‘n Stryd om die hart van die Weste woed
Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer op Beeld, Die Burger en Media 24 se webblaaie en het ook in Engels op Politicsweb verskyn. Die besonderse belang en deeglike beredenering daarvan het ons laat besluit om dit hier ook te plaas.
Die Weste verkeer in ‘n staat van beleg, veral selfopgelege kultureel-intellektuele beleg uit sy eie geledere. Plek-plek, veral in sy geografiese uithoeke, is die aanslag teen die Weste egter merendeels van buite.
Met die Weste bedoel ek nie die Westerse militere alliansie van Navo nie, ook nie bloot die waardes van individuele vryheid, hoe belangrik ook, wat sterk in Noord-Amerika en Wes-Europa ingegrawe is nie.
Ek bedoel die Weste in sy mees outentieke en duursame vergestalting, naamlik die Westerse beskawing met sy wortels in die Klassieke.
Geografies het die Weste tevore veel wyer gestrek as vandag. Dit is egter steeds uitgestrek. Ons kan onderskei tussen die kern van die Weste in Wes-Europa en oor die afgelope nagenoeg 400 jaar ook in Amerika, veral Noord-Amerika.
Dan is daar die uithoeke van die Westerse beskawing in Australasië, Suider-Afrika en in ‘n bepaalde sin ook in Israel.
Die Westerse beskawing is sowel in sy kern as in sy uithoeke onder beleg, dermate dat die titel van die Engelse openbare intellektueel Douglas Murray se 2022-boek, The War on the West, die verknorsing van die Weste raak beskryf.
Ideologiese ekstremisme, wat die grondliggende kulturele aard van die Weste in die skyf het, was nog altyd die Weste se aartsbedreiging. In die 1930’s en 1940’s was dit van die regterkant: nasionaal-sosialisme.
Die mees konstante aanslag is egter nog altyd die linkse ekstremisme.
Dit herlei terug na die anti-kultuur van die Franse Revolusie en het sedertdien in etlike mutasies van ver-linkse anti-kultur vergestalt en in golwe van Marxisme teen die Weste aangespoel. Tans kom dit in die ideologie van wokeness tot uitdrukking. Dit behels psigo-intellektuele dekadensie, wat die Weste in ‘n niks van anti-kultuur wil verswelg.
Israel en Suid-Afrika
Veral twee uithoeke waar die Weste in die gedrang is, is hier ter sake, naamlik die neerslae van een van die Weste se oudste oerwortels, die Jode in Israel; en die Weste se jongste spruit, die Afrikaners (en dergelike Westerlinge – wit en nie-wit) in Suider-Afrika. Hierdie Westerlinge het hulle sedert 1652 – vandag 372 jaar gelede – aan die suidpunt van Afrika gevestig. Hier het hulle, soos N.P. van Wyk Louw 72 jaar gelede gesê het, die “grootse avontuur” en “magtige taak” aangepak om ‘n “eie tipe Westerse beskawing hier (in Suider-Afrika) te vorm”.
Die blote bestaan van die Joodse staat vervul sy aartsvyande in die Midde-Ooste, sowel as talle kragte in die Weste self, met soveel weersin dat hulle Israel wil verdelg. Van Luthuli-huis in Johannesburg onderskei ANC-Suid-Afrika homself insgelyks as ywerige kryger teen die Joodse staat.
Dat daar rede vir gewigtige besware teen die Israelse regering is, mag duidelik wees. In sy staat van beleg, en in ag genome die Jode se veelbewoë geskiedenis van herhaalde slagofferskap oor die eeue heen, neig die Israelse regering inderdaad tot drastiese optrede, waaroor ook sy bondgenote krities staan. Nogtans is dit geen rede om Israel van die aardbol te wil blaas en die Jode te wil verdelg nie.
Die verdelging van Israel is natuurlik makliker gesê as gedaan. Die Joodse staat is uiters gedug en word oral deur sterk, invloedryke en vindingryke Joodse gemeenskappe ondersteun. Bowendien het Israel, “die enigste Joodse staat ter wêreld”, soos talle Jode dikwels beklemtoon, bowendien die ondersteuning van die magtige VSA.
Etlike dekades gelede was die Westerlinge en die Afrikaner-oorheersde regering in Suid- Afrika eweneens onder druk om aan ‘n nie-Westerse meerderheidsregering oor te gee. Die wit regering se posisie was mettertyd onhoudbaar. Dit het vanwee die groeiende ná- oorlogse liberale konsensus onder fel kritiek deurgeloop oor apartheid en dus die uitsluiting van swart mense van gelyke regte. In die aangesig van ‘n verhewigde binnelandse opstand het regsoppergesag toenemend in die slag gebly namate drastiese maatreëls afgedwing is om die wit bewind staande te hou. Die meerderheid wittes, met inbegrip van Afrikaners, het mettertyd geloof in die uitoerbaarheid en regverdigbaarheid van hul eie beleid verloor en oplaas in 1994 aan ‘n swart regering onder die bykans geheiligde figuur van Nelson Mandel en sy African National Congress (ANC) oorgegee.
Druk van die Weste – die VSA, Brittanje en Wes-Europa – was ‘n belangrike faktor wat die wit bewind laat knak het. So het, anders as in die geval van die “enigste” Joodse staat, die ten dele enigste Afrikanerstaat in die wêreld van die toneel verdwyn, in die nogal naïewe geloof dat individuele regte in ‘n beweerde oppermagtige grondwet’n voldoende plaasvervangende beskermer vir politieke mag kon wees.
Prestasies en sondes
Die vroegste oorsprong van die Westerse beskawing herlei na die Christelike leer, die Athense hartstog vir geleerdheid en die Romeinse ywer vir die reg en regering. Dit versinnebeeld in drie klassieke bronstede van die Weste: Jerusalem, Athene en Rome. Dit is daar waar die grondslae van die Westerse geestesgoedere en kanon beslag gekry het, mettertyd vervat in die Bybel; die groot letterkundige en wysgerige werke van klassieke Griekeland soos die geskrifte van Homeros, Plato en Aristoteles; en die Romeinse Corpus luris Civilis; en in dergelike ander Groot Boeke van die Weste.
Hierdie grondslae is gedurende die Middeleeue in ‘n sintese saamgevoeg om in’n samehangende Westerse beskawing beslag te kry. Gedurende die Middeleeue is etlike verdere bronstede by die aanvanklike drie klassiekes gevoeg. Etlike van hulle het die aanvanklike drie mettertyd in intellektuele en kulturele luister en invloed oortref en só die hoofdraers van die Westerse beskawing geword.
Sedert nagenoeg 1500 vanweë sy sonderlinge lewensdrif het die Weste op elke lewensterrein, met inbegrip van die wetenskap, tegniek, kultuur, ekonomie, politiek, die militêre en dergelike terreine, sonderlinge prestasies behaal – die hoogste van alle mense in alle tye, sal baie kan aanvoer.
Hul ywer het Westerse moondhede laat uitbrei oor bykans alle uithoeke van die aarde en eiesoortige merktekens van die Weste oral prominent gelaat. Die huidige voortgesette gebruik van die Europese tale, veral Engels ver buite hul bakermat in Wes-Europa, getuig steeds van die onuitwisbare impak van die Weste. Dieselfde geld Westerse wetenskap en tegniek, regeerkunde, die reg … trouens, op elke denkbare terrein.
Dog, hoe groter die vermoe van ‘n beskawing, hoe sterker is sy vermoe nie slegs tot prestasie nie maar ook tot wanprestasie, dermate dat ‘n mens moontlik kan aanvoer dat daar ‘n bykans regstreeks eweredige verhouding tussen prestasie en vergryp blyk te wees; hoe yweriger ‘n mens of beskawing, en hoe meer hy vermag, des te meer sondig hy.
