Die merkwaardige toespraak van
Emily Hobhouse
voorgelees met die onthulling van die Vrouemonument in 1913
Geneem uit Emily Hobhouse, GELIEFDE VERRAAIER, Elsabé Brits, 2016, Tafelberg Uitgewers
Voorgelees deur Marion Holm by die Vriende van Emily Hobhouse Philippolis, op 11 Oktober 2023
“Vriende,
“Van heinde en verre het ons vandag saamgekom om hulle te gedenk wat eens dapper gely en edel gesterf het.
“Lank gelede het ‘n groot man gesê: ‘Dade behoort met dade vereer te word, nie met woorde nie,‘ en dit is waar. Tóg, noudat ek op julle versoek so ver gekom het om deel te hê aan hierdie plegtige onthulling, en omdat ek nóú met hulle saamgeleef het in die laaste ure van hul bestaan, voel ek my verplig om die nagedagtenis te huldig van daardie vroue en daardie klein kindertjies wat in die konsentrasiekampe omgekom het.
“Dit was my voorreg om baie van hulle te kon ken. Hoe vreemd om te dink dat daar vandag van hul nagedagtenis ‘n sterker invloed ten goede uitgaan as van hulle wat oorleef en gefloreer het. Op die wyse word die visioen van die profeet dalk vervul: ‘So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in die oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word, sê die Here, jou kinders sal uit die vyand se land terugkom. Daar is ‘n toekoms vir jou nageslag, sê die Here, jou kinders sal na julle besittings toe
terugkom.“
“Ontmoet ons hulle nie in die ware sin vandag weer nie?
“Maar ‘n ander gedagte dwing my ook om hierdie eerbewys te bring. Van antieke tye af het mans lofredes gelewer by die grafte van hul medeburgers wat vir die vaderland gesneuwel het. Vandag, moontlik vir die eerste maal, is ‘n vrou gekies om die gedenktoespraak te lewer vir die nasie se afgestorwenes — nie soldate nie maar vroue, wat hul lewe vir hul land gegee het.
“My vriende, hierdie dág — hierdie Vrouedag — is goed. Soos die Sabbat in die week, onderbreek dit die jare wat verbysnel, en in hierdie pouse kan die verlede kalm onthou word; kan ons opnuut put uit sy inspirasie; sy lesse weer inneem.
“Kom ons gebruik dié oomblik om weer te dink waar ons nou staan en wat hierdie lesse is.
“Julle het uit alle windstreke saamgekom om hierdie plek te wy aan vroue en kinders wat van alles gestroop was — ek bedoel presies dit: van alles. Van hul mans en seuns, van huise en grond, van hoenders en vee, van meubels en selfs klere. Hoewel gestroop van aardse goed, was dit goed om te sien hoe hulle steeds hul siel besit het. “Dis tragies“ sê ‘n skrywer, “hoe min mense hul siel besit voor hulle doodgaan.“ Dat dit met hulle wel die geval was, weet ek, want ek het dit gesien. In my geestesoog oorbrug ek die jare, die dertien jaar, ek loop weer rond tussen die tente wat die heuwels wit geverf het. Weggeskeur uit die eenvoudige lewe waaraan hulle gewoond was, gedompel in siekte en verlatenheid, omring deur vreemdelinge was daardie arme siele kaalgestroop. Dié gesig het geroep om bejammering, maar bejammering het nie oorheers nie. Heel ander gevoelens het dit verswelg. Selfs dwarsdeur die diepste ellende was groter simpatie elders nodig. ‘Christus‘, het ek gelees, ‘was jammer vir die armes, die laagstes, die bandiete, die lydendes en so ook ons; maar onthou dat Hy veel jammerder was vir die rykes, die hardvogtiges, hulle wat slawe was van hul goed, wat deftige klere gedra en in paleise gewoon het. Vir Hom het rykdom en plesier na groter tragedies gelyk as armoede en verdriet.‘
“Dus, as ons terugdink aan die stormagtige wêreld van 13 jaar gelede, dan kom deernis in ons op, maar vir wie is ons jammer? Sekerlik, as mense kon sien watter innerlike en geestelike krag hulle uitgestraal het te midde van sigbare verwaarlosing, dan sou jy nie voel dat dit die gevangenes in daardie vieslike kampe was wat simpatie die nodigste gehad het nie. Die rykes en die hooggeplaastes, die finansiers wat oorlog wou hê, die onbeholpe politici wat hul werktuie was, die mans wat in posisies van gesag was, die dom staatsmanne van daardie donker storie — al die misrabele mense in magsposisies wat nie die verskriklike omstandighede kon hanteer wat hulle self geskep het nie — hulle het ons meegevoel nodig gehad en het dit steeds nodig. Daardie groot tragedie het, namate dit op sy bloedige pad deur julle land gespoel het, van aangesig tot aangesig gekom met die groot skare vroue en kinders — die swakkes en die jonges. Hulle was heeltemal onskuldig aan die oorlog, maar is nogtans opgeroep om die spit af te byt waarop hulle edel opgestaan het om die toets tegemoet te gaan wat op hulle gewag het. Die meegevoel waarna hulle gesmag het, het hulle gekry, maar hulle het bó ons bejammering uitgestyg.
“En daarom vandag. Wat het stukrag aan hierdie beweging gegee? Wat het julle daartoe beweeg om pennies vir hierdie monument in te samel? Wat het julle van heinde en verre hierheen gebring? Dit was nie bejammmering nie, maar eerbetoon.
“Maar as julle simpatie voel, en ‘n bietjie oorhet, gee dit dan selfs nou nog aan hulle wat steeds lewe en in hul hart die swaar wete moet dra van die onbeholpe wandade waardeur hulle daardie oorlog aangestig het. Ek en julle is vandag hier slegs met eerbied vervul vir die heldhaftige en onskuldige slagoffers wat deur die vuur gegaan het.
“Want hierdie monument is ‘n simbool.
“Ver weg in Rome was ek bevoorreg om te sien hoe dit gestalte gekry het. Ek het die geboorte van die idee in die beeldhouer se gedagtes beleef, ek het die eerste model in gewone klei gesien; gevorm deur sy hand, is dit herskep in wit gips, uiteindelik afgewerk volgens sy idee en reg vir die finale loutering, is dit in die smeltkroes van gloeiende metaal gewerp waaruit die volmaakte werk te voorskyn gekom het.
” Netso het die Noodlot — die magtige Beeldhouer — soos klei in sy hande daardie eenvoudige vroue en kinders uit hul stil huise geneem, hulle gevorm en afgewerk deur opeenvolgende fases van hul lyding totdat hulle uiteindelik, gesuiwer en vervolmaak volgens die Meesterplan deur die verskroeiende vuur van hul beproewing, uit die sig van mense verdwyn het om ewig te lewe in die heilige herinnering van julle land.
“Hulle gees, wat ons vandag so na aan ons voel, waarsku ons deurentyd: ‘Moenie vergeet wat in die verlede daardie stryd veroorsaak het nie. Ons het gesterwe sonder om te mor en so ons deel gedoen om ons land te red van hulle wat hom nie liefhet nie, maar sy rykdom wil hê. Moenie die twee kwessies met mekaar verwar nie en dan handevat met hulle wat na die land kyk met grypsug in hul oë eerder as met liefde.‘
“Is dit nie tot die ewige eer van daardie swakke slagoffers dat hulle dié beginsel neergelê het nie: In die Suid-Afrika van ons lê ware patriotisme in die eenheid van hulle wat in die land woon en hom liefhet, eerder as hulle wat op hom teer, maar buite sy grense woon. Die patriotte en die parasiete.
