Wendell Berry: Implemente wat deur perde gesleep word en die doktrine van arbeidsbesparing ‘The Gift of Good Land’ (1981) (Deel II)

Wendell Berry: Implemente wat deur perde gesleep word en die doktrine van arbeidsbesparing ‘The Gift of Good Land’ (1981) (Deel II)

Deel twee:

… Hoe omskryf ons arbeidsbesparing?

            Ons omskryf dit, of laat toe dat dit vir ons omskryf word deur die korporasies en spesialiste, asof daar geen menslike oorwegings hoegenaamd by betrokke is nie, asof die arbeid wat “bespaar” word nie menslike arbeid is nie. Ons het besluit, in die taal van sommige kenners, om tegnologie te beskou as ‘n “plaasvervanger vir arbeid.” Wat beteken dat ons geensins besluit het om arbeid te “bespaar” nie, maar om dit te vervang, en om die mense wat dit voorheen verskaf het, te ontwortel. Ons het ook nie die groter vrae gestel na watter waarde ons moet heg aan mense en hulle arbeid en aan die grond nie. Dit lyk asof ons onsself onkrities oorgegee het aan die gang van tegnologiese evolusie, wat ver hoër waarde aan die ontwikkeling van masjiene as aan die ontwikkeling van mense heg. 

            En so word dit duidelik dat my praktiese definisie van ‘n goeie gereedskapstuk (een wat ‘n werker in staat stel om sowel beter as vinniger te werk) opsig self nie ver genoeg gaan nie. Selfs so ‘n gereedskapstuk kan slegte gevolge hê as sy gebruik nie deur ‘n goedgunstige en gesonde maatskaplike doel gerig word nie. Die koms van ‘n gereedskapstuk is dan nie net ‘n kulturele gebeurtenis nie; dit is ook ‘n historiese kruispad – ‘n punt waarby mens moet kies tussen twee moontlikhede: om meer intensief of meer ekstensief te word; om die gereedskapstuk vir gehalte of vir hoeveelheid aan te wend, vir sorg of vir spoed. 

            Om hierna as ‘n keuse te verwys, veronderstel ek kennelik dat die evolusie van tegnologie nie onbevraagtekenbaar of onbeheerbaar is nie; dat “vooruitgang” en die “arbeidsmark” niks so onbuigsaam soos ‘n natuurwet verteenwoordig nie, maar onderdele van ‘n ekonomie is; en dat enige ekonomie in een of ander opsig ‘n “bestuurde” ekonomie is, bestuur deur ‘n bedoeling om die voordele van arbeid, grond en materiale op ‘n sekere manier toe te deel. (Die huidige landbou-ekonomie, byvoorbeeld, is geneig om die groter oorwig van hierdie voordele aan “agribesigheidskorporasies” te laat toeval. As dit nie so was nie, sou die onlangse boere-staking ook ‘n “agribesigheidstaking” gewees het. As daardie veronderstellings korrek is, staan dit ons vry om ‘n bietjie historiese voorstellings te maak, wat natuurlik nie beteken om die “geskiedenis te verander” of om die “geskiedenis te herskryf” nie, maar om hierdie kwessie van tegnologiese keuse enigsins uit te klaar. 

            Veronderstel dan dat ons in 1945 die menslike lewe van plase 1 persent hoër aangeslaan het as wat ons “ekonomiese groei” en tegnologiese vooruitgang gewaardeer het. En veronderstel ons het die gesondheid van huise, plase, dorpe en stede omhels met iets soos die vasberadenheid en energie waarmee ons die “militêr-industriële kompleks” opgebou het. Veronderstel met ander woorde dat ons werklik bedoel het wat die meeste van ons en die meeste van leiers die heeltyd gesê het, en dat ons regtig probeer het om volgens die tradisionele waardes waaraan ons lippediens bewys het, te lewe.

            Dan, lyk dit vir my, kon ons sekere meganiese en ekonomiese perke aanvaar het. Ons kon dan die verbeterde implemente wat deur perde getrek word, of selfs die klein trekkertoerusting wat daarop gevolg het, gebruik het, nie om werkers te ontwortel en sorg en vaardigheid te laat afneem nie, maar om produksie te intensiveer, instandhouding te verbeter, sorg en vaardigheid te bevorder, en die vlakke van vrye tyd, vreugde en gemeenskapslewe te verhoog. Ons kon, met ander woorde, deur tegnologie tot ‘n menslike of ‘n demokratiese skaal te beperk, in staat gewees het om die gespaarde arbeid te benut op dieselfde plekke waar ons dit gespaar het.

            Dit is belangrik om te onthou dat “arbeid” ‘n baie kru industriële term is, wat pas by die enorme ekonomiese strukture, die verontmenslikte tegnologie en die abstrakte maatskaplike inrigting van die stedelik-industriële samelewing. Onder sulke omstandighede beteken “arbeid” min meer as die som van twee menslike hoeveelhede, menslike energie plus menslike tyd, wat ons as “man-ure” beskryf. Maar hoe nader aan die huis ons “arbeid” in werking stel, en hoe kleiner en meer bekend ons die omstandighede maak, hoe meer vergroot en kompliseer ons en vermeerder ons die betekenis daarvan. By die werk in ‘n fabriek is werkers net werkers, produksie-eenhede wat “man-ure” bestee aan ‘n taak wat deur vreemdelinge vir hulle gestel word. By die werk in hulle eie gemeenskappe, op hulle eie plase en in hulle eie huise en werkswinkels is werkers nooit net werkers nie, maar eerder persone, familielede en bure. Hulle werk vir diegene tussen wie en met wie hulle werk. Voorts neig werkers om onafhanklik te wees in omgekeerde verhouding tot die grootte van die omstandighede waarin hulle werk. Dit beteken die werk van fabriekswerkers word deur die fabriek gereël, waar die werk van huisvrouens, ambagslui in klein besighede en kleinboere gereël word deur hulle etiek, vaardigheid en intelligensie. En so, as werkers onafhanklik en tuis werk, verloor die samelewing in die geheel dalk iets van die organisatoriese doeltreffendheid en ekonomie van skaal. Maar dit begin om te baat aan waardes in die vervulde menslikheid van die werkers wat nie so maklik kwantifiseerbaar is nie, werkers wat dan nie net gekontrakteerde hoeveelhede “man-ure” werk toe bring nie, maar eienskappe soos onafhanklikheid, vaardigheid, gesonde verstand, oordeel, trots, respek, lojaliteit, liefde, eerbied. 

            Om die saak in konkrete terme te stel, as die plaasgemeenskappe in staat was om die beste gereedskap wat deur perde gesleep word te gebruik om in die ware sin daarvan arbeid te bespaar, dan kon hulle die bespaarde tyd en energie eerste van alles gebruik het vir ontspanning – iets wat tegnologiese vooruitgang vir boere gebied het. Tweedens kon hulle dit gebruik het om hulle plase te verbeter: om die grond te verryk, erosie te bekamp, water te bewaar, beter en meer permanente heinings en geboue op te sit; om bosbou en die meegaande vaardighede en ekonomieë te beoefen; om boorde, wingerde, tuine en bosvrugte te vestig; om mark-tuine aan te plant; om weiding, teling en veebou te verbeter, en om die daaropvolgende ondernemings van ‘n plaaslike, klein-trop vee-teelt ekonomie te bevorder; om die ekonomie van huishoudings en landelike vestigings te vergroot, te diversifiseer en te verdiep. Derdens kon hulle dit gebruik om die gespesialiseerde vaardighede wat nodig is vir die welstand en skoonheid van gemeenskappe uit te brei en te verbeter: skrynwerk, messelwerk, leerwerk, kabinetmakery, staalwerk, pottebakkery, ensovoorts. Vierdens kon hulle dit gebruik om die huislike lewe en huislike opvoeding van kinders te verbeter, en daardeur die las en kostes wat nou op skole, howe en tronke geplaas word, te voorkom.

            Dit is ook moontlik dat, as ons so ‘n weg gevolg het, ons die huidige tekorte aan energie en werksverskaffing kon vermy of versag het. Die stede sou baie minder oorbevolk gewees het; die koerse van misdaad en welsyn-afhanklikheid sou baie laer gewees het; en die standaarde van industriële produksie sou bes moontlik hoër gewees het. En boere kon dalk hulle verlammende afhanklikheid van geldskieters vermy het.

            Ek besef dat dit presies hierdie soort denke is wat die tegnologiese deterministe as nostalgie of wensdenkery sal afmaak. My bedoeling daarmee is egter nie ‘n aanbeveling dat ons “terugkeer na die verlede” nie, maar om kritiek op die verlede te lewer; en my kritiek berus op die veronderstelling dat ons in die verlede ‘n keuse gehad het, en dat ons nou ‘n keuse het oor hoe ons tegnologie gebruik en waarvoor ons dit gebruik. Soos ek dit verstaan, is hierdie keuse volledig afhanklike van ons bereidwilligheid om ons begeertes te beperk en sowel die skaal as die soort tegnologie wat ons gebruik om dit te bevredig, aan bande te lê. Sonder sulke bereidwilligheid is daar geen keuse nie; dan moet ons onsself eenvoudig oorgee aan wat ook al tegnoloë mag ontdek moontlik is.

            Die tegnologiese deterministe aanvaar natuurlik nie dat so keuse bestaan nie – ongetwyfeld omdat hulle wrewelrig voel oor die morele perke wat so ‘n keuse op hulle werk sou stel. Hulle verwys vol romantiek na “die mens se lotsbestemming” om na steeds groter en meer gesofistikeerde masjienerie te styg. Of hulle slaan die teenoorgestelde weg in en praat die veg-om-oorlewingstaal van Darwinisme. ‘n Vorige minister van landbou, Earl Butz, praat byvoorbeeld van “Butz se wet van die ekonomie”, naamlik “pas aan of gaan onder.”

            Ek is, dink ek, net so entoesiasties oor die beginsel van aanpassing as mnr. Butz. Ons verskil net oor die kwessie van wat aangepas moet word. Hy glo dat ons by masjiene moet aanpas, dat mense gedwing moet word om tegnologiese omstandighede te aanvaar en aan die standaarde daarvan te voldoen. Ek glo dat die masjiene by ons aangepas moet word – om aan ons menslike behoeftes te voldoen, soos ons dit in ons geskiedenis, ons erfenis en ons oorvloedigste hoop kan vind.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *