Uit die argiewe: Afrikaners en onderhandeling
dr CJ Jooste, Pretoria
Inleiding
In Afrikanergeledere bestaan daar nie eenduidigheid oor onderhandeling nie. Algehele verwerping van die “nuwe Suid-Afrika”, sonder dat ‘n lewensvatbare alternatiewe Suid-Afrika voorgestel is, het ‘n beduidende deel van die volk tot stilstand gebring. Uiterste gesindhede, soos om nie met dié of dáárdie te praat nie en “ons onderhandel nie, ons vat”, vloei hieruit voort en dra hiertoe by. Dit is nog nie uitgewoed nie.
Daarteenoor kan die behoefte om weer in beweging te kom toenemend waargeneem word. Die gedagte wen naamlik veld dat Afrikaners wat hulle eie staat verlang dit nou vredevol deur onderhandeling kan verkry, terwyl dit voorheen as onbereikbaar beskou is. Verset teen die gedagte van ‘n “nuwe Suid-Afrika” mag as gevolg hier van afneem en gaandeweg met goeie buurskapsverhoudinge vervang word.
Werklikhede
Wanneer Afrikaners oor onderhandeling besin, kom hulle voor werklikhede te staan wat hulle enersyds van grondwetlike beraad wegdryf en andersyds daarheen lok.
Eerstens is Afrikaners nie een van sin oor hulle bestemming nie en allermins oor die weg wat gevolg moet word om as volk voort te bestaan. Standpunte oor onderhandeling word hierdeur beïnvloed: sommige worstel met die vraag of dit hoegenaamd die moeite werd is om na die beraad te gaan, terwyl ander in alle rigtings
trek oor die aard en doel van sodanige beraad.
Afrikanerdenke versplinter
‘n Deel van die volk vereenselwig hulle met die “nuwe Suid-Afrika” en verwag om as enkelinge, volgens verdienste, met rang, gesag en aansien beklee te word. Hulle wil as lede van die partye van hulle keuse by onderhandeling betrokke wees. Die partye moet aan Suid-Afrikaners, ongeag hulle etniese verband, toegang verleen en gemeenskaplike belange bokant volksbelange plaas. Afrikaners se redding is, volgens hierdie beskouing, daarin geleë dat hulle as enkelinge deelneem en nie as volk eise stel nie.
‘n Ander beskouing wat onder Afrikaners in omloop is, is dat hulle as ‘n minderheid naas ander minderhede kan voortbestaan en dat ‘n grondwet ontwerp kan word om die beskerming wat hulle nodig mag hê, te verleen. Baie sal toegee dat moedertaalonderwys met die oog hierop noodsaaklik is en verwag dat onderhandeling daarvoor voorsiening moet maak. Die behoud van Afrikaans as amptelike taal is ook van
belang, aangesien ‘n taal wat dié rang verloor se toekoms onseker is.
‘n Derde deel van die Afrikanerdom, tans waarskynlik ‘n groeiende deel, wil as volk voortbestaan, nie as minderheid of as enkelinge nie. Dit verg ‘n staat, of minstens die beheer van ‘n staat. Afrikaners word wêreldwyd as ‘n volk erken. Soos ander volke, bestaan hy omdat hy van sy staatstrewe bewus is en dit vir hom ‘n lewensbeginsel geword het. Dit onderskei hom van etniese minderhede, waar die staatstrewe nog aanwesig is en verleen aan hom aanspraak, ingevolge die volkereg, op grond en op selfbeskikking.
Hierdie laasgenoemde deel van die volk beskou homself as onaanpasbaar en oninlyfbaar by die “nuwe Suid-Afrika”. Die staatstrewe is vir hom van grondliggende belang en sou, volgens die volkstaatgedagte, slegs laat vaar kon word deur aan die volk se roeping en sy stryd om voortbestaan ontrou te wees. Die bron van al die
beklemminge oor onderhandeling is hier geleë, want in die “nuwe Suid-Afrika” kan daar nie meer as een staatstrewe bestaan nie.
Verspreiding van die bevolking
Tweedens word die gedagte van onderhandeling vir baie Afrikaners bemoeilik vanweë die samestelling en verspreiding van die RSA se bevolking. Voortbestaan is van die vroegste tye af hierdeur in die wiele gery. Die taak om dié bevolkingsamestelling te verander, is grootliks onderskat, met die gevolg dat minderheidsoorheersing onbepaald voortgeduur het. Daar moes telkens op die weermag en polisie en op grondwetlike verandering teruggeval word om die gevolge van minderheidsoorheersing te bowe te probeer kom. Die geskiedenis van kleurlingstemreg, stryd oor die verteenwoordiging van swartes en Indiërs en die afskeiding van swart state van die RSA is goed bekend. Blywende welslae is nie behaal nie.
Vir baie Afrikaners faal die “nuwe Suid-Afrika” ook in dié opsig dat daar op politieke hervorming staatgemaak word, terwyl die samestelling en verspreiding van die bevolking onveranderd bly. In die geheel van sowat veertig miljoen mense, wat in dertig jaar tot sewentig miljoen kan aanwas, maak 2,5 miljoen Afrikaners ‘n klein minderheid uit. Hulle sal oor die kort termyn van mag gestroop wees en oor die lang termyn as volk verdwyn indien hulle staatstrewe nie slaag nie.
Die “nuwe Suid-Afrika” gaan egter in vervulling. Geen alternatiewe Suid-Afrika kan lewensvatbaar wees indien dit net op grondwetlike truuks aangewese bly en nie met die verweefdheid van die bevolking raad weet nie. Die gedagte van onverbiddelikheid van geografiese skeiding geniet nie in Afrikanergeselskap ‘n goeie ontvangs nie. Voordat dit egter nie aanvaar word nie sal onderhandeling ‘n beklemmende,
onoplosbare tweestryd in die gemoed en in binnelandse verhoudinge uitmaak.
Selfwerksaamheid
Derdens bestaan daar die onontwykbare werklikheid dat Afrikaners nooit selfwerksaamheid beoefen het nie. Dit maak ‘n grondliggende struikelblok in die weg van hulle staatstrewe uit. Dis verbasend dat hulle politieke mag in die omstandighede vir meer as honderd en vyftig jaar behoue gebly het. Met elke vreemde werker wat in die verlede in diens geneem is, is mag prysgegee. Nou in die negentigerjare word die prysgawe van mag op politieke gebied voltrek.
Feitlik alle vroeëre beskawings wat op vreemde arbeid geleun het, het in duie gestort en die grond en politieke mag het na die werkers wat hande-arbeid verrig het, oorgegaan, byvoorbeeld in Egipte, Indië, Mongolië, Tibet, Mexiko, Peru, Chile en in sekere opsigte ook die Griekse en Romeinse beskawings. Die Afrikaner het hierdie kringloop naastenby voltooi.
In hulle gesprekvoering oor onderhandeling staan Afrikaners se verknogtheid aan vreemde arbeid vandag uit as ‘n louterende werklikheid. Indien hulle nie vir selfwerksaamheid kans sien nie is hulle minder onaanpasbaar en oninlyfbaar by die “nuwe Suid-Afrika” as wat hulle mag dink. Ander werklike of verwagte ontberings is dan verkiesliker as die ontbering van vreemde arbeid. Hulle sal of in die RSA bly of elders heen trek.
Oorgangsregering
Laastens kan na die werklikheid van druk op die owerheid vir een of ander oorgangsreëling verwys word. Swart mense sal uiteraard graag wil verhoed dat die huidige owerheid uit die kussings gelig en hulle staatstrewe daardeur in onsekerheid gedompel word. Hulle verwag gevolglik dat die owerheid vir ‘n tussentydse owerheid moet plek maak, of ‘n verkose grondwetgewende vergadering op die been bring wat
sal verseker dat hulle onmiddellik doeltreffende mag verkry en hervorming waarlik onomkeerbaar sal wees. Indien hieraan nie voldoen word nie sal geweld waarskynlik nie ophou nie en solank geweld voortduur, kom onderhandeling nie op dreef nie.
Hierdie saak sal stellig deur die beoogde Veelpartyberaad oorweeg word. Hoewel die huidige owerheid en sekere ander partye teen die gedagte van ‘n oorgangs-owerheid gekant is, vind min Afrikaners in sodanige teenkanting enige vertroosting. Hervorming het reeds ‘n punt bereik waar dit nie mag misluk nie. Die Veelpartyberaad sal verplig wees om bestaande owerheidsbeloftes en swart beklemminge op
‘n geloofwaardige wyse met mekaar te versoen.
Die Afrikaner se staatstrewe
Werklikhede soos die voorgaande plaas Afrikaners wat as volk wil voortbestaan in ‘n staat van beleëring. Onderhandeling volgens die voorskrifte en met die bestemming wat die owerheid voorhou, is onaanvaarbaar en lei tot magsopbou eerder as tot voorbereiding vir deelname aan beraad. Dié staat van belering kan net beëindig word deur ‘n verskuiwing, weg van ewigdurende minderheidsrang en van stryd binne die RSA, na ‘n Afrikanerstaat.
Die staatstrewe bring ‘n ander stel werklikhede na vore wat na deelname lei. Eerstens staan Afrikaners se leidende aandeel in ontwikkeling vir meer as drie eeue onaantasbaar. Regte in die land, ‘n aandeel in die leierskap en voorbestaan word nie alleen erken nie, maar deur vroeëre teenstanders bepleit. Pogings om hulle na die onderhandelingstafel te lok, getuig van die besef dat hulle aanwesigheid daar benodig word.
Ontwrigting kan voorkom word
Tweedens word Afrikaners gerugsteun deur kennis, ervaring en insig wat nou tot ‘n groter mate beskikbaar is as tevore, dat volke, al is hulle klein, nie oor die kort termyn uitgewis kan word nie; dat onderdrukking verset opwek en ‘n eeuelange bevrydingstryd tot gevolg kan hê. Dié stryd kan een of ander tyd gewen word, terwyl
dit nou moontlik is om al die ontwrigting wat daaraan verbonde is, te vermy.
Derdens kan Afrikaners ‘n redelike, wetenskaplik, geskiedkundig en sedelik begronde saak voorlê waarom hulle voortbestaan as vrye volk vir almal voordelig sal wees, terwyl die ontsegging daarvan allerweë groot skade kan berokken. Hulle kan ook oortuigend aandui dat ‘n staat uitvoerbaar is, selfs al is net ‘n deel van die volk daarby betrokke.
Bedreiging
Vierdens maak Afrikaners nie vir die voortbestaan van ander volke of minderhede ‘n bedreiging uit nie. Oorheersing, voogdyskap en voorskriftelikheid behoort tot die verlede; die wêreldneiging om geskille vreedsaam te besleg, geld ook in Suid-Afrika. Dié gesindhede sal egter nog in die praktyk bewys moet word, onder andere deur selfwerksaamheid op eie grond.
By die oorweging van swak en sterk punte in Afrikaners se mondering groei die gedagte dat beraad die aangewese weg is om die bestemming wat hulle in die oog het, te verwesenlik. Hulle is sterk genoeg om ook te kan gee en om nie net te aanvaar wat aangebied word nie. Magsvertoon is ook nie nodig nie aangesien alle partye van die Afrikaner se vermoëns in die opsig op hoogte van sake is. Beraad word toenemend die weg wat tot die uiterste toe beproef moet word. Dit bied ‘n geleentheid wat benut behoort te word om die staatstrewe vredevol te verwesenlik.
Verloop van die beraad
Een of ander instelling moet ‘n grondwet ontwerp, die kiesers se goedkeuring daarvoor kry en dit in werking stel. Of die huidige owerheid, of ‘n tussentydse owerheid, of ‘n grondwetgewende vergadering dit doen, gaan aan die uiteindelike uitslag min verskil maak. Swart mense het stellig dieselfde beklemminge as die Afrikaners wat ‘n staat wil hê. Om vir die een gerusstelling te gee en vir die ander nie, sal die beraad verongeluk. Die Veelpartyberaad wat beoog word en tot ‘n grondwetgewende instelling mag groei, sal hierop moet let.
Dit word algemeen aanvaar dat politieke partye of bewegings aan die Veelpartyberaad en die ontwerp van ‘n grondwet sal deelneem. Kundige persone, verenigings of belange sal egter die geleentheid moet kry om voorleggings te maak en skriftelik of mondelings getuienis te lewer. Die Presidentsraad en die Suid-Afrikaanse Regskommissie het reeds aan dié gebruik beslag gegee. Volkstaat-, boere-, kultuur, sake- en vakverenigings sal uit eie beweging vertoë kan rig, of hulle kan gevra word om op hulle onderskeie gebiede getuienis te lewer. Die doel sal sekerlik wees om groter eerder as kleiner deelname te verkry.
Afrikanerbetrokkenheid
Wat Afrikanerbetrokkenheid betref, bestaan daar die volgende vooruitsigte:
(1) Al die politieke partye wat aan die beraad deelneem, sal ook namens Afrikaners wil praat en stellig uiteenlopende voorstelle bepleit, byvoorbeeld:
(a) die verdeling van die RSA in ‘n aantal state waarin bepaalde volke die politieke mag beheers en een waarvan deur Afrikaners of blankes oorheers moet wees;
(b) die behoud van een onverdeelde RSA waarin waarborge vir Afrikanervoortbestaan verskaf word;
(c) ‘n federasie van Suid-Afrikaanse state in elk waarvan Afrikaners, naas ander etniese minderhede, in die owerheid verteenwoordig moet wees; en
(d) ‘n eenheidstaat met ‘n handves van menseregte sonder minderheidswaarborge.
(2) Partye wat die voorgaande ontwerpe ook in die naam van Afrikaners bepleit, sal waarskynlik van raad bedien word deur afvaardigings wat uit Afrikaners bestaan of Afrikaners insluit.
(3) Een of meer verenigings of afvaardigings sal, sonder dat hulle lede van die grondwetgewende vergadering uitmaak, vertoë rig en dit mondelings toelig, waarin ‘n Afrikanerstaat bepleit word, ongeag of daar partye is wat dit steun of nie.
Volkstaatbeywering
Ondersteuners van ‘n Afrikanerstaat gaan nie met ‘n lang sakelys na die beraad nie. Hulle aanvaar ook nie noodwendig die betekenis wat aan die begrip onderhandeling gegee word nie en nog minder die bestemming wat allerweë daarvan verwag word. Onderhandeling is gesprekvoering om tot ‘n ooreenkoms te probeer kom. Om nou al te bepaal dat ‘n eenheidstaat of federasie met ‘n handves van menseregte en Engels as voertaal die antwoord gaan wees, bots met die wese van onderhandeling.
Daar sal Afrikaners wees wat pleit dat ‘n nuwe bedeling soepel genoeg moet wees om dit te kan verander indien die behoefte daaraan ontstaan. ‘n Oorlog, staatsgreep of ontwrigting om die staat lam te lê voordat hersiening kan plaasvind, behoort nie nodig te wees nie. Volke wat nou wil afstig moet dit kan doen. Indien hulle later van plan verander en op ‘n federale of ander grondslag met die RSA wil herenig, moet daar neergelegde riglyne bestaan waarvolgens hulle dit kan doen. Konfederale samewerking moet ook moontlik wees.
In beginsel aanvaar
Afrikaners wat ‘n staat verlang, is in hoofsaak oor net een aangeleentheid by die beraad betrokke, naamlik om hulle staat in beginsel aanvaar te kry. Daarna sal hulle aan gesprek oor tussenstaatlike samewerking wil deelneem, veral ten aansien van skaars hulpbronne en geskiedkundige plekke. In die lig van dié omlynde opdrag is deelname aan die ontwerp van ‘n RSA-grondwet nie gepas nie. Dit sou op inmenging in ander state se eie sake neerkom, of op ‘n aanduiding dat die “nuwe Suid-Afrika” tog nog oorweeg word. Afrikaners wat ‘n staat wil oprig, sal in die saal waar hulle eie grondwet ontwerp word, bedrywig wil wees.
Indien die soepele benadering nie gevolg word nie en Afrikaners voor die voet verplig word om ‘n eenheidstaat te aanvaar, kan ooreenkoms nie verwag word nie.
Afskeiding word nie as laaste uitweg, wanneer verhoudinge sodanig versleg het dat dit al is wat oorbly, verlang nie. Vredevolle afskeiding, na die voorbeeld van Noorweë en Swede en Denemarke en Ysland, word verlang.
Dié deel van die beraad wat op ‘n Afrikanerstaat betrekking het, kan slaag indien Afrikaners eise stel wat bereikbaar is, wat aan die volkereg voldoen en buitelandse erkenning kan verkry. Die gevoelige sake is grond, ander hulpbronne, burgerskap en kiesreg. Inskiklikheid oor hierdie sake moet uiteraard met ooreenstemmende gesindhede by die RSA-partye gepaard gaan.