“Die kwessie — hoewel dit van oudsher af omstrede was — is vandag nog lewend; die stemme van die dooies roep na julle, hul gees lê ‘n hand op julle om julle terug te hou, terwyl hulle pleit: ‘Hier is die ware verdeling waarnaas ander skeidings niks beteken nie‘
“Daar kan geen permanente skeiding wees tussen hulle wat die land liefhet, wat in hom woon en wat met hom verweef is nie. Onderliggend is hulle almal een.
“Naas die eer wat ons aan die heilige afgestorwenes betoon, moet vergifnis ook ‘n plek vind. Ek het gelees dat toe Christus gesê het ‘Vergewe jou vyande‘, was dit nie net ter wille van die vyand dat Hy so sê nie, maar vir ons eie heil, want ‘Liefde is mooier as haat‘. Sekerlik weet julle afgestorwenes dit met die wysheid wat nou vir hulle beskore is. Om haat te koester, is noodlottig vir jou eie selfontwikkeling: Dit laat ‘n letsel, want haat — soos roes — vreet aan die siel van ‘n nasie, nes dit met ‘n individu maak.
“As julle eer betoon aan dié wat dood is: Begrawe onvergewensgesindheid en bitterheid vir altyd aan die voet van hierdie monument. In plaas daarvan: Vergewe — want julle kan dit bekostig — die rykes wat gierig was na meer rykdom, die politici wat nie landsake kon bestuur nie, die slegte generaals wat oorlog gemaak het teen kwesbares en babas: Vergewe hulle, want slegs op dié manier kan julle groei tot volle adel van inbors en ‘n onbevange en edele nasionale lewe.
“Want wat regtig saak maak, is karakter. Die geskiedenis leer ons dit duidelik.
“Tans is mense se gemoedere nog op ‘n vreemde manier verward, hul oë is verblind en daar is amper ‘n universele aanname dat die allesoorheersende saak vir die land materiële voorspoed is. Dis vals.
“Adel van karakter slyp ‘n groot nasie. Politici wat mik na materiële voorspoed asof dit ‘n doel op sigself is, vergeet of het nooit besef nie, dat groot nasionale voorspoed te dikwels gepaardgaan met ‘n verwonding van die nasionale karakter en die hoogste welsyn van die mense.
“Want dit is nie die rykes en die vooruitstrewendes wat die meeste saak maak nie, maar julle wat eenvoudige lewens lei en wat — in die laaste instansie, wanneer die beproewing kom — onderwerp gaan word aan die toets van die nasionale karakter.
“Hierdie gedagte veredel die eenvoudigste lewe. Die dooies wat ons nou eer, het daardie toets tegemoet gegaan en nie teruggedeins nie. Hulle het vir vryheid gesterf; hulle het daaraan vasgeklou in die onwrikbare vertroue dat God hulle kinders dit sou laat erf. Die jare het veranderinge gebring waarvan hulle nie sou kon droom nie, maar Suid-Afrika is ‘n eenheid en dit is vry. Sy vryheid is gebaseer op alles wat hulle gedoen het: Hulle het gely; hulle het gesterwe, méér kon hulle nie doen nie. Die hoogste offer is gebring, die hoogste prys is betaal. Hul opoffering dra steeds vrugte. Selfs al sou die grafte kon oopgaan en die dooies opstaan, sou ons nie daardie vroue wou terugwens nie, ook nie vra dat hulle die belangrike posisie wat hulle verower het, prysgee nie. Selfs die kinders sou ons nie wou terugroep nie, die kinders wat — as ‘n mens die verlore jare bytel — nou voor ons sou staan as sowat 20,000 jeugdige seuns en meisies, mooi en gesond — ‘n edele skare — wat die té kale vlaktes sou kon bewoon. Want wie voel nie vandag hul gees hier onder ons roer nie? By wie gaan die edele voorbeeld waarvolgens hulle steeds leef, ongesiens verby?
“In dié reuse menigte, sal ‘n mens één siel vind wat nie geraak is nie? Een hart wat nie van hier af sal weggaan met die vaste voorneme om só te leef dat ons die oorledenes waardig is nie?
“My vriende: Herinneringe en emosies raak vervleg. Dertien jaar is verby sedert ek elke dag onder die brandende Januarie-son van julle doringdraad-omheinde dorp gestrompel het na daardie koppie van baie trane. In dié kamp, soos later in ander, het ek daagliks van tent na tent beweeg as ‘n getuie van onbeskryflike lyding, maar ek was altyd verbaas oor die hoë ideale wat die kinders en vroue van julle land begeester het. Só vinnig leer lyding ‘n mens dat selfs jong kindertjies die gees van die stryd aangevoel het en siek, honger, naak of sterwend gebid het vir ‘Geen Oorgawe.‘
“Dink hoe dit vir ‘n vrou uit Engeland gevoel het om sulke dinge te sien.
“Het julle julself ooit afgevra hoekom ek julle tot hulp gekom het in daardie donker uur van nood? Ek het jul land nooit vantevore gesien of een van julle geken nie. Dus was dit nie een of ander persoonlike band wat my hierheen gebring het nie. Geen politieke simpatie van enige aard het my tot die reis aangespoor nie.
“Ek het gekom bloot uit gehoorsaambeid aan die solidariteit van ons vrouwees. En aan daardie edeler tradisies van die Engelse lewe waarin ek opgevoed is en wat myne is deur oorerwing oor die eeue heen.
“Want wanneer die gemeenskap tot in sy fondamente geskud word, dan roep die dieptes tot die dieptes.‘ Dan blyk die onderliggende eenheid van ons aard; ons leer dat ‘die hele wêreld familie is‘.
“En sekerlik word die eer van ‘n land nie bepaal deur die onbeholpe dade van die een of ander verbygaande administrasie of swak militêre bevelvoerders nie, maar dit lê in die somtotaal van sy beste tradisies, ter verdediging waarvan die breë bevolking in opstand sal kom.
“Soos die edelste mense altyd bereid is om ‘n fout te erken en reg te stel, het Engeland, toe hy oortuig was van die onreg wat in sy naam aan swakkes en weerloses gedoen is, dit erken en reggestel deur daardie kampe deeglik te hervorm en vir mense bewoonbaar te maak.
“So het hy boete gedoen.
“Ek staan hier as ‘n vrou uit Engeland en ek glo opreg dat alles wat goed en menslik in Engeland is, vandag ook in julle harte leef. Daar is ootmoedige simpatie met julle in hierdie gedenkdiens en in julle wens om jul gestorwenes ten volle te eer.
“Ek en julle is deur vreemde wette van die noodlot in daardie donker uur aaneengesnoer; ons staan nou vir die laaste maal van aangesig tot aangesig.
“Een ding wil ek julle vra.
“Wanneer julle die euwel onthou wat gepleeg is, onthou ook die boetedoening.
“Dink ook aan alles wat julle gewen het deur hierdie grootse episode, aan dit wat aan julle deur die dooies nagelaat is.
“Laat ek verduidelik. Dit is nie hoofsaaklik hartseer wat julle vandag vul nie; tyd het reeds persoonlike verdriet versag. Daarom kan baie mense sê — en sê inderdaad — dat dit nutteloos is om somber herinneringe aan die lewe te hou, soos ons vandag doen. Maar juis hierdie herinneringe is nodig omdat hulle daardie kosbare nalatenskap uit die verlede beliggaam. My eie gesig is nou weswaarts gekeer en binnekort sal dié van ons wat getuies was van die lyding in die konsentrasiekampe, heengegaan het na ons eie rusplek; maar solank as óns wat daardie dinge gesien het nog lewe, sal dit binne ons lewe, nie as herinneringe aan hartseer nie, maar as heroïese inspirasie. Want wat nooit sterf nie, en nooit mag sterf nie, is ‘n goeie voorbeeld. Dieselfde is waar van julle dooies as wat Perikles van sy medeburgers gesê het: ‘Daarmee het hulle die indrukwekkendste grafsteen van almal verdien. Hul steen is nie een waaronder menslike beendere neergelê word nie, maar eerder hul reputasie onder toekomstige geslagte wat by elke gepaste feesviering weer opgehaal en herdenk gaan word. Want helde het die ganse aarde as ‘n graf. En hul verhaal is nie net op ‘n gedenksteen in hul vaderland gegraveer nie, maar leef voort ver buite sy grense, sonder ‘n sigbare teken, verweef met die lewe van talle ander mense.‘
“Jul sigbare monument sal ‘n groot doel dien: Om ‘n inspirasie te word vir alle Suid-Afrikaners en vir die vroue in besonder. Geslag ná geslag sal hier staan en hulself in stilte hierdie mooi woorde inprent: In julle hande en in dié van julle kinders lê die mag en die vryheid wat gewen is; julle moet nie net dié heilige geskenk bewaar nie, maar dit laat groei. Wees genadig teenoor die swakke, die vertrapte, die vreemdeling. Moenie jul hekke oopmaak vir die grootste vyande van vryheid nie — tirannie en selfsug. Behels dié twee nie juis om ánder onder julle beheer dieselfde vryhede en regte te ontsê wat julle wou hê en vir julself verkry het nie? Só sal dié monument tot julle spreek.
“Baie nasies het hulle al op hierdie rots te pletter geloop. Ons in Engeland is self maar steeds domkoppe in die groot wêreldskool, ons leiers sukkel steeds met die ongeleerde les dat vryheid ‘n gelyke reg en erfenis is van elke kind of mens, sonder onderskeid van ras, kleur of geslag. ‘n Gemeenskap wat die moed kort om sy burgerskap op hierdie breë basis te bou, word ‘n ‘stad wat verdeel is teen homself, wat nie kan staande bly nie.‘
“Gryp dan hierdie ideaal van vryheid aan en koester dit. Sou julle politici vyandig of koud-neutraal wees, sou julle ryk manne korrup wees, sou julle pers wat moet inlig en die vryheid van alle sektore van die gemeenskap moet verdedig, slegs mislei — hou moed; hulle is nie die nasie nie. ‘Die nasie‘, sê John Bright, ‘is in die plaashuis‘.
“Julle is die nasie, julle wat ek vandag hier sien, julle van wie die meeste in klein dorpies en op stil plase woon en eenvoudige, hardwerkende lewens lei. Julle is jul nasie se ware siel en op julle rus die verantwoordelikheid om sy ideale te handhaaf deur julle eie karakters uit te bou.
“Die ou, ou credo van ‘Vryheid, Broederskap, Gelykheid‘ roep uit die graf. Wat hierdie vroue, wat so eenvoudig was dat hulle nie geweet het hulle is heldinne nie, op prys gestel het en waarvoor hulle gesterf het, begeer alle mense met dieselfde drif. Moet die geregtigheid en die vryheid waarvoor julle so lief is, nie uitgebrei word na alle mense binne julle grense nie? Die ou Grieke het ons geleer dat jy nie weet wat in mense steek totdat jy hulle mag gegee het nie.
“Die toetstyd het nou vir julle aangebreek.
“Want dink ‘n oomblik na.
“Ons ontmoet op Dingaansdag, die dag waarop julle ‘n oorwinning oor ‘n barbaarse volk gedenk. Ook ons, die groot beskaafde nasies van die wêreld, is steeds maar net barbare op ons manier solank ons aanhou om ontsaglike bedrae te bestee om mekaar dood te maak — of beplan om mekaar dood te maak — uit grypsug na grond of goud. Is dit nie net regverdig om vandag te onthou hoeveel duisende mense van donker gelaat ook in die konsentrasiekampe omgekom het in ‘n twis wat nie hulle s‘n was nie? Het hulle nie op hierdie manier vir die verlede vergoed nie? Het ons nie hier ‘n geval van daardie gemeenskaplike belang wat, omdat dit almal saambind, rassewrewel uitroei nie? En kan dit nie nog vorentoe gebeur dat die assosiasies wat aan hierdie dag gekoppel is, verander nie, omvorm word in edeler gedagtes soos julle jaar ná jaar dié meer inspirerende ‘Vrouedag‘ gedenk wat ons nou instel? Die pleidooi van Abraham Lincoln vir swart mense eggo steeds by my: ‘Hulle sal jou waarskynlik in een of ander moeilike tyd in die toekoms help om die juweel van onafhanklikheid in die familie van vryheid te hou.‘
“Nóg meer indringend sal dié monument tot die vroue van Suid-Afrika spreek, en steeds verder tot ‘n wyer gehoor.
“Tot julle vroue sal dit altyd roep: ‘Keer terug, keer terug na eenvoudiger lewens, na edeler beginsels; leer by hierdie martelare die adel van karakter wat verkies om tot die uiterste te ly eerder as om aan die lewe te bly deur swakheid.‘ Vroue van hoë of lae status, ryk of arm, wat vandag in julle duisende saamgekom het; moenie leeg weggaan nie. Julle kan nie voortgaan asof hierdie geliefdes nie gesterf het nie. Jul land eis jul lewe en jul kragte op ‘n ander manier op. Namate die nasionale lewe verbreed, sal probleme ontstaan waarvan ‘n mens nie in ‘n eenvoudiger staat kon droom nie. Verwikkelde uitdagings sal kom wat die welsyn van julle seuns en dogters ingrypend gaan raak. Dis julle werk om hierdie probleem in jul huise te deurdink, vir julle om die suiwerende element in die politieke bestel te wees, vir julle om die roer van die staat te help stuur.
“Die dooies het vir julle ‘n ereplek verower in die lewe van jul nasie, en die reg op ‘n stem in sy raadsale. Van hierdie heilige plig durf julle nie wegskram nie. Niemand is te nederig of onbekend nie; elkeen tel.
“Want onthou, hierdie vroue wat dood is, was nie groots soos die wêreld grootsheid reken nie; sommige van hulle was bitter arm vroue wat hard gewerk het. Tog het hulle ‘n morele krag in julle land geword. Hulle sal julle geskiedenis verryk. Soos diamante en goud skitter in die rotslae van julle grond, so sal hulle stories — geskryf en oorvertel — glinster soos juwele in die donker annale van daardie tyd.
“En hul invloed sal verder uitkring. Hulle het die wêreld gewys dat daar nooit weer gesê kan word dat ‘n vrou geen burgerregte verdien omdat sy nie aan oorlog deelneem nie. Hierdie standbeeld staan as ‘n ontkenning van daardie aanname. Vroue het in gelyke mate as mans die reg verdien tot woorde soos dié wat die beroemde Athener gebruik het by die graf van sy soldate: ‘Hulle het hul liggame ondergeskik gestel aan die belang van die gemeenskap en in ruil daarvoor het elkeen sy eie individuele en onsterflike nagedagtenis verwerf.
“Nee, meer: Want hulle het hulself gegee, nie aangevuur deur die opwinding en genot van aktiewe gevegte nie — soos mans dit beleef — maar passief, met oop oë, in die uitgerekte kwelling van pynlike maande en dae.
“My vriende, dwarsdeur die wêreld is die era van die vrou aan die kom, haar dag breek aan. Trots onthul ek hierdie monument ter ere van die dapper Suid-Afrikaanse vroue wat, terwyl hulle deelgeneem het aan die gevaar wat hul land bedreig en daarvoor gesterf het, vir alle tye en vir alle volke die vermoë van die vrou bevestig het om lewe en meer as lewe in die openbare belang op te offer.
“Dis julle Suid-Afrikaanse monument. Maar dis meer, want ‘hul verhaal is nie net op ‘n gedenksteen in hul vaderland gegraveer nié.
“Ons eis dit op as ‘n Wêreldmonument waarop alle vroue trots kan wees, want julle afgestorwenes het deur hul dapper eenvoud gespreek tot universele vrouwees, en van nou af sal hulle ‘verweef wees met die vesel‘ van elke vrou se lewe.”