Die Afrikanervolkswag – die begin anderkant die einde
deur Carel Boshoff
Die Afrikanervolkswag, tot ‘Volkswag’ verkort, het ‘n kort bestaan en ‘n lang náwerking gehad. Die opspraakwekkende stigting in Mei 1984 was tekenend van die tye: politieke verdeeldheid oor die destydse regering se hervormingsbeleid het tot spanning in die formidabele netwerk van Afrikaanse kultuurorganisasies gelei en die hele nasionale Afrikanerprojek het uiteindelik ten gronde gegaan. Die Volkswag se ontvangs in die openbare media en gevolglike beeld het in die teken van daarvan gestaan, maar sy werksaamhede het in werklikheid ‘n nuwe era aangekondig. Mens kan dit beskryf as die begin anderkant die einde.
Agtergrond
Die Nasionale Party (NP) was deur sy hele geskiedenis ‘n dinamiese organisasie. Dit word kort ná Uniewording (1910) in 1914 onder leiding van genl JBM Hertzog gestig met die slagspreuk “Suid-Afrika eerste” en met die doel om ‘n eie weg vir Suid-Afrika aan te wys eerder as om in die Britse ryk op te gaan. Afrikaans as taal en die Afrikanerkultuur kan as besieling van hierdie selfstandigheidstrewe beskou word en die politieke beweging is toenemend deur plaaslike inisiatiewe en organisasies, wat mettertyd landswyd georganiseer is, vergesel. So is die Afrikanerbroederbond in 1918 gestig, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) in 1927 en die Voortrekkerbeweging in 1931.
Die NP self het in 1924 saam met die Engelse Arbeidersparty aan bewind gekom totdat dit 1933 met die Suid-Afrikaanse Party (SAP) van genl Jan Smuts saamgesmelt het en die Herenigde Nasionale Party in antwoord daarop tot stand gekom het. Dit is die party wat in 1948 met die slagspreuk “Apartheid” aan bewind gekom het en Suid-Afrika tot in 1994 geregeer het. Dit word algemeen aanvaar dat die honderdjarige herdenking van die Groot Trek in 1938, wat ‘n reuse kulturele ontwaking bewerkstellig het onder Afrikaners wat sedert die Vryheidsoorlog (1902) verstedelik het, ‘n deurslaggewende bydrae tot die NP se oorwinning gelewer het.
Binne tien jaar ná 1948 word Apartheid egter al deur Afsonderlike ontwikkeling en die Tuislandbeleid vir swart Suid-Afrikaners vervang (waarby SABRA ‘n sleutelrol gespeel het) en in 1961 is die gedagte van “Suid-Afrika eerste” tot ‘n onafhanklike republiek buite die Britse Statebond gevoer. In 1976 doen Suid-Afrika die ongehoorde ding om ‘n wesenlike deel van sy grondgebied vreedsaam af te staan met die onafhanklikwording van die Transkei, waarop ook Bophutatswana, Venda en die Ciskei gevolg het, terwyl KwaZulu, Lebowa, KwaNdebele en Gazankulu selfregerende gebiede geword het. Ten spyte van vordering met die tuislande, het dit nie die kwessie van Kleurlinge en Indiërs se politieke toekoms aangespreek nie en het die swart bevolking in die stede in blanke gebied net gegroei en geen omgekeerde beweging na die tuislande het plaasgevind nie.
Die NP het gevolglik na alternatiewe politieke strukture vir Kleurlinge en Indiërs begin kyk, eers na drie parlemente met verskanste blanke beheer en later na een parlement met drie kamers. Elke kamer sou oor “eie sake” regeer, terwyl oor “algemene sake” gesamentlik regeer sou word, maar die blanke kamer sou steeds oorheersend wees. Dit was ‘n omstrede voorstel wat op beperkte politieke integrasie neergekom het, en dit terwyl die tuislande toenemend nie besig was om swartmense se politieke strewes te bevredig nie. Toe PW Botha as Eerste minister dus in 1982 sy steun vir “gesonde magsdeling” aankondig, het dit tot politieke skeuring en die stigting van die Konserwatiewe Party (KP) gelei. Slegs tien jaar tevore het die dr. Albert Hertzog, genl. Hertzog se seun en kabinetsminister onder dr. Verwoerd, reeds teen liberale tendense in die NP te velde getrek en is die Herstigte Nasionale Party (HNP) onder sy leiding gestig. Die KP het egter polities gesproke meer belowend gelyk, maar twee regse partye sou mekaar kennelik ondermyn en in regse geledere wat daar ‘n groot behoefte aan politieke eenheid.
