doring in die vlees.

SABRA het die nuwe beleid in ’n studiestuk gekritiseer, wat op een of ander manier in die Rapport se hande beland het. Dit was so goed as hoogverraad en veral binne die AB was daar geweldige druk op hom om te bedank. Ten spyte van sy eenparige herkiesing in 1982, het die druk toegeneem.

In 1983 was daar drie mylpale, maar ek kan die volgorde nie onthou nie. Die belangrikste was dat hy “in belang van Afrikanereenheid” as voorsitter van die AB bedank het – ’n stap waaroor hy gou spyt was, toe dit geblyk het dat die AB nie “buite die gevaarlike vaarwater van die politiek” wil beweeg nie. Hulle wou presies daar beweeg, net sonder hom.

Die ander was twee televisiedebatte. Eerste was ’n diepte-onderhoud met dr. Wimpie de Klerk, wat bedoel was om hom as hopeloos konserwatief te ontbloot. Hy het egter verreweg die beste van die debat afgekom en ’n oneindige stroom oproepe en telegramme van steun het ons huis bereik. Ek was standerd 5 en moes baie oproepe neem en die mense se boodskappe en nommers neerskryf.

Daarna was hy in ’n debat met die destydse vuurvreter NP-LV, mnr. Louis Nel. Hy was nie beleefd soos Dr. de Klerk nie en boonop was sy mikrofoon harder gestel. Die gespreksleier was ooglopend partydig. Vir my pa was dit nie so ’n klinkende oorwinning nie en het ’n effense bitter smaak gelaat.

Nietemin, die einde van die jaar het aangebreek en ons is Bettysbaai toe. My pa het nie graag rondgery as ons met vakansie was nie en ons moes klaarkom met wat ons saamgebring het. So het hy in ’n stadium skoon papier gesoek en uiteindelik ’n hemp-karton gekry. Hy het al twee kante vol geskryf, so klein dat mens dit skaars kon lees.

Toe hy klaar was, het hy my ma geroep en ek en my broer Rudolf kon ook kom luister. Hy gaan ’n nuwe kultuurorganisasie stig. Dit sou ’n gesinsorganisasie wees, sodat die pa en die ma en die kinders nie elkeen in ’n ander rigting spat, soos met Rapportryers, Dames Aktueel ensovoorts nie.

Hierdie organisasie sou poog om die Afrikaner se geesteskrag, kapitaalkrag en ek kan nie onthou watse kragte nog nie, saamsnoer. Dit sou nie ’n politieke beweging wees nie, maar sou politiek as ’n deel van kultuur erken. Dit sou ons reg verdedig om vry en blank in Afrika te wees.

My ouers was reeds omtrent dertig jaar getroud en my ma het geweet wat dit vir haar beteken: Sy sou die administratiewe onderbou vir my pa se nuwe plan moes skep. Sy het kortstondig moedeloos gelyk, maar die geesdrif het haar bekruip, tot dit haar volledig beetgepak het.

Dis verbasend hoeveel bekende mense jy op Bettysbaai se strand kan raakloop as jy hulle ken. My pa het die plan met ooms bespreek wat ek nie eers geweet het bestaan nie en op pad terug Pretoria toe het ons by oom JW Bell op Ceres gestop, waar hulle die ding deeglik deurgepraat het. Dit was duidelik dat my pa se oordeel hoog aangeslaan het.

Terug by die huis, is alles in werking gestel om hierdie ding in die lewe te bring. Vir praktiese doeleindes is die naam “Genootskap vir Regte Afrikaners” of GRA gebruik – ’n duidelike historiese verwysing. Almal wat na die televisiedebatte kontak gemaak het, is op hulle beurt gekontak. Die sombere atmosfeer wat in 1983 geheers het, was in 1984 so ver weg, mens kon nie glo dis dieselfde huis nie.

Iewers in Februarie was daar ’n vergadering onder die groot Wit-es boom voor ons huis. Die karre het tot wie weet waar gestaan en ons was verbaas dat die mense wat genooi is, omtrent almal opgedaag het. ’n Reëlingskomitee het tot stand gekom en vroeg in Mei is as teikendatum vir die stigting van hierdie organisasie aangewys. Die voorgenome naam sou die Afrikanervolkswag wees.

Nou moet ek iets oor ons huis en erf sê. Ou Pretoria is aan die oostekant deur die universiteit se proefplaas begrens en oos dáárvan was die uitgestrekte kampus van die WNNR. En oos daarvan was ’n paar hoewes, waarvan ons s’n een was. Daar was ’n groot huis waarin my ouers en hulle vyf kinders, wat kort na aankoop tot sewe sou aangroei, kon pas. Daar was ook plek vir my pa se liefde vir perde, skape en melkkoeie.

Verder was daar ’n buitegebou met plek vir vier voertuie en twee groot pakkamers. Alles in die pakkamers moet elders plek kry en ons voertuie sou voortaan onder die boom staan. Die hele buitegebou het die Volkswag se kantoor geword.

Ek weet nie of my ma vir die volgende vyf jaar ooit een nag goed geslaap het nie. Sy het dikwels drieuur in die oggend opgestaan en uitgestorm om een of ander taak in die kantoor te gaan voltooi. In hulle slaapkamer was ’n groot lessenaar. Daar was konstant ’n bloukol op haar bobeen, soos sy, al ontwakende, daarteen vasgestorm het. Ek onthou die wakker word met ’n dowwe stampgeluid en dan: “Dammit!” baie goed.

Die groot waagstuk was om die Skilpadsaal op die Pretoria se skouterrein vir die geleentheid te bespreek. Enigiets minder as sesduisend mense lyk in daardie saal soos ’n Sondagskoolklassie in die kerksaal. Die spanning het hoog geloop en die regering het destyds nog ’n bedrywige “dirty tricks department” gehad.

So het my pa herhaaldelik in die middel van die nag dreigoproepe ontvang. Sy soort hardegat was om die telefoon elke keer op te tel en die persoon aan die ander kant vir die inligting te bedank. Een maal het die persoon vir hom gesê dat hy die stigting van die Volkswag nie sou beleef nie.

Van die oproepe het ek nie geweet nie, maar eenkeer moes ek ’n papier soek. Op my pa se lessenaar kry ek toe instruksies oor wat met die stigting moes gebeur as hy dalk voor die tyd sou wegval. In dieselfde tyd het ’n lykswa hom kom optel, gewapen met doodsertifikaat en al. Die twee was verbaas om mekaar te sien.

In ieder geval, almal het bly leef en Vrydagaand 4 Mei het tienduisend mense die Skilpadsaal volgepak. Die volgende dag is die Afrikanervolkswag amptelik gestig en het ’n betreklik kort, maar gebeurtenisvolle loopbaan begin.

Dinge het van daar af meer volgens roetine geloop, maar ’n effens buitengewone roetine. Elke maand is ’n Possak geproduseer, wat uit verskillende pamflette bestaan het – elk op ’n sekere deel van die werksaamhede gerig. Dit was in die plek van die gebruiklike glanstydskrif wat kultuurorganisasies graag uitgegee het.

Tannies Kobie Gouws en Rina Coetzee was Saterdae daar, dan het die Possak sy inhoud en uitleg gekry. Die Volkswag het ’n drukmasjien gekoop en my broer Carel het tot laat in die nagte die Possak gedruk.

Volkswag-takke het saans kom Possakke pak. Vir ’n geruime tyd het oom Willie en tannie Marie Spies met hulle kinders en vriende die maandelikse taak aangepak, totdat ander takke ook betrokke geraak het. Vir my was die mees betekenisvolle gevolg daarvan, my lewenslange vriendskap met Willie Spies, tans van Hurter & Spies.

Dit was alles deel van ’n benadering wat ons met moedersmelk ingekry het: Jy kan nooit bekostig om alles te doen wat jy wil doen nie, daarom moet jy maniere vind om meer te doen as wat jou bronne jou eintlik toelaat. Om in die verband tannie (dr.) Joan Viljoen, Erna Bartleman, tannies Sanco Kruger, Marietjie du Toit, Cecile Schumann, Ria Pretorius en my suster Elizabeth van den Berg een maal per week te vergeet, sal ’n sonde wees. In my matriekjaar het nog ’n tannie bygekom.

Toe ek in 1989 na die Sonoptehuis vir Christelike jong mans aan UP verhuis het, het ek minder intieme kennis van die Volkswag se dag-tot-dag bedrywighede gehad.

Die res van die Volkswag se geskiedenis, veral die herdenking van Groot Trek 150, is ’n storie op sy eie. Die hegte verhoudings wat in die Volkswag gevestig is, het wel mettertyd minder heg geraak.

My pa se volgehoue lidmaatskap van die NG Kerk, ook na sy aftrede, was vir baie Volkswag-lede moeilik om te begryp. Sy volkstaatvoorstel in 1989, vir ’n Afrikanerland in die dorre Noordwes-Kaapland, was vir talle een te veel.

Nogtans dink ek, die mees durende gevolg van die Volkswag was dat dit ’n soort voorspel tot die totstandkoming van Orania was. Dit was ’n forum waarop die denke wat hiertoe sou lei, geformuleer kan word. Want soos Carel al gesê het, jy kan niks doen wat jy nog nie gedink het nie.

1 thought on “Die Volkswag: ‘n Baie persoonlike verslag

  1. Dankie vir n lekker lees vertel van die avontuur wat doe stigting van Orania vooraf gegaan het !!
    Sien uit na die volgende episode. !!
    Hierdie tipe informasie van gebeure agter die Afrikaner politieke gordyn is meer as net interessant ..dit is waardevol vir Volksbou want dit skyn die lig op die proses van volksverraad en verrotting wat in die 80s deur die NP begin was.
    Ek as OosKaapse verEngelsde was, tot my spyt, salig onbewus van hierdie gebeure. Waardeer. Dankie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *