NP van Wyk Louw-ereleerstoel in Kultuurstudies

NP van Wyk Louw-ereleerstoel in Kultuurstudies

Openbare lesing, 25 Mei 2023

Die regte grondslag vir goeie handeling, en die wyse waarop Akademia veronderstel dat dit benader sal word.

Geagte Akademiese hoof;

Geagte Besturende direkteur, voorsitter en lede van die direksie;

Geagte lede van die Senaat, dekane, departementshoofte en dosente;

Geagte Registrateur;

Geagte bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum en ondersteunende personeel

Geagte Uitvoerende hoof van die FAK, en;

Geagte Dames en Here, belangstellendes:

1. Inleiding

By hierdie bekendstelling van die NP van Wyk Louw-sentrum handel my lesing vanaand nóg oor die sentrum self, nóg oor die persoon van NP van Wyk Louw aan wie se naam ook die ereleerstoel wat ek beklee, verbind is. Wat ek wel hoop om te doen, is om deel van die sentrum-in-werking te wees, om Akademia se vormingsideaal te help uitbou, en om in die proses nie oor Van Wyk Louw te praat nie, maar (op ‘n manier) soos Van Wyk Louw daaroor te praat. Louw het ‘n onderskeidende aanslag gehad, naamlik die teenoorgestelde van wat mens as “akademiesisties” sal beskryf; wat niks afdoen aan die diepte van sy kennis en insig nie, maar aansienlik bydra tot die verteerbaarheid van sy hoogs ontwikkelde denke, met die gevolg dat sy gehoor nie tot letterkundiges, akademici of spesialiste beperk was of is nie, maar enigeen en almal van ons kan insluit.

Teen hierdie agtergrond wil ek ‘n onderwerp in behandeling neem wat van groot belang is by die vorming van Akademia se akademiese selfbeeld, omdat ons uit die staanspoor die veronderstellings waarvan ons bewustelik of onbewustelik uitgaan, onder oë moet kry of probeer kry, en ons daaroor moet verantwoord. Hierdie lesing sluit dan ook aan by wat Louw in gedagte gehad het met die titel van sy eerste opstelbundel in 1939, naamlik Berigte te velde. Hy skryf vooraf: dit is nie “‘n volledig uitgewerkte verhandeling” nie, “[d]it is berigte te velde – nie ‘Der totale Krieg’ nie.”[1] (1986:3) Hierdie lesing is ook nie die eindpunt en bestemming van voltooide navorsing nie, maar ‘n soort vorderingsverslag van werk wat op ons vormingsideaal afgestem is.

In hierdie geval wil ek verslag doen aan die hand van die vraag na Die regte grondslag vir goeie handeling, en die wyse waarop Akademia veronderstel dat dit benader sal word. Twee punte wat u sekerlik sal opval, is dat dit ietwat omslagtig gestel is, en dat dit nogal aanmatigend klink. “Bedoel jy regtig die regte grondslag?” het iemand wat my die openbare verleëntheid van so ‘n aanspraak wou spaar, gevra. Beide die punte hoort egter tot die hart van wat ek wil aanbied. Die eerste omdat ‘n kort vertaling van die denklyn wat ek wil volg, die vraag na “morele ondersoek” sou kon wees. Buiten dat ek sukkel om dié frase se betekenis vas te pen, sou dit die hele poging in die hokkie van Etiek as ‘n sub-dissipline van Filosofie of Teologie kon laat beland. Maar goeie handeling is ten diepste onliasseerbaar en die grondslag daarvan nog minder, dit is oop vir almal en vir almal van belang. Daarmee raak ons al aan die tweede punt, naamlik dat, om hoegenaamd van die regte grondslag vir goeie handeling te praat, reeds is om kant te kies ten gunste van die bestaan van so-iets. Daarmee plaas mens jouself in die ruimte van ‘n uitgesproke oortuiging, en dit is presies wat ek binne hierdie verband wil doen. En die wyse waarop Akademia veronderstel dat dit benader sal word, sal beide in die loop van die argument terloops, en ten slotte uitdruklik aangeraak word.

Nou kan mens kwalik voortgaan sonder om iets te sê oor wat goeie handeling behels. Die klassieke, maar ietwat raaiselagtige antwoord sal lui: om die goeie te doen en die kwade te vermy of die goeie te bevorder en die kwade te bekamp.[2] Of: dat elke kuns en elke ondersoek, en dienooreenkomstig elke handeling en strewe, na verwagting op iets wat goed is, afgestem is; en om die rede tereg verklaar word dat die goeie dit is waarop alle dinge gemik is.[3] Die probleem is natuurlik dat ons daarmee nog geen onomwonde antwoord op die vraag het nie – buiten dat dit beteken dat daar geen onomwonde antwoord op die vraag is nie. Daarmee word nou allermins bedoel dat die goeie elkeen se eie saak of persoonlike voorkeur is, maar wel dat daar geen pasklaar beskrywing is wat vir alle mense te alle tye onder alle omstandighede geld nie. Inteendeel, dit is altyd weer ‘n kwessie van oordeel. Die goeie vir my, nou, onder hierdie omstandighede, vereis dat ek oor die vermoë sal beskik om vanuit my diepste geloof en oortuiging, wat nooit net aan my kan behoort nie, te oordeel wat ter sake is. Om studente met sulke oordeelsvermoë toe te rus, is om tot hulle vorming as mense by te dra.