“Regse eenheid”
Intussen is die kwessie van “gesonde magsdeling” ook in die kultuur establishment ingedra. Onder prof. Carel Boshoff se leiding het SABRA hom teen die NP se grondwetlike voorstelle uitgespreek. Dit het nie net tot die opskorting van alle staatsubsidie vir SABRA gelei nie, maar ook tot die beëindiging van prof. Boshoff se destydse voorsitterskap van die Broederbond. Kultuurorganisasies is oor ‘n breë front gemobiliseer om die NP te ondersteun en regse Afrikaners het daar toenemend geen tuiste gevind nie. In ag genome die noue verband tussen Afrikanerkultuur en Afrikanerpolitiek het daar duidelik behoefte aan ‘n kultuurorganisasie ontstaan wat nie op die sleeptou van die regering sou wees nie en waarop politieke eenheid tussen behoudende Afrikaners gebou kon word.
Dit is die agtergrond waarteen die Volkswag gestig is en waarteen die aanslag van regeringsgesinde media teen die stigting verstaan moet word. Pogings om hierdie inisiatief in die kiem te smoor, het selfs ingesluit dat prof. Boshoff deur die owerhede van die Universiteit van Pretoria (vroeër die “Voortrekker Universiteit” genoem) onder druk geplaas is om sy pos daar te ontruim. (Interessant genoeg dat pogings in die tyd om hom as hoofleier van die Voortrekkerbeweging te ontsetel nie geslaag het nie.)
Die FAK
Hoewel die Volkswag geen twyfel oor sy behoudende inslag gelaat het nie, het hy gepoog om ‘n duidelike leemte te vul eerder as om ‘n “regse” spieëlbeeld van die “linkse” establishment daar te stel. Die leemte was enersyds polities, maar tegelyk ook organisatories. Kultuurorganisasies was tipies in sektore verdeel: vir mans (Broederbond, Rapportryers, ens.), vir vroue (Dames Aktueel, Dameskring, ACVV, ens.), vir kinders (Voortrekkers, Landsdiens, ens.), vir lede van die destydse Spoorweë (ATKV) of Poskantoor (ATKB), en talle ander, almal gefedereer binne die FAK. Die Volkswag is as gesinsorganisasie gevestig, het gesinne as lede gehad en werksaamhede is in gesinsverband aangepak. Die maandelikse nuusbrief, wat as die Possak bekend gestaan het, is ook tot die hele gesin gerig terwyl takbyeenkomste gesinsgeleenthede was.
In ‘n poging om nie van hierdie eiesoortige staanplek ‘n bron van polarisering te maak nie, het die Volkswag by sy eerste kongres en September 1984 besluit om aansoek te doen om by die FAK te affilieer. Dit was nie ‘n belowende poging nie, want by die vorige FAK-kongres (die berugte Oos Londen-kongres) is daar hard georganiseer om van konserwatiewe lede op die hoofbestuur ontslae te raak. Sittende lede wat nie herkies is nie, het ingesluit prof. Boshoff, ds. Mossie van den Berg, prof. Gert Duvenage en prof. PG Nel, terwyl prof. Marius Swart, wat die logiese volgende voorsitter sou wees, daar uitgestem is. Die Volkswag se aansoek om affiliasie is toe ook afgewys en die gedagte dat die Afrikaner kultuurhuishouding oor politieke verskille heen kan strek, het in die slag gebly. Hierdie tragiese verdeling se spore is nog sigbaar, maar tog al grootliks geheel.
Groot Trek 150
Kort ná die Volkswag se stigting het ds. Mossie van den Berg die gedagte dat die Groot Trek in 1988 ‘n 150-jarige herdenking verdien, by die hoofbestuur geopper. Dit het aanleiding gegee tot ‘n omvangryke poging wat oor drie jaar sou strek, van 1986 tot 1988 en wat op elke dorp in Suid-Afrika gevier sou word, groot of klein. Simboliese (en soms regte) ossewaens het op 13 roetes vanoor die hele land na Pretoria getrek waar die hoogtepunt op 16 Desember 1988 was. In die voorafgaande jare is streeksfeeste gehou en is die slag van Vegkop (1986), van Silkaatsnek (1987) en Bloedrivier (1988) herdenk. Verskeie publikasies uit die pen van die historikus, prof. Gert Duvenage, het ook verskyn en talle byeenkomste is gereël.
Dit was uit die staanspoor duidelik dat so ‘n groot fees ook groot koste sou meebring en ‘n verbeeldingryke poging met die vervaardiging en verkoop van Groot Trek 150-gedenkartikels is onder leiding van mev. Anna Boshoff van stapel gestuur. (Sy was die uitvoerende hoof van die Volkswag en spil waarom die werksaamhede van die hoofkantoor en die organisasie gedraai het.) Dit pryk vandag nog met trots in talle Afrikanerhuise, soos daar nog op talle dorpe klein Groot Trek 150-monumente behoue gebly het. Die beplanning was om weer ‘n groot saamtrek by die Voortrekkermonument te hou, maar dit is deur die FAK bespreek vir ‘n byeenkoms wat deur PW Botha toegespreek sou word.
‘n Ander heenkome vir die groot fees is dus gesoek en die plaas Donkerhoek, met ‘n wonderlike natuurlike “amfiteater” het onder die bestuur se aandag gekom. Daar is ‘n tydelike dorp aangelê waar sowat tien duisend mense vir die week van 9-16 Desember uitgekamp het en tussen 60 en 80 duisend mense die hoogtepunt op 16 Desember bygewoon het. Dit was ‘n triomf, maar die skadu van nuwe verdelingslyne het reeds daaroor geval. Ook gedurende 1988 het prof. Boshoff die Afrikanervryheidstigting (AVSTIG) geloods en aangekondig dat hy op vroeë aftrede gaan om hom voltyds vir die bevordering van Afrikanerselfbeskikking in ‘n volkstaat in die Weste van die land te beywer. Dit het by min Afrikaners byval gevind en die KP se swakker as verwagte vertoning in die algemene verkiesing van 1989 is deur sommige daaraan toegeskryf.
Die verhouding tussen die KP, die HNP en die AWB, wat op groot en ietwat militante ondersteuning aanspraak gemaak het, het intussen sy eie loop geneem en die Volkswag was nie meer die simbool van regse eenheid nie. Gegewe die aard van sy leierskap en lidmaatskap het die Volkswag sy eie lewe gekry en sy eie koers ingeslaan sonder om dienstig te wees aan enige politieke party, hoewel sy verbintenis aan die politieke idee van Afrikanervryheid bo twyfel gestaan het.
Die skuldlas en Orania
Die verwysing na die Groot Trek 150-aandenkings wat in die aanloop tot en tydens die groot byeenkoms op Donkerhoek bemark is, is belangrik. Die beplanning het daarop berus dat die wins op die aandenkings die koste van die feeste sou dra, en dus op die verwagting dat die voorraad grootliks sou uitverkoop. Gegewe die onverwagse groot toeloop na die byeenkoms op Geloftedag was dit glad nie vergesog nie, inteendeel. Tot die organiseerders se ontsteltenis is daar egter die dag tevore, toe die leiers van die organisasies wat aan die fees deelgeneem het bymekaar was, ‘n roerende pleidooi teen handel op Geloftedag, wat immers “soos ‘n sabbat” herdenk moes word, gelewer. Die gevolg was dat daar op dié dag waarop tienduisende mense eenmalig teenwoordig was, geen verkope plaasgevind het nie en dat die Volkswag, wat die koste gedra het, na afloop van die herdenking met ‘n R1 miljoen skuld gesit het. (‘n Rowwe berekening dui daarop dat dit in huidige terme op ‘n bedrag van sowat R9,2M neerkom.)
