Anton van Wouw – Beeldhouer vir die Volk
deur Christiaan van Zyl
Ver na die noorde staar sy trekkersblik,
Net of hy nou nog vryheidstemme hoor,
Net of sy oë deur donker skadu’s boor
En tog berustend sê: “Laat God beskik!”-
(uit Die Beeld van Oom Paul van J.R.L. van Bruggen)
Anton van Wouw se naam is verewig as Volksbeeldhouer deur sy werke wat vandag steeds gekoester word. Een van sy belangrikste werke – Pres Paul Kruger op Kerkplein is tydens my studentedae in die week voor JOOL deur studente getakel en skoon gewas; anders as vandag, veertig jaar later, waar hy agter slot en grendel staan om te verhoed dat hy getakel en geverf word. Hy hoort op Kerkplein, maar sy volk voel nie meer welkom daar nie. Dalk is dit tyd dat hy verhuis …
“Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms” – wyse woorde aan die einde van oom Paul se lewe. Oom Paul se beeld was die eerste groot beeldhouwerk wat Anton Van Wouw in opdrag gedoen het.
Anthonie (Anton) van Wouw is in Nederland gebore op 27 Desember 1862 te Driebergen. Tydens sy skoolopleiding neem hy kunsklasse en na skool ontvang hy opleiding in sierpleisterwerk in Nederland.
Op die ouderdom van 28 verlaat hy en sy ma Nederland om aan te sluit by sy pa en broer, wat vooruit werk in Suid-Afrika kom soek het. Pretoria is ’n ontwikkelende stad met baie werksgeleenthede en baie bouwerk. Wetgewing het bepaal dat ‘n persentasie van boukoste spandeer moes word aan kunswerke aan elke nuwe gebou. Anton se pa sien dus goeie werksmoontlikhede vir sy seun wat in die veld van argitekskuns opgelei is. Plaaslik vind Anton nie dadelik werk nie en assisteer hy vir ses maande in ’n wapenwinkel waar hy baie kennis opdoen oor wapens. Dit sal hom later goed baat as beeldhouer. Anton maak klein beelde, gee tekenklasse in skole en kry uiteindelik werk as argitekskunstenaar om sierpleisterwerk aan geboue aan te bring. Een van die min beeldhouwerke van hom in sandsteen, is die Ou Republikeinse gewelwapen op die “nuwe” Raadsaal in aanbou op Kerkplein. Hy ontmoet Sannie, suster van bekende digter, Jan F.E. Cilliers, en hulle trou op 3 Februarie 1895.
Soos sy pa, was Anton baie beïndruk met die boere van die ZAR. Hy woon pres Paul Kruger se derde inswering op Kerkplein in 1893 by. Die gebeure laat by hom so ’n diep indruk dat hy tien jaar later ’n uitbeelding van die gebeure steeds duidelik kan herroep en boetseer. Sy eerste groot opdrag is die Krugerstandbeeld vir Kerkplein, Pretoria. Sammy Marks het ook ’n groot bewonderig vir pres Kruger gehad en beywer hom vir die oprigting van ’n beeld van Kruger. Hy nader van Wouw om ’n sketsmodel van Kruger te maak. Sy voorlegging word besigtig deur lede van die Volksraad en Uitvoerende Raad van die Republiek. Op 7 Oktober 1896 ontvang Van Wouw skriftelik die opdrag van Sammy Marks om na Frankryk of Italië te gaan teen betaling van 40 pond per maand, vir ’n tydperk van nie langer as twee jaar, en ook vergoeding vir alle uitgawes vir die maak en giet van die beelde. Hy en sy gesin ontvang ook vry reispasse na en van Europa vir besoeke met die uitvoering van die werk.
Van Wouw se voorstel vir die beeld is pres Kruger in ’n vaderlike houding, rustig staande met gebruiklike formele drag en ’n keil op die kop. Kritici sou hom later kritiseer oor die keil, maar vir hom was dit onafskeidbaar deel van die president. Hoe moes sy hooggeagte president Kruger kaalkop onder die warm son van Afrika staan? Transvaalse Boere was bekend as hoededraers en so ook die president. Bykomend tot die hoofbeeld is ’n brandwag van vier gewapende burgers, twee uit die Voortrekkertyd en twee uit Van Wouw se tyd, wat in die vier windrigtings waghou. Dit was vir Van Wouw belangrik dat die burgers soos tipiese burgerkrygers moes lyk: sittend, maar waaksaam. Kruger, as die sentrale figuur, is simbolies van die sentrale posisie wat hy as vader in die hart van sy volk inneem en ook van die Republikeinse vryheidsgedagte.
Terwyl sy gesin hom besoek in Italië, doen sy vrou Sannie longontsteking op en sterf daar op 18 Mei 1897. Anton van Wouw word agtergelaat as wewenaar met twee baie klein dogtertjies. Met die voltooiing van die beelde keer hy terug na Pretoria in September 1899 en besef dat die dreigende oorlog problematies kan wees vir die oprigting van die voltooide beelde. Van Wouw was ontnugter, terneergedruk, ontmoedig en ’n enkelouer met die uitbreek van die Anglo Boereoorlog en hy besluit derhalwe om nie by die Nederlandse korps aan te sluit en die wapen op te neem nie. Hy bly in sy huis te Bloedstraat en bring die tyd deur, deur illustrasies vir koerante in Pretoria te maak. Hy gee teken- en kunsklasse, skilder landskappe en maak enkele klein beeldhouwerke.
Na die oorlog vang hy ’n stuk geskiedenis vas in drie belangrike kleiner beelde: Kruger in Ballingskap, Slegte Nuus en Op Brandwag. Hy maak tien borsbeelde van al die Boereleiers, maar weier om een van Smuts te maak. Die realisme in sy kuns maak van hom ’n baie geliefde kunstenaar onder die Afrikaners, hy kap nie uit klip nie, maar boetseer met klei tot in die fynste detail. Nog ’n baie belangrike werk volg: Die sentrale beeldegroep by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein. Emily Hobhouse se persoonlike belewenis van ’n toneel van gebroke vroue en ’n sterwende kind in Springfontein se konsentrasiekamp op 15 Mei 1901 vind gestalte deur die kunstenaarshand van Anton van Wouw. Hiervoor het Emily Hobhouse hom eers Rome toe gestuur om Michelangelo se Pietà te gaan bestudeer. Die Vrouemonument is onthul op 16 Desember 1913.
Hy boetseer die figuur van Vrou en kinders by die Voortrekkermonument in sy 76 ste jaar en sluit daarmee sy volksnalatenskap af. Op 30 Julie 1945 sterf Anton van Wouw in die ouderdom van 82 jaar en word begrawe in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes.
Sy werke is meestal volksfigure wat in al die groot stede van die land staan. Dit sal ’n groot voorreg wees om ’n replika van sy Oom Paul op Orania te verwelkom.
Christiaan van Zyl is die dorpsargitek in Orania. Hy is betrokke by ’n reeks gemeenskapsinisiatiewe en organisasies waaronder Orania Kunsteraad, die Grondgebruiksbestuurskommitee en Radio Orania. Vanuit AVstrooi-argitekte se kantoor het die voetstukontwerp van die Krugerbeeld-replika wat sy plek sal inneem op die dorpsplein onlangs die lig gesien.