‘n Pad van 60 jaar – die Krugerbeeld te Kerkplein

‘n Pad van 60 jaar – die Krugerbeeld te Kerkplein

deur Hannes Noëth

Inleidend

Die projek om ‘n ewebeeld van die bekende Krugerbeeld te Kerkplein, Pretoria, in Orania op te rig, is gedurende 2023 van stapel gestuur. Hierdie werk van die bekende beeldhouer Anton van Wouw is oor baie dekades ‘n baken in Pretoria en het die laaste paar jaar hewige debat uitgelok. Dit is hoofsaaklik die gevolg van demografiese verandering in die Pretoriase middestad, die veiligheid van sowel besoekers aan die beeld, as die beeld self, en die vandalisme wat kort-kort neig om van die beeld ‘n negatiewe politieke simbool te maak.  Wanneer so ‘n groot projek oorweeg word, is dit noodsaaklik om die geskiedenis van die Krugerbeeld te Pretoria en die lang pad wat daarmee geloop is, te oordink. Dit sluit in die historiese verloop, sowel as die simboliese inhoud en betekenis van die beeld vir die Afrikaner in.  

Die projek om ‘n beeld in Orania op te rig, moet verwelkom word terwyl die geskiedenis van die oorspronklike te Pretoria in ere gehou moet word.  Al word die beeld in Pretoria ‘n ashoop, kan die betekenis en die waarde daarvan nooit onderskat word nie.  Anders gestel sal die onwelkome beeld van Paul Kruger in die huidige Pretoria en die welkome beeld in Orania die strewes van die Afrikaner vir onafhanklikheid en vryheid beklemtoon en bevestig.  

Hierdie artikel bedoel nie om ‘n wetenskaplike beskrywing te wees van die geskiedenis van die beeld te Pretoria nie, maar poog om deur die bekende werk van J.H. Breytenbach (1954), uitgegee deur die Krugergenootskap, ‘n paar lyne te trek oor die lang pad van hierdie besondere beeld tot dit uiteindelik in Pretoria onthul is.  Die bedoeling hiervan is om sekere sake te beklemtoon, die oprigting van ‘n ewebeeld in Orania aan te moedig en die beginsels van vryheid en onafhanklikheid in samehang met die Pretoria-beeld, uit te wys.  

Die persoon van SJP Kruger

Om ‘n oomblik stil te staan die beeld te Kerkplein is dit nodig om ‘n paar opmerkings oor president Kruger te maak.  Die Krugergenootskap voer sedert 1939 ‘n aparte, amptelike bestaan, en was daarvoor deel van die kultuurverenigings van Pretoria. Die Genootskap het nog altyd die sake waarvoor Kruger gestaan het, beklemtoon en gewaarsku teen moontlike verheffing van Paul Kruger as mens.  Tog mag ‘n mens daarteenoor ook nie die besondere leier wat die Afrikaner in die persoon van Paul Kruger van die Here ontvang het, miskyk of vergeet nie.  

Toe die kerkklokke in Pretoria op 16 Desember 1904 lui was daar ‘n doodse stil in Pretoria.  Die president is op 14 Julie 1904 oorlede.  Voor sy huis in Kerkstraat is drie groot letters aangebring:  RIV – Rus In Vrede. Later sou daar in menige Afrikanerhuise ‘n portret hang met die woorde: “Zijn stof rust in vreden, zijn werken volgen hom na.” Op daardie dag van sy begrafnis sou dit generaal de Wet wees wat sê: “Sy dade spreek nog, sy dade leef nog, ja, sal eers nou leef vir ons as ons reg wil waardeer wat God ons in hom gegee het.”

Paul Kruger is deur nederigheid gekenmerk, juis daarom is dit betekenisvol dat hy in sy leeftyd besondere toekenings behaal het, naamlik 63 gedenkpennings en medaljes oor ‘n tydperk van 70 jaar.  Hy is beslaan met ses Ridder Grootkruis ordes (Portugal, Nederland, België, Monacco, Pruise en Frankryk).  Die leiers van die wêreld het gemaklik erken – hy is een van die grootstes, maar vir die mense van sy republiek was hy maar net “Oom Paul”.  Die een wat saam getrek het met die Potgieter-trek, wat die Tarka agtergelaat het. Hy was teenwoordig by Vegkop, het geleef in die tyd van die Bloukransmoorde en twee Vryheidsoorloë. In kort, hy het feitlik elke groot gebeurtenis in die geskiedenis van ons volk gedurende die grootste deel van die negentiente eeu beleef.