Dit geld alle gemeenskappe in die lang verloop van die geskiedenis: Babiloniers, Assiriers, Perse, Chinese, Masedoniers, Romeine, die Mongoolse nomadiese “ryk”, die Franse ryk, die Nederlandse handelsryk, die Britse ryk … dit hou aan sonder ophou.
Dit gebeur omdat aggressie ‘n natuurlike deel van lewensdrif is. Lees maar die geskiedenis, en spoedig word dit soos in William McNeill se magnum opus, The Rise of the West, glashelder dat ‘n minimum graad van aggressie benewens ander bestanddele voorwaardelik vir alle hoog presterende gemeenskappe is.
Vir soveel ‘n mens, gemeenskap of beskawing dus vanwee sy prestasies op lof geregtig is, vir soveel is hy vir sy sondigheid te verkwalik. Dog, tans kom die Weste weens afguns, wraaksug, haat sowel as selfhaat geen lof toe nie; slegs afkeur en verdelging.
Só betuig Susan Sontag, linkse Amerikaanse openbare intellektueel, in ‘n sonderlinge uitstorting van Westerse selfhaat haar weersin in die Weste in 1967:
“The truth is that Mozart, Pascal, Boolean algebra, Shakespeare, parliamentary government, baroque churches, Newton, the emancipation of women, Kant, Marx, Balanchine ballets, et al, don’t redeem what this particular civilization has wrought upon the world.”
Aangesien die Weste se prestasies so buitengewoon hoog was, was sy beweerde sondes net so buitengewoon en daarom is die aandrang op boetedoening, verwoesting en selfverwoesting so perkeloos soos nooit tevore nie.
Wat natuurlik ook waar is, is dat die Weste juis ook die vermoë tot selfkorreksie en selfverbetering aan die dag gelê het, soos wat dit onder meer tot uitdrukking kom in die enorme verbetering in lewensgehalte van mense waar daar ook ‘n Westerse voetspoor is.
‘Dekolonisering’
Die verdelgingsdrif teen die Weste gaan ver terug, reeds na die tydvak van die Franse Revolusie en mettertyd die opkoms van die Marxisme.
Ná die Tweede Wêreldoorlog was daar die dekolonisering van die eertydse Westerse kolonies in Asië en Afrika. Aanvanklik het dit die grootliks legitieme aandrang van eertyds koloniale gebiede behels om hulle van die politieke heerskappy van die voormalige Westerse moondhede te bevry.
Spoedig egter oor die afgelope dekades het die verdelgingsprojek in sy volste omvang begin stoom optel. Een van die sleutel kodewoorde hiervoor is juis dekolonisering. Nou tref “dekolonisering” egter oneindig dieper en wyer. Dit behels dat die Weste polities vernietig moet word, maar veral dat die Weste sy kultuur volkome moet verloën en laat vaar omdat dit met die afskuwelikheid van Westerse meerderwaardigheid, die ideologie van wit meerderwaardigheid,besmet is.
Westerlinge moet ophou Westerlinge wees en die Westerse beskawing moet homself likwideer.
Die verdelgingskreet het helder op 15 Januarie 1987 – 20 jaar ná Sontag se uitbarsting – weerklink toe die Amerikaanse burgerregte-aktivis Jesse jackson en 500 betogers by die Stanford-Universiteit uitgeroep het: “Hey hey, ho ho, Western Civ (Civilization) has to go!”
Die teiken van die slagspreuk was oënskynlik beperk: gemik teen die eerstejaarkursus in Westerse kultuur aan Stanford (en ander Amerikaanse universiteite). Die aandrang was op “diversiteit” in die plek van die gewraakte eksklusiewe Westerse fokus.
Oplaas was die trefwydte van wat daarop gevolg het oneindig breër, naamlik om die Westerse beskawing as sodanig ongedaan te maak, onder meer deur te verseker dat die VSA van sy selfbeskouing as Westerse staat afstand doen.
Hierdie ywer om die Weste te verdelg kom sedertdien veral van binne die Westerse kern – van Wes-Europa en Noord-Amerika – naamlik van ‘n tafereel ekstremisties linkse ideologiese kragte, waarvan wokeism die jongste mutasie is. Dit behels Westerse selfhaat soos dit uitdrukking vind in die aandrang op die verdwyning van die Weste deur onder meer die aanmoediging van massamigrasie van nie-Westerlinge na die Westerse kern en die likwidasie van die Westerse kultuur onder die vaandel van dekolonisering en dergelike ekstremisties- linkse kragte gemik teen die Westerse beskawing.
Tans is die kultuurstryd oor die siel van die Weste in volle gang, dermate dat die kulturele eenstemmigheid waarvolgens die VSA ‘n Westerse land was, verdwyn het.
Die vraag gestel in Samuel Huntington se 2005-werk, Who Are We? The Challenges to America’s National Identity, met verwysing a wie Amerikaners nou eintlik is, en dus waar hulle kultureel tuishoort, is derhalwe sedertdien beantwoord in ‘n frase wat Huntington self tevore gebruik het, naamlik dat die VSA ‘n gesplete staat (cleft state) geword het waar antagonistiese beskouings oor beskawing mekaar die stryd aansê. In die onderhawige geval is dit die Westerse beskawing en antibeskawing (wokeism) wat teen mekaar bots. Die ander deel van die Westerse kern, Wes-Europa en Brittanje, het insgelyks sy kulturele samehang prysgegee, dermate dat Douglas Murray in 2017 in The Strange Death of Europe: Immigration, Identity Islam in besonderhede van die drastiese afgang van Wes-Europa kon getuig.
Lotsgebonde
Op die Westerse periferie neem die woede teen Israel wat ten minste ten dele as ‘n Westerse neerslag beleef word die vorm van oorlog aan.
In Suid-Afrika het Westerlinge, met besondere inbegrip van Afrikaners met ekstremistiese linkse ideologie uit eie geledere te kampe. Helen Zille het in haar 2021-boek Stay Woke Go Broke ‘n goeie uiteensetting hiervan gegee. Linkse ekstremisme is in Suid-Afrika, soos in die Westerse kern, ook in volle gang, veral om langs die weg van die aandrang op sogenaamde dekolonisasie van die Westerse kulturele teenwoordigheid ontslae te raak.
In Suid-Afrika neem dit eweneens die aard aan van “nasionaal-demokratiese revolusie” en transformatisme: sogenaamde regstellende aksie, swart bemagtiging, beslaglegging op grond onder die vaandel van onteiening sonder vergoeding; en haatveldtogte teen sogenaamde witmonopoliekapitaal en moordkrete teen wittes, waarvoor Julius Malema, die EFF-leier, onder andere, berug is; transformasie en dekolonisering van die kurrikula. Dit neem ook die vorm aan van ‘n volgehoue kulturele aanslag teen Afrikaners se kultuurgoedere en taal soos nou weer met die totalitêre Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela).
Die uiteenlopende antagonismes in die onderskeie state (die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland, Nederland, Israel en Suid-Afrika en ander) is ten slotte saamgebind in ‘n enkel omvattende eksistensile uitdaging teen die Weste in sy kern sowel as op die periferie.
Daar mag oortuigende gronde vir kritiek teen die Israelse regering wees, net soos daar toenmalig gronde vir teenstand teen die Westerse bewind in Suid-Afrika was; en daar behoort hierop ag geslaan te word en aanpassings behoort te volg.
Die kritiek doen egter geen afbreuk nie aan die feit dat Westerlinge hetsy in die kern of in die periferie politiek-kultureel wesenlik met dieselfde krisis te kampe het, lotsgebonde, en op mekaar aangewese is. Dit is die belangrikste kwessie van ons tyd.
Prof. Koos Malan is ‘n konstitusionele juris van Pretoria.