Die Volkstaatgesprek verspreid oor tyd en plek

deur Wynand Boshoff

Die “Volkstaatgesprek” is iets waarmee ek grootgeword het. Terugwerkend is ek verbaas hoe klein ek was toe ek met groot ore na die grootmense se gesprekke geluister het. As ek daaroor terugdink, veral met my begrip daarvan, besef ek jy moet kinders nie onderskat nie – maar jy moet hulle ook nie oorskat nie. Maar dit is ‘n ander gesprek.  

Toe SABRA besluit het om Projek Oranje – wat op die Vereniging van Oranjewerkers sou uitloop – te loods, was ek agt of nege jaar oud. Daar is van ‘n “wit tuisland” gepraat. Dit was ‘n uitdruklike swenk, weg van “swart tuislande” wat moes afstig om ‘n “wit Suid-Afrika” agter te laat.  

Drie ontwikkelingstroke is aangedui, elkeen as ‘n boog oor die kaart: Een oor die Hoëveld van ongeveer Potchefstroom in die weste, oor die Vaaldriehoek tot by Middelburg in die ooste; dan die sentrale strook, van die destydse Verwoerddam al met die Oranjerivier langs seker tot by Prieska of Groblershoop; en dan die suidelike strook, ongeveer met die Tuinroete langs.  

In hierdie stroke sou “groeipunte” geskep kon word, waar die reël van “blanke arbeid” sou geld, omdat dit duidelik was dat swart arbeid lei tot ‘n swart meerderheid en dat meerderheidsregering onafwendbaar was – vroeër of later.  

Die logika van die saak was sterk en boonop in lyn met regeringsbeleid – hoewel dan van die ander kant af. Daarom is gereken dat dit steun sou kry en dat die staat Oranjekrag, die konstruksiedorp vir die Verwoerddam, daarvoor beskikbaar sou stel. Dit was ongeveer 1980. 

Die hoop het beskaam. Mnr. PW Botha was die nuwe eerste minister en het geglo dat ekonomiese groei; politieke deelname deur nie-blankes wat blanke mag nie sou bedreig nie; verbetering in swart mense se sosio-ekonomiese omstandighede; en kragdadige optrede teen “opstandige elemente” die politieke druk op die blanke minderheidsregering sou verlig.  

Twee kritieke sake is as minder belangrik beskou: Die onhoudbaarheid van ‘n minderheidsregering; en gevolglik die politieke gevolge van ‘n swart meerderheid wat voortvloei uit ‘n ekonomie wat op volop, goedkoop swart arbeid gebou is.  

Gevolglik was ‘n “Blanke groeipunt” nie net oorbodig nie, die gedagte was selfs skadelik. Eerstens: Hoekom sal jy nou self ‘n onproblematiese grondslag van jou regering problematieser? Tweedens: “Blanke groeipunt” of “Blanke tuisland” se geurtjie van ekstremisme en selfs agterlikheid – wit mense wat in onderontwikkelde streke sal gaan wegkruip om nie met swart mense te doen te kry nie.  

Vyf jaar later het nie veel tyd verloop nie, maar vir my was dit die verskil tussen tien en vyftien – nogal baie. Die Vereniging van Oranjewerkers se keuse het op Morgenzon as eerste groeipunt geval. Dit was ‘n klein dorpie in die Afrikaner hartland van die Oos-Transvaalse Hoëveld. Klein genoeg dat dit denkbaar was om ‘n meerderheid te word, maar daar waar die grootste getal Afrikaners hulle bevind het.  

Nog vier jaar later was ek al stemgeregtig, toe my pa ‘n kaart bekendmaak met ‘n omlyning “waarbinne ‘n volkstaat beding kon word”. Dit het rofweg die huidige Noord-Kaap, maar ook dele van die huidige Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat en selfs Namibië ingesluit.  

Vinnig moes hy byvoeg: Nie alles op die kaart nie, net ongelukkig niks daarbuite nie. Hierdie voorstel het verdelingslyne onder Afrikaners verdiep en selfs nuwes geskep:

  • Die Weslanders (ons) het geglo dat meerderheidsbesetting bereik kon word deur ‘n yl bevolkte deel met die nodige potensiaal te ontwikkel.
  • Die Onderhandelaars het geglo dis skoon oorbodig, want ‘n bedeling waarin geen groep heers of oorheers word nie, kon geskep word.
  • Die Vegters het geglo die hele Suid-Afrika is met bloed gekoop en om die destydse swart tuislande af te staan is soveel as wat enigeen kon vra.
  • Die Hartlanders het in meerderheidsbesetting en volkseie arbeid geglo, maar daar waar Afrikaners reeds bly – as ons vryheid ander inwoners nie pas nie, kon hulle gerus trek.  

Terugskouend is dit moeilik om jou te verbeel hoeveel emosie hierdie meningsverskille tot gevolg gehad het. Vir die Vegters was almal anders verraaiers. Vir die Hartlanders was Onderhandelaars en Weslanders verraaiers. En vir Weslanders was elk van die ander op sy eie manier onrealisties.  

Nog vyf jaar later het die ANC die land oorgeneem. Oor en weer verwyte was aan die orde van die dag, maar per slot van rekening moes mense besluit wat om met die nuwe werklikheid te maak. Inpas en saamwerk? Soveel moontlik eie instellings tot stand bring? Landuit gaan? Orania toe trek?  

Sedert 1993 woon ek in Orania. As is verbrande hout. Maar as 250 000 Afrikaners tussen 1994 en 1999 Noord-Kaap toe getrek het, was ons nou ‘n kwart van die provinsie se bevolking. In party munisipaliteite en selfs distriksmunisipaliteite sou ons nou die meerderheid gewees het. Maar ons het nie en ons is nie.  

Orania se flinke groei beïndruk deesdae naastenby almal wat besoek bring. Eers was die dorp te groot vir sy bevolking, toe is dit nommer pas, nou groei ons verby die dorp wat ons gekoop het. Trouens, die huise wat Orania self gebou het, is seker al meer as dubbeld wat ons met die aankoop gekry het.  

Intussen het die Onderhandelaars, Vegters en Hartlanders ook gedoen wat hulle hande gevind het om te doen. Die emosie behoort grootliks tot die verlede. Almal gebruik die Onderhandelaars se grondwet om hulleself te beskerm. Almal is bly oor die instellings wat Hartlanders en Vegters geskep het.  

Sover ek kan sien, probeer niemand ‘n meerderheidsgebied skep nie. Dit neem nie weg hoe indrukwekkend die instellings is wat hulle skep nie. Veiligheidsbuurte slaan misdaad ten minste in die direkte omgewing hok.  

Soltech, Akademia en Aros is drie naskoolse opleidingsinstansies wat hoogs indrukwekkend is. Letterlik duisende studente en dosente skep ‘n Afrikaanse voetspoor die toekoms in. Die grondslag kan soos volg verwoord word: “Jy hoef nie die meerderheid te wees nie – jy moet net genoeg wees.” 

Maak dit Orania oorbodig? Die antwoord is moeiliker as wat mens dink. Dit hang af wat Orania is. Ek neem ‘n Orania met 10 000 inwoners (ons behoort dit teen 2032 te bereik) as vertrekpunt:  

As Orania net na binne gekeer is, maak dit sin as jy van die Karoolug en uitgestrektheid hou. Anders kon dit maar net sowel in Pretoria gewees het waar sedert 1991 sterker instellings as in Orania gevestig is.  

As Orania ook na buite gekeer is en sy stempel op die distrik en provinsie afdruk, tel die omgewing se yl bevolking vir ons, soos wat die bedoeling destyds was. Om na buite gekeer te wees, beteken om die sagte mag waaroor Orania beskik, uit te oefen. Voorbeelde?  

Lok beleggers na Orania. Lok klandisie uit die omgewing na Orania. Koop grond in die omgewing van Orania. Benut sakegeleenthede buite Orania en pas ons arbeidsbeleid toe selfs waar dit nie afgedwing kan word nie. Dit gebeur reeds, maar die tempo kan toeneem. 

Tienduisend Afrikaners wat hulle omgewing probeer bepaal, kan in Pretoria goeie dinge tot stand bring, maar niks regeer nie. Tienduisend Afrikaners wat in Orania na binnetoe kyk, kon dit enige plek gedoen het. Tienduisend Afrikaners wat in Orania na binne sterk is en na buite uitreik, kan die politieke werklikheid in ons guns keer.  

Ek verlang nog altyd na ons familieplaas in die Waterberg. ‘n Kuier in my grootwordstad, Pretoria, is altyd lekker en wat ons mense daar uitrig is indrukwekkend. Tog was ek nog nooit spyt dat ek dit agtergelaat het nie. Orania kyk na buite om die vryheid te win – en dit maak dit die moeite werd.

1 thought on “Die Volkstaatgesprek verspreid oor tyd en plek

  1. Wynand, ek dink persoonlik dat Orania sal vinniger kan ontwikkel deur akademiese instellings hier te vestig, al is dit net sateliet kampusse as beginpunt.
    ‘n Dooie perd kan nie weer opgesaal word nie, met die teruggryp na geskrapte Volksstaatraad en wetgewing nie.
    Die probleem bly, wit Afrikaners verdeel voortdurend hul eie mag.
    Bv die Onafhanklike Verkiesingskommissie mag nie kiesers se besonderhede in Orania kom opdateer nie, daar moet eers ‘n besluit gemaak word daaroor in toekoms. Die VF+ se magsbasis het in Noordkaap gegroei onder ander bevolkingsgroepe, juis omdat ANC busse vol aanry om oral ondersteuningsbasisse te vergroot dmv groter groeiende plakkerskampe. Eie arbeid word dus in provinsie bedreig en ook die Calvinistiese inslag wat bestaan het in Noordkaap platteland.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *