Hoogs onbekend, maar hoogs belangrik: Die Hervormer Pietro Martire Vermigli

Hoogs onbekend, maar hoogs belangrik: Die Hervormer Pietro Martire Vermigli

deur dr. Daniël Maritz

Die Hervorming van die 16de eeu het sonder twyfel die geskiedenis van die Weste onherroeplik verander. Dit word soms deur geleerdes beskryf as een van die grootste bewegings wat die Europese kontinent nog ooit gesien het met beide negatiewe en positiewe gevolge wat byna op alle vlakke van die samelewing gevoel is.

Terwyl figure soos Martin Luther (1483-1546) en Johannes Calvyn (1509-1564) dadelik op die voorgrond staan in die algemene konteks van die Hervorming, geniet ander figure soms bitter min aandag. Alhoewel Luther en Calvyn met reg die kollig verdien en as toonaangewende Hervormers bekendstaan, is ons Protestantse herkoms, veral die breër Gereformeerde tradisie, inderdaad armer sonder die insig en verryking van ander figure en hul bronne vanuit die Hervorming.

Soos wat ons daarom tydens Oktobermaand vanjaar die Hervorming herdenk, wil ek ’n hoogs onbekende, maar tog hoogs belangrike Hervormer die aandag gee wat hy verdien. Dit is die Italiaanse Hervormer, Pietro Martire Vermigli (1499-1562), wat baie uniek as beide ’n Rooms Katoliek en Protestant uitgestaan het.

Vermigli is op die 8ste September 1499 in Florence gebore. Sy ouers, Stefano di Antonio Vermigli en Maria Fumanti, was beide afkomstig van ou gerespekteerde families in Italië met ’n lang geskiedenis van belangrike ampsdraers in die stad. Terwyl Vermigli nog in sy teer jare was het sy ma reeds vir hom die Latynse taal begin aanleer deur hom bloot te stel aan die beste Latynse komedies van die Romeinse skrywer Publius Terentius (195/185-159 vC). Na ’n grondige onderrig tuis het sy ouers hom na Marcello Vergilio toe gestuur om sy skoolloopbaan onder sy toesig voort te sit.

Vergilio was wyd bekend vir sy klassieke onderrig. Hy het vir sy studente ’n breë, maar tog diep blootstelling aan die antieke Griekse en Latynse skrywers gegee. Sy inslag in die klasse was gekenwerk deur goeie en sinvolle kommentaar op hierdie antieke werke te lewer, maar terselfdertyd ook om die integriteit van dié klassieke werke vir sy studente te herwin. Uit die staanspoor het Vermigli se intellektuele en morele vermoëns uitgestaan bo die res van sy klasmaats. Inteendeel, Vermigli se opvolger in Zürich, Josias Simmler (1530-1576), beskryf hierdie tyd van sy lewe soos volg:

“[Vermigli] het ’n sekere uitstaande en treffende intelligensie geopenbaar, wat sy ouers en onderwysers ongetwyfelde hoop gegee het op die hoogste geleerdheid en die hoogste deug. Eerstens, het hy ’n vinnige verstand gehad om waar te neem en te verstaan, en ook ’n geheuevermoë geopenbaar wat dinge kon onthou sodat hy enigiets kon begryp en behou. Tweedens, sy aandag aan leer was so vurig dat dit blykbaar nooit enige irritasie of verveeldheid in luister en lees gehad het nie … Hy het ouer mense soos sy ouers geëer en mense van sy eie ouderdom liefgehad, en hy het hulle tot so mate oor gewen met sy beskeidenheid dat, al het hy die meeste van hulle in vermoë oortref, daar nie die minste afguns onder hulle ontstaan het nie.”

Op die ouderdom van 16 besluit Vermigli om by die Gemeente van die Kanonieke St. Augustinus in Fiesole, slegs ’n klipgooi van Florence af, aan te sluit omdat die monnike daar streng dissipline en literêre studie gekultiveer het. Hier is Vermigli se opleiding en vorming vir 3 jaar nog verder verryk in logika, die kuns van argumentering, en die lees en memorisering van die heilige Skrif. Van hier af het sy leermeesters hom na die Universiteit in Padua toe gestuur waar hy vir die volgende 8 jaar van sy lewe studeer het.

By die Universiteit van Padua, ’n hoogs bekende en gesogte skool van die tyd, het Vermigli homself hoofsaaklik met die studie van filosofie besig gehou. Hy het veral die klasse van die Augustynse en Dominikaanse monnike bygewoon. Sy dae was gekenmerk deur die lees van klassieke filosofiese tekste, die skryf van kommentare en disputasies, oordenking en reflektering. Dit is ook hier waar Vermigli vir homself die klassieke Griekse taal aangeleer het omdat hy die antieke filosoof, Aristoteles, nie in Latyn nie, maar eerder in sy eie taal, Grieks, wou lees. Met die bemeestering van die Griekse taal het Aristoteles vinnig een van Vermigli se gunsteling filosowe geword en het hy ook ’n kommentaar, wat eers na sy dood gepubliseer is, op Aristoteles se Nichomagiese etiek geskryf.

In Padua het Vermigli verder ook onder leiding van die Dominikane die werke van die groot Italiaanse Middeleeuse skolastiese teoloog en filosoof, Thommaso d’Aquino (1225-1274), beter bekend as Thomas Aquinas, gelees. Aquinas het vinnig een van Vermigli se gunsteling teoloë geword wie se invloed op hom nie onderskat kan word nie. Dit verduidelik hoekom Vermigli, nadat hy later ’n protestant geword het, deur John Patrick Donnely as ’n “Calvinisitiese” of “Gereformeerde Thomis” bestempel word. Vermigli se loopbaan het hom uiteraard heel strategies in ’n intellektuele konteks geplaas waar die Middeleeuse skolastiek deur die werke van Aquinas, die Christelike humanisme, en die herlewing van Augustinus se denke aan die orde van die dag was.

Op die ouderdom van 26 word Vermigli ’n prediker in die Dominikaanse orde en verwerf hy ook die titel van doktor. Met hierdie kwalifikasie kry hy geleenthede om gereeld in Rome, Bologna, Fermo, Pisa, Venesië en Mantua te preek en klas te gee. Sy belangstelling in, en passie vir beide die kerkvaders, veral Augustinus, en die teks van die Ou- en Nuwe-Testament het aanhou groei, soveel so dat hy vir hom ’n Joodse leraar opgespoor het onder wie hy die Hebreeuse taal bemeester het. Dít het sonder twyfel sy toegang tot, en insig in die Ou-Testament verryk en verdiep.

Met tyd het Vermigli bekendheid in die grootste en bekendste stede van Italië verwerf en word gevolglik as kloostervader in Spoleto aangestel. Na 3 jaar se bedieningswerk in Spoleto word hy die prefek van die Gemeente by die Kollege van San Pietro ad Aram in Napels. Hier het hy vir die eerste keer die werke van die Hervormers, onder andere Martin Bucer (1491-1551), onder oë gekry. Stadig maar seker het Vermigli begin om sekere aspekte, soos die vagevuur, van die Rooms Katolieke kerk te bevraagteken op grond van die Skrif en die kerkvaders. Saam met dit het hy ook begin bewus word van die aktiewe korrupsie in die kerk van daardie tyd.

Van Napels af het hy ’n verdere aanstelling by San Frediano in Lucca gekry waar hy episkopale jurisdiksie oor die area gehad het. Hier het Vermigli klassieke onderrig vir die jongmense in die gemeenskap gevestig om seker te maak hulle bemeester die tale van Hebreeus, Grieks en Latyn. Hy het self ook gereeld openbare lesings aangebied en elke Sondag gepreek. Die mense van Lucca het in hul massas vir sy lesings en preke opgedaag ten spyte daarvan dat hy reeds tekens van protestantisme in sy lering en prediking gewys het. Deur sy invloed in Lucca het heelwat Italianers op teologiese gronde self ook krities geraak teenoor die Rooms Katolieke kerk. Uiteindelik kon sy invloed nie sonder kritiek deur die Katolieke gelaat word nie. Vermigli is gevolglik aangekla en beveel om aan te meld vir ’n vergadering gereël deur die kerklike strukture. Nadat hy uitgevind het van ’n lokval op sy lewe het hy besluit om nie die vergadering by te woon nie, maar eerder te vlug.

Vermigli het sy kerklike leierskap aan ’n goeie vriend oorgegee en in die geheim Lucca verlaat om vir oulaas sy tuisdorp, Florence, te besoek. Met die samestelling van die Roomse Inkwisisie in 1542 om seker te maak dat die Lucca-streek nie Rooms Katolisisme verlaat nie, het Vermigli Italië agter hom gelaat, te perd deur die Alpe gereis, en homself uiteindelik in Zürich, Switserland bevind. Nadat hy daar vir Heinrich Bullinger (1504-1575) ontmoet het, het hy homself vir ’n tyd lank in Strasbourg, Duitsland gaan vestig waar hy deur Martin Bucer gevra was om klas te gee. Dit is ook in Strasbourg waar Vermigli met Catherine Dampmartin getrou het. Hy het met sy werk in Strasbourg vinnig ’n reputasie onder die Protestante verwerf wat nie net getuig van diepgaande eksegese nie, maar ook uitstekende teologiese en filosofiese geleerdheid. Sy kennis en wysheid het egter die beste uitgestaan in publieke disputasies. Simmler beskryf sy talent soos volg:

“Maar as [Vermigli] self moes praat, hetsy deur voor te stel of te reageer, het hy hom altyd so gedra dat daar geen vermoede sou wees van ’n begeerte om te stry of ’n oorwinning oor ’n gevalle teenstander te behaal nie… hy het onderrig wat waar is eerder as om met enigiemand te rusie oor woorde. Daarom, toe hy later dikwels teen die bitter verdedigers van die pouslike godsdiens te staan gekom het, is hy nooit deur hulle beledigings tot toorn geprikkel nie en is hy ook nie ydel gemaak deur die lof en toejuiging van ons mense nie, maar het hy altyd dieselfde beskeidenheid en geestelike ewewig behou. Dieselfde presiesheid van spraak wat hy in openbare lesings gebruik het, het hy baie ernstiger nagestreef in disputasies, want hy het geoordeel dat onduidelikheid van aanbieding en dubbelsinnigheid van terminologie die oorsaak van baie kontroversie was.”

Die aartsbiskop van Canterbury in Engeland, Thomas Cranmer (1489-1556), het te hore gekom van Vermigli en in 1547 hom uitgenooi om ’n pos by die teologiese fakulteit van Oxford Universiteit te beklee. Nadat hy vir 5 jaar in Strasbourg klas gegee het, het Vermigli met toestemming van die senaat na England vertrek waar hy tot en met 1553 onderrig het. Sy tyd in Engeland was gekenmerk deur die sogenaamde Oxford Disputasies. Dit was ’n 4 dae lange disputasie wat Vermigli oor die teologie agter die eucharistie met Rooms Katolieke geleerdes gehad het. Vandag is hierdie teks beskikbaar in sy werk getiteld The Oxford Treatise and Disputation on the Eucharist. Hier kon Vermigli sy diep teologiese agtergrond kombineer met ryk Thomistiese filosofiese kategorieë om die Katolieke oor die kwessie van transubstansiasie te weerlê. Ongelukkig was Vermigli se tyd in England ook gekenmerk deur die tragiese dood van sy vrou met wie hy vir 8 jaar getroud was.

Vanaf 1553 tot en met 1556 het Vermigli homself weereens in Strasbourg bevind waarna hy in 1556 na Zürich verhuis het. Sy jare in Zürich was geweldig besig met lering en prediking asook die aanhoudende lees van klassieke filosofiese tekste, die kerkvaders, en die Heilige Skrif. Deur sy bedieningswerk daar het hy homself goed en diep in die gemeenskap gevestig. Ses jaar na die dood van sy eerste vrou, het hy ook in Zürich weer getrou met ’n Italiaanse vrou, Catherina Merenda. Hulle eerste twee kinders is ongelukkig reeds in hul kleintyd oorlede. Toe sy vrou vir ’n derde keer swanger was, het Vermigli in 1562 ernstig siek geword. Op 12 November 1562 het hy vir sy vriende langs sy siekbed gevra om hom op te help sodat hy bietjie regop op ’n stoel kon sit. Terwyl hy daar op die stoel gesit het saam met sy vriende en sy swanger vrou het Vermigli sy laaste asem uitgeblaas. Weereens beskryf Simmler die geleentheid:

“In hulle teenwoordigheid het hy sy laaste asem uitgeblaas, met so ’n rustigheid dat dit gelyk het of hy nie sy siel opgegee het nie, maar eerder aan die slaap geraak het, en ons het gedink dat ons nie ’n dooie man dophou nie, maar ’n persoon wat nog daar by ons leef en sit. Bullinger het die oë van die sterwende man toegemaak en hom geklee vir begrafnis; as vriend het hy hierdie laaste plig van respek vir sy goeie vriend vervul, intussen diep ontroer deur ’n groot en ongelooflike hartseer. Dit, my toehoorders, was die afwyking van die lewe van ons leermeester, van die man wat ‘die beste, wysste en mees opregte was van almal wat ek geken het’, want ek kan waarlik van hom sê wat Plato nagelaat het toe hy oor Sokrates geskryf het: ‘Sy lewe is voor jou uitgelê; jy het ook gehoor hoe sy dood was’.”

Moderne Protestantisme is inderdaad armer sonder die insette van die hoogs onbekende maar hoogs belangrike Peitro Martire Vermigli. Hy was so slim as wat hy verstandig was en het talle gebiede geïdentifiseer wat vandag nog vir ons protestante in Suid-Afrika ononderhandelbaar behoort te wees. Sedert die protestantisme deel is van die algemene, of katolieke, Christelike kerk, is hierdie gebiede onder andere die klassieke metafisika, epistemologiese realisme, die deugde etiek, hermeneutiek, die Niceaanse Drie-eenheidsleer, Chalcedoniese Christologie, en nog vele meer.

Terwyl Vermigli se kommentaar op Aristoteles se Nichomagiese etiek getuig van ’n lewe wat die kardinale deugdes van verstandigheid, geregtigheid, standvastigheid, en matigheid in alles nagestreef het, getuig sy filosofiese werke van die manier hoe hy daarin geslaag het om die noue, diepe, en ryke samehangende verhouding tussen geloof en rede, en teologie en filosofie te handhaaf. Dinge wat protestantisme in Suid-Afrika vandag bitter nodig het.

Na skool het Daniël sy studies in teologie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom begin. In 2015 het hy sy meestersgraad in apologetiek voltooi en gevolglik vir ’n Ph.D. in teologie ingeskryf wat hy in 2020 voltooi het. Hy is die bestuurder van die NP Van Wyk Louw-sentrum by Akademia en ook ’n tentmaker-predikant by die Gereformeerde kerk Brooklyn in Pretoria. Hy het in 2018 die Ratio Christi-tak by die Universiteit van Pretoria gestig en sit ook op die direksie van die Ratio Christi apologetiek bediening. Daniël het ’n groot belangstelling om die kerk te help om die korrekte verhouding tussen geloof en rede en teologie en filosofie te herwin. Hy is getroud met Ansie wat ’n dosent in taalkunde is by die Universiteit van Pretoria en hulle het een seun met die naam Gerdus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *