Wendell Berry skryf in een van twee bundels opstelle wat in 2010 verskyn het, What Matters? oor ekonomiese vraagstukke en sy “agrariese” benadering daartoe. Wat volg, is ‘n vertaling deur Carel Boshoff van die opstel Money versus Goods soos dit verskyn het in Berry, W. 2019. Essays 1993-2017. The Library of America. p425ev.
Negende aflewering (9/9)
Daar is geen goeie rede, ekonomies of andersins, om te wens vir die “herstel” en voortsetting van die ekonomie wat ons gehad het nie. Daar is in werklikheid geen rede om te verwag dat dit sal herstel en voortgaan nie, aangesien dit te veel op fantasie berus het. ‘n Ekonomie kan nie vir altyd op beperkte hulpbronne “groei” nie. Kos en energie kan nie vir altyd goedkoop bly nie. Ons kan nie vir altyd voortgaan om belastingafhanklik te wees, maar onwillig wees om belasting te betaal nie. Misleiding en die toekoms kan nie vir altyd as waarborg dien nie. ‘n Onbetroubare ekonomie wat op vertroue berus kan mense se trou nie vir altyd op sleeptou neem nie. Ou steunpunte is weggeskop. Die dae van veilige waansin is verby. Ons vlieënde ekonomie is in ‘n vryval en ons moet dit afbestuur. Die probleem is dat ons almal daaronder is, met die gevolg dat ons dit met die minste moontlike lyding vir land en mense moet afbestuur. Ek weet nie hoe dit gedoen moet word nie, en ek is geneig om te twyfel of enigiemand weet. Mens kan nie baie seker wees van hoe om iets af te bestuur as jy nie geweet het wat jy doen toe jy dit opbestuur het nie.
Wat ek wel weet, is dat die menslike ekonomie in die geheel afhanklik is, soos dit altyd was, van natuur en die grond-ekonomie. Die ekonomie van ons grond is ons skakel met die natuur. Hoewel die ekonomiese mislukking nog geen amptelike aandag op die grond-ekonomie en sy probleme gevestig het nie, moet daardie probleme op die regte manier opgelos word as ons ons ander ekonomiese probleme reg wil oplos. Alvorens ons egte oplossings vir die probleme van krediet en besteding kan vind, moet ons begin om ons grond met die praktiese en doeltreffende liefde, wat alleen die naam patriotisme verdien, te behandel. Van nou af sal, as ons hier wil aanbly, ons gebruik van ons grond deur die beginsels van rentmeesterskap en spaarsamigheid bepaal moet word. Ons kan net een onmisbare maatstaf aanlê, en dit kan nie geldelike wins of industriële doeltreffendheid wees nie, maar ekologiese gesondheid. Aan die hand daarvan gaan ek waag om die volgende sakelys vir verandering, wat sal neerkom op ‘n nuwe, langtermyn landboubeleid, voor te stel:
- Daar moet geen verdere prysondersteuning of subsidies sonder produksiebeheer wees nie. Dit is omdat oorskot-produksie ‘n ekonomiese wapen is wat maatskappy toelaat om boere se inkomste te verminder terwyl hulle hulle eie inkomste verhoog.
- Keer terug na ‘n 100% gelykheid tussen landbou en industrie. Gelyke (regverdige) pryse vir landbouprodukte sal voorgestelde betalings vir “ekologiese dienste” onnodig maak, terwyl dit ander probleme ook sal oplos.
- Dwing anti-trust en anti-monopolie wette af. Moet geen korporasie groot, ryk of magtig genoeg laat word om die nasie gyselaar te hou nie. Dit is by uitstek van toepassing op landboubesigheid en korporasies wat voedsel verwerk.
- Help jong boere om plase te besit. In ‘n gesonde ekonomie sou sulke hulp onnodig wees, maar die onttrekking aan boerdery deur jongmense wat op plase grootgeword het, is nou ‘n landboukrisis van die ergste graad. En ons het nie genoeg jongmense wat op plase grootword nie. Ander moet ingetrek word. Hier is van die maatreëls wat ons behoort te oorweeg. Ons behoort, volgens streekstoestande, toepaslike en redelike groottebeperkings op familie-skaal plase en veeplase te plaas. Belasting moet swaar wees op eenhede wat bo daardie beperkings gehou word. Plase binne daardie perke moet volgens hulle landbouwaarde belas word. Daar moet boedelbelasting op groot plase wees, maar geen boedelbelasting op klein plase nie. Rentevrye lenings moet beskikbaar wees vir jong boere en veeboere wat binne die perke grond koop. (Hierdie voorstelle bring baie probleme na vore, en ek huiwer om dit te maak. Dit is moeilik om toepaslike groottebeperkings vas te pen, soos ons van die opstalwette geleer het. Boonop sou sekere van hierdie maatreëls nie nodig gewees het as grondpryse nie bo landbouwaarde opgeblaas is nie, en as voedselpryse nie onder hulle werklike ekonomiese en ekologiese koste afgeblaas is nie.)
- Fasseer die gebruik van giftige chemikalieë, wat strydig is met die beginsels van goeie landbou en wat riviere en osaeane besoedel, uit.
- Fasseer biobrandstof so gou moontlik uit. Ons moet ‘n streng onderskeid maak tussen vuur en voedsel, rondry en eet. Ons kan nie vir altyd die “hongeres voed” en motorvoertuie voed van dieselfde grond af, met dieselfde grondvernietigende tegnologie en metodes, nie.
- Fasseer meerjarige plante in – vir weiding, wintervoer en graanverbouing – om eenjaargewasse wat jaarlikse grondversteurings of jaarlikse toediening van “geen-bewerking” chemikalieë veroorsaak, te vervang.
- Stel hoë standaarde vir watergehalte in en dwing dit af.
- Hoë watergehaltestandaarde (wat afgedwing word) en ‘n program om eenjaargewasse met meerjaargewasse te vervang, sal ‘n sterk tendens ten gunste van die afskaffing van dierefabrieke tot gevolg hê. Maar laat ons reguit wees oor hierdie kwessie. Ons moet so gou as wat ons kan ontslae raak van daardie gruwels, van dierefabrieke. Kry die plaasdiere, varke en hoenders inkluis, terug op die gras. Plaas die diere waar hulle hoort, en hulle mis waar dit hoort.
- Diereproduksie behoort terug te keer na die skaal van plaaslike plekke en gemeenskappe. Doen weg met subsidies, aansporingsmaatreëls en wetgewing wat gunstig is vir reuse-skaal in melk-, vleis- en eierproduksie.
- Moedig die ontwikkeling van plaaslike voedsel-ekonomieë, wat landboukundig en ekonomies meer sin maak as ons huidige oor-gespesialiseerde, oor-gekonsentreerde langafstand voedsel-ekonomie, aan. Plaaslike voedsel-ekonomieë is ook uit die oogpunt van openbare gesondheid, “landsveiligheid” en die energie-ekonomie meer wenslik. Voorsien ekonomiese aansporingsmaatreëls en ondersteunende wetgewing vir die vestiging van plaaslike, kleinskaalse voedselverwerkingsaanlegte, inmaakfabrieke, heeljaar boeremarkte, ensovoorts.
- Vir plaaslike ekonomieë om eg te wees, vereis dit plaaslike aanpassing by huishoudelike plant- en dierespesies en -variëteite. Die alomvattende evolusionêre vereiste van plaaslike aanpassing is sonder verantwoording met betrekking tot mense tersyde gestel. Maar hierdie tersydestelling is moontlik rampspoedig. Ons het maniere van landboubeoefening nodig wat bewarend aangepas is by die ekologiese mosaïek en selfs by individuele plase en veeplase. Ter wille van plaaslike aanpassing is dit nodig dat ons ‘n einde maak aan die Verenigde State se Departement Landbou se voorgestelde Nasionale Diere Identifisering Stelsel, aan die patentering van spesies en aan genetiese ingenieurswese – wat alles gemik is op ‘n algemene landboukundige eenvormigheid en korporatiewe beheer oor landbou en voedsel. Sentrale beplanning en sy onafwendbare doel van eenvormigheid kan nie in landbou werk nie as gevolg van die vereiste van plaaslike aanpassing en die gevolglike behoefte aan plaaslike inligting. Sentrale beplanning en eenvormigheid is net doeltreffend vir die vermindering van genetiese en biologiese diversiteit en die vernietiging van kleinskaalse produsente.
- Help en bemoedig kleinskaalse bosbou en die eienaars van klein boslande. Sien toe dat heersende markpryse vir saagstompe en ander bosbouprodukte orals maklik beskikbaar is. Belas regverdig.
- Bestudeer en bied volhoubare bosbou aan deur gebruik te maak van voorbeelde soos die Minominee Forest in Wisconsin en die Pioneer Forest in Missouri.
- Bevorder die goeie gebruik van en sorg vir boslande op plase as bates wat verweef is met die ekonomie van daardie plase.
- Moedig die ontwikkeling, in bosryke gebiede, van plaaslike bosbou-ekonomieë aan, en voorsien ekonomiese aansporingsmaatreëls vir plaaslike verwerking en waardetoevoeging, soos vir voedsel.
Sal sulke maatreëls die getal mense wat in die grond-ekonomie werk, wesenlik vermeerder? Natuurlik sal dit. Dit sal, vir ‘n verandering, ‘n egte weergawe van “werkskepping” wees. Dit sal ons ekonomie, ons mense en ons land almal terselfdertyd help. En dit is die ware toets vir werkbaarheid, want dit maak heeltemaal ekonomiese sin.
Lees deel I
Lees deel II
Lees deel III
Lees deel IV
Lees deel V
Lees deel VI
Lees deel VII