ORANIA OF NIE?
deur dr. Helena Erasmus (https://orcid.org/0000-0003-2626-0380)
“Wil jy graag na Orania verhuis?” was die openingsvraag van ‘n meningspeiling wat gedurende April en Mei 2023 deur die Vryheidstigting en Orania Beweging uitgestuur en deur 176 deelnemers beantwoord is. Met die teikenmark van hierdie twee organisasies in gedagte, is dit nie verbasend dat 120 deelnemers positief op hierdie vraag gereageer het nie. Die opvolgvraag: Brei asseblief uit op jou antwoord, het oorwegend opmerkings oor veiligheid en die funksionaliteit van Orania as trekpleister en gebrekkige werksgeleenthede as ‘n struikelblok, uitgelok. Dit is ook baie aanloklik om tussen ons eie mense te kan woon. Oor waaraan die eie mense gemeet word, is daar egter nie uitgebrei nie.
Die vraag wat gestel was, kan wyd geïnterpreteer word. Tog het ek heelwat verwagtinge oor die moontlikhede wat op die Ja vir Orania, gegee sou word. Wat sou jy verwag om van ‘n deelnemer te hoor wat na Orania wil verhuis en bes moontlik deur nuusbriewe en persoonlike besoeke, blootstelling aan Orania kry? My verwagting was dat die redes sal spreek tot die hart van Orania – die pilare waarop Orania gevestig is: die beginsels van eie grond, eie instellings en eie arbeid, gepaardgaande met geloof in die drie-enige God, en ons Afrikanerkultuur en -taal. Dit was egter opvallend dat die terugvoer oorwegend om lewensstyl draai; om bepaalde voordele wat Orania inhou, of moet inhou alvorens ‘n verskuiwing na Orania gemaak sal word.
Opsigself is hierdie versugting na veiligheid, werksgeleenthede en ‘n goed funksionerende dorp nie verkeerd nie. Is dit nie ‘n aanvaarbare en edele versugting nie? Die onderliggende vraag wat egter beantwoord moet word, is Waaruit spruit hierdie lewensstylvoordele van Orania? Orania is gebou op drie belangrike beginsels: eie grond, eie arbeid en eie instellings. Ek wil my verstout en die aanname maak dat hierdie beginsels sowel as die pilare van geloof in die drie-enige God, ons drang om ‘n Orania-kultuur te vestig en die herbesinning van ons geskiedenis, die grondslag vir Orania se sukses is. Sukses wat aan veiligheid en ‘n goed funksionerende dorp gemeet word. Maatstawwe wat elders in die land grootliks ontbreek of dikwels gepaard gaan met ‘n baie eksklusiewe en duur lewenstyl.
Binne hierdie prentjie moet daar erken word: sukses kweek sukses wat die Orania-pakket vir meeste mense aanloklik maak. Uit Orania se geskiedenis kan afgelei word dat die oorgrote meerderheid Oraniërs, hierdie vesting nie suiwer om die grondbeginsels gekies het nie. ‘n Handjievol inwoners het vir jare aaneen Orania se wa deur die drif getrek. Hul sukses het sukses gekweek – ‘n aanloklike tuiste vir Afrikaners. Hoe meer die voordele, hoe aanlokliker die aanbod. Kan ons mekaar en ander daarvoor verkwalik? Nee, dis deel van die mens se oorlewingsinstink. Die dilemma is egter, hoeveel van ons inwoners en voornemende inwoners heg diepe waarde aan die pilare en beginsels wat hierdie sukses gekweek het? Dit is noodsaaklik om diep hieroor na te dink, want as die faktore wat grootliks tot die sukses van Orania bydra, uit die vergelyking gehaal word, gaan die uitkoms aan die anderkant van die bewerking begin verander. Eers in klein onsigbare inkremente wat later soos ‘n groot struikelblok in die weg gaan lê.
Maak dit sin? Kom ek stel dit anders. As veiligheid, ‘n funksionele dorp en die regte werksgeleentheid mense na Orania lok is dit goed en wel. Die gevaar kom in as Oraniërs nie die diepere beginsel agter eie grond, eie arbeid, en eie instellings ten diepste ondersteun en ons geloof, kultuur en taal as die groter konteks waarin hierdie beginsels geskoei is, aankleef nie. In so ‘n Orania sal die beginsels en die konteks daarvan stelselmatig verander – die kern van Orania se sukses sal verander – en uiteindelik ook die uitkoms.
Is hierdie ‘n tik oor die vingers vir mense wat met ywer na Orania kyk en die begeerte koester om hierheen te verhuis? Dit mag so klink, maar nee, hierdie is ‘n poging om krities na die stand van sake te kyk en oor my eie gevolgtrekkings te besin. Wat is die oplossing vir hierdie potensieel gevaarlike situasie? Ken Orania se wese – doen die oriëntering, gesels met ‘n verskeidenheid Oraniërs en vra vrae. Weet dan dat as jy hier kom vestig, jy verder aan hierdie sukses moet kom bou vanuit dieselfde beginsels en konteks van geloof, taal en kultuur.
Wat kan huidige Oraniërs hieruit leer? Ons moet verseker dat ons die beginsels van Orania bly aanhang, en ons geloof, taal en kultuur tot so ‘n mate koester dat elkeen wat oor Orania lees of ‘n besoek hier kom aflê, die dieper rede agter Orania se sukses hoor en insien.
Die kort opsomming van die deelnemers:
Gedurende die tydperk 27 April tot 19 Mei 2023, het 176 deelnemers aan die peiling deelgeneem. Die meeste deelnemers was manlike (61,8%; n=110), woonagtig in Gauteng (n=58; 33.0%), met geen minderjariges wat by hul woon nie en sonder Orania-verblyfsreg.
Tabel 1: Die verspreiding tussen die provinsies
Provinsie | Aantal | % |
Gauteng | 58 | 33.0 |
Wes-Kaap | 28 | 15.9 |
Vrystaat | 20 | 11.4 |
Mpumalanga | 14 | 8.0 |
Limpopo | 13 | 7.4 |
Oos-Kaap | 13 | 7.4 |
Noord-Wes | 10 | 5.7 |
Woon nie in SA nie | 8 | 4.5 |
KwaZulu-Natal | 7 | 4.0 |
Noord-Kaap | 5 | 2.8 |
Totaal | 176 | 100.0 |
Uit die groter groep deelnemers het 30 (17,0%) reeds verblyfreg in Orania.
Op die kernvraag wat aangeraak is “Wil jy graag na Orania verhuis?”, het 118 deelnemers (67,0%) positief geantwoord terwyl 49 (27,8%) onseker was en slegs 9 deelnemers (5,1%) nie na Orania wou verhuis nie.
Die uitbreiding op die vraag het wel reaksies uitgelok oor eie kultuur, taal, die volkstaat-idee, geloof in God drie-enig, geskiedenis, eie arbeid en ‘n meer geïntegreerde reaksie op die Orania beginsels.