Die gedagte om die vraag na die regte grondslag vir goeie handeling as invalshoek vir hierdie lesing te gebruik, het ek te danke aan ‘n boek van die teoloog/filosoof Alisdair MacIntyre met die titel Three Rival Versions of Moral Enquiry. Encyclopeadia, Genealogy, and Tradition (1990)[4]. Ek het dit in 2011 die eerste keer gelees, voordat Akademia se vormingsideaal ‘n punt van bespreking was, en dit bietjie moeilik, maar baie interessant gevind. Toe lees ek dit verlede jaar weer, binne die konteks van ons huidige gesprek (die keer met ‘n lineaal en ‘n potlood, daardie onmisbare hulpmiddels vir die ernsige leser), en kom tot die gevolgtrekking dat die boek voorgeskryf behoort te word vir Akademia se bestuur en personeel. Maar ek besef toe dat ek my met iets soos ‘n lesing daaroor sal moet versoen. En toe ek dit in die onlangse weke met die oog op die lesing weer lees, besef ek hoe min reg mens in die bestek van een lesing aan die inhoud wat daarin vervat is, kan laat geskied. Die rykdom van sy verwysings, die fynheid van sy nuanses en die aantreklikheid van sy retoriek sal noodgedwonge in die slag bly, maar die hooflyn van sy argument behoort dit darem te oorleef.

Die doel van hierdie lesing is dan om, teenoor die verwarrende verskille wat die akademie vandag kenmerk, ‘n sin vir samehang te help vind wat Akademia in staat sal stel om tot haar studente se vorming, tot die gemeenskap se heil, en tot die beste beoefening van die wetenskap by te dra.

2. Eerste oorsig

Gedurende 1988 kry MacIntyre die geleentheid om aan die Universiteit van Edinburgh die roemryke Gifford-lesings aan te bied. Dit geskied danksy die nalatenskap (geestelike en materiëel) van lord Adam Gifford, ‘n openbare intellektueel van die laat negentiende eeu, wat deur sy testament wens om voortgang te gee aan die projek van, wat ons die moderne katerdraal van kennis kan noem. Die spreekwoordelike katedraal self sou in die negende uitgawe van die Encyclopedia Brittanica uitdrukking vind, ‘n projek waaraan die kring waartoe Gifford behoort het, leiding gegee en meegewerk het – maar dit vir eers daar gelaat. Wat MacIntyre doen, is om tien lesings aan te bied, wat elkeen tussen 20 en 30 bladsye beslaan en wat, na verdere debattering en verwerking, in die vorm van Three Rival Versions gepubliseer is.

Hy gee reeds in die titel van sy boek (en ek gaan in hierdie lesing eintlik nie ver verby die titel vorder nie!), te kenne met watter drie weergawes van ondersoek na die regte grondslag vir goeie handeling, maar meer nog, na die ontplooiing van die rede, wetenskap en kennis in die algemeen, hy werk. Dit beskryf hy as ensiklopedie, genealogie en tradisie. Hy kon dit seker ook modern, post-modern en tradiosioneel genoem het, en dit sou met die eerste oogopslag dalk gevoel het of ons beter verstaan wat hy bedoel, maar dit is eintlik nie waar nie. Hoewel dit bekender opskrifte sou wees, is daar al soveel ontoepaslikhede onder dié opskrifte ingehark, dat so ‘n indeling eerder verwarrend as verhelderend sou wees.

In die eerste drie lesings stel hy, sonder om waterdigte skeidings te maak, die ensiklopediese, die genealogiese en die tradisionele kennis- en werklikheidsbeskouings aan die orde. Daarna brei hy in drie verdere lesings uit oor die vergete beskouing wat hy wil laat herleef, naamlik die tradisonele, waarna hy die sewende lesing juis aan die redes en oorsake vir dié se vergetelheid wy. In die laaste drie lesings handel hy in besonderhede met die kritiek wat vanuit hierdie herwinde tradisie op eerstens die ensiklopedisme en tweedens die genealogie gerig moet word, en by wyse waarvan die meerwaarde van die tradisie aangetoon word, voordat hy ten slotte iets van ‘n vooruitsig bied op die nuwe, positiewe moontlikhede wat die herwinning van die tradisie, in besonder vir universiteite en die akademiese lewe, kan inhou.

Omtrent al wat ek in die res van die lesing sal regkry, is om ‘n kort skets van die drie hoofkarakters van MacIntyre se drama weer te gee, en hier en daar in die rigting van gevolgtrekkings wat hy in veel besonderhede behandel, en van moontlikhede wat hy met groot oortuiging voorskilder, wenke te gee. Om in elke opsig aan sy omvattende denkbeeld en die onderdele daarvan reg te laat geskied, sou nie een nie, maar tien lesings of meer vereis.

3. Alisdair MacIntyre

Voordat ons egter op MacIntyre se spesifieke argument ingaan, kom ons kry kortliks ‘n beeld van wie hy is en waarom sy denke nie net binne die bestek van die filosofiese en Christelike etiek belangrik is nie, maar in ‘n era wat lyk asof dit die ondergang van die Christelike Weste kan aanskou, ‘n wegwyser is vir diegene wat hulle aan die kant daarvan skaar. Vir ‘n volledige bekendstelling is Émile Perreau-Saussine se Alisdair MacIntyre. An Intellectual Biography (2022),[5] wat in 2005 in Frans verskyn het, aangewese, veral aangesien dit daarin nie  soseer oor die persoon nie, as oor die ontwikkeling van sy denke gaan.[6] Die sentrale vraagstuk is MacIntyre se kritiek op die liberalisme en sy soeke na ‘n oortuigende beeld van positiewe vryheid, wat daarteenoor staan.

MacIntyre is in 1929 in Glascow, Skotland, in die huis van professionele ouers gebore. Hy kan as geskiedkundige van die morele filosofie beskryf word en sy drie belangrikste werke is A Short History of Ethics (1966), After Virtue (1981) en Whose Justice? Which Rationality? (1988), waarvan elkeen op sy eie manier dieselfde geskiedenis weergee. Dit begin in die Griekse antieke tyd met Homeros, en eindig in die twintigste eeu met nihilisme. Wat hy telkens wil aantoon, is dat die eensydige vooruitgang van individuele vryheid, moraliteit tot niet maak en die morele relativisme, waarteen al sy werk opgestel is, voed. Daarteenoor ontwikkel hy ‘n siening van vryheid as deelname aan iets groter as jyself, iets wat aan die aristokratiese idee én aan geregtigheid, wat beide deur deug en karakterbou onderlê word, inhoud gee. Daarmee betrek hy die denkbeelde waarmee liberalisme pas tevore, in die eerste helfte van die twintigste eeu, van regs en van links, uitgedaag is – al was dit in die vorme van fascisme en sosialisme onsuksesvol. Die punt is dat, presies teenoor byvoorbeeld Hobbes se verwerping van die idee van ‘n hoogste goed, MacIntyre juis weer die klem nie op die middele nie, maar op die doel van ons doen en late wil laat val.

Die voorwaarde vir liberale vrede is dat die vraag na die goeie geprivatiseer, en gevolglik versplinter word. Maar dit bring mee dat betekenisvolle deelname aan ‘n groter doel noodwendig in die slag bly, en liberalisme uit sy oogpunt nie die draer nie, maar die vyand van vryheid word. Hierdie kritiek op die liberalisme gee samehang aan die verskeie en uiteenlopende wendings wat sy denkweg geneem het en wat Perreau-Saussine soos volg saamvat: In die laat 1940’s is MacIntyre lid van die Kommuniste Party van Groot Brittanje, tien jaar later ‘n aktivis vir die eerste New Left en gedurende die eerste helfte van die 1960’s ‘n Trotskyis, voordat hy in 1969 na die Verenigde State emigreer en alle politieke betrokkenheid afsweer. As akademikus doseer hy in teologie, sosiologie en filosofie aan die universiteite van Manchester, Leeds, Oxford, Princeton en Essex. In die 1970’s was hy opeenvolgend professor aan Brandeis Universiteit, Boston Universiteit en Wellesley College en tussen 1982 en 2000 is hy verbonde aan die Vanderbilt Universiteit, die universiteite van Notre Dame en van Duke in Noord-Carolina, waarna hy tot met sy aftrede in 2010 terugkeer na Notre Dame, een van die voorste uitgesproke Christelike universiteite in Amerika.

Hoewel dit vreemd op die Afrikaanse oor mag val, begin MacIntyre sy loopbaan met sterk Marxisties Christelike oortuigings, raak hy mettertyd van beide Marxisme en die Christelike geloof vervreemd, maar bekeer hom in die vroeë 1980’s tot die Rooms Katolieke Christendom en lê hom op studie van die laat Middeleeuse teologie en filosoefie toe. In die proses herwin hy die teologiese nalatenskap van Thomas Aquinas en ontwikkel hy nie net ‘n diepgaande kritiek op die sekulêre moderniteit nie, maar hy aanvaar ook die uitdaging om ‘n beter denkwyse in die plek daarvan te stel.[7] Hy rig sy aandag in besonder op wat hy in Engels as “moral enquiry” beskryf, en wat ek nou ietwat omslagtig “ondersoek na die regte grondslag vir goeie handeling” noem.

Daarby word veronderstel dat, of ons geesteswetenskap of natuurwetenskap beoefen, op die onderwys of die bedryfslewe afgestem is, elementêre of gevorderde opleiding aanbied, politieke of ekonomiese oogmerke het, vir regspleging of geloofsbegeleiding voorberei – dat ons dit in elke geval vanuit ‘n lewensbeskoulike vertrekpunt en met ‘n lewensuitdruklike doel voor oë doen. Hierdie vertrekpunt en doelstelling kan op verskillende maniere bewoord word, maar dit kan nie anders nie as om by ‘n dankbare ontvangs van die Goddelike geskenk wat die werklikheid is, te begin, en op die doen van die goeie en die laat van die kwade afgestem te wees. As MacIntyre dan onder die vaandel van ‘n ondersoek na die regte grondslag vir goeie handeling ‘n omvattende kritiek op die heersende wetenskapsbeskouings en hulle onderliggende werklikheidsbeskoulike uitgangspunte lewer, en as hy daarby voortgaan om dit aan die hand van ons Christelike erfenis uit te daag en iets beter in die plek daarvan te stel, dan verdien sy poging ons aandagtige belangstelling – ten spyte van, of dalk juis danksy, die groot verskille tussen waar hy en waar ons daarmee vandaan kom. Dit op sigself is ‘n uitdaging, maar een wat, as ons dit aanvaar, nie vrugteloos sal wees nie.

4. Ensiklopedisme

In die eerste lesing stel MacIntyre die toneel op vir die drama wat hy voor ons wil laat afspeel. Hy knoop op ‘n kostelike manier aan by die dilemma wat die testament van Lord Adam Gifford vir iemand wat die lesings honder jaar later aanbied, veroorsaak. Dit is naamlik dat die onderwerp, “natural theology understood as comprehending within itself enquiry into the foundations of ethics”, soos ‘n natuurwetenskap benader moet word. Soos Gifford dit stel: “I wish the lecturers to treat their subject as a strictly natural science … I wish it to be considered just as astronomy or chemistry is.”[8]

Mens vra jouself vandag af in watter wêreld etiek en chemie oor dieselfde kam geskeer word, maar MacIntyre se antwoord daarop laat jou regop sit omdat hy aantoon dat dit nie so vreemd of veraf is as wat ons geneig is om te dink nie, en histories glad nie sonder verband met mekaar nie. Inteendeel, dit is ‘n goeie voorbeeld van die hoogmoderne ensiklopediese wetenskaps- en wêreldbeeld wat die era van optimisme en vooruitgang, die laat negentiende eeu, gekenmerk het. Die beroemde negende uitgawe van die Encyclopedia Brittanica is in dieselfde tyd deur lede van dieselfde kring van denkers en wetenskaplikes as waartoe Lord Adam behoort het, uitgegee en die verwagting was nie so ondenkbaar nie, naamlik dat nie net chemie en sterrekunde nie, maar ook etiek en teologie vooruitgang sal maak en die werklikhede wat dit beskryf, akkuraat sal weerspieël. Om die waarheid te sê, die meeste van ons deel nog steeds op ‘n onbedagte wyse iets van hierdie idealistiese lees waarop die moderne wetenskap geskoei is.

In die hoogmoderne wêreld geld die veronderstellings dat kennis die vrug is van die menslike rede wat reg aangewend word, dat dit ‘n direkte verband met die werklikheid toon, dat die nougesette toepassing van die regte metodes op elke terrein steeds meer kennis sal oplewer, dat dit groter beheer oor die werklikheid – materiëel en andersins – sal bied, en dat al hierdie kennis op ‘n byna wonderbaarlike manier deel van een groot geheel uitmaak, soos mettertyd uit die verband tussen byvoorbeeld kernfisika en sterrekunde blyk. Aan die een kant deel ons in hierdie veronderstellings en in die vrug daarvan elke keer as ons van ‘n slimfoon na ‘n slimmerfoon opgradeer, aan die ander kant wanhoop ons daaraan wanneer ons met etiese vraagstukke gekonfronteer word, soos wanneer ‘n geliefde se lewe teen ondenkbare hoë koste verleng kan word, of heelwat ongerief gespaar kan word deur ‘n ongeleë swangerskap eenvoudig en wettig te beëindig.

‘n Honderd (en dertig) jaar later mag ons oor die vooruitgang van wetenskap en kennis dubbelsinnig wees, maar die opstellers van die Encyclopedia Brittanica se negende uitgawe was dit nie. Hulle was besig om in soveel boeke en bande die werklikheid bymekaar te vat, as ‘t ware die kanon van die moderne wêreld daar te stel, wat, soos die Bybel aan die tradisionele mens sin en samehang gegee het, ook aan die moderne mens sin en samehang sou gee. Wat intussen gebeur het, is natuurlik dat hierdie eenheidgewende rede in sigself verdeeld geraak het en in net soveel rigtings begin trek het as wat daar denkrigtings in die wetenskap is. Jy kry rasionaliste en materialiste, idealiste en empiriste, positiviste en fenomenoloë, en nog meer, elkeen met sy eie beeld op redelikheid, en meestal tot uitsluiting van ander s’n. Daarbenewens word dit duidelik dat die wetenskap nie regtig die tradisionele geloof en oortuiging met moderne rede en insig vervang het nie, maar op talle maniere en toenemend, self ‘n geloof en oortuiging geword het.

