Orania, ja beslis. Maar hoe lank nog en waar gaan ons heen?

ORANIA, OF NIE?

Die antwoord op die vraag is maklik:  Orania ja, beslis. Daar is op hierdie stadium geen ander heenkome vir mense wat hulself as Afrikaners beskou nie. Die vraag wat by my opkom is egter: Orania – hoe lank nog en waar gaan ons heen?

‘n Meningspeiling het getoon dat die meeste mense wat Orania hulle tuiste wil maak dit doen omdat dit ‘n veilige omgewing vir hulle en hulle kinders beteken. Dit op sigself is nie ‘n verkeerde motief nie, maar dit behoort nie eerste op jou lys vir redes waarom jy na Orania wil kom, te wees nie.

Daar is ook ander redes waarom mense in Orania is. Op ‘n vraag aan ‘n sakeman waarom hy in Orania is, was sy antwoord dat hy ‘n geleentheid gesien het. Dit is ook nie ‘n verkeerde motief nie, maar as dit jou eerste antwoord is wonder ek waar kom jy vandaan? Ek wonder oor jou betrokkenheid by die Afrikanersaak in die verlede, oor waar jy in die verkiesing gestem het, wat is jou kerkverband en waarom is jy nie getroud met die vrou wat saam met jou bly nie?

Die aanvanklike gedagte van die meerderheid pioniers van Orania was gewis nie veiligheid of werksgeleenthede nie. Dit was mense wat ‘n liefde vir ons volk en ons eie gehad het. Mense wat  die spreekwoordelike Bybel in die wakis saamgebring het en Afrikaans gekoester het. En terwyl ons in die omgewing van Bittereinderdag is: diegene wat nie sou ophou veg vir dit wat eie aan die Afrikaners is nie.

Natuurlik was daar ook kansvatters soos wat Tannie Annatjie Boshoff in haar boek: “Van Ossewa tot in Orania”, geskryf het. Ek haal die volgende, wat sy oor die bouspan geskryf het op bladsy 91, aan:

“Baie van die mense het hulle voorgedoen as messelaars, verwers, ensovoorts, maar hulle was duidelik nie geskool nie… Ek het my verstom aan al die stories wat hulle vertel het, die taal, die gerook, wat ek teen wil en dank moes aanhoor of aanskou.”

Bo-Karoo Opleiding maak tans ‘n reuse bydrae om opleiding te verskaf aan studente wat die ambagte wat sy genoem het wil bemeester, maar daar is tog ‘n bekommernis of ons die tipe mens, wat werklik die Orania-gedagte ondersteun, lok.

Ek wil terugkom na die Bybel in die wakis. Hierdie Boek was ons voorouers se rigsnoer, dit was hulle kinders se eerste leesboek. Die Wet van die Here was die regstelsel. Dit is waarom hulle ‘n gelofte kon maak vir beskerming by Bloedrivier. Wat het gebeur dat ons mense wat na Orania kom dit nie weet nie?

Ek sien dit daagliks in die leerlinge wat voor my in die klas sit. Sommige nuwelinge het nog nooit gehoor van die Groot Trek, die Gelofte en Majuba nie. Hulle weet nie in watter kerk hulle is nie, of antwoord by navraag dat hulle ouers nog nie besluit het waar hulle wil aansluit nie. Hoe is dit moontlik dat ‘n kind met ‘n Afrikaner-ouer nie weet hoeveel skeppingsdae daar was nie, of dat Jesus in Betlehem gebore is nie.

Ouers wat kom uitvind waarom hulle kinders nie goeie punte in Bybelonderrig kry nie, se antwoord op my vraag oor hulle kerkverband, is ook dat hulle eintlik nog nie besluit het nie. Dan wonder ek wat hulle by die verblyfreg onderhoud geantwoord het oor waar hulle voorheen in die kerk was, ek wonder of hulle kinders gedoop is, ek wonder of hulle ooit die Here ken. Hierdie ouers is nie net die handearbeiders van die dorp nie, maar ook dié met hoë posisies in die samelewing van Orania.

Daar kan ook nie nagelaat word om te verwys na ‘n geleentheid toe ‘n kindersielkundige die dorp besoek het, om leerlinge met leer- en ander probleme te evalueer en aanbevelings te maak nie. Ek haal haar aan in die terugvoergesprek: “Wat het gebeur dat daar ‘n hele generasie ouers ontstaan het waar daar geen roetine, of dissipline in die huise is nie. Waar gesinne omtrent nooit om ‘n tafel sit en eet nie en waar daar geen vaste etenstyd of slaaptyd is nie.”

Ons kan baie lank debatte voer oor die redes: Die lewe het so duur geword dat albei ouers moet werk om die pot aan die kook te hou en die kinders was die slagoffers; die kerk het gefaal en nie genoeg gedoen om afgedwaaldes op te spoor nie; die 2005 kurrikulum het ons geskiedenis uit die  leerplanne gehaal. Daar kan maklik ‘n sondebok gekry word, maar dit gaan ons nêrens bring nie.

Wat gaan ons maak as hierdie “verlore” generasie moet oorneem by die huidige leiers van Orania?

Ek pleit vir ‘n verpligte leerplan vir nuwe intrekkers (en dalk sommer vir die ou inwoners ook) met Bybelonderrig en Geskiedenis verpligtend. Hoe om goeie Afrikaans te praat, hoe die dorpsreëls werk en hoe om kinders groot te maak, sal ook nuttige vakke wees.

Terwyl die ouers hierdie sake in volksbelang bestudeer, kan die kinders vermaak word deur te leer hoe volkspele gespeel word, hoe ‘n ossewa lyk en hoe brood gebak word.

Hier is werk om te doen en dringend ook, anders is al ons pogings om Orania te laat groei tot die Volkstaat, met dieselfde waardestelsel as ons voorouers, wat goed en bloed geoffer het vir ‘n tuiste vir hulle kinders, verniet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *