deur Flip Buys
Die geskiedenis wys dat beskawings en ryke glo dat hulle bestaan ewigdurend is, maar dat hulle maar soos golwe kom en gaan. Die Bybelse boek Daniël beskryf dit treffend in die uitleg van Nebukadneser se droom van die beeld. Tog kan oorheersende mag die skynindruk van onsterflikheid skep. Die Egiptiese beskawing het bykans 30 eeue lank bestaan. Ná hulle het die Perse geglo dat hulle vir altyd die “vier hoeke van die wêreld” sal regeer. Hulle is opgevolg deur die Grieke, wat deur die Romeine oorweldig is. Die Romeinse digter Tibullus het ʼn eeu voor Christus al Rome as die ewige stad – oftewel “Caput Mundi”, hoofstad van die wêreld – beskryf.
In die moderne tyd het die son vir eeue nooit ondergegaan oor die Britste Ryk nie, en Winston Churchill het digterlik verkeerdelik ’n duisendjarige ryk voorsien. Hitler se duisendjarige ryk het daarna in ’n bloedbad gestol. Daarna het die Oosblok se val ’n bespotting van Karl Marx se voorspelling gemaak dat die wêreld onkeerbaar na ’n ewige kommunistiese paradys beweeg. Westerse elites het die mislukking van kommunisme as ’n ewige oorwinning vir die liberale demokrasie gesien – as’t ware die “einde van die geskiedenis”. Net dertig jaar ná hierdie “grafskrif van die geskiedenis” het George Bush se “nuwe wêreldorde” waarin die wêreld nou vir altyd westers sou wees, tot ’n einde gekom met die Russiese inval in Oekraïne en die Amerikaanse mislukking in Afghanistan.
Heropkoms van kultuur
Die “einde van die geskiedenis” met sy gewaande ewigdurende globale liberale eenstemmigheid is verplaas deur ’n wêreld wat in kulturele magsblokke verdeel is. In hierdie wêreld wat deur Samuel Huntington van Harvard as ’n “Botsing van Beskawings” beskryf is, het kultuur-ideologie as die belangrikste groeperingslyn vervang. Dit gaan nie meer oor waaraan jy glo nie, maar wie jy is. Daarteenoor is die “Great Awokening” in die Weste ʼn deel van die proses van Westerse kulturele ontbinding. Die historiese Westerse Christendom en kultuur is in die meeste Westerse state agtergelaat en vervang met ‘n “progressiewe” sekulêre ideologie, en “volk” is met “bevolking” en multikulturalisme vervang.
Die heropkoms van kultuur ná die val van liberalisme as wêreldwye goudstandaard is niks nuuts nie. Die wêreld was vir eeue lank gekenmerk deur kultuurblokke soos die Weste, die Islam, Indië, China, Japan, Afrika en Rusland. Godsdiens vorm die basis van kulture. Godsdienste soos die Christendom, Judaïsme en Hindoeïsme is eeue oud, en het in die Ooste ontstaan. Daarteenoor is die ideologieë soos Nasionalisme, Konserwatisme, Liberalisme en Kommunisme net meer as twee eeue oud, en het almal in die Weste ontstaan. Kultuur lê dus veel dieper as ideologie en is sprekend van ’n leefwyse en samelewingsorde, teenoor ideologie wat ’n vlakker regeringstelsel is.
Die wêreld het die afgelope jare net weer geword wat dit was: ’n veelheid van kulture wat die aarde deel en wat ten spyte van verskille met mekaar moet saamwerk ter wille van die oorlewing van die mensdom en ons planeet.
Bismarck
Die vraag is hoe Afrikaners hierdie globale magsverskuiwing weg van die Weste as oorheersende moondheid na een van vele magsblokke moet hanteer. Drie riglyne is belangrik. Die eerste behoort die besef te wees dat ons nie staatlik moet dink nie. Ons het nie ’n Afrikanerstaat wat tradisionele interstaatlike verhoudinge kan aanknoop nie. Desondanks is ons ’n eeue-oue kultuurgemeenskap wat sy belange deur sy instellings in hierdie “nuwe” wêreld moet, kan en wil bevorder. Buitelandse verhoudinge deur nie-staatlike rolspelers soos stede of kultuurgemeenskappe is ’n erkende strategie wat “baan-twee-diplomasie” genoem word. Tweedens moet ons die goue reël van die Britse staatsman lord Palmerston onthou. Hy het gesê dat lande nie ewigdurende vriende of vyande het nie, maar wel belange. Dit geld ook vir ’n volk soos die Afrikaners. Ons het blywende belange soos vryheid, veiligheid, voorspoed en ons taal en kultuur wat ons moet bevorder.