5. Genealogie

Hierdie interne spanning was egter nie die enigste uitdaging waarvoor die moderne wetenskap te staan gekom het nie. Buiten daaravoor is die ensiklopediste ook van buite uitgedaag. Dit het op ‘n uiters skerpsinnige en goed ingeligte, maar siniese stel van die vraag: “En waar kom dít vandaan?” berus. Daarmee oorvereenvoudig ek nou die benadering wat Friedrich Nietzsche se genealogie van die etiek, maar eintlik van kennis en wetenskap, en uiteindelik van die moderne beeld van die rede self, sou volg. Dat dit nie tot ‘n interne kritiek van die wetenskap op sigself, op ‘n soort selfverfyning van die rede neergekom het nie, blyk uit die dramatiese breuk wat Nietzsche met die wêreld van die wetenskap aangekondig het. Dit toon MacIntyre, aanskoulik genoeg, met behulp van Nietzsche se verwerping en verplasing van die wetenskaplike genre van sy tyd, naamlik die lesing of ensiklopediese artikel aan. Daarin is die professor aan die woord, en spreek ex cathedra waarhede uit oor die aard en werking van die werklikheid. Daarenteen laat Nietzsche sy professoraat agter en bedien hy hom voortaan by uitstek van aforismes en verduidelikings, van poësie en profesie – van ondermynende strategieë wat die sin en samehang van die gewaande katedraal van kennis van buite en van onder af ondermyn en bevraagteken. Buiten vir sover dit Nietzsche se eintlik maar tradisionele akademiese traktaat, Zur Genealogie der Moral (1887)[9] aangaan – maar op MacIntyre se behandeling van hierdie verskynsel in Nietzsche se ouvre en die betekenis daarvan, kan hier nie verder ingegaan word nie.

Die sleutelvraag na waar elke redelike siening vandaan kom en waaraan die gesag van kennis en kenners ontleen word, se antwoord dui telkens op die bedekte en versteekte magsbelange wat sedert die tyd van Sokrates agter die maskers van redelikheid en wetenskaplikheid skuilhou. Nie alleen word die veronderstelde samehang van kennis met ‘n veelheid van perspektiewe – iets wat ons populêre kultuur ook sy eie gemaak het – vervang nie, maar die gedagte dat daardie kennis ‘n weerspieëling van die werklike wêreld sou wees, word verpletter met die insig dat die denkbeeld van een wêreld, net soos die van een waarheid, niks anders as ‘n ydele fiksie is nie. “So wat is waarheid?” vra Nietzsche , en antwoord “‘n beweeglike leer van metafore, metonieme, antropomorfismes, kortom, ‘n som van menseverhoudings wat, poëties en retories, verskerp, oorgedra en versier is en na lang gebruik deur die volk voorkom asof dit vas, kanoniek en bindend is: die waarhede is illusies waarvan mens vergeet het wat dit is, metafore wat verslete en kragteloos geword het, munte wat hulle gesig verloor het en nou as blote metaal, nie meer as munte nie, beskou word.”[10] Die groot probleem hiermee is egter dat, (om nou maar ‘n uitgewerkte argument in een fraseas saam te vat) die genealogiese metode ver genoeg gevoer word, daar nie plek vir die genealoog self oorbly nie.

Beide die ensoklopediese en die genealogiese benadering tot kennis is dus, naas die kritiek wat van buite daarop uitgespreek kan word, ook – of eintlik – intern onstabiel. Die ensiklopedisme word uiteindelik nie deur die samehang en eenheid van die rede gekenmerk nie, maar deur die versplintering en verdeeldheid daarvan. In die geval van die genealogie beeld MacIntyre dit kostelik uit met die omgekeerde weg wat Nietzsche se latere opvolger en erfgenaam, Michel Foucault gevolg het, nie van professor tot swerwer nie, maar van swerwer tot professor. Daar is egter ook die derde wyse van ondersoek na die regte grondslag vir goeie handeling, naamlik dié van tradisie, waarop ons hierna (ewe oorsigtelik en sonder om behoorlik daaraan reg te kan laat geskied) sal ingaan.

6. Tradisie

Waarna MacIntyre verwys as hy die vraag na die regte grondslag vir goeie handeling uit die oogpunt van “tradisie” benader, is nie ‘n blote opstapeling van historiese of antieke verwysings nie. Dit is heel spesifiek die filosofiese erfenis uit die laat dertiende eeu, wat ons aan Thomas Aquinas te danke het. Dit is ‘n denkskool wat in sy volle omvang grootliks vergete geraak het, al het aspekte van Aquinas se teologiese denke sedertdien tog ‘n besonders belangrike rol in die kerk – veral in die Rooms Katolieke Kerk, maar ook in Protestantse geledere – gespeel, ten spyte van die aanvanklike veroordeling van heelwat van sy stellings. Dat hy sowat 600 jaar na sy dood weer in die laat negentiende eeu op die voorgrond geplaas is, is te danke aan Jozeph Kleutgen se vierdelige werk Die Philosophie der Vorzeit Verteidigt (1853-60), wat hom op die volgende, belangrike manier van beide die ensiklopediste en die genealoë se benadering tot die geskiedenis van die filosofie onderskei het.[11] Waar die ensiklopediste die geskiedenis sedert Sokrates as een groot verhaal van die vooruitgang van die rede (ten spyte van tydelike uitdagings en teenslae) beskou het, het die genealoë die geskiedenis sedert Sokrates as een groot verhaal van agteruitgang van die vitale kragte en die aristokratiese strewe beskou, en meer nog, as ‘n verhaal van die verdoeseling van daardie agteruitgang. So teenoorgesteld as wat die twee sienings dus is, so eners is hulle in dié opsig dat beide die geskiedenis van die filosofie as een deurlopende verhaal beskou. Dit is dieselfde opmars van die rede wat vir die een onpersoonlik, alomvattend en belangeloos is, maar vir die ander verteenwoordigend van bepaalde belange, wat hulle wil tot mag agter maskers van neutraliteit en belangeloosheid versteek.

Kleutgen daarenteen, sien ‘n deurslaggewende breuk tussen die geskiedenis vanaf Sokrates tot met die hoë middeleeue, wat sy hoogtepunt in Aquinas bereik, aan die een kant, en die era waarvan René Descartes as die geestesvader beskou word, aan die ander kant. Naas die tweestryd van ons tyd tussen die modernisme en die post-modernisme, wat MacIntyre meer akkuraat as ensiklopedisme en genealogie beskryf, en waarin mens die een of die ander kant moet kies, sien Kleutgen (en MacIntyre) ‘n derde alternatief. Dit is naamlik, in aansluiting by Aquinas se beskouing, dat die rede slegs in die rigting van alomvattendheid en onpersoonlikheid kan beweeg as dit nóg neutraal, nóg belangeloos begin. Die rede se setel en vertrekpunt is altyd binne die verband van ‘n bepaalde soort gemeenskap wat ooreenstemming oor die regte grondslag vir goeie handeling koester. Binne ‘n tradisie, dus. Dat grondliggende afwykings van die gemeenskaplike uitgangspunte wat as voorwaarde vir egte rasionele ondersoek dien, verhoed moet word, spreek dan vanself – presies die soort uitsluiting waarteen die negentiende eeuse ensiklopediste hulle verset het. Maar hoe moet ons ‘n benadering wat so haaks op die algemene wysheid van ons era staan, begryp?

Die model wat die tradisie vooorhou, is nie die van ‘n vrygeestige dog redelike, ongesensureerde dog ernstige negentiende eeuse Skotse professor nie, maar die van ‘n middeleeuse vakleerling wat aansienlike moeite en tyd daaraan moes bestee om die kultuur van sy vak te leer adem, of dit skrynwerk, goudsmedery of filosofie is. Eers daarna kan hy as vakman of meestervakman na vore tree. Die vakleerling moet twee basiese onderskeidinge leer maak. Die eerste is tussen wat onder bepaalde omstandighede werklik goed is om te doen, en wat net vir hierdie vakleerling op hierdie tydstip na die beste lyk, maar dit nie werklik is nie. Die tweede onderskeid is tussen wat hier en nou vir my, gegewe my besondere opleiding, vaardigheid en beperkings, goed en die beste is, en wat sonder meer en ongekwalifiseerd goed en die beste is. Hierdie onoortreflike goedheid dien dan ook vir die vakleerling en meester om ‘t ewe, as doel of telos van hulle werksaamheid. Maar wat staan die bereiking van daardie onoortreflike doel en maatstaf in die weg? Die beperkings en ondeugde van die bepaalde persoon wat besig is om dit na te streef. En hoe bereik hy of sy soveel daarvan as wat vir hom of haar moontlik is? Deur die ondeugde agter te laat en die deugde wat daarvoor nodig is, in te oefen en sy of haar karakter met die oog daarop te bou. Tegniek alleen kan  nie uitnemendheid verseker nie, want as uitnemende tegniek nie op die goeie gerig is nie, kan dit net sowel die kwade bevorder.

Maar nou ontstaan ‘n volgende vraag, veral as ons die ondersoek na die regte grondslag vir goeie handeling as vak (in die Middeleeuse sin van die woord) beskou: hoe leer ek wat goed en die beste is om te doen, nou en vir my, maar ook in die algemeen en vir alle mense, as ek eers die soort mens moet word wat in staat is om dit te leer? Die antwoord is aan die een kant eenvoudig en vanselfsprekend, maar aan die ander kant net so dwars op die kultuur van ons era as die model van die vakleerling self. Die antwoord is: mens het ‘n leermeester nodig, ‘n onderwyser in wie jy jou vertroue plaas om jou op die pad van vorming te lei en te begelei. Dit gaan dus nie bloot oor meerdere kennis wat op rasioneel bevatlike wyse oorgedra word nie, maar oor gesag en hierargie, twee taboewoorde vir die ensiklopediste net soveel as vir die genealoë. En as mens ver genoeg op die weg van jou vak gevorder het, kan jy die beste wat die verlede bereik is, meet aan dit wat sonder meer die beste is, die alomvattende doel van jou vak. Gemeet daaraan kan jy die gebreke van wat al bereik is, raaksien en, as jy daartoe in staat of begenadig is, daarop verbeter. En dit geld net so goed vir die goudsmid as die filosoof.

7. Die gemeenskapsuniversiteit wat Akademia wil wees

Tot hiertoe het ek die karakters van die drama wat MacIntyre in sy Three Rival Versions laat afspeel het, nageskets, en hoe langer hoe meer verbluf geraak met hoe omvattend en verreikend sy tipering daarvan is. Die wetenskap van ons tyd kan natuurlik op ander maniere ook ingedeel word, maar sy beskrywing van hierdie drie denktradisies bied ‘n onoortreflike raamwerk vir insig en beoordeling van ons situasie, sowel as ‘n insig in die interne beperkings en die eksterne uitdagings wat elkeen van hulle, ensiklopedies, genealogies en tradisioneel, in die gesig staar. Dit beteken natuurlik nie dat almal dit só insien, of ophou doen waarmee hulle besig is nie, maar dit plaas die aanhangers van elkeen van die denktradisies voor die uitdaging om hulleself aan die hand van wat MacIntyre waarneem, te vernuwe. Die erfgename van die ensiklopediese moet met die versplintering van die rede – en daarom die verlies van samehang – tot grepe kom; die erfgename van die genealogiese moet met die verbrokkeling van tyd – en daarom die verlies van samehang – tot grepe kom; die erfgename van die Thomistiese tradisie moet met die vergetelheid waarin die samehang van rede en geloof wat Aquinas bewerkstellig het, tot grepe kom.

Sover dit Thomas Aquinas se filosofie aangaan, is ten minste die volgende twee punte van deurslaggewende belang. Die eerste is dat sy houding en werkswyse, maar ook sy institusionele omgewing, die Universiteit van Parys en die Algemene/Katolieke Kerk (want onthou, dit was voor die verdeling tussen Rooms en Protestants) hom in die dertiende eeu in staat gestel het om twee strydende en onderling uitsluitende denktradisies, naamlik dié van Augustinus en dié van Aristoteles, bymekaar te bring. Belangrik om te sê dat hy hulle nie versoen het nie, maar verenig het in ‘n stelsel waarin hulle mekaar se gebreke aangevul het en wat beide in ‘n groter, nuwe geheel beter kon laat teregkom het. Ek besef dit is nog erg kripties gestel, maar ek beroep my voorlopig op die gesag van my leermeester (vir hierdie doel), prof MacIntyre. Die punt is dat daar iets was wat hierdie vereniging van denkskole moontlik gemaak het, en dat ons dit ook kan herwin en gebruik. Die tweede punt van deurslaggewende belang, hang te nouste hiermee saam. Dit is dat, histories en logies beskou, die Thomistiese tradisie hom nie teen sy eie beperkings vasgeloop het nie, maar agtergelaat is deur ‘n vroegmoderne beeld van selfbevryding, wat egter uit die oogpunt van sin en samehang, na boedeloorgawe aan ‘n bloot oënskynlike bevryding lyk. Oënskynlik omdat hierdie bevryding van definiërende beperkings en moeisame werkswyses op niks minder nie as die verkluistering van die moderne individu aan sy eie isolasie uitgeloop het.

Kostelik om te sien hoe neerhalend Adam Smith in sy Wealth of Nations na die tradisie van vakleerlingskap verwys – mense wat teen hoë koste vir jare lank en tot ander se voordeel moet swoeg om die reg te kry om werk te verrig wat hulle in ‘n paar weke, indien nie ‘n paar dae nie, se tyd ewe goed kon bemeester.[12] Maar dit is ook ‘n verhaal vir ‘n ander aand.

Om af te sluit, die vraag: Hoe veronderstel Akademia dat die regte grondslag vir goeie handeling benader word?

Eerstens deur haar onomwonde by wat MacIntyre aanwys as die tradisionele wyse om dit te ondersoek, aan te sluit. Nie net bied die tradisie die beste vooruitsigte om in die toekoms goeie wetenskapsbeoefening moontlik te maak nie, dit lê ook ‘n verband tussen die intellektuele arbeid wat hier verrig worden die gemeenskap ten behoewe waarvan dit verrig word. (Dit is dalk ‘n gewigter punt as wat dit nou klink.)

Tweedens deur die deugde wat nodig is om die regte grondslag vir goeie handeling te herken vir wat dit is, aan te kweek. Dit begin by die deug-by-uitstek vir studente, naamlik dié van beskeidenheid, omdat dit is wat mens nodig het om jou aan die gesag van meerdere kennis, ervaring en insig te onderwerp, sodat jy in die proses die mens kan word wat jy moet wees om te kan leer wat jy moet weet. Laat ek dit weer sê: jy moet beskeie genoeg wees om die mens te kan word wat jy moet wees om te kan leer wat jy moet weet. (Die kardinale deugde, vir die verwerwing waarvan die student se beskeidenheid hom of haar voorberei, is natuurlik die van verstandigheid, dapperheid, matigheid en geregtigheid[13] – bemiddel deur die geestelike deugde van geloof, hoop en liefde.[14])

Derdens deur haar, by wyse van die leermeesters en -meesteresse aan wie sy ‘n tuiste gee, aan die goeie geheel wat daardie geskenk van God, naamlik die wonderbaarlike werklikheid is, toe te wy. Dit is ten diepste die houding waarin die sleutel tot die sin en samehang wat die beoefening van en deelname aan die rede kan ontsluit, lê.

Laastens deur te wees wat ons ten diepste is: ‘n gemeenskap van dankbare begunstigdes van Gods genade. Akademia kan so ‘n gemeenskap wees, as ons die moed het om só dwars teen die stroom van ons tyd in te swem.

Want soos Thomas Aquinas gesê het: “Gratia non tollit naturam, sed perficit.”[15]


[1] Louw, NPVW. 1986. Versamelde prosa 1. Kaapstad: Tafelberg.

[2] Dink byvoorbeeld aan die Apostel Paulus in Romeine 7:21: So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen is die slegte.

[3] Dink hier aan die openingsin van Aristoteles se Nicomacheïese Etiek: Every art and every inquiry, and similarly every action and pursuit, is thought to aim at some good; and for this reason the good has rightly been declared to be that at which all things aim. Aristotle. Nicomachean Ethics (p. 1). Acheron Press. Kindle Edition.

[4] MacIntyre, A. 2006. Three Rival Versions of Moral Enquiry. Encyclopeadia, Genealogy, and Tradition. Notre Dame: University of Notre Dame Press.

[5] Perreau-Saussine, E. 2022. Alisdair MacIntyre. An Intellectual Biography. Notre Dame: University of Notre Dame Press.

[6] In sy voorwoord tot Perreau-Saussine se werk, verwys Pierre Manent daarna as in die eerste plek ‘n ondersoek van liberalisme, nie deur die intellektuele of politieke geskiedenis, of die regstreekse of onregstreekse sosiale en morele uitwerking daarvan na te gaan nie, maar deur middel van wat Charles Péguy “the method of eminent cases” noem, met MacIntyre as ‘n “eminent case, or culminating case, of a long and complex trajectory, rich in variations and even in conversions.” Perreau-Suassine. 2022. xi

Sien ook Perreau-Suassine. 2022. 11-12 waar hy na werk as “the biography of a problem” verwys.

[7] Perreau-Saussine. 2022. 13

[8] MacIntyre. 1990. 9

[9] Nietzsche, F.W. Zur Genealogie der Moral. (German Edition) Kindle Edition.

[10] Über Wahrheit und Lüge im Aussermoralischen Sinn I. 1873, as dem Nachlass. www.geisteswissenschaften.fu-berlin.de.

Was ist also Wahrheit? Ein bewegliches Heer von Metaphern, Metonymien, Anthropomorphismen, kurz eine Summe von menschlichen Relationen, die, poetisch und rhetorisch gesteigert, übertragen, geschmückt wurden, und die nach langem Gebrauch einem Volke fest, kanonisch und verbindlich dünken: die Wahrheiten sind Illusionen, von denen man vergessen hat, daß sie welche sind, Metaphern, die abgenutzt und sinnlich kraftlos geworden sind, Münzen, die ihr Bild verloren haben und nun als Metall, nicht mehr als Münzen, in Betracht kommen.

[11] Die invloed van Kleutgen se werk hou op ‘n boeiende wyse verband met Pous Leo XIII se omsendskrywe Aeterni Patris (1879) waarin die aandag op Thomas se filisofiese en teologiese werk gevestig word, en wat deur MacIntyre as die derde sleutelteks uit die laat negentiende eeu aangegee word. Die ensiklopedisme vind by uitstek uitdrukking in die negende uitgawe van die Encyclopedia Brittanica, die genealogie in Nietzsche se  Zur Genalogie der Moral (1887) en die tradisie in die Aeterni Patris.

[12] Smith, A. 2003. The Wealth of Nations. New York: Bantam Dell. p162ev, veral p170

[13] Sien Pieper, J. 2003. The Four Cardinal Virtues. Prudence, Justice, Fortitude, Temperance. Notre Dame: University of Notre Dame Press.

[14] Sien Pieper, J. 2012. Faith. Hope. Love. San Francisco: Ignatuis Press.

[15] Thomas Aquinas. Summa Theologiae. Deel I, Vraag1, Artikel 8, Antwoord op beswaar 2. “Die genade neem die natuur nie weg nie, maar vervolmaak dit.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *