Die verantwoordelikheid van ‘n keuse hê
deur Hannes Noëth
Inleiding
In Suid-Afrika is daar op 29 Mei 2024 ’n nasionale verkiesing. Uiteraard is daar baie media en beriggewing, spekulasies, menings, beloftes, verwagtings en soveel mense soveel sinne. Party sal hulle keuse uitoefen om te gaan stem, al is dit net uit beginsel om hulle stem uit te oefen en ander sal hulle keuse om nie te stem nie gebruik om aan te dui dat nie stem nie ook ‘n keuse is. Hierdie artikel handel nie oor die verkiesing van 29 Mei al dan nie, daaroor is al meer as genoeg geskryf, meer is die bedoeling om terwyl daar so baie gepraat word oor die keuses in ‘n verkiesing sommer net ‘n paar gedagtes te deel oor keuse en die verantwoordelikheid van keuses. Immers gaan daar saam met elke keuse wat ‘n mens maak ‘n verantwoordelikheid. Dikwels, soos met die verkiesing wat nou voorlê, word baie klem gelê op die belangrikheid van jou keuse. Tog, oordink ‘n mens dalk te min hoe keuse en verantwoordelikheid dikwels saamgaan.
Eers, sommer net, ‘n paar interessante keuses, verkiesings en verantwoordelikhede uit die verlede. As ‘n mens hierdie voorbeelde oordink besef ‘n mens net weer hoe keuse en verantwoordelikheid saamgaan:
Enkele interessante stukkies onthou
Ons geskiedenis leer dat daar onder die Voortrekkers groot vreugde en rustigheid was toe hulle na ‘n leier verkiesing uit volle bors gesing het uit Psalm 99. Natuurlik is daar verskil met die Nederlandse beryming, maar die oorstemmende gedeeltes in die 1936-beryming sou wees vers 1 en 4:
God die Heer regeer. Beef, o volk eer,
eer die God wat troon, waar die gerubs woon;
wat in Israel sy gerig bestel.
Aarde en al wat lewe – laat dit voor Hom bewe (1)
Bidders het gepleit in die worstelstryd;
daar het lig gekom, uit die wolkkolom
dat hul dankbaar-trou God se wet kon hou:
heilig lewensorde hul van God geworde (4)
Alhoewel hulleself gekies het en verskillende stemme gehad het, was dit vir hulle, in die uitvoering van hulle keuse ook ‘n belydenis dat God steeds regeer en hulle deur hulle keuse Hom gehoorsaam was. Die datum was 11 Junie 1837. Piet Retief het sy ampseed in die kerk afgelê en hy sou as leier van die Voortrekkers dien. Sy titel sou wees goeweneur en opperhoof. As nuwe leier sou hy daarin slaag om die twis tussen Potgieter en Maritz by te lê en versoening met Piet Uys te bewerkstelling. Op daardie stadium van die geskiedenis het hulle inderdaad beleef dat nuwe lig vir hulle deurgebreek het.
Paul Kruger word tussen 1882 tot 1898 vier keer verkies as president van die ZAR. In die eerste verkiesing (1882) kom hy te staan teen Piet Joubert. In daardie verkiesing kry hy drie keer meer stemme as Joubert. In 1888 kry hy weer ‘n oorweldigende meerderheid, maar in 1893 net 845 stemme meer as sy naaste teenstander. Na die Jameson-inval groei sy gewildheid en met ‘n naderende oorlog word vertroue in hom bevestig met sy groot meerderheid in die verkiesing van 1898. Vier verkiesings, vier uitslae, vier keer wat die keuses in die verkiesing rigting aangedui het. Dit sou Paul Kruger die president van die ZAR maak in ‘n tyd wat keuses gemaak moes word oor toekoms van die volk en die ZAR en sodoende ‘n groot deel van die geskiedenis en toekoms van Suid-Afrika bepaal.
Blaai ‘n mens bietjie deur die Hertzog-toesprake dan is dit maklik om te sien hoeveel klem hy plaas op verantwoordelikheid, keuse en kies in jou konteks. Byvoorbeeld in sy verkiesingstoespraak op 5 November 1907 bevestig hy dat dit oor baie meer as net jouself gaan, maar oor die belange van jou mense en jou land. En op 21 Februarie 1921 in sy dankbetuiging doen hy dit weer as hy aan kiesers wat met moeders en dogters en seuns dink wat met toewyding en opoffering hulle kragte ingespan het tot ons ondersteuning in belang van ons geliefde Suid-Afrika op te tree. Elke keuse in elke tyd maak dit belangrik vir daardie tyd. As Hertzog praat oor 1921 sê hy:
“Die stryd so pas deur ons rondom die stembus gevoer sal in die geskiedenis van Suid-Afrika geboek word as die geweldigste en ook die mees gewetenlose poging nog ooit hier aangewend met die doel om die Afrikanerdom te vernietig.” (Deel 4, p. 202).
Op 18 Mei 1938 doen hy ‘n beroep op kiesers en stel baie sterk:
“Weer eens staan ons voor die groot en verantwoordelike taak om deur ons stem beslissing te vel oor ons toekomst as volk. Die vraag tog waarby hierdie verkiesinge op Woensdag beslis sal word, is geen ander dan of ons as ‘n verenigde volk sal wees, kragtig, welvarend en gelukkig; dan wel soveel verdeelde en op elkaar verbitterde volksgroepies, gedoemd tot magteloosheid en selfvernietiging.” (Deel 6, p. 234) Hy doen ‘n beroep op die kiesers om seker te maak ons oorwinning mag niks minder wees nie as ‘n verpletterende neerlaag vir alle skeurders en aanstigters tot volksverdeeldheid en tweedrag.
Keuses en die Woord van God
Dit is eintlik vanselfsprekend dat kies, keuse en gevolge met mekaar verband hou. Ons moet dit net meer dikwels oordink.
Enkele voorbeelde uit die Skrif hieroor:
In 2 Samuel 24:12 praat God met Dawid dan gee Hy hom drie keuses: Drie dinge lê ek voor jou; kies vir jou een daaruit dat Ek jou dit kan aandoen. In Psalm 25:12 word bevestig dat God die weg leer wat die mens moet kies (Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.) Tog ontneem God nie die mens die keuse van kies nie, byvoorbeeld in Josua 3:12 – Kies ‘n man uit elke stam. Op daardie wyse word verteenwoordiging gekies. En in Eksodus 17:9 gee Moses vir Josua opdra om manne te kies om te gaan veg teen Amalek. In Deuternomium 1:13 moet die volk wyse manne kies wat as hoofde oor hulle aangestel kan word en in Handeling 6:3 moes die dissipels sewe manne kies wat as diakens kan dien.
Die Skrif maak stem en kies byna ‘n natuurlike, verantwoordelike, spontane, maar logiese manier van doen. Maar bevestig keer op keer die gevolge van keuses.
Samevattend
Ons moenie ons blind staar teen die verkiesing van ‘n nasionale Suid-Afrika eersdaags nie. Tog kan ons dit ook nie net ignoreer nie. Daar moet wel binne gedagtes van ‘n vryheidstrewe sterk gefokus word op hoe lyk die keuses waarmee ons volk tans omgaan. In verkiesings, maar ook alledaags. Ons keuses van kerk, van skole vir ons kinders, van grotes van ons gesinne, van selfwerksaamheid en integriteit. Ons volk het werk om te doen, as ons begin dink oor ons keuses. En wat ons kies …