Carel Boshoff: Christen, Nasionalis, Konserwatief; Progressief, Rewolusionêr – hoe kan mens dit alles sê?
- Inleiding
Een mens kan nie alles wees nie. Daarom lyk die opskrif nie baie geloofwaardig nie. Tog sal die oplettende leser sien dat die woord “liberaal” nie voorkom nie en dit is belangrik.
Daar is inderdaad ’n aspek van my pa se lewe en denke wat aan elkeen van die beskrywings voldoen. Dit vorm die struktuur van hierdie lesing, hoewel ek eers iets oor gedenklesings gaan sê.
’n Gedenklesing is iets anders as ’n huldigingslesing. Met ’n huldigingslesing is die persoon in die middel daarvan. In ’n gedenklesing is die tradisie waarvan die persoon ’n sentrale rolspeler – of selfs grondlegger – is, die middelpunt.
Terwyl ons hier met ’n denktradisie werk, onthou ons dat hierdie tradisie sonder toepaslike aksie nie meer sou bestaan het nie. Selfs die aksie, as dit nie deur ander s’n vermenigvuldig is nie, sou op niks uitgeloop het. Hopelik sal die effens duistere stelling geleidelik ophelder.
Een rede om dit te noem, is dat Carel Boshoff se nalatenskap sonder Anna Boshoff ’n voetnota in ’n ander verhaal sou wees – of dalk niks nie. Om te sê hy was die denker en sy die doener, laat nie aan een van die twee reg geskied nie.
Hulle huwelik was saam dink en doen. Hy sou geen gedagte die wêreld instuur sonder haar kritiek nie. Sy denke was meer veelkantig, haar uitvoering meer doeltreffend. Tog sou hy nie sonder haar dink nie en sy nie sonder hom doen nie.
“A match made in heaven,” want geen mens sou dink dis ’n goeie idee nie, het ek meer as een keer gedink. In die nalatenskap behoort die een met die ander onthou te word.
2. Gedenklesings en konserwatiewe Afrikaners
Die veronderstelling van ’n gedenklesing is ’n denktradisie, waarin nuwe hoeke, gedagtes en insigte nog na vore kan kom. Tans is die meeste gedenklesings in Suid-Afrika deel van óf die Marxistiese (Struggle -) tradisie, óf die liberale tradisie. Beide hierdie tradisies is sterk intellektueel gedrewe, ongeag ander dryfkragte.
Ek moes al meer as een keer die uitdrukking aanhoor: “As a principled liberal…” – iets wat vir my vreemd voorgekom het. Amper soos ’n “beskeie Amerikaner” of ’n “preutse prostituut”. Natuurlik was ek verkeerd. Liberale denkers en politici hou sekere beginsels noukeurig in stand.
Konserwatiewe Afrikaners is weer onverwags pragmaties. Die finale woord is dikwels: “Dit werk vir my,” of: “Dit werk nie vir my nie.” Eintlik is dit nie snaaks nie. ’n Grondtrek van konserwatiewe denke is om iets te aanvaar as die bruikbaarheid daarvan reeds bewys is.
Die sosiale -en geesteswetenskappe daarenteen, verskuif graag grense. Anders as by meer praktiese dissiplines, is “konserwatief” nie ’n gangbare kompliment nie.
Nietemin, die aandag is vanaand op die intellektuele erfenis van iemand wat ’n wye verskeidenheid denkraamwerke kon insien en by sy denke inlyf.
3. Die wêreld, Afrikaners en Suid-Afrika na 1945
1945 was Carel Boshoff se matriekjaar. Dit was ook andersins ’n deurslaggewende jaar. Die Tweede Wêreldoorlog is pas gewen, onder die vaandel van universele gelykheid. Westerse moondhede kon/wou/sou nie meer lank aan hulle koloniale ryke vasklou nie.
Dit het die vanselfsprekende reg van ’n selfstandige wit volk in Afrika wesenlik uitgedaag. Die Goliat teen wie Afrikanernasionalisme te staan gekom het, was nie meer die Britse ryk met sy kulturele oormag nie, dit was die getalle van Afrika – veral soos hulle verstedelik.
Aan die een kant het ’n republiek voorstelbaar en selfs binne sestien jaar werklikheid geword. Aan die ander kant het opkomende Afrika-nasionalisme uit dieselfde bron geput. Afrikanernasionalisme het Suid-Afrikanisme geword, maar tot uitsluiting van swart mense.
Die uitkoms was uitvoerbaar, maar ondenkbaar: Die verkleining van grondgebied tot dit wat Afrikaners self kon bewerk en getalsgewys oorheers. Daarvoor was ons identiteit té kolonialisties. Ons wou uitbrei en kon onsself nie sonder swart arbeid voorstel nie.
Suid-Afrika moes Suidwes-Afrika en Rhodesië nog inlyf. Ons was goeie soldate én goeie base en kon in Afrika opereer. Dit was ’n belangrike tema in na-oorlogse nasionalisme. Die teenoorgestelde het ook aftrek gekry – “Weg met blanke oorheersing in Afrika!”
Tot ongeveer 1960 kon bykans elke Afrikaner sy skadukolletjie onder die boom van nasionalisme vind – selfs die Sappe, want die Natte het ook Engelse begin verwelkom en anti-Engelse sentiment was altyd vir hulle ’n probleem. Daarna het dit stadig verander.
’n Klein maar groeiende groepie afwykendes het die onvolhoubaarheid van blanke minderheidsregering ingesien. Dr. Beyers Naudé is die toonbeeld van ’n ware nasionalis, wat toenemend swart sienings sy eie gemaak en geleidelik uit die hoofstroom beweeg het.
Die tuislandbeleid wou ’n dreigende botsing tussen Afrikaner- en Afrika-nasionalisme ontlont. Swart volke wat hulle eie taal, identiteit, tradisionele instellings en grondgebied aangryp om te moderniseer, baie soos Afrikaners ’n geslag tevore, kon die botsing keer.
Sonder om die afdraaipad en al sy afdraaitjies te vat: Afrikaners het die beleid aangegryp, maar krom en skeef. Die ekonomiese hartland van Suid-Afrika sou blank Suid-Afrika bly, maar steeds met ’n oorwegend swart werksmag – net stemreg is “uitgekontrakteer”.
Uiteindelik het die Republiek van Suid-Afrika as Afrikanerstaat sy laaste asem in 1994 uitgeblaas. Afrikanerskap leef voort, maar grootliks as individue wat hulle kultuur in die private sfeer beoefen. Oorlewing as volk is nie vanselfsprekend nie.
Dit is in hierdie periode, 1945 tot tans, wat Carel Boshoff as Christen, nasionalis, konserwatief, progressief en rewolusionêr bedink word.
4. Christen
My ouers was albei diep gelowig, maar verskillend. Ek dink my ma was meer die soort gelowige soos Jakob, wat die hele nag met God sou stoei sonder om dit gewonne te gee. My pa was net een keer sigbaar opstandig en dit was na my ma se dood.
Carel Boshoff se ouerhuis, so lei ek af, was sowel onder piëtistiese invloed, as in die gereformeerde leer gewortel. Met vyf jaar op skool het sý pa die Bybel en Drie Formuliere goed geken en die huis het Psalms, Gesange en ander geestelike liedere gesing.
Dat twee van sy seuns predikante geword het en twee dogters met predikante getroud is, moes vir oupa Willie Boshoff stof tot vrome dankbaarheid gewees het.
Koos Makwela, voor wie my pa grootgeword het, het plegtig aan my verklaar dat die oubaas (my oupa) nooit gevloek het of aan ’n swart man (hy het ’n ander woord gebruik) geslaan het nie. Dit was klaarblyklik uitsonderlik.
Carel Boshoff se bediening was die gevolg van ’n gelofte toe hy 17 was en sy pa ernstig siek was. Hy het nooit aan die krag van gebed getwyfel nie. My beswaar dat dit nie daarmee rym dat God alles weet nie, het hy met die volgende vraag beantwoord:
“As God almagtig is, kan Hy ’n klip maak wat so groot is dat Hy hom self nie kan optel nie?” Jy kan God nie aan menslike logika onderwerp nie, het hy die lewensles oorgedra.
As prediker was hy vurig. Hy het aan bekering én uitverkiesing geglo. Na sy aftrede het hy dalk na die rustige atmosfeer van die klas verlang, want toe was sy preke rustig en ontledend – soms ingewikkeld, maar altyd vars.
Sy siening van die kerk was dikwels verrassend. Die kerke wat deur sendingwerk tot stand kom, moet selfstandige kerke wees, gewortel in hulle eie kultuur. Nogtans is die kerk liggaam van Christus en kan lidmaatskap slegs op belydenisgrondslag geweier word.
Hy kon die Swart Teologie begryp en begin sy boek daaroor met ’n opskrif: “Swart Teologie kom van Marx”. Die eerste sin antwoord: “Dit is feitelik verkeerd. Swart Teologie kom uit die Bybel.”
Hy was nie generies Christelik nie. Hy was gereformeerd; Calvinisties. Tog was hy krities teenoor die neo-Calvinisme – mense wat meer Calvinisties as Calvyn probeer wees, het hy die begrip aan my verduidelik.
Hy het graag vertel dat die Skotse hervormer, John Knox, Calvyn in Genève gaan ontmoet het. Groot was sy verbasing toe hy op ’n Sondag aankom en hoor dat Calvyn met sy seilboot op die meer ontspan het.
Ek was volwasse toe ek hom as godsdienswetenskaplike leer ken het. Sy fenomenologiese uiteensetting was ook verrassend, vir iemand wat gewoond was om hom in prediking, huisgodsdiens of Bybelstudie te hoor.
Natuurlik is ek subjektief en kan die stelling as oordrewe bewondering gesien word, maar as Christus in ’n mens sigbaar kan wees, was dit in hierdie geval so.
5. Nasionalis
Die Boshoffs van Waterberg is nasionalisties geteel. Die Hugenote, Groot Trek, oorloë teen swart stamme, die Tweede Vryheidsoorlog, krygsgevangeneskap, konsentrasiekampe, heropbou, Rebellie, Nasionale Party, depressie, Ossewa Brandwag, hulle was deel van alles.
Goed, nie van die Hugenote nie, maar ons het lank so gedink.
Ds. Carel Boshoff was ’n ondersteuner en lid van die NP-regering wat tydens sy studiejare in 1948 aan bewind gekom het. Hy was nie aktief in die partypolitiek nie, maar wel in die georganiseerde kultuurlewe.
Die eerste keer dat hy ’n nasionale pos beklee, is toe hy in 1972 voorsitter van SABRA word. Dit was ’n wetenskaplike instelling wat afsonderlike swart vryhede as ’n lewensvatbare alternatief vir sowel blanke minderheid- as swart meerderheidsregering bevorder het.
Sonder te veel opvallende bakens op die pad, moes sy bydraes tot die algemene gesprek die oog getref het. Hy word in 1980 voorsitter van die Afrikaner Broederbond en in 1981 hoofleier van die Voortrekkers.
As hy later op sy lewe terugkyk, beskou hy hierdie twee organisasies albei as uiters belangrik. Die AB in die bemagtiging van Afrikaners en die Voortrekkers in die kweek van ’n nuwe geslag Afrikaners.
In 1982 vind ’n politieke skeuring plaas, toe dr. Andries Treurnicht van die NP wegbreek. Daar is ’n poging om die nuwe Konserwatiewe Party te isoleer, soos in 1969 met die HNP van dr. Albert Hertzog gemaak is, deur alle kultuurorganisasies in gelid met die NP te hou.
Vir Boshoff skep dit ’n probleem. Die outonome kultuurorganisasie moet met die politieke leierskap in kritiese gesprek staan. Dit is nie noodwendig teenstand nie, maar ook nie noodwendig steun nie. Dit lei tot die beskuldiging dat hy politiek by kultuur insleep.
Vir Boshoff is georganiseerde kultuur ’n politieke aktiwiteit. Kultuur omvat politiek en politiek omvat veel meer as partypolitiek. Wesenlik tot ’n nasionale beweging is om die vervlegtheid na waarde te skat. Die beskuldiging was dus nie onwaar nie, dit was ongeldig.
In 1983 bedank hy onder groot druk as voorsitter van die AB. Die aandrang dat dit die AB se partypolitieke neutraliteit sou beskerm, is byna onmiddellik verkeerd bewys. Voortaan sou die AB die opeenvolgende Botha-De Klerk-agendas dien en selfs daarin leiding neem.
Met die Voortrekkers was hy slimmer. Die beskuldigings dat hy politiek by die Voortrekkers insleep, het soos water van ’n eend se rug afgerol. In 1985 was daar ’n verbete aanslag op sy leierskap, maar hy is herkies. Ek dink sy persoonlikheid het die deurslag gegee.
In 1984 stig hy en medewerkers die Afrikaner Volkswag, ’n gesinsorganisasie. Dit bou op na die Groot Trek-viering van 1988, onder die tema: Op trek na ons eie. Hierdie viering bereik ’n hoogtepunt toe honderdduisend Afrikaners by Donkerhoek saamtrek.
Vroeg in 1989 maak hy ’n kaart bekend, wat aandui waar Afrikanervryheid volgens hom bereik kon word. Dit is rofweg die huidige Noord-Kaap, met suidelike dele van die Vrystaat en die suide van die destydse SWA.
Die voorstel doen hy as Afrikanernasionalis. Ons bestaan in Afrika kan nie op velkleur staan nie, maar op ons inheemse identiteit. Verder het ’n volk ’n land nodig. In jou land moet jy die meerderheid wees. En as iemand vir jou vryheid moet trek, is dit jy.
Dié denkrigting loop in 1991 op die stigting van Orania uit. Ook binne Orania is sy grootste meningsverskil met mense wat van Orania iets minder as ’n nasionale projek wil maak – ’n oulike dorpie; of ’n uitsoekgemeenskap; of ’n wegkruipplek vir rassisme.
Dit was Carel Boshoff as nasionalis.
6. Konserwatief
Oor die konserwatiewe Carel Boshoff is daar veel minder te sê. Ek dink naastenby alle Afrikaners wat nie spesifiek die teenoorgestelde besluit nie, is maar konserwatief. Dit kan mens gewoonlik sien as die Engelse of Amerikaners verkiesing hou.
As jong predikant het hy nie geglo dat sy vrou moes werk nie – en aan die einde van sy lewe homself daaroor kwalik geneem. Hy wou ook nie die pogings van Jamie Uys om kapitaal vir ’n plaaslike filmbedryf te monster in die Belfast-omgewing (sy eerste gemeente) ondersteun nie, omdat hy iets soos die verderflike invloed van Hollywood gevrees het. Ook daaroor het hy aan die einde van sy lewe wrang geglimlag.
Ek vermoed hy het nie aan geboortebeperking geglo nie, want daar is sewe van ons. Oor alles het ek hom aan die einde van sy lewe uitgevra, maar besluit dat ek sonder dié kennis kan klaarkom.
Om gesinsman te wees, was deel van sy konserwatiewe aard, al was dit dalk uitsonderlik vir konserwatiewe mans van sy tyd. Hy was inderdaad baie uithuisig en het aanvaar dat sy vrou die huishoudelike fort sou hou. Tog het hy graag met die kinders gespeel, kos gemaak en dikwels skottelgoed gewas.
As predikant was hy nie eksperimenteel met die liturgie nie en het op die boodskap gefokus. In sy laaste bediening in Orania het hy wel goed gedoen soos Nagmaal met Paasfees in die Oewerpark, of hemelvaart op die koppie.
In sy akademiese werk was sekularisasie ’n belangrike tema. As konserwatiewe gelowige het hy aanvaar dat dit deel van die tydsgees is, maar nie dat die kerk haarself daaraan moet uitlewer nie.
Omgewingsbewaring was vir hom ’n belangrike saak, toe dit nog konserwatief was. Hy het ’n sleutelrol gespeel om die Morelataspruit in die ooste van Pretoria van die lot van stedelike riviere en spruite te help red: Omskepping in ’n “bestuurbare” betonkanaal”.
Soortgelyk was die poging om die westelike fasade van Kerkplein in Pretoria te red. Die vreugde toe mnr. Willem Cruywagen vir mnr. Sybrand van Niekerk as administrateur van Transvaal opgevolg het, was groot. Hulle het aan twee kante van hierdie debat gestaan.
In beide gevalle was die algemene siening dat dit darem regtig bietjie eng is om alles te wil hou soos dit is. Vooruitgang is onafwendbaar en uitgediende riviere, oewers en geboue moet plek maak vir nuwes. My pa se instink was konserwatief, gesteun deur my ma wat wetenskaplik aangedui het dat bewaring die nuwe ding is nie die oue nie!
’n Sterk konserwatiewe trek hou met nasionalisme verband. Carel Boshoff was nie oortuig dat die Afrikanervolk se voortbestaan vanselfsprekend is nie. Die onderskeie oormagte van die Anglo-Amerikaanse wêreld en Afrika het hom aan ’n inkpotjie in die Vaaldam laat dink.
As jy die inkpot omkeer, sal dit vir ’n wyle sterk sigbaar wees, maar met tyd dowwer word en verdwyn. Daarom is dit die plig van Afrikaners om na ons eie identiteit om te sien en dit te bewaar. “Elke geslag neem verantwoordelikheid vir sy eie tyd,” was vir hom ’n opdrag.
Hierdie noodsaak tot bewaring van eie identiteit het herhaaldelik teen ander oortuigings te staan gekom. Vir hom was dit nie werklikhede teenoor mekaar nie, maar langs mekaar.
7. Progressief
Konserwatief en Progressief het een ding in gemeen: Die inhoud daarvan is elke geslag iets anders. Mens kan dit oorvereenvoudig deur te sê konserwatiewes hou van goed omdat dit oud is en progressiewes omdat dit nuut is. Mens herken “conserve” en “progress” maklik.
In die politieke konteks van Suid-Afrika is die twee terme dikwels met benaderings ten opsigte van rasseverhoudings gebring. Daarvolgens is ’n konserwatiewe mens meer geneig tot rasseskeiding en rassistiese denke; en progressiewes die teenoorgestelde.
Nog ’n grondtrek is die mate van simpatie met swakkes en onderdruktes. Konserwatiewes word gereken as mense wat dit maar as deel van die skeppingsorde sien, terwyl progressiewes daarin ’n oproep tot aksie sien. Beide is vir die Calvinis denkbaar.
Laat ek hier stel: My pa se instink was konserwatief, maar my ma s’n progressief. Sy het van ’n gedagte gehou as dit nuut is, omdat dit nuut is. ’n Nuwe sendingstasie, ’n nuwe skool, ’n nuwe land, dit alles was vir haar onweerstaanbaar.
Maar mense is nie perfek samehangende wesens nie. My ma het dit gehaat om te trek. Selfs toerisme was vir haar oppervlakkig. Jy moet vestig en ’n plek deurgrond. Vir my pa, aan die ander kant, was verhuising pure opwinding.
Laat ek nou maar ’n brief gee: As hulle lewenskrag nog twintig jaar kon hou, was hulle nou inwoners van ’n volgende volkstaatgroeipunt, geografies en inhoudelik ver van Orania.
In die eerste twaalf jaar van hulle huwelik het hulle in Belfast, meer as een sendingstasie in Lebowa, Mayfair-Wes, Florida en Pretoria gewoon. Die plek in Pretoria het my ma “Ons s’n” gedoop, want uiteindelik het sy die gevoel gekry dat hulle ’n rukkie sou aanbly.
Om die veilige bediening van die Belfast-gemeente in Oos-Transvaal te verruil vir alle Noord-Sothosprekendes noord van Pretoria met standplaas halfpad tussen Tzaneen en Hoedspruit, was progressief. Om dit ’n paar jaar later vir Soweto te ruil, meer so.
Cry the beloved country van Alan Paton is ’n baken vir Suid-Afrikaanse progressiewes. Dit is selfs deur die ou regering verbied. Ek het dié verhaal van ’n tradisionele swart man wat in Johannesburg ’n lewe kom maak, in 1989 gelees. Dit is in 1947 uitgegee.
Groot was my verstomming om daarin ’n spieëlbeeld te vind van alles wat my ouers van Soweto in die vroeë 1960’s vertel het. Hulle het op die probleme gereageer met bewaarskole, jeugkampe, ontspanningsgeriewe en alles hulle kon dink en doen.
Carel Boshoff het aan die eerste vergaderings van die Christelike Instituut van dr. Beyers Naudé deelgeneem. Hy het meegeleef met die probleme wat swart mense aangemeld het, maar kon hom nie met die politieke rigting vereenselwig nie. Hy het dus uitgeskakel.
Drie mededingende denkbeelde moes in samehang gebring word: Die ongelyke verhouding tussen wit en swart Suid-Afrikaners sou op rewolusie uitloop, minderheidsregering kon nie standhou nie; en Afrikaners het ’n eie land nodig om oor die langtermyn te oorleef.
Ek het eenkeer die gewone argumente teenoor hom gebruik, van sommige boere wat so goed vir “hulle swartes” sorg. Sy antwoord was dat hulle vir hulle perde ook goed sorg, maar dit bly nog steeds net perde.
Toe noem hy pro-slawerny argumente in die VSA: “Eintlik verkies slawe dit so; eintlik is slaweopstande net die werk van opswepers wat nie die slawe se beste belange voor oë hou nie.” Sulke pogings om onderdrukking te rasionaliseer bly nie staan nie, was sy antwoord.
Polities glo ek nie het Carel Boshoff ooit tuisgevoel nie. Die een klomp is so bekommerd oor ander mense dat hulle vergeet hulle eie volk het hulle nodig; die ander klomp kyk die onvolhoubaarheid van die bedeling wat hulle bevoordeel, heeltyd mis.
Voor 1994 het joernaliste hom soms die “Gewete van die regses” genoem. Die oorlewing van sy eie volk het die deurslag gegee. Daarom het hy KP gestem, al het hy gedink hulle plan was nie veel werd nie. Dit was beter as die NP wat gedink het ’n plan is nie nodig nie.
8. Rewolusionêr
Dalk kan mens sê ’n rewolusionêr is ’n haastige progressief, of ’n progressief is ’n geduldige rewolusionêr. Die punt is, soms het iemand ’n strewe of ’n visie wat die bekende sodanig omkrap, dat dit ’n 180 grade draai vereis. Dan is dit rewolusionêr.
Die beleid van volkseie arbeid, die grondslag van Orania, is in werklikheid rewolusionêr. Dit is ook die moeilikste element om aan mense te verduidelik en dalk die belangrikste rede dat Orania nog nie veel groter is nie.
Volkseie arbeid is gebiedend noodsaaklik. Die rede is kognitief eenvoudig: Jy kan net aanhou om oor jouself regeer as jy die meerderheid is. Jy kan net ’n meerderheid as jy ’n vreemde werksmag vermy. Tog begryp mense dit nie.
Die Suid-Afrikaanse samelewing is sedert die invoer van slawe op die arbeidsverdeling van geskoolde werk / toesig vir wittes en handearbeid vir die res, gegrond. Dié kleurslagboom is deur opeenvolgende regerings al digter gemaak – Nederlands, Engels of Afrikaner.
Eers slawe, toe Khoi en later swart mense is hieraan onderwerp. Voortrekkervestigings was nooit te ver van een of ander swart stamgebied nie, ter wille van arbeid. Ontginning van minerale en nywerheidsontwikkeling het hierdie verdeling tot ’n reuse skaal verhef.
Dit is die onwelvoeglike gesig van apartheid. Jy bou jou ekonomie op mense, maar weerhou politieke regte. Jy vestig hulle naby jou, maar met aparte geriewe en woonbuurte – behalwe bediendekamers. Jy werf hulle, maar beperk hulle verblyf met paswette.
Tot vandag toe is dit vir meeste Afrikaners onproblematies. As hulle magsverlies ontleed, gaan dit oor die optrede van leiers, die verloop van bepaalde militêre operasies, bepaalde oomblikke tydens onderhandelinge, sonder om die huisbediende of tuinier te oorweeg.
Om vir Afrikaners te vra om hiermee te breek, is vir vele om die grondslag van hulle identiteit te laat wankel. Wie dít moet prysgee, kan netsowel emigreer en iewers in die Eerste Wêreld tuiskom. Of elders in Afrika “waar hulle darem besef hulle het jou nodig”.
Daarom het die omskakeling van “apartheid” na “afsonderlike ontwikkeling” misluk. Afrikaners kon hierdie omwenteling nie maak nie. Onafhanklike swart state “binne ons grense” was erg genoeg, maar dit sou tog geen implikasies vir arbeid hê nie?
Dr. Nic Rhoodie skryf in 1968 ’n akademiese werk: Apartheid of Partnership. Hy beskryf openlik, maar in Akademikaans versteek, die “sosio-politieke implikasies van apartheid”. Wat hy eintlik sê, is dat ’n swart meerderheid in die “blanke” land tot swart regering sal lei.
Volgens my is die sterkste punt van Carel Boshoff se politieke bydrae die feit dat hy swart mense beter as ander Afrikaners begryp het. Daardie begrip het hy doelbewus ontwikkel. Sy aanvoeling vir sy eie mense, vir Afrikaners, het ons vryheidsdrang waarskynlik oorskat.
Vir hom was dit glashelder dat ’n volk wat die Groot Trek, die Tweede Vryheidsoorlog en sy eie atoombom kon aanpak, ook sy eie werk sou doen, as iemand aantoon dat vryheid dit vereis. Dit sou blyk dat ons volk liewer sal oorlog maak as om ons eie werk te doen.
’n Rewolusie is selde suksesvol in die oog van die rewolusionêr. Dit is omdat mense uiteraard konserwatief is – selfs die progressiewes en rewolusionêres self. Daarom verg ’n rewolusie dwang, of dit word ’n uitgerekte ewolusionêre proses. Soos Orania se groei.
9. Samevatting
Na ’n lewe van langer as tagtig jaar, was daar wydlopende waardering vir Carel Boshoff – selfs onder mense wat hom iewers in hulle loopbaan as óf verkeerd, óf gek gereken het. Samehang in sy denke en sy omvattende liefde en begrip het mense na hom aangetrek.
As daar ’n intellektuele tradisie rondom Carel Boshoff ontwikkel het, is die belangrikste kenmerke daarvan in die opskrifte van Christen, Nasionalis, Konserwatief, Progressief en Rewolusionêr saamgevat. Die eerste vier is oortuigings en benaderings.
Die vierde is ’n oproep tot aksie. As jy nie vir die aksie kans sien nie, kan jy sê dis nonsens, of jy kan voorgee om dit nie te begryp nie. Dit is wat die meeste Afrikaners, selfs die met groot waardering vir Carel Boshoff, met sy rewolusionêre arbeidsvereiste doen.
Sy sentrale vraag was altyd die Afrikaner se langtermynvoortbestaan. Die vraag is of geleidelike voldoening aan die arbeidsvereiste vinnig genoeg sal wees. Ook of Orania poog om ’n volkstuiste te wees of ’n uitsoekgemeenskap.
Hy het dikwels gesê Orania is ’n volkstaat, nie ’n sendingstasie nie. In ’n sendingstasie, het hy verduidelik, is jou verblyfreg altyd onderhewig aan die kerkraad se oordeel oor jou leer en lewe. In ’n volkstaat staan jou reg op jou identiteit as lid van die volk.
Hy het die epog van Westerse wêreldoorheersing gevind in die oorwinning van Karl Martel by Tours en gesê ons aanskou die einde daarvan. Sy vraag was of die Afrikaner daarmee sou verdwyn, of daarin kon voortleef.
Ons het steeds nie die antwoord nie. Dit sal daarin lê of die geleidelike ontwikkeling van ’n arbeidsbedeling wat Carel Boshoff met rewolusionêre haas wou sien gebeur, betyds ’n omvang gaan aanneem wat ons voortbestaan in Afrika moontlik maak.
Wynand Johannes Boshoff is in 1970 in Pretoria gebore waar hy matrikuleer aan die Hoërskool Silverton en ‘n BA-graad met Afrikaanse en Geskiedenis verwerf aan die Universiteit van Pretoria.
In 1993 verhuis hy na Orania waar hy eers as arbeider in ‘n kombuiskasfabriek werk en daarna as handlanger op ‘n melkplaas. Hy boer later self met tafeldruiwe, spanspekke en op ‘n mikroskaal met melkkoeie. Hy het deurlopend ‘n paar uur per week by Volkskool Orania gewerk.
In 2001 tree hy voltyds by Volkskool Orania in diens. In daardie tyd (2004) voltooi hy ‘n Magister in Volhoubare Landbou (MVL) – ‘n multi-dissiplinêre landbougraad, op die lees van ‘n MBA geskoei – aan die Universiteit van die Vrystaat.
Tydens diens aan Volkskool Orania begin hy met ‘n PhD in Opvoedkunde – weer by UP – en voltooi dit in 2011.
Sedert 2009 neem hy onbetaalde verlof om die studie af te handel. Hy bemark daarna ‘n biologiese landbouproduk, ‘n elektriese brandyster vir beeste, doen vryskutnavorsing vir Solidariteit en die FAK en dien as navorsingsassistent in ‘n D Com.-studie.
In 2015 word hy Noord-Kaapse leier van die VF Plus. In 2016 word hy raadslid vir die party in die Sol Plaatje-munisipaliteit. Hy woon in Kimberley, totdat hy in 2019 tot die parlement verkies word en verhuis weer na Orania – wanneer hy nie in Kaapstad is nie.
Hy lees dikwels, maar nie ingewikkeld nie.