Derdens behoort ons die resep van diplomasie van die Duitste staatsman Otto von Bismarck te volg waarmee hy Duitsland opgebou en vrede in Europa gehandhaaf het. Dit was om beter verhoudinge met elke buurman te handhaaf as wat hulle met mekaar het, met Duitsland en die betrokke lande se nasionale belang as riglyn. In die praktyk het Bismarck bondgenootskappe gevorm, vyande geneutraliseer en vriende gemaak van ander sodat hulle nie magsblokke teen Duitsland kon vorm nie. Sy opvolgers het sy beleid verontagsaam en dit het Duitsland in twee bloedige nederlae laat beland. Soos Kissinger opgemerk het: “Arme Duitsland, te groot vir Europa, te klein vir die wêreld”.
Afrikaners
Goeie internasionale verhoudinge vir Afrikaners begin eerstens met goeie verhoudinge met ander kultuurgemeenskappe en organisasies in Suid-Afrika. Hulp met hulle ekonomiese uitdagings sal dit makliker maak om ons politieke uitdagings te hanteer. Dit gaan boonop baie moeilik vir ons wees om vriende in verre lande te kry as ons net vyande hier naby het. Die oorlog in Oekraïne wys ook die risiko’s van vriende wat vêr is en vyande wat naby is.
Tweedens behoort die Afrikaner-diaspora die belangrikste prioriteit vir praktiese steunwerwing te wees. Derdens behoort ons ’n baan-twee- diplomatieke strategie te gebruik om ons saak te internasionaliseer. Ons moet eerder ’n “horisontale” as ’n “vertikale” strategie volg. Dit beteken dat ons eerder met gemeenskappe, stede, federale state en ander instellings in die buiteland moet skakel as net met nasionale regerings. Regerings bly belangrik, maar dit is in die meeste state se nasionale belang om eerder met die Suid-Afrikaanse regering goeie verhoudinge te handhaaf as met nie-staatlike rolspelers.
Venster van geleentheid
Afrikaners het nie die mag om onverbonde te bly en die “Ooste en die Weste” teen mekaar af te speel nie. Terselfdertyd sal dit nie ons belange dien om kant te kies nie. Die Weste speel nog verreweg die sterkste rol in ons wêreld. Om van hulle vyande te maak, sal tot gevolg hê dat ons onnodig miljoene konserwatiewe Westerlinge as moontlike vriende verloor. Die ANC se anti-Westerse buitelandse beleid bied vir ons ’n gulde venster van geleentheid om Westerse vriende te maak sonder dat ons vyande van ander kulturele magsblokke hoef te maak. Die ANC het die afgelope jare selfs in Afrika baie vyande gemaak, en dit is in Afrikaners se belang om ook na konserwatiewe groepe in Afrika uit te reik. Dit sal immers dom wees om ons as ’n klein Westerse minderheid teen die hele kontinent op te stel, en vriende wat naby is, sal help om vriende in verafgeleë lande te maak.
Churchill het gesê Amerika is soos ’n groot, vriendelike hond in ’n klein kamertjie. Elke keer as hy sy stert swaai, slaan hy ’n stoel om. Henry Kissinger het geskerts dat dit gevaarlik is om die VSA as ’n vyand te hê, maar dat dit dodelik kan wees om hom as ’n vriend te hê! Hierdie twee staatsmanne se uitsprake wys dat Afrikaners onsself nie onvoorwaardelik aan die VSA of aan die Weste kan verbind nie. Tog is die werklikheid dat daar miljoene konserwatiewe Westerlinge is waarmee ons bande kan bou, terwyl ons terselfdertyd met konserwatiewe groeperings in Oos-Europa en ander wêrelddele behoort te skakel.
Flip, Vsa dink dat hul met president Loop-en-val Biden nog voorskriftelik kan wees vir klein Afrika-landjie, soos SA. Waarom mag SA nie kies watter tipe magsblok hul mag ondersteun nie?
Die skrywers vergeet, dat terwyl SA destyds die Weste gekies het, CIA proksie oorlog geveg het in Angola, Tannie Margaret ondersteun het, het dieselfde Weste die ANC in London, New York en Den Haag gehuisves en ons gewone mense gestraf met ANC gedrewe sanksies.
Moenie feitlike geskiedenis plooi nie. Brittanje en Vsa verdra wit Afrikaners, maar verraai ons normaalweg, soos slang in paradys.