Sommer vir interessantheid ‘n paar tydlyn-feite:

  • 1850 – Hy versamel handtekeninge om beswaar te maak teen die aanstelling van ‘n militêre leier deur die volksraad.
  • 1851 – Hy word veldkornet van sy gebied, ‘n belangrike posisie in die jong Transvaalse Republiek.
  • 1851 – Hy is deel van die onderhandelinge om onafhanklikheid van die republieke wyd te erken.
  • 1852 – Hy is teenwoordig in die stuit van ‘n ekspedisie teen die Tswana-leier, Sethele.  In Maart daardie jaar organiseer hy die versoening tussen Pretorius en Potgieter.
  • 1854 – Hy neem deel aan die Mankopane en Mokopane veldtogte.
  • 1855 – Hy help om die grondwet op te stel vir die republiek.
  • 1857 – Hy dien as adviseur vir die eerste President van die Transvaalse Republiek, M.W. Pretorius.
  • 1858  Hy oortuig M.W. Pretorius om die gesag van die Republiek teen Schoeman te handhaaf.  
  • 1858 (Junie) – Hy besoek die Basoeto-hoof en sluit ‘n vredesooreenkoms.
  • 1859 – die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika word gestig en hy is een van die eerste lidmate. 
  • 1863 – Hy word aangestel as Kommandant-Generaal.
  • 1864 – Hy moet ‘n botsing tussen Viljoen se landmag en sy staatsmagte hanteer. 
  • 1869 – Hy verslaan Mapela en beding ‘n vredesooreenkoms. 
  • 1874 – Hy word benoem as ‘n nie-amptelike lid van die uitvoerende raad van die Volksraad. 
  • 1882 – Hy wen die eerste verkiesing in 10 jaar in die ZAR oortuigend. 
  • 1883 – Hy word aangewys as president en onmiddellik ‘n beleid van onvoorwaardelike Christelikheid aan. 
  • 1883 – Hy hanteer die finansiële krisis van die ZAR met ‘n konsessie-beleid. Hy stel ook ‘n nuwe onderwysbeleid voor. 
  • 1888 – Hy word herverkies as president.
  • 1983 – Hy word vir ‘n derde keer as president herverkies.

Kruger sou ook bekend raak vanweë sy diep geloofsoortuiging en sy anker in die Woord van God.  Meer as een keer is verwys na sy sterk voorliefde vir Psalm 105:4 “Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur…”

Met hierdie gegewens oor die persoon van Kruger in gedagte, naamlik nederig, Godsoekend, vry en onafhanklik, is dit nodig om te vra waaroor gaan die Krugerstandbeeld? 

Die (lang) voorafgeskiedenis van die Krugerbeeld te Kerkplein

Met die onthulling van die Krugerbeeld op 11 Oktober 1984 skryf Breytenbach tereg: “Daarmee sal die omswerwinge van hierdie standbeeld tot ‘n einde kom en sal ‘n onklarigheid in ons geskiedenis afgehandel wees.” En: “Waarom kon hierdie standbeeld nie tot rus kom nie en waarom was die volk van Paul Kruger steeds gewillig om te stry en geldelike offers te bring vir die verwesenliking van die ideaal om die Krugerstandbeeld op die middelpunt van Kerkplein op te rig?”

Om hierdie vrae te beantwoord, dit is belangrik om vir ‘n oomblik stil te staan by die onthulling.

Onthulling

Die gedenkprogram van 8 tot 11 Oktober 1954 getuig van die geweldige betekenis en simboliek wat saam met hierdie onthulling plaasgevind het.  