Tussen die skuldlas en die volkstaat, en met hernude klem op die gedagte dat die NP se hervorming by die stembus gestuit moet word, het die Volkswag baie van sy steun verloor. Selfs die gedagte van “opofferende landsverdeling” het baie min steun geniet en die meeste konserwatiewe Afrikaners het geglo dat “Blank Suid-Afrika” ‘n volhoubare denkbeeld was. Pleks van sy sukses met Groot Trek 150 te vier, moes die Volkswag alles in die stryd werp om kop bo water te hou. Dit was ook ‘n tyd van groot verwarring, die ontbanning van die ANC en die vrylating van politieke gevangenis, die referendum oor grondwetlike onderhandeling, en die aankoop van Orania.
“Op terk na ons eie”
Die een ding wat die Volkswag uit Groot Trek 150 oorgehou het, was die leuse “Op trek na ons eie.” Dit het hy gestand gedoen met die verskuiwing in 1994 van sy hoofkantoor na Orania en met sy steun aan selfbeskikking in praktyk. Dit het besonder groot uitdagings ingehou aangesien Orania nog baie klein was, geriewe beperk en inkomste te min. Mev. Boshoff, tot in 1994 nog uitvoerende hoof van die Volkswag, is as voltydse lid van die Volkstaatraad aangewys en niemand was daarna in staat om haar skoene heeltemal vol te staan nie.
Ná 1994 het kultuurorganisasies se rol ook verander en kon dinge nie bloot voortgaan soos voorheen nie. Rasionalisering het gevolg en die Volkswag het in 2000 met AVSTIG saamgesmelt in die Orania Beweging, wat onder nuwe omstandighede ‘n nuwe rol begin speel het. Só het die Volkswag as rolspeler in die Afrikanerkultuurgemeenskap na minder as twee dekades weer verdwyn, maar nie sonder ‘n merkbare nalatenskap nie. Die Orania Beweging het sy staatkundige erfenis van AVSTIG ontvang, maar sy etos en kultuur van deelname en sin vir verantwoordelikheid, het hy van die Volkswag geërf, soos ook sy bankrekening – sonder ‘n sent skuld meer op die Groot Trek 150-rekening. Maar die Volkswag se eintlike erflating is selfs groter as dit.
OKeR en Orania
Ek het die hele pad met die Volkswag geloop, van die stigting as ‘n derdejaar universiteitstudent, deur die werkswinkel waar die Possakke op ‘n ou AB Dick vlakdrukmasjien vermeerder is tot met die Voorgrond, wat later die Orania Beweging se tydskrif geword het, en die samesmelting met AVSTIG om die Orania Beweging te vorm. Die Volkswag se grootste erflating het na my mening twee hoofbegunstigdes gehad. Die eerste is OKeR, die Orania Kunsteraad wat my ma kort na haar vestiging in Orania op die been gebring het. Die “hoogkultuur”-deel van die Volkswag het daarin ‘n tuiste gevind en onlangs weer ‘n opbloei beleef; dit is in die beste Volkswag-tradisie van gehalte en deelname.
Die tweede is Orania as gemeenskap. Dit is die kultuur-politieke gesinsprojek by uitstek! Gebou op vaste geloofsfondamente is dit seker die skouspelagtigste aanwending van die Afrikaner se geloofskrag, geesteskrag, breinkrag, kapitaalkrag, arbeidskrag, wilskrag en ondernemingskrag (uit die Volkswag se doelstellings geneem) waaraan mens vandag kan dink. Om in Orania te woon of daarby betrokke te wees is tegelyk veeleisend en bevrydend. Die grondleggers van hierdie aanvanklik klein, maar ingrypende poging sou eenvoudig nie die selfvertroue of die ondersteuning daarvoor gehad het sonder die grondwerk wat in Volkswag-geledere verrig is nie. Daarby moet gesê word dat baie van wat Orania se kenmerkende kultuur geword het, in die Volkswag bedink en gevorm is.
Oraniërs en Afrikaners wat Orania ondersteun het gevolglik, wetend of onwetend, meer aan die Volkswag te danke as wat mens van ‘n organisasie met so ‘n kort bestaanstyd sou verwag.