Op Vrydag, 8 Oktober 1954 is die volgende hoogwaardigheidsbekleërs op die program: 

  • Sy Edelagbare die burgermeester van Pretoria
  • Sy Edelagbare die burgermeester van Johannesburg
  • Die Simfonie-orkes van die SAUK 
  • ‘n Reuse optog met ‘n historiese inslag, op Saterdag, 9 Oktober, bestaande uit die volgende:
    • Die Burgermeester vooraan, boerebrandwag met twee vlae volg. 
    • Sewe vlotte wat sewe tydperke verteenwoordig, volg, en dan die Presidentkoets, waarop daarna weer vyf vlotte volg, alles ‘n simboliese herrysenis van die Afrikaner.
    • Kultuurgroepe en organisasies volg.
    • In kort – die optog alleen lewer ‘n groot bydrae tot die betekenis van die beeld tot op hierdie dag.
  • Op Maandag, 11 Oktober 1954, die amptelike dag van die onthulling is die optog nog meer uitgebreid, naamlik:
    • Suid-Afrikaanse berede polisie
    • Staatartillerie
    • Suid-Afrikaanse polisie (nie-berede)
    • Suid-Afrikaanse spoorwegpolisie
    • Suid-Afrikaanse Lugmagorkes
    • Leërgimnasium
    • Lugmaggimnasium
    • Historiese vlae
    • Lede van die Voortrekkerbeweging
    • Skoolkinders
    • Orkes van Pretoria Regiment
    • Volkspelers

Daarna eers volg die onthullingsplegtigheid. Die sestig jaar tot op hierdie dag (11 Oktober 1954) was lank en moeisaam, maar noodsaaklik.

Die gedagte

Die geskiedenis van die Krugerbeeld begin by ‘n Israeliet, ‘n merkwaardige figuur, ‘n man met die naam van Sammy Marks. Daar was niks toevallig hieraan nie. Hy het Kruger as die verpersoonliking van die Afrikaner gesien. Die geskiedenis van die Krugerstandbeeld begin in die hart van ‘n vreemdeling. Hy skryf ‘n brief gedateer 20 Augustus 1895 aan die Volksraad en beloof 10 000 pond vir die oprig hiervan. Hy word bedank “voor deze rijke gift.” Anton van Wouw word as beeldhouer aangestel en vir hom is dit van die begin af belangrik om nie net die staatsman uit te beeld nie, maar ook Kruger as die vader van sy volk. Hy het besef hy moes die president uitbeeld, maar bo alles het die volk ook hul president bemin en liefgehad as ‘n verpersoonliking van alles waarvoor hulle en hulle vadere gely en gestry het.  

Die opdrag was nie eenvoudig nie, maar duidelik. “Kruger is die hoeksteen van onafhanklikheid, hulle dierbaarste pand waarvoor hy self alles op die altaar geplaas het – die simbool van die Republikeinse gedagte waarvoor hulle deur vuur gegaan het saam met hom…” Daarom moes die beeld word: Die vaderlike president – omring deur gewapende burgers – twee uit die Voortrekkertyd, twee uit Van Wouw se tyd. Nie afgerigte soldate nie, maar burgerkrygers – sittende, tog wakker en waaksaam. Kruger sou dan in die middel staan as die sentrale figuur van die republikeinse vryheidsgedagte “wat in hom beliggaam as hul kosbaarste pand deur die Boerevolk van alle tye bewaar en bewaak moet word.”

Van Wouw word geleentheid hiertoe gebied. “Pres. Kruger wou egter van ‘n lofspraak wat op homself van toepassing was, niks weet nie, al het dit ook uit die Bybel gekom. Dit was in stryd met sy lewensopvatting dat alle eer aan God gegee moes word en nie aan die mens nie. Hy het dus die wens uitgespreek dat in plaas van die voorgestelde teks die woorde van Psalm 105:4 en 5 op die voetstuk uitgebeeld word:  “Vraagt naar den Heere en zijn sterkte; zoekt zijn aangezicht geduriglyk. Gedenk zijner wonderen, die Hij gedaan heft, zijner wonderteekenen, en der oordeelen zijns monds.”

Weens verskeie redes het die teks toe nooit verskyn nie … die opdrag aan Van Wouw word om redes met ‘n jaar verleng en in Mei 1898 is 3 van die 5 beelde voltooi met dié van die president 14 voet en 9 duim hoog.

Met Tudor Chambers aan jou linkerkant, kyk jy van ‘n posisie op die plein tussen die poskantoor en die standbeeld deur na die suidoostelike hoek van Kerkplein. Op regterhand is die indrukwekkende gebou van die Standard Bank, wat in die vroeë dertigerjare opgerig is. In die middel is die standbeeld van Paul Kruger, in die agtergrond troon die nuwe hoofkantoorgebou van Volkskas uit, en die Sanlamsentrum nog in aanbou. Agter die standbeeld het ‘n struk of ses pragtige ou geboue tot in die vyftigerjare gestaan, om toe plek te maak vir ietwat kleurlose moderne geboue. die nuwe Standard Bank-gebou het die Grans Hotel (vroeër die President Hotel) vervang. 

Oorlogstyd

Op 2 Junie 1899 word Marks se beplanning van die ligging goedgekeur, naamlik: “ten westen van het kerkgebouw op het kerkplein alhier en juist tusschen het Goevernementsgebou en het Hooggerechtshof.” Kruger se antwoord aan Van Wouw is egter kortaf – “wag tot die oorlog oor is”.

Op 11 Oktober 1899 breek die Anglo-Boereoorlog uit en uiteraard het dit ‘n impak op die ontwikkelingsgeskiedenis. Die beelde lê in Delgoabaai en Marks sien dit as ‘n droom wat nooit waar sou word nie. Hy self is verantwoordelik vir die bergloon daar en vind dit daarom nie moeilik om dit aan Kitchener oor te dra nie. Dit kos vir Marks baie geld en daarom sê hy vir Kitchener: vat hulle maar weg.

Intussen is die voetstuk na Prinsepark verskuif en is afgesien van die plan om dit op kerkplein op te rig, gewoon omdat ‘n besluit geneem is:  “that no buildings, statues or memorials of any description be erected on, or other improvements effected to the ground, without the sanction of the Lieutenant-Governor being first obtained.”

Die oorlog het alles verwoes, maar nie dit waarvoor Kruger gestaan het nie.  Milner se ideaal: “to wipe out the last trace of Afrikanerderism” het nie geslaag nie.

Oorkant, in die suidwestelike hoek, staan van links na regs die Goewermentsgebou (die Ou Raadzaal), die standbeeld, dan die ou Nederlandse Bank-gebou, die Law Chambers en die Vafe Riche-gebou. 

Ná die oorlog

In 1906 is weer ‘n vrye verkiesing gehou en Genl Louis Botha skryf aan Kitchener oor die oprig van die Krugerbeeld op Kerkplein, en die teruggee van die Boerefigure sodat hulle die plek kan inneem wat hulle toekom.

Kichener beskou die beelde as ‘n persoonlike geskenk en nie oorlogsbuit nie. Vir ‘n geruime tyd weet niemand waar die beelde is nie.  Nie die stadsraad, Marks, of Van Wouw nie. Kitchener antwoord nie op die navrae nie en die saak bly onveranderd. Marks se dilemma is dat hy nie ‘n geskende beeld wil laat oprig nie, daarom word besluit om dit op te rig te Prinsepark. Dit word deur SW Burger onthul. Die gevoel word beskryf as ‘n gevoel van van feestelikheid, maar ook ‘n gevoel van onvergenoegtheid. Met die onthulling daar word dit beskou as ‘n geskonde stuk, simbolies van die toestand van die Afrikanerdom ná die oorlog.

Daarom dat Burger ook by die onthulling die wens uitspreek dat die beeld tog mag skuif na waar dit bedoel was om te wees, en ds ADW Wolmarans (bewoë) die gedagte van sy hart uitspreek dat sy volk pogings moet aanwend om die standbeeld te verskuif. 

‘n Volgende poging

Na verskeie hernude pogings was die beelde van die burgers steeds nie terug in Suid-Afrika nie.  Dit was eers toe E. Mathers in 1920, as redakteur van South Africa, die saak weer in die openbare oog bring.  Sy argument was eenvoudig – die Royal Engineers van reg oor die wêreld wat oor twee van die beelde moet besluit, moet in ag neem dat hulle in 1899 tot 1902 teen mekaar geveg het, en toe in 1914 tot 1918 saam met mekaar geveg het.  Sy rol in die terugbring van hierdie beelde kan nie onderskat word nie. Op 12 September 1921 is die beelde terug in Pretoria.

Vir die Boerevolk was dit ‘n geleentheid om te jubel. Terug na Kerkplein! Maar intussen is ‘n war memorial in die Sentrum beplan. Onder leiding van mevrou H Jooste (13 Augstus 1920) begin daar ‘n optog teen die war memorial. Die stadsraad neem ‘n neutrale besluit. Nóg hierdie, nóg daardie mag daar staan. Die war memorial kry die spasie voor die Uniegebou.  Die Krugerstandbeeldegroep kry die plein voor die Pretoria-stasie.

Na die stasie

Die Afrikaners was bitter ontevrede met hierdie “gentelman’s agreement”, maar op 10 Oktober 1925 onthul JBM Hertzog die beeld voor 25 000 mense. Hertzog beklemtoon op hierdie dag Kruger se vaste vertrou op God se genade en Smuts lewer sy toespraak oor wie Kruger was. Ds ADW Wolmarans bevestig weer daar was maar een aangewese plek vir die Monument – die hart van die Krugerstad. Dit word by die stasie onthul – feestelik, maar met onvergnoegheid.

Die onthulling by die stasie het nie die strewe om die beeld in die hart van die stad op te rig, afgeskrik nie.  Inteendeel, ‘n reuse veldtog beging: PLEIN TOE! Dit word ondersteun deur die FAK, die SAVF, die Kultuurraad van Pretoria en die Krugerkomitee (die voorloper van die Krugergenootskap). In Oktober 1936 hou die Krugerkomitee ‘n kongres vir duisende mense. ‘n Sterk beweging is nodig.

In die noordwestelike hoek, dus in die noodelike deel van die wesfasaade, staan die Ou Hoofposkantoor heel links, die Nasionale Bank- en Muntgebou, en daarna die klein Bank of Africa-gebou, wat ook bekend is as die Kirkness-gebou, wat ook bekend is as die Kirkness-gebou. Heel regs is die Paleis van Justisie. 

Al hierdie geboue is binne ‘n tydperk van 22 jaar opgerig – tussen 1888 en 1910 – en dit dra by tot die indruk van eenheid. 

Plein toe

Die Krugerkomitee word die Krugergenootskap. In dieselfde jaar kom ‘n hernude veldtog deur die ossewatrek herdenking. Versoeke het letterlik op die stadsraad gereën. Op 29 Mei 1939 word die besluit om die Krugerbeeld te verskuif, met ‘n meerderheid van stemme goedgekeur. Teen 10 Oktober 1941 is die geld ge-in, ‘n waardige voetstuk is beplan en goedgekeur. Maar nogtans het ‘n paar gebeurtenisse tot verdere uitgestel gelei.

Ten spyte van ‘n sterk begeerte van Van Wouw om dit af te handel soos dit beplan is, ‘n voorstel van Gerard Moerdijk oor ‘n “sielkundige middelpunt” en ‘n kompetisie van die stadsraad vir argitekte kon die proses net nie afgehandel word nie.  ‘n Stadsbeplanner, prof Holford se planne word ook verwerp en die Krugergenootskap verwerp op 12 Junie 1951 al die vordering en sê met gemotiveerde teenkanting hulle is terug by die oorspronklike gedagte naamlik die sentrum van Kerkplein.

Op 26 November 1952 is al die planne uiteindelik finaal aanvaar en 9 Februarie 1953 is die magtiging tot oprigting gegee. Vir die Krugergenootskap ‘n heuglike dag. ‘n Intensiewe veldtog word geloods om die 20 000 pond wat benodig word, in te samel. Op 10 Oktober 1953 word die voetstuk onthul.

Breytenbach (1954) verwoord dit dan soos volg: “En nou wag die volk met hunkering en verlange op die groot dag, Krugerdag 1954, wanneer na ‘n veelbewoë geskiedenis van swerwe en vernedering die beeld van Oom Paul, volledig met sy vier brandwagte, uiteindelik onthul sal word op sy finale en regmatige plek: die sentrum van Kerkplein, die hart van Pretoria, die Krugerstad, op dieselfde gewyde terrein waar eenmaal, vyftig jaar tevore ‘n Godshuis gepryk het. Daar in die sentrum van die hart van die Afrikanerstad sal hy pryk, tot in die verste nageslag, as simbool van die sentrale posisie wat Paul Kruger en alles waarvoor hy geleef en gely het in die hart van sy volk inneem; en daar op die plek waar in die vervloë dae die kerk gestaan het, sal hy tewens ‘n simbool wees van die godsdienstige fondament waarop hy en die volk in wie se hart hy lewe hul verlede en hul toekoms gebou het.” 

En in 2023 moet Afrikaners dan vir mekaar sê – as hy nie meer daar kan pryk nie en tot as vernietig word waar hy staan, wat dan van dit waarvoor hy gestaan het?  Die vryheid en onafhanklikheid leef steeds in die hart van die Afrikaner, en so sal dit wees so lank as wat die Geloftevolk leef. Die kerk, die regbank, die raadsaal en die bank om die beeld het getuig van ‘n ander vryheid. ‘n Vryheid in ‘n eie volksbestaan.  En dit leef voort.

Samevattend

Met die onthulling is geskryf: “Daarmee sal die omswerwinge van hierdie standbeeld tot ‘n einde kom en sal ‘n onklarigheid in ons geskiedenis afgehandel wees.” Gedeeltelik is dit waar en tog ook nie. Dit staan miskien op die plek waarvoor dit aanvanklik bedoel was.  Maar die tyd en die omstandighede van die hede het verander. Daarom moet die oprig van die ewebeeld, hierdie simbool van vryheid, na Orania aangemoedig word. Die President is dood, maar sy volk lewe. Daarom, selfs al is dit die stukkies as wat bly staan in Pretoria kan niemand dit wegvat nie, dit moet net daar bly en getuig van die toestand van die Afrikaner. Maar die ewebeeld moet in Orania staan, juis in Orania. Die President is dood, maar sy volk lewe.  

Die volk lewe vry en onafhanklik: 

  • Vry in die aanbidding tot God Drie-enig.
  • Vry in die ekonomie.
  • Vry in die raadsaal.
  • Vry in die regspraak. 

En wanneer die replika in Orania  opgerig word, moet die wyse wens van die President dalk onthou word. Dat dit opgerig word met Psalm 105:4 en 5 op die voetstuk uitgebeeld:  “Vraagt naar den Heere en zijn sterkte; zoekt zijn aangezicht geduriglyk. Gedenk zijner wonderen, die Hij gedaan heft, zijner wonderteekenen, en der oordeelen zijns monds.”

1 thought on “‘n Pad van 60 jaar – die Krugerbeeld te Kerkplein

  1. Alles goed en wel.
    Wat ons tot nou toe weet is dat ‘n standbeeld van Paul Kruger opgerig gaan word in Orania en bakstene teen ‘n duisend Ora elk vir die doel aangekoop kan word.
    My vraag is: hoe dinamies is die proses?
    Gaan daar ‘n handelsmerk ambassadeur aangewys word?
    As die standbeeld in vorm soos die kerkplein s’n lyk, hoe kan ‘n koue werlikheid omskep word tot ‘n persoonlike en interaktiewe meelewing?
    As die standbeeld in sy grote op ‘n stadsplein pryk, hoe lyk die kleine voorstellings van die beeld vir die altyd grootwordende burgery in Orania? ‘n Persoonlike ervaring is hier ter sprake. In 1963 het ek ‘n miniatuur beeldtjie van Paul Kruger by ‘n winkel in Pretoria -Noord gekoop. Dit het gedien as ‘n papiergewig. Oor die jare heen het die Kruger-gedeelte van die voetstuk afgebreek en tot op datum kon ek geen soortgelyke voorbeeld opspoor nie. Watter waarde sou ‘n volledige beeldtjie vandag hê?
    Gaan daar ‘n aanduiding wees van tysdverloop, en verwikkelinge, soos die proses ontvou?
    Hierdie is die vrae, waarvan daar nog baie is, van ‘n Oraniër met ‘n intense belangstelling in ons Geskiedenis en die wel en weë van ‘n dorp-stad-streek ingesteldheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *